The Sandman is 'n Amerikaanse fantasiedramareeks vir televisie wat geskoei is op die strokiesboek The Sandman, wat deur Neil Gaiman geskryf en deur DC Comics gepubliseer is. Die reeks is deur Gaiman, David S. Goyer en Allan Heinberg vir die stromingsdiens Netflix ontwikkel en is deur DC Entertainment en Warner Bros. Television vervaardig.
thumb|links|160px|Neil Gaiman, skrywer van The Sandman. Nes die strokiesboek vertel die reeks die verhaal van Dream / Morpheus, of The Sandman. Tom Sturridge vertolk die rol van die hoofkarakter en Boyd Holbrook, Vivienne Acheampong en Patton Oswalt is byspelers.
Pogings om The Sandman vir film te verwerk het in 1991 begin, maar is vir baie jare agterweë gelaat. Warner Bros. het eindelik besluit om dit eerder vir TV te vervaardig. Netflix het in Junie 2019 'n ooreenkoms onderteken om die reeks te vervaardig. Verfilming het van Oktober 2020 tot Augustus 2021 geduur.
Tien episodes van The Sandman was dadelik beskikbaar toe dit op 5 Augustus 2022 uitgereik is. Op 19 Augustus het nog 'n episode beskikbaar geraak. In November 2022 is die reeks vir 'n tweede seisoen hernu, wat na verwagting in 2025 uitgereik sal word. Die reeks het oor die algemeen goeie resensies gekry met lof vir veral die rolverdeling, ontwerp, kostuums, getrouheid aan die bronmateriaal, visuele effekte en toneelspel.
Storielyn Dream / Morpheus, die verpersoonliking van drome en een van die sewe Endless, word in 1916 in 'n okkulte ritueel gevang. Nadat hy 106 jaar lank aangehou is, ontsnap Dream en begin hy sy ryk, die Dreaming, herstel.
Rolverdeling Hoofkarakters Tom Sturridge is lord Morpheus / Dream, die verpersoonliking van drome en nagmerries en die heerser van die Dreaming. Sturridge is ook die stem van Dream se swartkat-eweknie in "Dream of a Thousand Cats". Boyd Holbrook is die Corinthian (seisoen 1), 'n nagmerrie wat uit die Dreaming ontsnap het. Vivienne Acheampong is Lucienne, die Dreaming se bibliotekaresse en waarnemende opsigter in Dream se afwesigheid. Patton Oswalt is die stem van Matthew die Raaf, Dream se spioen wat 'n mens was totdat hy in sy slaap dood is en deur Lucienne gerëinkarneer is as 'n raaf.
Ander karakters David Thewlis is John Dee, Cripps en Burgess se seun wie se poging om die "waarheid" te vind die wêreld in gevaar stel. Jenna Coleman is Johanna Constantine, 'n okkulte speurder. Coleman speel twee weergawes van die karakter: die hedendaagse afstammeling gebaseer op John Constantine en haar identiese 18de-eeuse voorouer, lady Johanna Constantine. Gwendoline Christie as Lucifer Morningstar, die heerseres van die hel. Kirby (as "Kirby Howell-Baptiste") is Death, die verpersoonliking van die dood en Dream se sagter, wyser ouer suster. Ferdinand Kingsley is Hob Gadling, Dream se vriend wat honderde jare lank gelewe het. Sandra James-Young is Unity Kinkaid (seisoen 1), Rose se oumagrootjie en weldoener wat pas uit 'n eeu lange slaap wakker geword het. Kyo Ra is Rose Walker, 'n jong vrou wat haar verlore broer soek wat die prooi van die Corinthian geword het. Razane Jammal is Lyta Hall, Rose se vriendin en 'n weduwee wat oor haar man rou. Melissanthi Mahut is Calliope (Kalliope, Homeros se muse) en Dream / Morpheus se eksvrou. Arthur Darvill is Richard "Ric" Madoc, 'n sukkelende skrywer wat Calliope gevange neem.
