Ragnarok is 'n Noorse fantasiedramareeks vir televisie geskoei op die Noorse mitologie. Dit is vir Netflix vervaardig en speel op die fiktiewe, moderne dorp Edda af wat geraak word deur klimaatsverandering en nywerheidsbesoedeling wat veroorsaak word deur die fabrieke van die plaaslike Jutul-gesin. Die Jutuls is in werklikheid vier jötnar (bonatuurlike wesens, wat verkeerdelik as "reuse" vertaal word) wat hulle as 'n gesin voordoen. Hulle word teengegaan deur Magne, 'n tienerseun wat uitvind hy is die reïnkarnasie van die Noorse god van donderweer, Thor. Hy begin veg teen die dié wat die dorp vernietig nadat sy vriendin onder geheimsinnige omstandighede gesterf het. In die tweede seisoen sluit ander verpersoonlikings van Noorse gode by hom aan.
Die reeks se première was in Januarie 2020, en die tweede seisoen is in Mei 2021 uitgereik. Dit is Netflix se derde Noorse TV-reeks, ná Home for Christmas en Lilyhammer. Die vervaardiger is die Deense vervaardigingsmaatskappy SAM Productions.
In November 2021 het Herman Tømmeraas, wat die rol van Fjor vertolk, bevestig dat die reeks vir 'n derde en finale seisoen gaan terugkeer. Die derde seisoen is op 24 Augustus 2023 uitgereik.
Rolverdeling Hoofkarakters David Stakston is Magne Seier, wat as 'n hoërskoolleerling saam met sy ma en broer na Edda terugkeer. Hy is die reïnkarnasie van die god van donderweer, Thor. Jonas Strand Gravli is Laurits Seier, Magne se jonger halfbroer en Vidar se seun. Hy is die reïnkarnasie van Loki, die god van streke. Herman Tømmeraas is Fjor, die "seun" van die Jutul-gesin en van hoërskoolouderdom. Theresa Frostad Eggesbø is Saxa, die hoërskool-"dogter" van die Jutul-gesin. Emma Bones is Gry, op wie Magne en Fjor verlief is. Henriette Steenstrup is Turid Seier, Magne en Laurits se ma. Synnøve Macody Lund is Ran, die hoof van die hoërskool en "ma" van die Jutul-gesin. Gísli Örn Garðarsson is Vidar, hoof- uitvoerende beampte van Jutul Industries, die "pa" van die Jutul-gesin en Laurits se biologiese pa.
Byspelers Ylva Bjørkaas Thedin is Magne se vriendin Isolde Eidsvoll. Odd-Magnus Williamson is Erik Eidsvoll, 'n onderwyser, die pa van Isolde en later die stiefpa van Magne en Laurits. Bjørn Sundquist is Wotan Wagner, 'n bejaarde en gestremde man. Die reïnkarnasie van Odin, god van wysheid en koning van die gode. Eli Anne Linnestad is Wenche, 'n supermarkkassiere, en eintlik 'n siener. Sy wek Magne, Iman en Wotan se mag op. Danu Sunth is Iman Reza, 'n nuwe leerling. Die reïnkarnasie van Freyja, godin van liefde. Benjamin Helstad is Harry Kristersen, 'n motorwerktuigkundige en bokser. Die reïnkarnasie van Týr, god van oorlog. Vebjørn Enger is Jens, wat Wotan later verander in Baldr, god van die lig.
Verhaal
Seisoen 1 (2020)
Magne, Laurits en Turid keer terug na die Noorweegse dorp Edda nadat hulle weggetrek het ná die dood van die seuns se pa. Toe hule in die dorp inry, word hulle teruggehou deur 'n bejaarde man, Wotan, in 'n mobiele karretjie. Magne klim uit om Wotan te help en word deur 'n bejaarde vrou, Wenche, genader. Sy sê vir hom hy is 'n goeie seun en seën hom deur aan sy voorkop te raak. 'n Verandering flikker deur sy oë. Die broers woon die plaaslike skool by. Die lomp Magne bevriend die groenaktivis Isolde, wat sê die plaaslike besoedeling is die Jutuls se skuld. Vidar hou in die berge stil. Hy trek uit, bekruip 'n takbok, skeur sy hart uit en eet dit. Magne kyk met afgryse hoe Isolde van die berg of valskermsweef, in kragdade beland en sterf.
