Black Doves is 'n Britse spioenasierillerreeks vir televisie wat deur Joe Barton geskep is. Die reeks, met onder andere Keira Knightley, Ben Whishaw en Sarah Lancashire, is vir Netflix ontwikkel deur Barton se produksiemaatskappy, Sister and Noisy Bear. Dit gaan oor 'n spioenhuurmaatskappy wat geheime vir die hoogste bieër uitvind. Voor ay première op 5 Desember 2024 is dit vir 'n tweede seisoen verleng.
Dit het meestal goeie resensies gekry en Knightley is vir 'n Golden Globe benoem vir haar spel.
Storielyn Helen, die vrou van die Britse minister van verdediging, vind uit haar geheime identiteit as 'n spioen is in gevaar nadat haar minnaar deur Londen se onderwêreld vermoor is. Haar werkgewers, die Black Doves, is 'n spioenhuurmaatskappy wat nywerheids-, politieke en diplomatieke geheime vir die hoogste bieër ontbloot. Hulle stuur Sam, 'n ou vriend, om haar te beskerm.
Rolverdeling Die belangrikste karakters is Keira Knightley as Helen Webb (gebore Dawson) Ben Whishaw as Sam Young Sarah Lancashire as Reed
Ander akteurs sluit in: Andrew Buchan as Wallace Webb, minister van verdediging en Helen se man Adeel Akhtar as Richard Eaves, die Britse premier Omari Douglas as Michael, Sam se oudkêrel Ella Lily Hyland as Williams Isabella Wei as Kai-Ming Chen Tai Yin Chan as Wu Lin
Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die reeks 'n goedkeuringsyfer van 94% behaal, gebaseer op 64 resensies, met 'n gemiddelde punt van 7,7 uit 10. Volgens die webtuiste word verskeie genres gemeng tot 'n "waarlik unieke aksieriller". Metacritic het die reeks 'n punt van 78 uit 100 gegee, gebaseer op 30 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.
Rebecca Nicholson was in The Guardian effens krities teenoor Knightley en Whishaw se toneelspel, maar het die verskyning van verskeie bekende akteurs in kameerolle geprys. In Digital Spy het David Opie die uitbeelding van Sam wat gay seks in die eerste episode het, uitgesonder en gesê die reeks waag dit waar James Bond nie sou nie.
Knightley is in 2025 vir 'n Golden Globe en Critics' Choice benoem vir haar spel. Die reeks is ook vir 'n GLAAD-mediaprys benoem.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Britse televisiereekse