Episodes
Seisoen 1 (2022) Episode 1: Sleep of the Just 150px|thumb|Boyd Holbrook vertolk die rol van die Corinthian. Terwyl hy probeer om 'n nagmerie met die naam die Corinthian aan te keer, word Morpheus, ook bekend as Dream, in 'n okkulte ritueel gevang deur die Britse aristokraat Roderick Burgess, wat eintlik Death probeer vang het in die hoop dat hy bonatuurlike mag sal kan kry om sy eie mag en rykdom te vergroot, asook om sy oudste seun, Randall, weer lewend te maak. Roderick steel Morpheus se totems van mag: sy helm, 'n sakkie sand en 'n robyn, wat alles eindelik gevat word deur Roderick se wrewelige minnares, Ethel Cripps, wat swanger is met Roderick se kind. Morpheus se gavangenskap veroorsaak 'n epidemie van "slaapsiekte", wat 106 jaar duur. In 2021 is Roderick se tweede oudste seun, Alex, 'n ou man wat Morpheus steeds gevange hou en deur sy minnaar, Paul, versorg word. Nadat Paul "per ongeluk" deel van die runes wat Morpheus omring en gevange hou, uitvee, reik Morpheus tot in die droom van een van sy wagte om sy hok te vernietig. Hy ontsnap en verdoem Alex tot 'n ewige slaap.
Aangepas van The Sandman #1 ("Sleep of the Just").
Episode 2: Imperfect Hosts Morpheus keer terug na die Dreaming, sy koninkryk en die bron van drome. Daar vind hy sy paleis in puin weens sy lang afwesigheid. Morpheus besoek Cain en Abel, twee disfunksionele broers, om die troeteldraak wat hy vir hulle gegee het, terug te kry. Dit sal sy mag genoeg herstel om die drie skikgodinne op te roep. Morpheus slaag daarin hulle op te roep, en hulle vertel vir hom waar sy toerusting is; die sakkie sand is in die besit van die duiweluitdrywer Johanna Constantine, sy helm in die besit van 'n demoon in die hel en sy robyn by Ethel se seun, John Dee. Morpheus gaan soek sy toerusting. Terug in die Dreaming stuur Morpheus vir Cain en Abel 'n babadraak om hulle vorige troeteldier te vervang, en hulle noem dit Goldie.
Aangepas van The Sandman #2 ("Imperfect Hosts").
Episode 3: Dream a Little Dream of Me Morpheus spoor Constantine op en sien in haar vorige nagmerrie hoe 'n duiweluitdrywing skeefloop en sy haar vriendin Astra Logue na die hel stuur. Morpheus se nuwe raadgewer, Matthew die Raaf, sluit by hom aan; hulle besoek Constantine se eksmeisie, Rachel, wat verslaaf geraak het aan die droomsand in die sakkie. Dit is al wat haar aan die lewe hou. Constantine oortuig Morpheus om Rachel te laat sterf. Ethel Cripps, wat deur die Corinthian gewaarsku word dat Morpheus vry is en sy gesteelde besittings soek, besoek haar seun, John, wat Morphfeus se robyn het, in 'n inrigting. Sy is meer as 100 jaar oud, maar lyk baie jonger danksy haar geluksteentjie, of beskermingsamulet. Sy sê vir John as hy die geluksteentjie vat, sal hy nie meer die robyn nodig hê nie. Sy gee dit vir hom, en verouder en sterf dadelik. John gebruik die amulet se magte om uit die inrigting te ontsnap.
Aangepas van The Sandman #3 ("Dream a Little Dream of Me").
Episode 4: A Hope in Hell thumb|150px|Gwendoline Christie vertolk die rol van Lucifer Morningstar. Om sy helm terug te kry, besoek Morpheus die hel, waar hy Lucifer Morningstar, die heerseres, ontmoet. Hy kry die demoon Choronzon met die helm, maar Choronzon daag hom uit tot 'n spel van wysheid om dit terug te kry. Morpheus verteenwoordig homself in die spel, maar die demoon kies Lucifer om namens hom te speel. Morpheus wen eindelik die spel om hoop op te roep, 'n konsep wat Lucifer nie kan klop nie, en hy kry sy helm terug. Voordat hy vertrek, belowe Lucifer om Morpheus eendag dood te maak. John kry hulp by 'n barmhartige Samaritaan en kry sy robyn terug, maar nie voordat Morpheus uitvind waar dit is nie nie, asook dat John dit verander het om aan te pas by sy eie wense en niemand anders s'n nie. John gee die geluksteentjie vir sy verbouereerde redder nadat hy besluit het hy het dit nie meer nodig nie.
Aangepas van The Sandman #4 ("A Hope in Hell") en #5 ("Passengers").
Episode 5: 24/7 John, wat nou die robyn het, gaan sit in 'n plaaslike eetplek. Daar gebruik hy die robyn om die personeel en klante (en die hele wêreld, wat op televisie vertoon word) te keer om te jok. Dit lei eindelik daartoe dat hulle mekaar vermoor of selfmoord pleeg. Morpheus kom daar aan en stuur John na die ryk van drome, waar dit lyk of John die robyn se mag gebruik om Morpheus te verslaan. Hy is so bly dat hy die robyn in sy hand stukkend druk. Morpheus ontbloot hom dan en sê deurdat John die robyn vernietig het, is die mag daarvan terug by sy ware meester, Morpheus. Morpheus kry John jammer en neem hom terug na die inrigting, skynbaar in 'n toestand van langtermynslaap. Elders sweer Morpheus se suster Desire saam teen hom.
