thumb|links|260px|Garrard Conley (links), skrywer van Boy Erased: A Memoir oor konversieterapie waarvan die rolprent Boy Erased gemaak is, en Joel Edgerton, regisseur van die prent. Konversieterapie is die skynwetenskaplike praktyk om iemand se seksuele oriëntasie, romantiese oriëntasie, genderidentiteit of genderuitdrukking te probeer verander om in te pas by heteroseksuele en cisgender norme. Metodes wat al gebruik is, sluit in breinchirurgie, chirurgiese of chemiese kastrasie, aversieterapie soos elektriese skokke, dwelmmiddels wat die mens naar maak, hipnose, berading, psigoanalise, spirituele ingrypings en prikkelingsrekondisionering.
Die wetenskaplike konsensus is dat konversieterapie ondoeltreffend is om iemand se seksuele oriëntasie of genderidentiteit te verander en dat dit dikwels sielkundige skade op lang termyn aanrig. Die huidige geneeskundige en kliniese riglyne is dat homoseksualiteit, biseksualiteit en genderverskille natuurlike en gesonde variasies van menslike seksualiteit is. Verskeie lande wêreldwyd het al wette teen die praktyk aanvaar.
Terminologie Mediese beroepslui en aktiviste beskou "konversieterapie" as 'n verkeerde benaming, omdat dit nie 'n wettige vorm van terapie is nie. Alternatiewe terme sluit in veranderingspogings vir seksuele oriëntasie (Engelse afkorting: SOCE) of veranderingspogings vir genderidentiteit (GICE) – saam word dit veranderingspogings vir seksuele oriëntasie en genderidentiteit (SOGICE) genoem. Volgens die navorser Douglas C. Haldeman moet SOCE en GICE as een ding beskou te word, omdat albei berus op die aanname "dat genderverwante gedrag wat met die individu se geboortegeslag ooreenstem, normatief is en enigiets anders onaanvaarbaar is en verander moet word". "Reparatiewe terapie" kan na konversieterapie in die algemeen of na 'n ondergroep daarvan verwys.
Voorstanders van konversieterapie gebruik ook nie noodwendig die term nie, maar eerder frases soos "heling van seksuele gebrokenheid" of 'n "stryd met aantrekking tot dieselfde geslag".
Geskiedenis Veranderingspogings vir seksuele oriëntasie Die term "homoseksueel" is deur die Duitssprekende Hongaarse skrywer Karl Maria Kertbeny bedink en was teen die 1880's in gebruik. Tot in die middel van die 20ste eeu is mededingende sienings van homoseksualiteit deur psigoanalise teenoor akademiese seksuologie voorgestaan.
Sigmund Freud, die stigter van psigoanalise, het homoseksualiteit beskou as 'n vorm van vertraagde ontwikkeling. Latere psigoanaliste het Sandor Rado gevolg, wat gemeen het homoseksualiteit is 'n "fobiese vermyding van heteroseksualiteit wat deur ontoereikende vroeë ouerleiding veroorsaak word". Dié manier van dink was gewild in sielkundige modelle van homoseksualiteit wat geskoei is op die tronkbevolking of homoseksuele wat behandeling ondergaan het.
In teenstelling het seksuologienavorsers soos Alfred Kinsey geglo homoseksualiteit is 'n normale variasie in menslike ontwikkeling. In 1970 het gay aktiviste die Amerikaanse Sielkundige Vereniging gekonfronteer en hulle oorreed om te herbesin of homoseksualiteit as 'n steuring gelys behoort te word. Die vereniging het dit in 1973 van die lys afgehaal en dit het baie bygedra tot veranderings in die openbare mening van homoseksualiteit.
Ondanks hulle gebrek aan wetenskaplike rugsteuning het sommige sosiaal en godsdienstig konserwatiewe aktiviste voortgegaan om te redeneer dat as een mens se seksualiteit verander kan word, homoseksualiteit nie 'n vaste gegewe soos ras is nie. Sommige van die individue het, op grond van gediskrediteerde psigoanalitiese idees oor die oorsaak van homoseksualiteit, met konversieterapie begin. In 2001 het konversieterapie die aandag getrek toe Robert L. Spitzer 'n studie wat nie deur eweknieë hersien is nie, gepubliseer het waarin beweer is sommige homoseksuele kan hulle seksuele oriëntasie verander. Baie navorsers het die studie metodologies gekritiseer en Spitzer het dit later teruggetrek.
