Die Christelike Instituut van Suidelike Afrika (CI) was ‘n veelrassige organisasie met as doel die samesnoering van alle Suid-Afrikaanse Christene teen die staat se beleid van apartheid.
Agtergrond Na die Sharpeville-slagting en Langaopstande in 1960 het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) byeengekom en die Cottesloe-verklaring uitgereik. Dit het ‘n verligte standpunt oor rasseverhoudinge en ‘n sosiale en kerklike samelewing sonder apartheid voorgestaan. Die NG-kerk, Gereformeerde Kerk en die N.H. Kerk het die verklaring verwerp en die kloof tussen die Afrikaanstalige en die Engelstalige kerke in die land het al wyer geword.
Aktiwiteite Die CI is op 13 Augustus 1963 deur 280 Christene van verskillende geloofoortuigings - dominees, gewone lidmate, blankes en gekleurdes en Engels- sowel as Afrikaanssprekendes - gestig. Saam met die SARK het hulle die rasseverhoudinge in die land vanuit ‘n kerlklike perspektief ondersoek en standpunt teen die beleid van apartheid ingeneem. Hulle standpunt was verder dat kerke te min doen om die heersende rassespanning te ontlont en menseverhoudinge te normaliseer. Lidmaatskap van die CI was oop vir alle Christene van alle kerkverbande en slegs individue kon lid wees. Verskeie konferensies, bidure, studiegroepe is landswyd gehou. Steun is aan ‘n 2500 swart kerkgenootskappe oor die hele land heen verskaf. ‘n Stroom navorsingsartikels het in die organsiasie se blad Pro Veritate verskyn. Geld vir al hierdie aktiwiteite het gekom uit ledegeld, donasies en ook van kerke in die buiteland. Die meeste Engelse kerke in die land het die organisasie sterk gesteun.
Verbanning Op die NG-kerk se sinodesitting van Oktober 1966 is die CI se doelstellings verwerp. Daarna het die NH-kerk, die Gereformeerde Kerk en die AGS dieselfde standpunt ingeneem. In 1972 het die Schlebusch-kommissie verskeie organisasies (waaronder die CI) wat anti-apartheidsuitsprake gemaak het, ondersoek. Hul doelstellings, projekte, ledelys en finansiering is bekyk. Twee jaar later is die Wet op Geaffekteerde Organisasies deur die parlement aanvaar en op 28 Mei 1975 lewer ‘n parlementêre kommissie van ondersoek na die CI sy verslag. Bevind is dat die CI ‘n politieke organisasie is wat die idees bevorder van die Wêreldraad van Kerke, geld verskaf aan terroristeorgansiasies en dus ‘n gevaar vir die bestaande orde in die land inhou. Verder is gesê dat Pro Veritate die publiek so beïnvloed dat hulle aanvaar dat geweld dalk die enigste uitweg is om die regering omver te werp. Gevolglik is op 19 Oktober 1977 alle swart bewussynsorganisasies (dus ook die CI) verbied.
Persone Die bekendste persone betrokke by die CI was Beyers Naudé Albertus Stephanus Geyser Adriaan Pont Ben Marais John W. de Gruchy Theo Kotze
Bibliografie saha.org.za/collections/the_christian_institute_of_sa_collection.htm disa.ukzn.ac.za/keywords/christian-institute benkhumalo-segelken.de/suedafrika-texte/690-the-christian-institue/ sahistory.org.za/archive/christian-institute-southern-africa horstkleinschmidt.co.za.christian-institute.html archiveshub.jise.ac.uk/search/archives/a155e005-3009-355a-83e8-9dd4259c6e94
Kategorie:Gereformeerde kerke in Suid-Afrika