duimnael|regs|250px|Die bekende Duitse Brockhaus Konversationslexikon uit die jaar 1902

'n Ensiklopedie is 'n naslaanwerk of samevatting wat opsommings van kennis verskaf, hetsy algemeen, hetsy oor 'n bepaalde vakgebied of dissipline. Ensiklopedieë word in artikels of inskrywings verdeel wat alfabeties volgens die naam van die artikel of tematies volgens kategorieë georden word; in die geval van aanlyn ensiklopedieë is hulle met hiperskakels verbind en met 'n soekfunksie deursoekbaar. Inskrywings in 'n ensiklopedie is langer en gedetailleerder as dié in die meeste woordeboeke, en die artikels konsentreer op feitelike inligting oor die onderwerp wat in die titel genoem word – anders as woordeboekinskrywings, wat op taalkundige inligting oor woorde konsentreer, soos hul etimologie, betekenis, uitspraak, gebruik en grammatikale vorme.

Ensiklopedieë bestaan al sowat 2 000 jaar en het in daardie tyd aansienlik verander wat betref taal (geskryf in 'n groot internasionale taal of in 'n volkstaal), grootte ('n paar of baie boekdele), doel (die aanbieding van 'n wêreldwye of 'n beperkte omvang van kennis), kulturele gesigspunt (gesaghebbend, ideologies, didakties of nuttigheidsgerig), outeurskap, leserspubliek en die tegnologie wat vir hul vervaardiging en verspreiding beskikbaar was, van handgeskrewe manuskripte tot die internet. As 'n gewaardeerde bron van betroubare inligting wat deur kundiges saamgestel is, het gedrukte weergawes 'n prominente plek in biblioteke, skole en ander opvoedkundige inrigtings gevind.

In die 21ste eeu het die verskyning van digitale en oopbron-weergawes soos Wikipedia, saam met die wiki-webwerfformaat, die toeganklikheid, outeurskap, leserspubliek en verskeidenheid van ensiklopedie-inskrywings sterk uitgebrei.

Geskrifte met 'n ensiklopediese omvang is al sedert die vroeë menslike geskiedenis saamgestel, maar die term, ensiklopedie, is eers vanaf die 16de eeu gebruik om daarna te verwys.

Alhoewel onderwerpe in enige ensiklopedie dikwels 'n definiërende beskrywing bevat, moet 'n ensiklopedie nie met 'n woordeboek verwar word nie – 'n naslaanwerk met 'n alfabetiese lys van woorde of terme en taalkundige inligting daaromtrent.

Etimologie Die woord ensiklopedie kom van die Koine-Griekse ἐγκύκλιος παιδεία, enkúklios paideía, wat "algemene onderrig" beteken: enkúklios beteken "sirkelvormig, herhalend, algemeen" en paideía "opvoeding, die grootmaak van 'n kind", en saam is die frase letterlik "volledige onderrig" of "volledige kennis".

Die twee afsonderlike woorde is egter tot een woord saamgetrek deur 'n afskryffout van die kopiiste van 'n Latynse manuskripuitgawe van Quintilianus in 1470. Die kopiiste het die frase as 'n enkele Griekse woord, enkuklopaideía, met dieselfde betekenis beskou, en dié onegte Griekse woord het die Nieu-Latynse encyclopaedia geword, wat weer in ander tale oorgeneem is. Weens dié samegestelde woord het lesers sedert die 15de eeu dikwels, en verkeerdelik, gemeen dat die Romeinse skrywers Quintilianus en Plinius 'n antieke genre beskryf het.

Kenmerke Die moderne ensiklopedie het in die 18de eeu uit die woordeboek ontwikkel, 'n afkoms wat in die alfabetiese orde van gedrukte ensiklopedieë sigbaar is. 'n Woordeboek is 'n taalkundige werk wat hoofsaaklik op 'n alfabetiese lys van woorde en hul definisies konsentreer, en verskaf gewoonlik beperkte inligting, ontleding of agtergrond oor die woord wat gedefinieer word. 'n Ensiklopedie-artikel is nie tot 'n eenvoudige definisie of tot 'n enkele woord beperk nie, maar bied 'n uitgebreider betekenis vir 'n onderwerp of dissipline, en bevat dikwels ook kaarte, illustrasies, 'n bibliografie en statistiek.