Veranderingspogings vir genderidentiteit Veranderingspogings vir genderidentiteit verwys na praktyke van gesondheidsorgwerkers en godsdiensraadgewers om 'n persoon se genderidentiteit of te probeer verander om by sosiale norme in te pas. Voorbeelde sluit in aversieterapie, kognitiewe rekonstruksie en psigoanalitiese en geselsterapie. Westerse mediese modelle het transfobie histories geïnstitusionaliseer: deur stelselmatig voorkeur aan 'n binêre gendermodel te gee en genderdiversiteit en niekonformiteit te patalogiseer. Dit het tot die ontwikkeling van GICE gelei.
Vroeë ingrypings was gewortel in psigoanalitiese hipoteses. Robert Stoller het die teorie geformuleer dat genderniekonformiteit in kinders wat by geboorte tot die manlike geslag toegewys is, veroorsaak word deur te na aan hulle moeders te wees. Richard Green het sy navorsing voortgesit; sy metodes vir die verandering van gedrag het ingesluit om die vader meer tyd met die kind te laat deurbring en die moeder minder. Van albei is verwag om stereotiepe genderrolle te toon, hulle kind se manlike gedrag te prys en sy vroulike en niekonformerende gedrag te veroordeel. Dié ingrypings het gelei tot depressie in die kinders en gevoelens van verraad by die ouers omdat die behandeling misluk het.
In die 1970's het die sielkundige Richard Green vir Ole Ivar Lovaas gewerf om die tegnieke van toegepastegedragsanaliseterapie aan te pas in 'n poging om kinders te keer om transseksueel te word. Die behandeling van die "vroulikeseunprojek" het kondisionering gebruik om genderkonformerende gedrag te beloon en niekonformerende gedrag te straf.
Kenneth Zucker van die Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid in Toronto het Richard Green se metodes aanvaar, maar die omvang verklein in 'n poging om die kind te keer om as transgender te identifiseer deur gendergedrag en te verander om in te pas by die verwagtings van die toegewese gender by geboorte. Hy het dit die "living in your own skin"-model genoem. Sy model het dieselfde ingrypings as Green gebruik, met die byvoeging van psigodinamiese terapie.
Motivering 'n Algemene motivering vir volwassenes wat by konversieterapie betrokke raak, is hulle godsdienstige oortuigings, veral in die evangelistiese Christendom en ortodokse Judaïsme, wat selfdegeslagverhoudings afkeur. Dit is vir dié volwassenes belangrik om 'n goeie verhouding met hulle familie en godsdiensgemeenskap te hê. Adolessente wat druk van hulle familie ondervind om konversieterapie te ondergaan, kom ook gewoonlik van 'n konserwatiewe godsdiensagtergrond. Jeugdiges van families met 'n lae sosiaalekonomiese status is ook meer geneig om sodanige terapie te ondergaan.
Teorieë en tegnieke Omdat die gemeenskap se houding teenoor homoseksualiteit mettertyd verdraagsamer geword het, het die strawwe konversieterapeutiese metodes ook afgeneem. Sekulêre konversieterapie kom minder voor vanweë die verminderde mediese patologisering van homoseksualiteit, en godsdienstige beoefenaars het oorheersender geword.
Aversieterapie Aversieterapie wat vir homoseksuele gebruik is, het ingesluit elektriese skokke en die gee van dwelms wat die pasiënt naar maak wanneer selfdegeslag- erotiese beelde gewys word. Die beëindiging van die aversiestumilusse het gewoonlik gepaardgegaan met die wys van erotiese beelde van mense van die teenoorgestelde geslag. Die doel was om heteroseksuele gevoelens te versterk.
Ander metodes het behels ysbaddens, vriesing, brand met metaalspoele en dwangarbeid. Die doel was dat die pasiënt homoseksualiteit met pyn verbind. Dié metodes is as ondoeltreffend bewys.
Aversieterapie is tussen 1950 en 1962 in Tsjeggo-Slowakye en van 1962 tot die middel 1970's in die Britse Statebond toegepas. In die konteks van die Koue Oorlog het Westerse sielkundiges die swak resultate van hulle Tsjeggo-Slowaakse eweknieë geïgnoreer. Dié het teen 1961 tot die gevolgtrekking gekom dat aversieterapie ondoeltreffend was en het aanbeveel dat homoseksualiteit eerder gediskriminaliseer word. Sommige mans in die Verenigde Koninkryk is 'n keuse gebied tussen tronkstraf en aversieterapie. Dit is ook aan 'n paar Britse vroue gebied, maar dit was nooit die standaardbehandeling vir homoseksuele mans of vroue nie.
