Theunis Theodorus Cloete (1924–2015) was 'n bekroonde Afrikaanse digter, Bybelvertaler, letterkundige en akademikus. In die 1970’s was hy by die hersiening van die Afrikaanse Kerkgesange betrokke en later by die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Cloete was vir lank aan die Potchefstroomse Universiteit (nou Noordwes-Universiteit) se Skool vir Tale en Skryfkuns verbonde. Hy het verskeie pryse vir sy werke ontvang, onder andere die Ingrid Jonker-prys, W.A. Hofmeyr-prys, Hertzogprys (twee keer) en die Andrew Murray-prys. Cloete skryf aanvanklik onder die skuilnaam T. Jansen van Rensburg (sy oupa se naam) en publiseer verskeie van sy gedigte in tydskrifte onder die skuilnaam om die water te toets voor hy in 1980 met Angelliera debuteer.
Lewe en werk
Vroeë lewe en opleiding Theunis Theodorus Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore, waar sy pa ’n boer was.Elphia Baard Wordpress: https://elphiabaard.wordpress.com/2013/10/30/kaalvoet-deur-die-dorings/ Sy voorname beteken “Vryburger” en “Geskenk van God”. Tot aan die einde van 1939 gaan hy op Vredefort skool aan die Hoërskool Chris van Niekerk, waar hy standerd agt slaag. Daarna matrikuleer hy in 1941 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp. In 1942 begin hy om Teologie te studeer aan die Universiteit van Pretoria, maar polio bring ’n einde aan sy studies. Gedurende sy lang siekbed ontwikkel hy ’n voorliefde vir letterkunde en na sy herstel begin hy in 1945 met die studie van letterkunde onder professor Gerrit Dekker by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (tans Noordwes-Universiteit). Hy behaal in 1947 die B.A.-graad, in 1948 die Universiteits Onderwysdiploma en in 1949 die M.A.-graad, almal met onderskeiding. Sy verhandeling vir sy M.A.-graad is N.P. van Wyk Louw se siening van die geestelike lewe as teen-natuurlike en sy profeetskap daarvan.
In 1949 is hy tydelik dosent aan die Potchefstroomse Universiteit en onderwyser aan die Hoërskool Gimnasium op die dorp. Einde 1949 vertrek hy na Nederland en sit onder leiding van N.P. van Wyk Louw sy studies aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam voort. In hierdie tyd trou hy met Anna van Zyl, ’n huwelik waaruit drie seuns en twee dogters (Riana en Thea) gebore word. Hy promoveer in Januarie 1953 met ’n vergelyking tussen Trekkerswee van Totius en Joernaal van Jorik van D.J. Opperman.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Cloete,_Theunis_Theodorus
Loopbaan In Februarie 1953 aanvaar hy ’n lektoraat in Afrikaans-Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit, word later senior lektor en in 1962 word hy bevorder tot professor. In hierdie tyd verwerf hy veral bekendheid as literator. In 1963 gaan hy weer oorsee en doen navorsing in Amsterdam en Oxford. Met die stigting van die Universiteit van Port Elizabeth aanvaar hy in 1965 ’n professoraat in Afrikaans-Nederlands en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan hierdie universiteit, waar hy ook vanaf 1967 soms waarneem as rektor. Hy word die eerste dekaan van die Fakulteit Lettere daar en dien as lid van die Senaat in die Universiteit. In 1968 ondergaan hy ’n ernstige operasie, wat hom vir ’n ruk in ’n rolstoel laat beland. Hy keer in Januarie 1970 terug na die Potchefstroomse Universiteit as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands.
Hy en sy vrou besoek Europa weer in 1973. Onder voorsitterskap van Gerrit Dekker word hy aangestel as lid van die Sensuurraad en dien vir meer as tien jaar lank, tot 1975, op hierdie raad. In hierdie hoedanigheid is hy betrokke wanneer die eerste Afrikaanse roman, André P. Brink se Kennis van die aand, verbied word. Hy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde in Leiden, Nederland. By die Akademie dien hy in die Fakulteitsraad en Raad en is vir baie jare lid en ook voorsitter van die Letterkundige Komitee. Verder dien hy ook in liggame soos die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, advieskomitees van die regering en onderwysliggame.