Vier hoofelemente Vier hoofelemente definieer 'n ensiklopedie: sy vakinhoud, sy omvang, sy metode van organisasie en sy metode van vervaardiging. Ensiklopedieë kan algemeen wees en artikels oor onderwerpe uit elke vakgebied bevat; die Engelse Encyclopædia Britannica en die Duitse Brockhaus is bekende voorbeelde. Daar is ook ensiklopedieë wat 'n wye verskeidenheid onderwerpe uit 'n besondere kulturele, etniese of nasionale gesigspunt dek, soos die Groot Sowjetse Ensiklopedie. Werke met 'n ensiklopediese omvang wil die belangrike opgehoopte kennis vir hul vakgebied oordra, soos 'n ensiklopedie van die geneeskunde, die filosofie of die reg. Werke wissel in die breedte van die stof en die diepte van die bespreking, na gelang van die teikengehoor. 'n Stelselmatige metode van organisasie is noodsaaklik om 'n ensiklopedie as naslaanwerk bruikbaar te maak. Daar was twee hoofmetodes vir gedrukte ensiklopedieë: die alfabetiese metode en organisasie volgens hiërargiese kategorieë, waarvan die eerste vandag die algemeenste is. Die vloeibaarheid van elektroniese media laat egter nuwe moontlikhede vir verskeie metodes van organisasie van dieselfde inhoud toe. Namate die moderne multimedia en die inligtingsera ontwikkel het, het nuwe metodes van vervaardiging ontstaan vir die insameling, verifiëring, opsomming en aanbieding van inligting. Die metode van vervaardiging is in sowel winsgewende as niewinsgewende omgewings ondersteun: die Groot Sowjetse Ensiklopedie is geheel deur die staat geborg, terwyl die Britannica 'n winsgewende onderneming was.

Verskille tussen ensiklopedieë en woordeboeke Daar is 'n paar breë verskille tussen ensiklopedieë en woordeboeke. Die opvallendste is dat ensiklopedie-artikels langer, voller en deegliker is as inskrywings in die meeste algemene woordeboeke. Daar is ook verskille in inhoud: woordeboeke verskaf oor die algemeen taalkundige inligting oor die meeste individuele woorde, terwyl ensiklopedieë meer op die begrippe konsentreer waarvoor 'n beperkter aantal woorde staan. Woordeboekinskrywings is onlosmaaklik aan die woord wat beskryf word verbind, terwyl daardie woord in 'n ensiklopedie onder 'n ander inskrywingstitel gevind kan word; woordeboekinskrywings kan ook nie volledig in ander tale vertaal word nie, terwyl ensiklopedie-artikels wel kan.

In die praktyk is die onderskeid egter nie absoluut nie, aangesien daar geen skerp verskil tussen feitelike, "ensiklopediese" inligting en die taalkundige inligting van woordeboeke bestaan nie. Ensiklopedieë kan dus stof bevat wat ook in woordeboeke voorkom, en omgekeerd; woordeboekinskrywings bevat inderwaarheid dikwels feitelike inligting oor waarna die woord verwys.

Klassifikasie Daar is verskeie soorte ensiklopedieë: Algemene ensiklopedieë, soos byvoorbeeld die bekende "Encyclopædia Britannica", wat artikels oor onderwerpe in 'n wye verskeidenheid vakgebiede bevat. Gespesialiseerde ensiklopedieë wat alleen artikels oor sekere vakgebiede bevat, byvoorbeeld mediese ensiklopedieë.

duimnael|regs|250px|Die Franse Encyclopédie van 1751

In die klassieke Griekse oudheid is kennis gewoonlik mondeling oorgedra; die interdissiplinêre kennis of enkyklios paideia wat as belangrik vir die onderwys van jong mense beskou is, het kunste en wetenskappe ingesluit.

Die eerste bekende stelselmatige versameling van kennis is in die Romeinse Republiek saamgestel – die geleerde Marcus Terentius Varro, 'n tydgenoot van Marcus Tullius Cicero, het in sy Disciplinarum libri IX vir die eerste keer verskillende leerstellings en spekulatiewe teorieë uit vakgebiede soos retoriek, grammatika, musiek, geneeskunde, geometrie en sterrekunde in een werk saamgevat.

Hierdie stelselmatige versameling van kennis het later die aanleiding gegee tot die Sewe Vrye Kunste of Artes liberales, 'n kanon van kennis wat onder meer op inisiatief van die kerkvader Augustinus saamgestel is.

Die eerste naslaanwerk of ensiklopedie in die moderne sin was die 37 boekdele van Plinius die Ouere (23-79 n.C.) se Naturalis Historia. Die werk is uit duisende Griekse en Romeinse natuurkundige bronne saamgestel en verteenwoordig 'n volledige versameling van die destydse wetenskaplike kennis wat volgens vakgebiede soos biografie en geografie gekategoriseer is. Die werk het tot in die 19de eeu die basis van die natuurwetenskappe gevorm, alhoewel Plinius ook spekulatiewe verhale soos dié oor Skitiese kannibale as wetenskaplike kennis beskou het.