In die 1970's was die gedragskenner Hans Eysenck een van die hoofvoorstanders van kontrakondisionering met naarmakende dwelms en elektriese skokke vir homoseksuele. Hy het geskryf dié soort terapie is in amper 50% van gevalle suksesvol, maar sy studies word in twyfel getrek. Bedragsterapeute, insluitende Eysenck, het aversiemetodes gebruik. Dit het gelei tot 'n protes teen Eysenck deur die gay aktivis Peter Tatchell op 'n mediese simposium in 1972. Tatchell het gesê die terapie wat Eysenck voorstaan, is 'n vorm van marteling. Volgens Tatchell het Eysenck se vorm van gedragsterapie gelei tot depressie en selfmoord onder gay mans wat dit ondergaan het.
Breinchirurgie In die 1940's en 1950's het die Amerikaanse neoroloog Walter Freeman die yspiklobsnyding gewild gemaak as behandeling vir homoseksuele. Hy het persoonlik tot 3 439 lobsnydings in 23 deelstate uitgevoer, waarvan sy yspikmetode in 2 500 gevalle gebruik is, ondanks die feit dat hy geen formele chirurgiese opleiding gehad het nie.
In die 1960's en 1970's is in Wes-Duitsland 'n soort breinchirurgie op homoseksuele gedoen wat gewoonlik behels het dat 'n kern van die hipotalamus, die ventromediale kern, vernietig word. Die praktyk is deur die seksuoloog Volkmar Sigusch gekritiseer.
Kastrasie en oorplantings In die vroeë 20ste eeu is eksperimente in Duitsland gedoen waarin die testikels van heteroseksuele mans op homoseksuele mans oorgeplant is. Dié operasies was 'n algehele mislukking.
thumb|links|Friedrich-Paul von Groszheim (1908-2006) het 'n konsentrasiekamp vrygespring nadat hy ingestem het om in 1938 kastrasie onder druk te ondergaan. Die chirurgiese kastrasie van homoseksuele mans was in die eerste helfte van die 20ste eeu algemeen in Europa. Die SS-leier Heinrich Himmler het gelas dat homoseksuele mans na konsentrasiekampe gestuur word omdat hy nie geglo het 'n tronkvonnis vir 'n beperkte tyd is genoeg om homoseksualiteit uit te wis nie. Hoewel dit teoreties vrywillig was, is geweldige druk op homoseksuele uitgeoefen om tot kastrasie in te stem. Daar was geen ouderdomsbeperking nie; sommige seuns was net 16 jaar oud toe hulle gekastreer is. Dié wat tot kastrasie ingestem het ná skuldigbevinding aan seksdade tussen mans is nie na 'n konsentrasiekamp gestuur nadat hulle hulle regsvonnis uitgedien het nie. Sommige gevangenes in konsentrasiekampe is ook gekastreer. Na raming is 400 tot 800 mans gekastreer.
Die endokrinoloog Carl Vaernet het probeer om homoseksuele gevangenes in konsentrasiekampe se seksuele oriëntasie te verander deur die inplanting van 'n balletjie wat testosteroon vrystel. Die meeste van die slagoffers, gevangenes in Buchenwald wat nie hulle toestemming gegee het nie, is kort daarna dood.
'n Onbekende getal mans is in Wes-Duitsland gekastreer en chemiese kastrasie is in ander Westerse land gebruik: 'n Bekende voorbeeld is Alan Turing in Brittanje.
Hipnose Hipnose is sedert die 19de eeu in konversieterapie gebruik deur Richard von Krafft-Ebing en Albert von Schrenck-Notzing. In 1967 het die Kanadese psigiater Peter Roper 'n gevallestudie gepubliseer van die behandeling met hipnose van 15 homoseksuele (wat waarskynlik volgens moderne standaarde as biseksueel beskou sou gewees het).
Agt het na bewering 'n "merkbare verbetering" getoon ná hipnotiese behandeling (hulle het na berig word 'n seksuele aantrekking tot dieselfde geslag heeltemal verloor), vier effense verbeterings ('n afname in "homoseksuele neigings") en drie geen verbetering nie. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat "hipnose meer bevredigende resultate kan lewer as enige ander metode", na gelang van die pasiënte se vatbaarheid vir hipnose.
thumb|160px|'n Hokkie vir OneByOne, 'n eksgayorganisasie, op 'n Love Won Out-konferensie. Eksgay-/ekstransbedienings