Die pensioene of aftreevoorsienings in Suid-Afrika kan uit verskillende dele bestaan.

Finansiële voorsiening vir aftrede is een van die belangrikste voorsorgmaatreëls wat 'n mens tydens sy "werkslewe" behoort te tref ten einde te verseker dat finansiële kwellings nie op 'n gevorderde leeftyd tot groot ongerief lei nie. Suid-Afrika beskik oor 'n omvattende en goed gereguleerde aftreefonds-bedeling wat daarop gemik is om die belange van bydraers tot sulke fondse, sowel as reeds afgetredenes, so ver moontlik te beskerm. Dit is egter 'n komplekse wêreld wat soms oorweldigend kan wees. Hierdie artikel het ten doel om hierdie sake meer toeganklik te maak vir belanghebbendes wat nie noodwendig oor die nodige finansiële en tegniese kennis beskik nie. Aftreevoorsiening word hoofsaaklik gereël deur die Pensioenfondswet, 1956 (soos gewysig) en die Inkomstebelastingwet, 1962 (soos gewysig).

Pensioenfonds 'n Pensioenfonds word in die Wet omskryf as 'n vereniging van persone wat gestig is met die doel om annuïteite (jaargelde) en enkelbedrae aan lede of voormalige lede te voorsien wanneer hulle aftreeouderdom bereik en ook aan hulle afhanklikes by hulle afsterwe. Wet 24 van 1956, soos gewysig, art. 1. Die tipiese model vir 'n pensioenfonds is dat 'n werknemer jaarliks 'n persentasie van sy vergoeding aan die pensioenfonds oordra en dat sy werkgewer ook 'n bydrae maak, die omvang waarvan vooraf in die dienskontrak ooreengekom word. Die gesamentlike bydraes van die werknemer en die werkgewer word deur die pensioenfonds tot voordeel van sy lede geadministreer en belê met die oog daarop dat dit, tesame met die opbrengs daarvan, voldoende sal wees om by aftrede van die werknemer by wyse van 'n annuïteit (jaargeld) en dikwels ook 'n enkelbedrag aan hom/haar en sy/haar afhanklikes (byvoorbeeld eggenoot/ eggenote en afhanklike kinders) 'n inkomste te voorsien. Werknemers se bydrae tot ’n pensioenfonds is tans aftrekbaar vir Inkomstebelastingdoeleindes tot ’n maksimum van 27,5% van die grootste van belasbare inkomste en vergoeding, onderhewig aan ’n maksimum van R350 000 per jaar.art11F(2)(a) van die Inkomstebelastingewet, Wet 24 van 1956, soos gewysig

By aftrede kan pensioenfondslede een derde van sy voordele as ’n enkelbedrag neem, mits die ander twee-derdes gebruik word vir die aankoop van ’n annuïteit, of die volle bedrag kan vir laasgenoemde doel gebruik word. Die jaargeld (maandelikse pensioen) wat aan pensioenarisse deur die pensioenfonds betaal word, hou nie direk verband met die bydraes van die werknemer/werkgewer tydens sy/haar indienstydperk nie, wel gewoonlik met die aantal jare van diens en die pensioendraende salaris in die laaste jaar of paar jaar van die werknemer se aktiewe werkstyd. Dit word gewoonlik betaal totdat die pensioenaris of sy/haar afhanklike eggenote/eggenoot tot sterwe kom en dit word befonds uit die werkgewer/werknemer se bydraes tydens indienstyd, maar as dit nie voldoende is om die jaargeld vol te hou nie (byvoorbeeld as die pensioenaris langer leef as wat voorsien is, of die opbrengs op die beleggings in die fonds onvoldoende is), is die werkgewer gewoonlik aanspreeklik om die tekort goed te maak.

Die werkgewer dra dus die risiko ingeval daar onvoldoende voorsiening gemaak is vir aftrede en die werknemer (nou pensioenaris) hoef nie te bekommer oor 'n inkomste vir die res van sy/haar lewe nie. Inflasie kan wel die koopkrag van hierdie inkomste verweer en hoewel trustees gewoonlik die maandelikse pensioen periodiek sal aanpas om selfs net gedeeltelik vir die effek van inflasie te vergoed (indien die fonds dit kan bekostig), is sodanige aanpassing geensins gewaarborg nie.

Juis omdat die meeste finansiële risiko's in die geval van hierdie soort fonds by die werkgewer lê, het baie werkgewers in Suid-Afrika afstand gedoen van hierdie soort fondse ten gunste van voorsorgfondse (sien later), waar die finansiële risiko na die persioenaris verskuif word. In die staatsdiens en semi-staatsinstellings, is pensioenfondse in Suid-Afrika vry algemeen.

Die soort pensioenfonds wat hierbo beskryf word, word soms 'n omskrewe voordeelplan genoem.