Een van die laaste ensiklopedieë, wat die wetenskaplike kennis in kategorieë onderverdeel het, was Francis Bacon se Instauratio magna, waarvan die Novum organum scientiarum van 1620 die tweede deel was. Bacon het 'n poging onderneem om die tradisionele Vrye Kunste op 'n nuwe moderne manier te kategoriseer. Vanaf die tweede helfte van die 17de eeu was ensiklopedieë alfabeties van aard.

Die 18de en 19de eeu was die klassieke ensiklopediese tydperk waarin nasionale en universele ensiklopedieë ontstaan het. Die Encyclopédie, ou dictionnaire raisonné des sciences, des arts et des métiers van Diderot, d'Alembert en ander, wat vanaf 1751 verskyn het, is in die gees van die Verligting geskryf en was baie neutraal ten opsigte van die feite wat aangebied is, maar was nogtans selektief by die keuse van sy materiaal en vol van kommentare. Die skrywers het die belangrikheid van die ambagte en wetenskappe beklemtoon en tegelykertyd skerp en ironiese of selfs blasfemiese kommentaar op irrasionele onderwerpe soos godsdienste gelewer. Die artikel oor kannibalisme het byvoorbeeld 'n verwysing na die Christelike eucharistie bevat.

Later ensiklopedieë soos die Duitse Brockhaus-ensiklopedie, wat wêreldwyd as 'n voorbeeld vir 'n universele ensiklopedie beskou is, was eerder objektief en neutraal en daarop gemik om wetenskaplike kennis ook vir leke toeganklik te maak.

Ander voor-moderne tradisies Die Christelike Weste Die Spaanse geleerde Isidorus van Sevilla was die eerste Christelike skrywer wat 'n summa van universele kennis probeer saamstel het, die Etymologiae (omstreeks 600 tot 625), ook as die Origines bekend. Dié ensiklopedie – die eerste sodanige Christelike opsomming – was 'n reusagtige versameling van 448 kapittels in 20 boeke, gebaseer op honderde klassieke bronne, onder andere die Naturalis Historia. Daar is van die Etymologiae in sy tyd gesê dat dit "feitlik alles bevat wat 'n mens moet weet". Onder die gebiede wat gedek is, was grammatika, retoriek, wiskunde, meetkunde, musiek, sterrekunde, geneeskunde, die reg, die kerk en ketterse sektes, heidense filosowe, tale, stede, diere en voëls, die fisiese wêreld, aardrykskunde, openbare geboue, paaie, metale, gesteentes, die landbou, skepe, klere, kos en werktuie.

'n Ander Christelike ensiklopedie was die Institutiones divinarum et saecularium litterarum van Cassiodorus (543 tot 560), wat aan die Christelike godheid en die sewe vrye kunste gewy is. Die Suda, 'n omvangryke Bisantynse ensiklopedie uit die 10de eeu, het 30 000 inskrywings gehad wat breedweg alfabeties georden is, waarvan baie uit antieke bronne kom wat sedertdien verlore geraak het.

China China het 'n besonder ryk ensiklopediese tradisie. Die naslaanwerk Shiben uit die 2de eeu v.C. is as 'n Chinese ensiklopedie van genealogieë beskryf, en die Huanglan, wat in die 220's voltooi is, was 'n vroeë leishu-ensiklopedie. Die Yiwen Leiju, voltooi in 624, was 'n baken onder die letterkundige ensiklopedieë van die vroeë Tang-dinastie. Die enorme werke van die Vier Groot Boeke van Song, wat teen die 11de eeu tydens die vroeë Song-dinastie saamgestel is, was 'n reusagtige literêre onderneming vir hul tyd: die laaste van die vier het op 9,4 miljoen Chinese karakters in 1 000 geskrewe boekdele te staan gekom. Die Yongle-ensiklopedie, wat in 1408 voltooi is, het uit 11 095 boekdele bestaan en is daarmee die grootste papierensiklopedie in die wêreldgeskiedenis.

Daar was baie groot ensiklopediste in die Chinese geskiedenis, onder andere die wetenskaplike en staatsman Shen Kuo (1031–1095) met sy Mengxi Bitan van 1088, die staatsman en landboukundige Wang Zhen met sy Nong Shu van 1313, en Song Yingxing (1587–1666) met sy Tiangong Kaiwu. Song Yingxing is deur die Britse historikus Joseph Needham "die Diderot van China" genoem.

Indië