Mariëtta Kruger is 'n Afrikaanse TV-aanbieder en radio-omroeper.

Sy begin haar loopbaan in 1980 by die toenmalige Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK, later slegs SABC), waar sy tot in 1984 as joernalis en omroeper by die nuusdiens en by Radio Suid-Afrika werksaam is. Sy is in hierdie tyd ook die regisseur en aanbieder van die radionuusprogramme Monitor en Spektrum. Van 1985 tot 1992 is sy ‘n spesialisaanbieder vir Afrikaanse TV in die buiteland, en die programme waarvoor sy in hierdie hoedanigheid verantwoordelik is, sluit onder andere in ‘n program oor die Sentrum vir Anti-Apartheid by die Verenigde Nasies in New York; ‘n dokumentêre reeks oor die internasionale betrekkinge tussen Taiwan en Suid-Afrika; nuusinsetsels oor anti-Suid-Afrika-betogings by die Internasionale Tourismus Beurse in Wes-Berlyn; en ʼn program oor die hongersnood in Somalië.

Van 1986 tot 1988 is sy die redakteur, samesteller en aanbieder van verskeie Afrikaanse indiepteprogramme vir televisie, spesifiek as deel van die programme Netwerk en Agenda. Sy tree ook op as aanbieder van die Afrikaanse Nuus op SABC2 van 1988 tot 1996. Sy is van 2004 tot 2024 werksaam as vryskutaanbieder. In hierdie hoedanigheid tree sy op as die aanbieder van AgriTV (wat op SABC2 uitgesaai is)https://www.news24.com/news24/marietta-kruger-kom-kuier-in-die-baai-20150525 en as die aanbieder van verskillende RSG-aktualiteitsprogramme, waaronder Naweekaktueel. Sy is ook tot einde 2024 die nuusleser tydens RSG se weeklikse middagprogram Spitstyd.

Kruger is tussen 1999 en 2013 ook op verskillende maniere betrokke by programme wat uitgesaai is op kykNET. Een van hierdie programme is die tweedefasenuusprogram Mariëtta praat prontuit wat later herleef het as die program Prontuit, waar sy ook aanvanklik aanbieder is. Sy tree verder op as die ankeraanbieder van die eerste twee reekse van die kykNET-werklikheidskookprogram Kokkedoor.

Benewens haar luisterryke loopbaan in die Afrikaanse mediakollig, tree Mariëtta dikwels as mentor en opleier vir jong joernaliste, omroepers en aanbieders op; vanaf 2005 tot 2012 formeel by die SABC, en vanaf 2005 tot 2024 ook in ʼn privaat hoedanigheid. Benewens die mentorskap en opleiding wat sy aan jong omroepers by RSG en aanbieders by kykNET voorsien, bied sy onder andere ook opleidingskursusse in openbare redevoering, radio-onderhoude en televisieaanbieding aan vir die direksies van genoteerde maatskappye en vir regeringswoordvoerders. In 2001 tree sy op as gasdosent in radio- en televisieaanbieding by die Skool vir Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, en in 2003 en 2004 as dosent aan die Akademie vir Dramatiese Kuns, waar sy kursusse aanbied in radio- en televisieaanbieding.

Kruger het op 20 Desember 2024 uitgetree as nuusleser in Spitstyd, en het aangedui dat sy Sabbatsverlof neem om meer tyd saam met haar geliefdes deur te bring.https://maroelamedia.co.za/radio/uitsaai-legende-marietta-kruger-neem-blaaskans/https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/radio/marietta-kruger-groet-rsg-vir-eers-20241203

Verwysings

Kategorie:Lewende mense