Elite (Spaans: Élite) is 'n Spaanse tienerdramareeks wat deur Carlos Montero en Darío Madrona vir Netflix geskep is. Die reeks speel af in Las Encinas, 'n fiktiewe elitehoërskool vir bevoorregte en ryk tieners. Elite fokus aanvanklik op drie werkersklasleerlinge wat deur 'n studiebeursprogram toegang tot die skool kry, en hulle sosiale en romantiese wisselwerkings met verskeie ander leerlinge in die skool.

Die reeks het agt seisoene lank geloop, van 5 Oktober 2018 tot 26 Julie 2024.

Hoewel die reeks ook ligte oomblikke het, sentreer Elite hoofsaaklik op die teenspoed en uitdagings van die hoofkarakters en verken dit progressiewe onderwerpe soos homoseksualiteit, klassisme, ouerlike verwaarlosing en onwettige bedrywighede soos dwelmhandel, misdaad en moord.

Die eerste seisoen van agt episodes se première op Netflix was op 5 Oktober 2018. Dit het positiewe resensies gekry van resensente en kykers, wat dit as "skuldige pret" bestempel het. Die skryfwerk, toneelspel en uitbeelding van volwasse temas is veral geprys.

Oor die volgende ses jaar is nog sewe seisoene van agt episodes elk op Netflix uitgereik. Die uitreiking van die agtste en laaste seisoen was op 26 Julie 2024.

Storielyn

Drie jong vriende – Samuel, Nádia en Christian – kry 'n studiebeurs van 'n konstruksiemaatskappy nadat hulle ou skool inmekaargestort het weens swak bouwerk. Hulle nuwe skool is Las Encinas, 'n prestigeryke instituut in Spanje waar die kinders van die land se elite studeer.

In Las Encinas ontmoet die drie die ryk sibbes Marina en Guzmán, wie se pa die konstruksiemaatskappy besit wat vir die ongeluk by hulle ou skool verantwoordelik was; Guzmán se aan-en-af-meisie, Lu; die skoolhoof se seun, Ander; en die paartjie Pólo en Carla. Samuel se broer, Nano, wat kort tevore uit die tronk vrygelaat is, en Nádia se broer, Omar, raak ook gou betrokke in die botsende lewenstyle, neid, jaloesie en seksuele aangetrokkenheid.

Deur middel van 'n reeks toekomsflitse van die begin van die eerste episode af, word gewys hoe die botsings eindelik lei tot die geheimsinnige moord op Marina. Die storie het twee tydlyne: Een wys die polisie se ondervraging en die ander die karakters se verhoudings wat tot die moord gelei het.

Ná die onthulling van hulle klasmaat Marina se dood en die verdwyning van Samuel, gaan die tweede seisoen oor die leerlinge wat terugkom skool toe vir hulle finale jaar, met die fokus veral op die eerste semester. Daar is drie nuwe klasmaats: Rebeka, Cayetana en Valerio, wat almal donker geheime het. Die nuwe karakters raak vriende met hulle klasmaats, terwyl Samuel steeds probeer om sy broer, Nano, wat valslik van Marina se dood beskuldig word, vrygespreek te kry. Polo oorweeg selfmoord weens sy skuldgevoelens, maar vind eindelik troos en geluk by Cayetana. Ander se geestesgesondheid gaan agteruit onder die las van Polo se geheim. Carla, wat dink Samuel is dood, beken sy weet van Polo se misdaad.

Dit is die leerlinge se laaste semester by Las Encinas. In 'n toekomsflits ondervra die polisie die leerlinge oor Polo se dood op 'n skoolverlatingspartytjie. Polo en Cayetana word deur hulle klasmaats, buiten Valerio, vermy. Samuel en Guzman sit hulle plan voort om Polo se misdade te wreek. Lu en Nadia ding mee om die beurs na die Universiteit van Columbia, en dit lei tot 'n nuwe vriendskap. Ander word gediagnoseer met leukemie en begin met chemoterapie, wat wrywing tussen hom en sy geliefdes veroorsaak. Op hulle laaste partytjie by die skool steek 'n dronk Lu Polo per ongeluk, en hy val hom dood. Die groep besluit saam om die moord toe te smeer. Omdat die polisie nie 'n skuldige kan vind nie, word Polo se dood eindelik aan selfmoord toegeskryf. Sy ouers vertel eindelik vir die polisie hy het skuld op Marina se dood erken.

Terwyl 'n nuwe jaar by Las Encinas begin, ontvou 'n nuwe geheim met die aankoms van die nuwe skoolhoof, Benjamin, en sy kinders: Ari, Mencía en Patrick. Ari word bynadood aangetref en die verhaal neem verskeie wendings met verskillende moontlikhede oor wat kon gebeur het. Benjamin se kinders en Philippe, 'n Franse prins wat by 'n skandaal betrokke is, beland in dieselfde klas as Samuel, Guzmán, Rebeka, Ander en Omar. Die dinamika tussen die ou en nuwe leerlinge begin ontwikkel. Terselfdertyd raak Mencía betrokke by prostitusie onder invloed van Armando, 'n sakeman wat Benjamin ken. Eindelik raak dit bekend die poging tot moord op Ari en die dood van Armando is met mekaar verweef.

Ná Armando se moord deur Guzmán, besluit laasgenoemde en Ander om die skool te verlaat en op 'n lang reis om die wěreld te gaan. Samuel en Rebeka steek die waarheid vir almal weg, insluitende Omar, Cayetana, Ari, Mencía en Patrick. Toe Armando se liggaam egter ontdek word, lei dit tot 'n reeks gebeure wat nuwe vriendskappe meebring en hulle lewens vir altyd verander. Twee nuwe leerlinge, Isadora en Iván, sluit by Las Encinas aan en sluit verbintenisse met ou leerlinge, veral Phillipe en Patrick. In 'n toekomsflits word Samuel se lewelose liggaam in 'n swembad aangetref, en verskillende storielyne het verskillende verduidelikings oor hoe hy daar beland het.

Drie maande ná die dood van Samuel en die inhegtenisneming van Benjamin vir sy moord, begin 'n nuwe skooljaar. Omar, Rebeka en Phillipe het sedertdien afstudeer. Intussen is Ari, Patrick en Mencía verplig om hulle laaste jaar te herhaal omdat hulle skool misgeloop het weens hulle pa se arres. Iván en Isadora is ook in hulle laaste jaar saam met 'n paar nuwe leerlinge: Nico, Rocío, Dídac, Sonia en Sara. Ook betrokke by die intriges is Sara se kêrel, Raúl, wat haar mishandel. Baie dinge gebeur in die seisoen, en in 'n toekomsflits word gesien hoe Iván deur 'n motor getref word.

Twee weke ná die gebeure van die vorige seisoen kry Omar, wat nou op universiteit is, 'n internskap by Las Encinas. Hy sukkel met depressie wat 'n jaar vroeër, met Samuel se dood, begin het. Omar is in 'n verhouding met Joel, wat ook by Las Encinas aangesluit het. Intussen het Patrick, Ari en Mencía uit Madrid getrek, en Iván herstel van 'n ongeluk. Isadora is in 'n affair met Didàc en Sara in 'n toksiese verhouding met Raúl. Nico, Sonia en Rocío het elk sy eie probleme. 'n Nuwe leerling, Chloe, en haar enigmatiese ma, Carmen, kom op die toneel. Ook Nico se neef, Eric, kom na Las Encinas. In 'n toekomsflits word Raúl vermoor.

Die leerlinge in hulle laaste jaar word genader deur 'n vereniging van oudleerlinge van Las Encinas, onder leiding van die omstrede Héctor en Emilia Krawietz, wat nuwe lede werf. Eric en Chloe begin 'n stormagtige verhouding. Sara probeer om oor Raúl se dood te kom en vind aansluiting by Nico. Sonia en Dalmar begin ook 'n verhouding. Isadora het probleme met haar ouers en die polisie. Iván, wat van Suid-Afrika af teruggekeer het, probeer met Joel kliek. Die Oudleerlingeklub word al hoe verraderliker en Omar, wat Las Encinas baie goed ken, probeer dit beveg saam met sy suster, Nadia. Die toekomsflits is van Joel se moord, die sleutelvoorval wat lei tot die sluiting van Las Encinas aan die einde van die seisoen.