Magne gooi sy pa se hamer deur die lug. Dit trek 1,5 km ver en vernietig die voorruit van Vidar se motor. Turid herken die hamer uit nuusberigte en blameer Magne. Studente rou oor Isolde se dood. Magne vermoed dit was nie 'n ongeluk nie. Wenche vertel vir Turid haar seun se heldereis het begin. Magne koop 'n ander hamer en gooi dit 541 meter ver. Laurits dra sy ma se stylvolle hemp na 'n skooldans. Vidar erken teenoor Ran dat hy Isolde vermoor het. Hy soek na haar selfoon: Dit bevat foto's van Jutul Industries se onwettige afvalstorting. Vreemde dinge gebeur op die dans. Fjor sit rockmusiek op en dit affekteer die Jutuls. Ran neem twee skoolseuns eenkant vir seks. Fjor en Saxa dans op 'n vreemde manier. Laurits sien hoe Fjor op Isolde se gedenkteken urineer. Dit beland op Instagram. Vidar slaan Fjor wreed omdat sy urinering 'n belediging vir Vidar se werk is. Gry, wat die nag daar deurbring, sien hoe Fjor geslaan word. Toe die Seiers van Isolde se begrafnis af kom, is hulle huis geplunder.
Die Seier-seuns kontronteer 'n dwelmslaaf oor Laurits se oorfone wat gesteel is. Dié sê iemand anders het die huis geplunder en dat Vidal se motor daar gestaan het. Magne vertel vir Sindre van sy frustrasie met die polisieondersoek en dat hy dink Vidal was betrokke. Sindre vertel vir Ran, wat dit vir Vidar vertel. Erik, Isolde se pa, gee haar rekenaar vir Magne. Magne konfronteer die polisie oor ongerymdhede met Isolde se dood. Later kyk Magne hoe vinnig hy kan hardloop: 100 meter in sewe sekondes. Vidar vermoor die dwelmslaaf en sien hoe 'n sneeuskraper Magne tref. Hy vertel vir die ander Jutuls dat Magne dood is. By die skool is Saxa verstom toe sy vir Magne sien en hy niks makeer nie. Magne en Laurits word genooi om by die Jutuls se huis, Jutulheim, te gaan eet. Alkohol het geen uitwerking op Magne nie, totdat hy heuningbier drink. Hy druk arm met Ran, sien hoe sy werklik lyk en verloor. Magnes kyk in die spieël en sien 'n bebaarde, bebloede vegter.
Magne sit Isolde se werk voort deur die Jutuls se aandeel in Edda se waterbesoedeling te ondersoek. Hy leer meer oor sy eie vermoëns. Turid en Erik begin 'n verhouding. Beide Magne en Fjor hou van Gry, maar sy erken sy is verlief of Fjor, hoewel sy baie van Magne hou. Toe Magne sien hoe Vidal takbokvleis opsny, besef hy die bloed ruik nes dié aan Isolde se baadjie ten tyde van haar dood. Magne lei af Vidal was betrokke by haar dood en waarsku Vidar dat hy nie daarmee sal wegkom nie. Toe Magne vir Fjor en Gry volg, stuur Vidar sy helhond, Thrym, om Magne dood te maak. Magne maak egter eindelik vir Thrym dood. Toe Gry die Jultuls se huis besoek, merk sy iets vreemds in die familiealbum op: Daar is eeue oue foto's wat wys die Jutuls het deur die jare fisiek onveranderd gebly.
Die Jutuls sweer saam om Magne te straf omdat hy Thrym doodgemaak het, al was dit uit selfverdediging. Toe Magne beplan om 'n essay oor Jutul Industries te skryf, word hy met 'n vergadering verras waarop Ran, Sindre, Erik en Turid ook is. Hy word gedwing om Isolde se rekenaar vir Erik terug te gee, maar Erik oorhandig in privaatheid haar selfoon aan Magne wat Erik op die berg gekry het. Magne kom af op inkriminerende foto's van Jutul Industries se waterbesoedeling. Hy gaan met die berg op en kry 2 500 vate in 'n grot wat pas oopgespoel het. Dit bevat toksiese afval, insluitende kadmium (element 48) wat in Edda se watertoevoer insypel. Magne rapporteer dit aan die polisie. Toe die polisie op die toneel aankom, is al die vate egter weg. Ran skors Magne uit die skool weens sy ontwrigtende gedrag. Hy moet intussen sielkundige waardering en behandeling ondergaan.
'n Psigiater wat deur die Jutuls aangestel is, diagnoseer Magne verkeerdelik met skisofrenie. Hy weier om die medisyne te drink en Turid kritiseer hom oor sy gedrag jeens die Jutuls. Fjor probeer Gry se gesin help. Die Jutuls sê hy moet haar vermoor. Eendag los Magne vate met toksiese afval by die polisiekantoor. Die polisie begin 'n ondersoek ondanks die Jutuls se dreigemente. Magne volg Fjor en Gry na 'n verlate pakhuis. Fjor begin Gry aanval, maar Magne red haar. Vidar kom daar aan, identifiseer Magne as Thor en val hom aan. Magne word amper deur Vidal oorrompel, maar roep weerlig op en rig dit op Vidar. Magne word deur die weerlig beseer, maar oorleef. Op 'n skoolgeleentheid lewer Laurits, wat soos Ran aangetrek is, 'n pretensieuse toespraak voor die hele dorp en vertel vir hulle hoe die Jutuls hulle uitbuit, al is Noorweë 'n demokrasie.
