thumb|Standbeeld van Miguel de Cervantes in Madrid. In hierdie artikel verwys Spaanse letterkunde na die Spaanstalige literatuur van Spanje, dit wil sê alle prosatekste en poësie. Dit verwys hoofsaaklik na literatuur in die Kastiliaanse dialek - die huidige Spaans -, 'n literêre tradisie wat in die 12de eeu begin met Cantar de Mio Cid. Vir Spaanstalige literatuur buite die Iberiese Skiereiland, sien Latyns-Amerikaanse literatuur en Lys van Spaanstalige literêre skrywers.

Vroeë Spaanse letterkunde en die Middeleeue Die jarcha Die eerste Romaanse literatuur oor die Iberiese skiereiland neem tradisioneel 'n aanvang met die anonieme epiese gedig El Poema del Cid , geskryf in 1140. Dit was die algemene oortuiging, totdat 'n Hebreeuse geleerde in 1948 24 "jarcha's" (kort liriese gedigte) gepubliseer het wat in baie ou Spaans geskryf is. Hy het hulle in 'n sinagoge in Kaïro gevind. Later het die Spaanse akademikus Emilio Garcia Gómez meer jarcha's gevind, sodat die totaal sedert 1948 nou tot meer as vyftig gestyg het.

Die jarcha is gewoonlik 'n klaaglied wat 'n vrou uit die laer klasse vir haar afwesige minnaar sing. Dit is die laaste drie- of vierreëlige strofe van die muwashshah, 'n poëtiese vorm wat gebruik is deur Arabiese en Hebreeuse digters vanaf die 11de tot die 13de eeu. Die jarcha is geskryf in Mosarabies, 'n Romaanse taal wat gedurende hierdie tydperk deur die meerderheid van die bevolking gepraat is. Omdat sekere vokaalkarakters in die Arabiese- en Hebreeuse alfabet ontbreek, vind navorsers dit egter moeilik om die tekste te translitereer. Gebrek aan kennis van die taal bemoeilik ook interpretasie. Tog word dit nou algemeen aanvaar dat Mosarabies 'n Romaanse taal was wat direk uit Populêre Latyn ontwikkel het, en nie uit Kastiliaanse Spaans nie.

Voorbeeld van 'n jarcha

Cantar de Mio Cid duimnael|Die Cantar de mío Cid, die vroegste bekende Spaanse cantar de gesta Van die tekste wat in Kastiliaans oorleef het, is die middel-12de eeuse heldedig Cantar de Mio Cid die oudste. Die bestaande manuskrip is 'n onvolledige afskrif uit 1307. Omdat dit volgens navorsers redelik kort ná die dood van die historiese Cid geskryf moes gewees het, is die egtheid daarvan byna seker. Die tweede en derde dele van die Cantar de mío Cid is egter denkbeeldig en stem nie ooreen met die werklike geskiedenis van Granada nie. Die ses reëls wat konstateer dat die Cid Granada van die Moslems verower het, is fiktief.

Die Cid handel oor die Castiliaanse adellike, Rodrigo Díaz de Vivar (bekend onder sy bynaam Cid, van die Arabiese sidi, heer), wat koninklike guns geniet het. Dit is 'n relaas van sy veldslae, sy liefdesverhoudings en sy daaglikse lewe. Die digter wat dit geskryf het, bly onbekend. In plaas van rym, het hy assonansie en reëls van verskillende lengte gebruik, gewoonlik 14 lettergrepe. Die gedig self bestaan uit drie dele, genaamd cantos.

Mester de juglaría Mester de juglaría ("Meester van die Minstreel") is 'n Kastiliaanse literêre genre uit die 12de en 13de eeue. Dit is 'n mondelinge vorm van literatuur wat deur minstrele (ook bekend as troebadoers of jongleurs) oorgedra word. Hulle het 'n bestaan in paleise en openbare plekke soos markte gemaak deur stories te vertel. Hierdie cantar de geste (sien die Franse chanson de geste) is berym om dit makliker te maak om te onthou. Vanweë mondelinge oorlewering is daar egter dikwels verskillende weergawes van hierdie verhale. In die praktyk het dit beteken dat hierdie cantar de geste nie deur een digter-sanger geskep is nie, maar geskep is deur storie-elemente by te voeg of te verander, sodat dit as ietwat van 'n kollektiewe werk beskou kan word.

