duimnael|regs|Rust en Vrede Rust en Vrede is ‘n Bolandse wynplaas net suid van Stellenbosch en is ryk aan geskiedenis en veral bekend om sy landgoedwyn.

Ligging Die plaas lê by 33° 59′ 54″ suid, 18° 51′ 22.5″ oos en tussen die bekende wynplase Dombya, Waterford, Alto en Annandale. Dit is windbeskut teen die hellings van die Helderberg en tussen 85 en 130 m bo seevlak.

Geboue Op 12 Maart 1694 is die plaas Bonterivier deur die VOC hier toegeken. Die twee woonhuise en die wynkelder tussen die akkerbome dateer uit die laat 18de eeu en is tot kultuurmonumente verklaar. Die ou herehuis met sy 6 gewels is deur Johan Lorenz Liebentreu vir sy seun gebou. Dit het Bataafse vloerteëls en die plafonne en sekere ander vloere is van geelhoutplanke. Teen die 1860’s is die deel van die plaas nou bekend as Rust en Vrede in besit van die Tielman Roos-familie. Jannie Engelbrecht koop die plaas in 1977 en word die opstal met behulp van Gawie Fagan gerestoureer. ‘n Unieke ondergrondse verouderingskelder met ruimte vir ‘n half miljoen bottels is in 1984 opgerig volgens ‘n plan van Fagan.

Wyn Op die plaas van 64 ha word oorwegend met rooi druiwe geboer. Vir sy landgoedwyn het Rust en Vrede verskeie gesogte pryse verower.

Landgoedwyn Indien ‘n wyn as ‘n landgoedwyn bemark word, moet dit op daardie besondere plaas berei word uit druiwe wat slegs op daardie plaas geoes is. Die wyn mag egter wel elders gebotteleer word.

Lees ook Lys van wynkelders in Suid-Afrika

Bronnelys Fourie, Hérine: Stellenbosch Winelands. Stellenbosch: Maxprod CC, 2003. www.sun.ac.za/kie/stellenbosch McGregor, Lindsaye en Erica Moodie: Wineries of the Cape. The essential companion to touring the winelands. Kaapstad: Sunbird, 2013. Slingsby, Peter: Cape Winelands – the map. Muizenberg: Baardskeerder, 2010.

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Stellenbosch Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika