Die Icon of the Seas is die vlagskip van die Amerikaanse skeepvaartmaatskappy Royal Caribbean International. Die plesierboot is deur die Finse Meyer Turku gebou en is op 26 Januarie 2024 in gebruik geneem. Voor die nooiensvaart is die skip deur die beroemde sokkerspeler Lionel Messi gedoop.

Met 'n lengte van 365 meter en 'n bruto tonnemaat van 250 800, het dit Wonder of the Seas opgevolg as die grootste plesierboot ter wêreld.

Geskiedenis Royal Caribbean en Meyer Turku het in 2016 aangekondig dat hulle twee vaartskepe onder die naam Icon sal begin bou.

Konstruksie van Icon of the Seas het in Junie 2021 begin. 'n Jaar later het Royal Caribbean bevestig dat die skip groter sou wees as die Oasis-klas, 'n ander klas vaartuie van die maatskappy.

Die proefvaart in oop water het op 19 Junie 2023 begin. Hierdie toetsfase is deel van die program om te ondersoek of die skip seewaardig bevind is. Die werkverrigting, toerusting en veiligheid van die vaartuig word byvoorbeeld ondersoek. 'n Suksesvolle toetsfase lei tot sertifisering deur internasionale seevaartowerhede.

Fasiliteite Die skip bestaan uit agt 'buurte', elk met sy eie tema, waarvan die "AquaDome"-woonbuurt nog nie voorheen op Royal Caribbean-skepe tevinde was nie. Dié woonbuurt het onder meer 'n 17 meter-hoë waterval. Daarbenewens is daar die "Central Park", 'n park met sowat 21 duisend regte plante op die skip. Daar is ook die woonbuurte "Surfside", "Chill Island", "Royal Promenade", "The Hideaway", "Thrill Island" en "Suit Neighborhood".

Verder is daar altesaam 40 restaurante en vermaaklikheidsplekke. Die boot het 'n konferensiesentrum, mediese fasiliteit, buitelugbioskoop, kasino, musieksaal, basketbalbaan en teater.

Royal Caribbean beweer dat hulle die grootste waterpark ter see het met sewe swembaddens, ses waterglybane, nege maalkolke, 'n waterval en 'n landskapswembad. Daar is ook speelareas en 'n "chill-eiland" met 'n kroeg binne-in die water.

Tegniese eienskappe Icon of the Seas word aangedryf deur ses Wärtsilä multibrandstofenjins met 'n totale krag van 67 500 kW. Hierdie enjins gebruik hoofsaaklik vloeibare aardgas (LNG), maar kan ook op brandstofolie werk. 'n Alternatiewe energiebron is die beskikbare brandstofselle, wat die skip van elektrisiteit en skoon drinkwater voorsien.

Die plesierboot het 'n lengte van 365 meter, daar is 20 dekke, 2 805 kajuite, en kan 5 610 passasiers (met dubbele besetting) en 2 350 bemanningslede akkommodeer. ’n Maksimum van 7 600 passasiers kan aan boord wees.

Verwysings

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Skepe