Seisoen 2 (2021)
Magne en Vidar oorleef albei hulle geveg. Wenche kyk toe, verander in 'n valk en vlieg weg. Wenche leer Magne hy moet vir 'n geveg voorberei, bondgenote bymekaarmaak en sy wapen, die hamer (Mjölnir), maak. Die Jutuls hou 'n oorlogsraadsitting oor Magne se toenemende magte. Fjor besluit om Jutulheim te verlaat en by Gry te gaan woon. Magne vertel vir Laurits hy is die reïnkanasie van Thor, maar Laurits lag dit af. Magne verduidelik vir hom die Jutuls is jötnar, wat oorlog teen die Ase en Magne verklaar het. Jutul Industries word oor Edda se besoedeling ondervra. Saxa begin die onerneming se sake leer. 'n Nuwe leerling, Iman, sluit by Magne se stryd teen die Jutuls aan. By 'n partytjie wat Laurits hou, voel hy sleg omdat sy nuwe liefde, Jens, nie opdaag nie. Hy erken aan Turid dat hy soos 'n buitestander voel weens sy seksualiteit. Turid erken sy het 'n verhouding met Vidar gehad en dat hy Laurits se biologiese pa is. Magne en Iman oortuig Harry om Mjölnir te maak. Toe Magne terugkeer huis toe, sien hy hoe Laurits en Vidar mekaar omhels. Hy kan nie aanvaar Laurits is Vidar se seun nie; Vidar het gesweer hy sal Magne vermoor.
Vidar neem Laurits op 'n motorfietsuitstappie en bring tyd sam met hom deur. Hy probeer Laurits oorreed om op Magne te spioeneer, maar Laurits weier. Toe Magne probeer om Laurits te verbied om Vidar weer te sien, stry hulle. Harry se hamer keer nie terug na Mgne se hand soos wat Mjölnir moet nie: Dit is gemaak sonder antieke metaal en 'n magiese vuur. Vidar nooi Laurits na Jutulheim en bied hom heuningbier aan. Daarna maak hy vir Laurits een van die reuse met 'n spesiale ritueel. Laurits staan voor die badkamerspieël en sien homself as 'n figuur met donker hare en 'n tatoe. Hy besef hy is Loki en glo nou wat Magne gesê het. Hy vertel vir Magne hoewel Vidar sy pa is, is hulle steeds broers. Hy sê Ran wil vir Wenche vermoor omdat sy Magne gehelp het. Magne hardloop na Wenche, maar is te laat om haar te red. Ran skiet haar met 'n pyl.
Voordat Wenche sterf, laat sy haar magiese halssnoer aan Wotan na, en hy roep Odin se gees op. Laurits manipuleer Vidar om Jutulheim se sleutel aan hom te gee. Magne en Laurits sluip Jutulheim se woonkamer binne. Hulle wil 'n vuur, wat hulle verkeerdelik glo 'n ewige vuur is, gebruik om Mjölnir te maak. Vidar betrap hulle en Laurits word 'n verraaier genoem. Ran oortuig Vidar om Laurits te vermoor. Magne, Laurits en Iman spreek Wotan. Wotan wil Laurits nie ook toelaat nie: Hy is 'n reus en dit is sy aard om 'n verraaier te wees. Laurits is kwaad, steel Wotan se bloed en spuit homself daarmee in om 'n halfgod en halfreus te word. In Jutulheim vertel Vidar vir Laurits hy is onkwesbaar behalwe vir wapens van die Ou Wêreld. Hy probeer Laurits met 'n byl uit die ou Wêreld vermoor. Magne, wat Laurits gevolg het, sien hoe Vidar die byl oplig. Hy tree tussenbeide en 'n geveg ontstaan. Dit eindig toe Magne vir Vidar doodmaak om sy eie en Laurits se lewe te red.
Ran ontwikkel emosies, maar Saxa bly op haar doelwitte gefokus. Jutul Industries se regulasies bepaal dat net die oudste seun die onderneming kan oorneem. Saxa probeer die posisie oorneem terwyl Fjor se gevoelens vir Gry toeneem. Laurits weier om te glo Vidar wou hom doodmaak. Magne besluit hy kan nie nog iemand vermoor nie, maar Wotan sê dis onmoontlik. Magne gee die oorlog prys. Gry sê vir Fjor sy en haar ma gaan Edda verlaat. Fjor belowe om by haar aan te sluit. Laurits verander sy voorkoms sodat hy meer soos Vidar lyk. Fjor gee Saxa volle beheer oor die onderneming. Op die dag van Vidar se begrafnis bid Magne dat sy magte weggeneem word sodat hy na normaal kan terugkeer, en hy verloor dit. Fjor besluit om nie Edda te verlaat nie. Hy woon die begrafnis by en belowe om wraak te neem vir Vidar se dood. Gry verlaat Edda alleen saam met haar ma.