Voorsorgfonds

In die geval van ’n Voorsorgfonds Inkomstebelastingwet, 1962, art 1 word die meeste van die risiko’s wat aan ’n pensioenfonds verbonde is, deur die werknemer (pensioenaris) gedra. Die werkgewer maak meestal, soos in die geval van ’n pensioenfonds, gereelde bydraes tot die fonds en, tesame met die werknemer se bydraes tot die fonds, word die fondse deur die fonds namens die lid belê. Die opbrengs op die fondse behoort aan die werknemer, maar as die markte negatief sou draai en die fondse se waarde daal, is dit eweneens vir die rekening van die werknemer.

Tot 1 Maart 2021 kon lede by aftrede ’n keuse uitoefen om óf die volle bedrag wat tot sy voordeel in die Voorsorgfonds opgehoop het, te onttrek, óf om die volle bedrag óf slegs ’n gedeelte daarvan aan te wend vir die aankoop van ’n jaargeld. Vanaf 1 Maart 2021 is die posisie dieselfde as in die geval van pensioenfondse, met die uitsondering van persone wat op daardie datum reeds 55 jaar of ouer was.Inkomstebelastingwet, art 1, definisie van "pension fund", (dd)

Voorsorgfondse word dikwels ook omskrewe bydraeplanne (art 1) genoem.

Annuïteitsfondse ’n Annuïteit (of jaargeld) is ’n reeks betalings wat met vaste tussenposes aan die annuïtant (lewensregeienaar) gemaak word. ’n Annuïteit kan te enige tyd aangekoop word om vir aftrede voorsiening te maak, maar dikwels word dit aangekoop by aftrede, waar die enkelbedrag uit die pensioenfonds of die voorsorgfonds vir dié doel aangewend word. Daar is in wese twee soorte annuïteite: ’n lewensannuïteit of ’n lewende annuïteit.https://10X.co.za, besoek 14 Februarie 2025

’n Lewensannuïteit is ’n reeks betalings wat met vaste intervalle aan die annuïtant gemaak word terwyl hy nog lewe. ’n Lewensannuïteit kan as ’n versekeringsproduk beskou word. Dit word soms ook ’n gewaarborgde annuïteit genoem, omdat die bedrag wat die annuïtant periodiek ontvang, gewoonlik lewenslank gewaarborg word. Die aard van hierdie produk beteken dat die annuïtant ’n minimum van risiko self hoef te neem. Hy is meestal nie gewaarborg van enige verhogings in die periodieke ontvangstes nie, maar die meeste fondse probeer om verhogings met die inflasiekoers in verband te bring. ’n Lewensannuïteit kan vergelyk word met ’n pensioen wat deur ’n werkgewer se pensioenfonds aan afgetrede werknemers, soos hierbo beskryf, betaal word.

’n Lewende annuïteit, daarenteen, is ’n beleggingsproduk. By aftrede kan die annuïtant voortgaan met sy beleggings en kies selfs die produkte waarin belê moet word. Sy beleggings kan dus steeds groei, maar hy dra natuurlik die volle risiko as die beleggings nie presteer nie, of negatief presteer. Die houer van die annuïteit kies die omvang van onttrekkings, tussen 2.5% per jaar van sy kapitaalwaarde en 17.5% per jaar daarvan. Daar is dus ’n mate van buigsaamheid in die omvang van die periodieke uitbetalings uit die annuïteit, iets wat nie in die geval van ’n lewensannuïteit bestaan nie. By afsterwe van die annuïtant erf die erfgename enige kapitaal wat nog in die beleggings oorgebly het.

Sambreelfondse ’n Sambreelfonds is ’n aftreefonds waaraan verskeie werkgewers deelneem, byvoorbeeld ’n maatskappy en sy filiale, maar dit kan ook ’n fonds wees waaraan ’n klomp werkgewers deelneem wat heeltemal onverwant aan mekaar is, en selfs in verskillende bedryfstakke opereer. Daar is twee kategorieë van sambreelfondse: Die eerste behels dat al die deelnemende werkgewers hulle eie stel fondsreëls het, wat egter onderhewig is aan die oorhoofse reëls van die fonds. In die tweede geval is die reëls van die fonds vir al die deelnemers dieselfde.

Hierdie fonds, word, net soos enige ander aftreefonds, deur ’n Raad van Trustees beheer. Dit kan die vorm van óf ’n omskrewe voordeelplan, óf ’n omskrewe bydraeplan aanneem.

Ander fondsreëlings Die Wet maak ook voorsiening vir ander soorte fondse, soos bewaringsfondse (art 1), onopgeëiste voordeelfondse (art 1) en fondse vir begunstigdes (art 1). In al hierdie gevalle is werknemerskap nie ’n vereiste nie. Dit het ten doel om vir spesifieke situasie voorsiening te maak, byvoorbeeld die bewaring van opgehoopte pensioengeld waar ’n lid van werkgewer verander en by ’n nuwe werkgewer aan ’n nuwe fonds moet behoort (bewaringsfonds), vir die bewaring van voordele van voormalige lede wat nie opgespoor kan word nie (onopgeëiste voordeelfonds) en fondse wat namens minderjarige begunstigdes geadministreer word.

Sien ook Aftrede Regeringspensioenfonds Pensioen

Verwysings

Kategorie:Finansies