Rolverdeling Die belangriste akteurs en karakters van Elite is: Van seisoen 1 af María Pedraza is Marina Nunier Osuna (seisoen 1), Guzmán se suster en die liefdesbelangstelling van Nano en Samuel. Sy kom uit 'n ryk gesin en is geneig om vir die verkeerde ouens te val. Sy rebelleer teen die hipokratiese idees van haar gesin, terwyl sy jeugdig en vrolik bly. Sy word in seisoen 1 vermoor. Itzan Escamilla is Samuel García Domínguez (seisoene 1-5), een van drie studiebeursleerlinge, wat die liefdesbelangstelling van Marina is en later verlief raak op Carla. 'n Hardwerkende, eerlike seun wat altyd besorg oor die mense om hom is. Miguel Bernardeau is Guzmán Nunier Osuna (seisoene 1-4), die aangenome broer van Marina, en Lu se ekskêrel, wat verlief raak op Nadia. 'n Heethoofdige, gewilde seun wat glo hy is altyd reg. Hy is baie beskermend teenoor sy suster. Miguel Herrán is Christian Varela Expósito (seisoene 1-2), 'n studiebeursleerling wat in 'n verhouding met Polo en Carla gaan. 'n Sorgelose karakter wat verbind aan sy verlede probeer bly terwyl hy gewild wil wees onder die ryk kinders. Jaime Lorente is Fernando "Nano" García Domínguez (seisoene 1-2), Samuel se ouer broer wat pas uit die tronk kom en 'n liefdesbelangstelling van Marina. Sy aantreklike en gevaarlike aura trek Marina aan. Hy is dikwels in die moeilikheid. Álvaro Rico is Leopoldo "Polo" Benavent Villada (seisoene 1-3), Carla se ekskêrel en Cayetana se liefdesbelangstelling. Hy is onderdanig en volg die opdragte van die mense na aan hom. Hy is baie ryk, die seun van twee ma's en kry paniekaanvalle. Hy vermoor Marina aan die einde van seisoen 1. Hy is biseksueel en raak in seisoen 1 betrokke in 'n verhouding met Carla en Christian, en in seisoen met Cayetana en Valerio. Arón Piper is Ander Muñoz (seisoene 1-4),die seun van die skoolhoof en verlief op Omar. Hy is 'n stersportman en onder konstante druk van sy ouers om te presteer in alles wat hy doen. Hy gee baie om vir die mense na aan hom. Hy is gay en vind in seisoen 3 uit hy het leukemie. Hy stoot sy vriende weg en oorkom eindelik die siekte, maar moet sy laaste skooljaar herhaal. Mina El Hammani is Nadia Shanaa (seisoene 1-4, 8), 'n studiebeursleerling, die dogter van Palestyne ouers en die liefdesbelangstelling van Guzmán. Sy is akademies ingestel en heg waarde aan haar godsdienste en persoonlike waardes. Sy word verbied om haar hidjab by die skool te dra. Ná skool gaan studeer sy in New York. Ester Expósito is Carla Rosón Caleruega (seisoene 1-3), Polo se eksmeisie en Christian se seksmaat wat later verlief raak op Samuel. Sy is mooi, manipulerend en kil. Sy is die dogter van 'n markiesin en baie ryk. Sy gebruik haar seksualiteit om te kry wat sy wil hê. Omar Ayuso is Omar Shanaa (seisoene 1-5, 7-8), Nadia se broer wat teen sy pa se wil verlief raak op Ander. Hy is in die kas en sukkel om sy ouers te behaag terwyl hy getrou aan homself bly. Hy verkoop dwelms om geld te maak en uit die huis te trek. Hy is skaam en 'n vriend van Samuel. In seisoen 4 het hy en Ander 'n verhouding met Patrick. In seisoen 7 is hy depressief ná Samuel se dood en raak hy in 'n verhouding met Joel. Danna Paola is Lucrecia "Lu" Montesinos Hendrich (seisoene 1-3), Guzmán se eksmeisie wat in 'n bloedskandelike verhouding met haar halfbroer, Valerio, is. Sy is mededingend en manipulerend. Sy sal tot uiterstes gaan om dit te kry wat sy dink haar gelukkig sal maak. Sy weet egter sy sal nooit gelukkig wees nie, maak nie saak wat sy het nie.

Van seisoen 2 af Jorge López is Valerio Montesinos Rojas (seisoene 2-3), Lu se Chileense halfbroer. Hy is 'n dwelmverslaafde partytjiedier en sal alles doen vir Lu, met wie hy 'n bloedskandelike verhouding het. Hy raak later bevriend met Nadia. Aan die einde van seisoen 3 word hy uit die skool geskors omdat hy by Rebeka se dwelmverkopery by die skool betrokke raak. Claudia Salas is Rebeka Parrilla de Bormujo Ávalos (seisoene 2-5), 'n ryk, rebelse meisie wat verlief is op Samuel. Sy is anders as die ander, ryker leerlinge en hou daarvan om met haar rykdom te spog deur haar buitensporige klere en juweliersware. Sy is nie ryk gebore nie, en dit maak haar simpatiekgesind teenoor Nadia, Omar en Samuel. Haar ma in 'n dwelmhandelaar. Georgina Amorós is Cayetana Grajera Pando (seisoene 2-5), die dogter van 'n skoonmaker wat maak of sy ryk is, en die liefdesbelangstelling van Polo. Sy raak bevriend met Lu en gaan tot uiterstes om te wys hoe ryk sy is. Ná Polo se dood aanvaar sy haar armoede en word die skool se nuwe skoonmaker.

Van seisoen 3 af Leïti Sène is Malick Diallo (seisoen 3), 'n liefdesbelangstelling van Omar. Hy is flirterig en manipulerend, en gebruik Nadia om nader aan Omar te kom. Hy is ryk en gee voor hy is 'n "goeie" Moslem.