In vergelyking met die Mester de clerecía, wat hieronder bespreek word, was die skrywers nie baie ontwikkeld nie. Die onderwerpe wat hulle gedek het, was meer gewild en die taal was eenvoudiger. Die metrum is ook meer onreëlmatig. Die bekendste voorbeelde van werke wat as Mester de juglaría geklassifiseer kan word, is El Cantar de Mio Cid en Representación de los Reyes Magos.

Mester de clerecía Hierdie Kastiliaanse narratiewe poësie, bekend as die Mester de clerecía, het gewild geword in die 13de eeu. Dit is die versvorm wat die hoogs opgevoede digters gebruik het. Gewoonlik was dit geestelikes (vandaar die naam clerecía). Hierdie digters het die aantal lettergrepe in elke reël sorgvuldig getel en na perfeksie van vorm en uitdrukking gestreef. Hulle het 'n voorkeur getoon vir die aleksandryn ('n versreël met 14 lettergrepe), die konsonantrym en strofes van vier reëls elk. Hierdie vorm, wat tot die 14de eeu gewild gebly het, staan ook bekend as die cuaderna via of die viervoudige manier, en is uit Franse voorbeelde ontleen.

Gewilde temas van hierdie digters was Christelike legendes, die lewens van die heiliges en verhale uit die klassieke oudheid. Hierdie gedigte is ook op openbare pleine aan dorpenaars voorgedra. Wat hierdie vorm van die mester de juglaría onderskei, is die didaktiese bedoeling en die erudisie wat dit toon. Die Kastiliaanse priester en digter Gonzalo de Berceo was een van die grootste ondersteuners van die mester de clerecía. Al sy werke was godsdienstig. Die twee bekendstes is Milagros de Nuestra Señora (oor die wonderwerke van die Maagd Maria) en Vida de Santa Oria (Die lewe van Sint Oria). Die 14de eeuse digter Juan Ruíz, ook bekend as die Arcipreste de Hita (die aartspriester van Hita), het die versreël van 16 lettergrepe bekendgestel.

Prosawerk Onder die beskerming van koning Alfonso X het ook geskiedskrywing in die volksmond gedy. Die Chrónica-general (Algemene kroniek) is onder sy toesig geskryf. Dit bestaan uit twee dele: die eerste deel, La General é grant historia, handel oor die universele geskiedenis vanaf die skepping van die wêreld tot die eerste Christelike eeue. Die tweede, La Crónica ó Historia de España (Die Kroniek of Geskiedenis van Spanje), handel oor nasionale geskiedenis. Daarna is 'n kroniek oor elke Kastiliaanse koning geskryf deur skrywers soos Pero Lopez de Ayala en Alvar Garcia de Santa Maria. Die oorwinnings van die Katolieke heersers Ferdinand en Isabella is beskryf deur Fernando del Pulgar en Andrés Bernáldez.

Benewens hierdie koninklike kronieke is biografieë van belangrike mense ook geskryf, soos die 15de eeuse kroniek oor graaf Pedro Niño deur Gutierre Diez de Games. 'n Vreemde reisboek is ook gepubliseer, wat vertel van die ervarings van 'n ambassadeur wat in 1403 deur Hendrik III van Kastilië na Timoer (ook bekend as Timoer Lenk, Tamerlane en Tamburlaine, ’n 14de-eeuse Turks-Mongoolse krygsheer en stigter van die Timoeridiese Ryk) gestuur is. Die skrywer van hierdie werk was die hoof van die sending, Ruy González de Clavijo.

Die ander Kastiliaanse prosawerke van die 13de en 14de eeue was hoofsaaklik didaktiese en bondige tekste, maar het ook illustrasies en verhale uit die Ooste bevat. Daar was byvoorbeeld 'n Spaanse vertaling uit Arabies van Kalila en Dimna uit die middel van die 13de eeu, en 'n volksballade oor die Sewe wyses (Sindibad). Baie versamelings van aforismes en morele lesse het ook in die loop van die 14de eeu verskyn: die Secretum secretorum (Die geheim van geheime) wat aan Aristoteles toegeskryf word, die versameling 'Proverbius buenos (Goeie spreekwoorde), die Bocados de oro (Goue Stukke), Libro de Bonium, (Boek oor Bonium, koning van Persië), Rey de Persia (Konings van Persië) en Libro de los gatos (Boek van die Katte).