’n Ernstige gesondheidsterugslag in 1975 dwing Cloete om, op aanbeveling van sy geneeshere, te bedank uit die Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander komitees waarop hy dien en sy aandag te beperk tot sy universiteitswerk. Hy ly aan outo-immunisering, ’n toestand waartydens die liggaam immuniseringstowwe afskei, terwyl daar niks is om te immuniseer nie. Die stowwe val dan die liggaam self aan, wat baie pyn veroorsaak en beweging aansienlik bemoeilik. In 1983 tree hy weens swak gesondheid af as hoogleraar, maar hou daarna steeds aan om Afrikaanse poësie en literêre teorie te doseer as buitengewone professor aan die Potchefstroomse Universiteit.
Openbare voordragte Hy gee verskeie belangrike openbare voordragte. Op 16 September 1977 lewer hy die Langenhoven-gedenklesing aan die Universiteit van Port Elizabeth onder die titel Totius se organiese beskouing (deur die universiteit gepubliseer), terwyl hy in 1980 die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing by die Randse Afrikaanse Universiteit aanbied onder die titel Van Wyk Louw se fundamenteel dramatiese instelling (opgeneem in Die oopgelate kring, ’n bundeling van die eerste elf sodanige gedenklesings onder redaksie van F.I.J. van Rensburg). By verskeie geleenthede lees hy ook van sy eie werk in die openbaar voor, onder andere by Versindaba se jaarlikse feeste. Tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2014 op Oudtshoorn tree hy op in die produksie God die digter. Dit bestaan uit ’n keur uit sy gedigte wat deur sy assistent Babette Viljoen en die kunstenaar Olga Leonard aaneengeskakel is om die skeppingsverhaal te vertel. Sommige van die gedigte is getoonset en gesing, terwyl Cloete self die ander voorlees. Hierdie produksie word onder regie van Lize Beekman aangebied. Na sy dood word daar by Aardklop van 2015 ’n reeks video-opnames vertoon wat in 2014 gemaak is, waarin hy praat oor sy werk aan die psalm-omdigtings.Cilliers, Susan “Cloete-opnames by Aardklop gewys” “Beeld” 1 Oktober 2015
1933 Vertaling van die Bybel In die vyftigerjare is hy betrokke by die hersiening van die 1933-vertaling van die Bybel in Afrikaans en in die sewentigerjare help hy ook met die hersiening van die Afrikaanse Kerkgesange. Weens sy statuur as digter en sy besonder wye taalkennis (benewens Afrikaans, Engels en Nederlands kan hy ook Duits, Hebreeus, Grieks, Latyn en Italiaans lees), word hy in die tagtigerjare deur die interkerklike komitee vir Psalms getaak met die opdrag van ’n nuwe Psalmberyming. Hy is langer as tien jaar besig met hierdie groot taak wat in 2002 tot ’n einde kom met die ingebruikneming van die groot nuwe “Liedboek van die Kerk”.
Persoonlike lewe Sy vrou doen nierkanker op en vir die laaste vier jaar van haar lewe versorg hy haar self. Sy is op 2 Mei 2007 oorlede. Na haar dood bly hy in ’n meenthuis op sy seun Theo se erf in Potchefstroom. Hy doen kanker in sy regterbors op, wat hy laat verwyder, waarna die kanker in 2010 in sy linkerbors hervat. ’n Gewas so groot as ’n hoendereier word uit sy linkerbors gesny. Hy is op Woensdag, 29 Julie 2015 op die ouderdom van 91-jaar in die MooiMed-hospitaal op Potchefstroom oorlede. Sy letterkundige nalatenskap word by die Noordwes-Universiteit bewaar.Cilliers, Susan “Vervulde lewe verby” “Beeld” 30 Julie 2015
Skryfwerk
