Bernard Lucas "Ben" Feringa (Nederlandse uitspraak: [ˈbɛrnɑrt ˈlykɑz bɛn ˈfeːrɪŋɣaː]; gebore op 18 Mei 1951) is 'n Nederlandse sintetiese organiese chemikus, wat spesialiseer in molekulêre nanotegnologie en homogene katalise.
Hy is die Jacobus van 't Hoff Vooraanstaande Professor in Molekulêre Wetenskappe,aan die Stratingh Instituut vir Chemie, Universiteit van Groningen, Nederland, en 'n Akademie Professor van die Koninklike Nederlandse Akademie van Kuns en Wetenskappe. Hy is bekroon met die 2016 Nobelprys vir Chemie, saam met sir J. Fraser Stoddart en Jean-Pierre Sauvage, "vir die ontwerp en sintese van molekulêre masjiene".
Persoonlike lewe Feringa is gebore as die seun van boer Geert Feringa (1918–1993) en sy vrou Lies Feringa née Hake (1924–2013). Feringa was die tweede van tien broers en susters in 'n Katolieke gesin. Hy het sy jeugjare deurgebring op die familie se plaas, wat direk op die grens met Duitsland is, in Barger-Compascuum in die Bourtange-heide. Hy is van Nederlandse en Duitse afkoms. Onder sy voorgeslagte is die setlaar Johann Gerhard Bekel. Saam met sy vrou Betty Feringa het hy drie dogters. Hy woon in Paterswolde naby Groningen. Sien Duitse en Nederlandse Wikipedia.
Loopbaan Feringa het in 1974 sy MSc-graad met lof aan die Universiteit van Groningen ontvang. Hy het daarna 'n PhD-graad aan dieselfde universiteit in 1978 behaal, met die tesis getiteld "Asimmetriese oksidasie van fenole. Atropisomerisme en optiese aktiwiteit". Na 'n kort tydperk by Shell in Nederland en die Verenigde Koninkryk, is hy in 1984 aangestel as lektor aan die Universiteit van Groningen en Vol Professor, wat prof Wijnberg opvolg, in 1988. Sy vroeë loopbaan was gefokus op homogene katalise en oksidasie katalise, en veral oor stereochemie met groot bydraes op die gebied van enantioselektiewe katalise, insluitend monofosligand wat gebruik word in asimmetriese hidrogenering, asimmetriese gekonjugeerde toevoegings van organometaalreagense, insluitend die hoogs reaktiewe organolithiumreagense en organiese fotochemie en stereochemie. In die 1990's het Feringa se werk in stereochemie gelei tot groot bydraes in fotochemie, wat gelei het tot die eerste eenrigting-liggedrewe molekulêre roterende motor en later 'n molekulêre motor ('n sogenaamde nanomotor) wat deur elektriese impulse aangedryf word.
Ben Feringa het meer as 30 patente en het tot dusver meer as 650 eweknie-geëvalueerde navorsingsartikels gepubliseer, meer as 30 000 keer aangehaal en het 'n h-indeks van meer as 90. Hy het meer as 100 PhD-studente oor sy loopbaan gelei.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Nederlandse chemici Kategorie:Akademici Kategorie:Anorganiese chemie Kategorie:Nobelprys vir Chemie wenners Kategorie:Geboortes in 1951 Kategorie:Lewende mense