Liriese poësie Liriese poësie uit die Middeleeuse Spaanse letterkunde kan in drie groepe verdeel word: die jarcha, gewilde volksliedere wat deur gewone mense gesing is en die hoflike poësie van die adellikes. Libro de buen amor (Afr.: "Die Boek van Goeie Liefde") "Die Boek van Goeie Liefde" (Spaans: El libro de buen amor) word as een van die meesterstukke van Spaanse poësie beskou, en is 'n pseudo-biografiese weergawe van romantiese avonture deur Juan Ruiz, die aartspriester van Hita, waarvan die vroegste weergawe uit 1330 dateer; die skrywer het dit voltooi met hersienings en uitbreidings in 1343. Die werk word beskou as die beste stuk in die Middeleeuse genre bekend as mester de clerecía. Die boek begin met gebede en 'n gids oor hoe om die werk te lees, gevolg deur stories wat elk 'n morele en dikwels komiese verhaal bevat. Die boek bevat 'n heterogene versameling stukke bestaande uit 'n groot verskeidenheid materiaal wat verenig is rondom die beweerde outobiografiese vertelling van die liefdesverhoudings van die skrywer, wat in 'n deel van die boek deur die episodiese karakter van Don Melón de la Huerta verteenwoordig word. In die boek word alle lae van die laat-middeleeuse Spaanse samelewing verteenwoordig. Fabels en apologieë word deur die loop van die hoofargument afgewissel, wat 'n versameling voorbeelde uitmaak. Net so kan mens allegorieë, moraliteite, preke en liedere deur blindes en deur Goliardiese (Die Goliarde was in die laat-Middeleeue rondloperstudente en -geestelikes.) skoolleerders vind. Wêreldse liriese komposisies (serranillas, dikwels parodieë, afgelei van die pastorelas) word ook saam met ander godsdienstiges tekste ingesluit, soos gesange en koeplette aan die Maagd Maria of Christus. Die narratiewe materiaal is gebaseer op die parodiëring van Middeleeuse elegiese komedies in Latyn uit 'n pseudo-Ovidiaanse-skool opset, soos De vetula en Pamphilus, waarin die skrywer die protagonis is van liefdesavonture wat afgewissel word met gedigte wat met hom of haar verband hou. Pamphilus word ook in die "Die Boek van Goeie Liefde" aangehaal as die basis vir die episode van Don Melón en Doña Endrina. Benewens materiaal afkomstig van Ovidius se Ars Amatoria, parodieer dit ook die liturgie van die kanonieke eposse. Ander genres wat in die boek gevind kan word, is planhz (Die planh of plaing (Oudoksitaans [ˈplaɲ]; "klaaglied") is 'n genre van die troebadoere, en is 'n begrafnisklaaglied vir "'n groot persoonlikheid, 'n beskermer, 'n vriend of familielid of 'n dame." Die hoofelemente daarvan is die uitdrukking van hartseer, lof van die oorledene (lofrede) en gebed vir sy of haar siel. Dit stam van die Middeleeuse Latynse planctus af.), soos Trotaconventos se dood, 'n karakter wat die duidelikste presedent vir La Celestina of satire uitmaak, soos dié wat gerig is teen vroulike eienaars of die gelykmakende krag van geld; of fabels, uit die Middeleeuse esopiese tradisie of pedagogiese handleidings, soos Facetus, wat romantiese opvoeding as deel van die menslike leerproses beskou. Alhoewel Arabiese bronne voorgestel is, is teenswoordige kritiek dit eens datDie Boek van Goeie Liefde afstam van Middeleeuse geestelike Latynse literatuur. is 'n werk van die 14de-eeuse digter Juan Ruiz (of die Arcipreste [Afr.: aartspriester]). Dit is 'n raamvertelling waarby ingesluit is vertalings van Ovidius, satiriese stukke, miniatuur gedigte genaamd serranillas, 29 fabels, 'n preek oor Christelike wapenrusting asook verskeie liriese boodskappe aan die Maagd Maria. Met die digter Íñigo López de Mendoza, "die markies van Santillana" (1398-1458), begin 'n beweging wat wegbeweeg van Middeleeuse tradisies. Hy was vertroud met Latynse skrywers en die werke van Dante en Petrarca. Mendoza was ook die eerste om die sonnet in die Spaanse letterkunde bekend te stel. Hierdie Markies van Santillana verdien 'n plek in die 15de-eeuse letterkunde van Spanje nie net vanweë sy eie poësie nie, maar ook vanweë die ondersteuning wat hy aan baie skrywers van sy tyd gegee het en vanweë sy impuls om werke te publiseer deur skrywers wat uit die oudheid vertaal het.

Die laaste groot digter van die Middeleeue is Jorge Manrique. Hy is bekend vir sy Coplas a la muerte de su padre, 'n klaaglied oor die dood van sy vader.

Die Renaissance