Poësie Reeds van standerd ses af skryf hy deurlopend deur sy lewe gedigte, wat hy in die beginjare self toonset en sing. Die gedwonge rus wat hy moet neem tydens sy gesondheidsterugslag in 1975 bied hom die geleentheid om meer tyd aan sy digkuns te spandeer. Om die water te toets laat hy party van hierdie gedigte in Tydskrif vir Letterkunde publiseer, aanvanklik onder die skuilnaam T. Jansen van Rensburg (sy oupa se naam). Later publiseer hy ook in Standpunte. In 1981 lewer hy ’n verrassende debuut as digter met Angelliera en vestig hy hom dadelik as ’n digter van formaat. Die titel is ’n samevatting van “angel” (wat die satiriese gedigte in die bundel aandui, maar ook seksuele konnotasies het), “lier” (musiekinstrument), “liriek” (die Griekse lira, wat as instrument van die winde hemel en aarde verbind) en “angelier” (tradisioneel verbind met suiwer liefde en die huwelik, wat die gedigte oor seks, die huisgesin en die pyn en vreugdes hiervan aandui). Die meerduidige betekenis van die titel sluit die gedigte in die bundel oop en dui ook aan hoe die digter ’n harmoniese eenheid tussen alle dinge vooropstel. Aansluitend hierby is die liriese lofprysinge van die God wat alle dinge verbind. Die natuur is ook ’n belangrike motief, terwyl op satiriese wyse gebreke in die samelewing uitgewys word.Brink, André P. “Standpunte” Nuwe reeks 154, Augustus 1981Cilliers, Cecile “Die Transvaler” 9 Februarie 1981Gräbe, Ina “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 21 no. 2, Junie 1981Pretorius, Réna “Beeld” 9 Maart 1981Grové, A.P. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 19 no. 1, Februarie 1981 Angelliera verwerf die Ingrid Jonkerprys en die W.A. Hofmeyrprys in 1981 en is in dieselfde jaar op die kortlys vir die toekenning van die Louis Luyt-prys. In 1990 word hierdie bundel saam met Jukstaposisie met die Rapportryersprys bekroon.
Jukstaposisie se titel dui reeds aan dat dinge (en afdelings) naas mekaar gestel word om beide die teenstellings as die ooreenkomste op digterlike wyse te betrag. Die gedigte is ’n verwondering oor die grootsheid van God se skepping, wat in sy wese teenstellend en paradoksaal is, met die teenstelling self ’n wonder. So word daar verbande gevind tussen die mees disparate dinge wat vernuftig van verskeie hoeke verken word, terwyl alles op ’n manier interafhanklik is. Die agt genommerde afdelings word binne hierdie oorkoepelende verband tot eenheid gesnoer deur motiewe (lewe en dood, wreedheid en skoonheid, digterskap, blywende aarde teenoor verganklike mens) vernuwend te herhaal en ander gesigspunte daarop te betrek.Brink, André P. “Rapport” 20 Februarie 1983Gräbe, Ina “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 22 no. 1, Februarie 1984Gräbe, Ina “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 24 no. 1, Maart 1984Spies, Lina “Die Burger” 13 Januarie 1983 Die Louis Luyt-prys word in 1983 aan Jukstaposisie toegeken en in 1990 wen hierdie bundel saam met Angelliera die Rapportryersprys.
Allotroop werk met die gegewe van ’n ernstige siekbed, waardeur ’n herwaardering van die aardse en goddelike volg. Die eerste deel van die titel is afgelei van die Griekse “allos” wat “anders” beteken en verwys na die feit dat ’n toestand of oerelement in meer as een vorm kan voorkom. Die tweede deel van die titel (“troop”) word normaalweg geassosieer met stylfigure of die uitbreiding van standaardbetekenis soos byvoorbeeld die geval is by gebruik van ’n metafoor. Die saambinding wys ook op die chemiese verskynsel dat sekere elemente en verbindinge (soos koolstof, fosfor en swawel) in meer as een vorm kan bestaan. Telkens word dus ander vorms van dieselfde onderwerp weergegee, sodat die eendersheid van ander (verskillende) dinge ervaar kan word. Die sewe afdelings van hierdie bundel betrek verskeie verskyningsvorms van die aardse bestaan, soos lewe en dood, groei en aftakeling, aanvaarding en verset, wat elkeen op eie manier deel is van die groot geheel en dus eerder aanvullings van mekaar is as teenoorgesteldes.Brink, André P. “Rapport” 7 Julie 1985Grové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 25 no. 3, September 1985Die Burger” 25 Julie 1985 Allotroop wen die C.N.A.-prys in 1985, die W.A. Hofmeyr-prys in 1986 en saam met Idiolek die Hertzogprys in 1987 en is op die kortlys vir die toekenning van die Rapportprys in 1986.