De Aar is die derde grootste nedersetting in die provinsie Noord-Kaap, in die suidweste van Suid-Afrika, met 'n bevolking van omtrent 42,000 mense. Die dorp is 50 km oos van Britstown. Die ontwikkeling van De Aar gaan hand-aan-hand met die groei van die spoorweë en stoomtreine. Spoorlyne van die Wes- en Oos-Kaap, Gauteng, Zimbabwe en Namibië kom hier bymekaar. Die N10 nasionale pad gaan deur De Aar.
Geskiedenis Die eerste plase in De Aar is reeds gedurende 1837 opgemeet. Een van die plase is De Aar genoem omrede dit 'n sterk ondergrondse wateraar gehad het. In 1899 het twee broers wat 'n handelswinkel en hotel gehad het by die kruising, Isaac en Wulf Friedlander, die plaas van De Aar gekoop. Ná die Anglo-Boereoorlog het die Friedlander-broers die land ondersoek vir die vestiging van 'n dorp. Die munisipaliteit is 'n jaar later geskep en in 1907 is Dr. Harry Baker, die eerste burgemeester van die dorp, verkies.
Spoorweë Die spoorlyn het De Aar gedurende 1881 bereik. Die Kaapse Regeringspoorweë het die plaas De Aar gekoop om die rangeerwerf en stasiegebou te huisves.Burman, Jose (1984). Early Railways at the Cape. Kaapstad. Human & Rousseau, p.62. Dit is die tweede belangrikste spoorwegkruising in die land, geleë tussen Kaapstad en Kimberley. Die aansluiting was van besondere strategiese belang vir die Britte tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die dorp - wat eers Brounger-aansluiting geheet het - het uit die stasie ontwikkel.
Die elektrifisering van die spoorlyne tussen Kaapstad en Johannesburg het beteken dat stoomtreine uitgefaseer word en het De Aar se agteruitgang bewerkstellig.
Distrik Die distrik is 3 300 km2 groot en is bekend vir merino- en saalperdstoeterye.
Inwoners Morris Hoffman, Jiddisje en Hebreeuse digter en skrywer, het van 1906 en tot sy dood in 1940 op De Aar gewoon en as winkelier gewerk. Olive Schreiner, bekende skrywer, het van 1907 tot 1913 op De Aar gewoon. Haar huis is latere jare in 'n restaurant omskep.
Sien ook
NG gemeente De Aar Gereformeerde kerk De Aar Lys van dorpe in Suid-Afrika
Bronne Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. p. 311.
Verwysings
Eksterne skakels 'n Webwerf oor De Aar Die geskiedenis van De Aar se NG gemeentes. URL besoek op 26 Julie 2013.
Kategorie:Nedersettings in die Noord-Kaap Kategorie:Karoo