Toy Boy is 'n Spaanse drama vir televisie met Jesús Mosquera, Cristina Castaño en María Pedraza. Dit is die eerste keer in September 2019 op FesTVal en Atresplayer Premium gewys voordat dit op 25 September 2019 op Antena 3 verskyn het.

Storielyn Die verhaal speel in Costa del Sol af. Hugo Beltrán (Jesús Mosquera) is 'n jong, aantreklike en sorgelose ontkleedanser. Hy word een oggend ná 'n wilde partytjie op sy seilboot wakker langs die gebrande lyk van 'n man, na bewering die man van sy minnares, Macarena Medina (Cristina Castaño), 'n magtige vrou. Hugo onthou niks van die vorige aand nie, maar is seker hy is nie die moordenaar nie, maar die slagoffer van 'n slenter. Ná 'n vinnige verhoor word hy gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf.

Sewe jaar later word hy in die tronk besoek deur Triana Marín (María Pedraza), 'n jong prokureur wat namens 'n groot regsmaatskappy aanbied om hom te help om sy onskuld in 'n nuwe vehoor te bewys. Hoewel Hugo nie die aanbod vertrou nie, kry Triana Hugo op parool vrygelaat.

Triana en Hugo werk saam om die ingewikkelde gekonkel te ontknoop wat hom onskuldig in die tronk laat beland het. Dit is nie 'n gemaklike verhouding nie, want hulle behoort tot teenoorgestelde wêrelde: Sy is 'n hardwerkende prokureur met verantwoordelikheid en 'n blink toekoms; hy is 'n ontkleedanser en voormalige gevangene wat deur almal buiten homself as 'n moordenaar beskou word.

Rolverdeling Die belangrikste akteurs en karakters in die eerste seisoen is: Jesús Mosquera is Hugo Beltrán González. Cristina Castaño is Macarena Medina de Solís. María Pedraza is Triana Marín. José de la Torre is Iván, 'n ontkleedanser. Carlo Costanzia is Jairo Soto, 'n ontkleedanser. Raudel Raúl Martiato is Germán, 'n ontkleedanser. Juanjo Almeida as Andrea Norman Medina, Macarena se seun. José Manuel Seda is Borja Medina de Solís, Macarena se broer. Álex Gadea is Mateo Medina de Solís, Macarena se broer. Pedro Casablanc is polisie-inspekteur Mario Zapata. Elisa Matilla is María Teresa Rojas, 'n gedugte mededinger van die Medinas.

Van die tweede seisoen af Álex González is Leonardo Giallo, ook bekend as "El Turco". Federica Sabatini is Rania.

Episodes       Seisoen   Episodes  Uitgereik 1 13 2 8

Vervaardiging en uitreiking Toy Boy is deur César Benítez, Juan Carlos Cueto en Rocío Martínez geskep en deur Atresmedia Televisión vervaardig, in samewerking met Plano a Plano. Iñaki Mercero en Javier Quintas was die regisseurs van die episodes in die eerste seisoen. Die eerste seisoen is geskiet op natuurlike plekke in Costa del Sol. Die seisoen is in Mei 2019 voltooi.

Ondanks middelmatige kykersgetalle ná die aanvanklike uitreiking, het dit 'n groter aanhang op Netflix geniet. In Julie 2020 het Atresmedia en Netflix besluit om 'n tweede seisoen te skep. Verfilming het teen Maart 2021 begin.

In April 2021 is aangekondig bykomende akteurs is Álex González, Federica Sabatini, Enrique Arce, Paco Marín, Ibrahim Al-Shami, Toni Zenet en Juan Betancourt, met Javier Quintas en Laura M. Campos as regisseurs. Seisoen 2 het op 11 Februarie 2022 op Netflix begin wys.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Spaanse televisiereekse