duimnael|regs|Die Suid-Afrikaanse Sendinggestig Museum. Die Suid-Afrikaanse Sendinggestig Museum in Kaapstad het as doel die bewaring van die geskiedenis van die vroeë Christelike sendelinge in die Kaapkolonie.

Hierdie museum is gevestig in die kerkgebou van die destydse Suid-Afrikaane Sendinggestig (oorspronklik Zuid-Afrikaansche Zendinggesticht). Dit is by 33° 55′ 16.8″ suid, 18° 25′ 13.8″ oos en Langstraat 40 in die middestad. Dit is naby die Koopmans-de Wet-huis.

Die kerk met sy unieke fasade is in 1801 gebou en waarskynlik ook ontwerp deur meesterbouer J.G. Mocke bygestaan deur J. van Schalkhoven en op 15 Maart 1804 deur die predikant van die Groote Kerk, Johannes Petrus Serrurier (*Hanau, Hesse-Nassau, 5 Januarie 1735 - †Kaapstad, 3 Februarie 1819) ingewy. Bo die voordeur staan egter die datum 1799 wat die datum is van die stigting van die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap. In 1971 is die beoogde sloping van die gebou ter elfder ure verhoed, maar op 31 Augustus 1975 het die laaste kerkdiens hier plaasgevind. Die museum is in Maart 1979 na restourasiewerk deur argitek D. Visser geopen.

Die sendingmuseum is gestig enersyds om te verhoed dat die historiese gebou met sy Korintiese gewel stedelike ontwikkeling ten prooi val, maar ook om die nalatenskap van die Christelike sendelinge in die Kaapkolonie te herdenk. Vir hierdie doel is die gebou deur die provinsiale owerheid met steun van die Stigting Simon van der Stel en die publiek aangekoop.

Beide die gebou en die preekstoel is tot kultuurmonumente verklaar.

Bronnelys Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. 

Eksterne skakels

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Kaapstad Kategorie:Museums Kategorie:Museums in Suid-Afrika