Aangepas van The Sandman #6 ("24 Hours") en #7 ("Sound and Fury").
Episode 6: The Sound of Her Wings Morpheus is nou doelloos nadat hy sy toerusting teruggekry het. Sy suster Death besoek hom en hy vergesel haar na waar sy mense wat pas gesterf het, na die hiernamaals lei. Death probeer om vir Morpheus te wys hoe om 'n doel en vervulling te kry in sy pligte as die heerser van die Dreaming. In 'n terugflits na die Middeleeue besoek Morpheus en Death 'n kroeg, waar hulle Hob Gadling raakloop. Hy is 'n sterfling wat kliphard wens hy gaan nooit dood nie. Death stem in om Gadling te laat lewe so lank as wat hy wil. Hob en Morpheus ontmoet mekaar elke eeu. Hob hou vol hy wil nooit sterf nie, ongeag van wat met hom gebeur. Hob vertel Morpheus van sy hipotese dat Morpheus aanhou om hom te ontmoet omdat hy alleen en sonder vriende is, en Morpheus is beledig. Weens se gevangeneming deur Burgess is dit vir hom onmoontlik om Hob te ontmoet. Toe hulle ou kroeg verkoop word, kies Hob 'n nuwe kroeg 'n blok van daar in die hoop dat Morpheus hom sal kry. Terug in die hede sien Morpheus 'n teken wat hom na "The New Pub" lei. Die twee herenig en Morpheus erken eindelik Hob is sy vriend. Elders gaan Desire voort met haar planne.
Aangepas van The Sandman #8 ("The Sound of Her Wings") and #13 ("Men of Good Fortune").
Episode 7: The Doll's House thumb|150px|Razane Jammal speel Lyta Hall. In 2015 word Rose Walker en haar broer, Jed, geskei toe hulle ouers skei. In 2021, ná die dood van albei ouers, word Jed in 'n kinderhuis geplaas ten spyte van die feit dat Rose hom probeer opspoor en wil aanspraak maak op wettige voogdyskap. Rose is onwetend 'n Vortex, 'n wese wat drome natuurlik aantrek en manupileer, en Desire en haar tweelingsuster, Despair, span saam om Rose teen Morpheus te gebruik. Morpheus is bewus van Rose se aard en wil haar gebruik om drie vermiste inwoners van die Dreaming op te spoor: die Corinthian, Gault en Fiddler's Green. Rose en haar vriendin Lyta Hall reis na Engeland om Unity Kinkaid te ontmoet. Sy is 'n ryk herstelde slagoffer van die slaapsiekte. Unity onthul sy is Rose se biologiese oumagrootjie en bied aan om te betaal vir Rose se soektog na Jed. Rose en Lyta reis na Florida. Lucienne en Morpheus kan Jed nie in die Dreaming of die wakker wêreld opspoor nie, en hulle lei af Gault het Jed se bewustheid van die Dreaming afgesny. Rose nader Lucienne en Morpheus in die Dreaming om hulp te vra met die opsporing van Jed. Intussen word die Corinthian, wat na Rose soek, genooi as eregas op 'n konferensie deur die reeksmoordenaars Nimrod, Fun Land en The Good Doctor.
Aangepas van The Sandman #10 ("The Doll's House") en #11 ("Moving In").
Episode 8: Playing House Ondanks Lucienne se besware stem Morpheus in om Rose te help om Jed op te spoor. Eendag sit Rose en ander gaste by die B&B vermisplakkate op in Cape Kennedy, wat die aandag van die Corinthian trek. Dié nag reis Morpheus en Rose deur die drome van die gaste en kom eindelik af op Jed se drome, wat Gault gemanipuleer het om 'n emosionele ontvlugting van sy mishandelende peetpa te verskaf. Morpheus straf Gault omdat sy haar pligte oorskry het deur haar na die Darkness te stuur, hoewel Gault volhou sy het oortree omdat sy gedink het dit is in Jed se beste belang. Intussen herenig Lyta met haar oorlede man, Hector, in haar drome. Hector probeer Lyta oortuig om by hom te bly en 'n kind by hom te hê. Toe Lyta wakker word, is sy ver swanger. Die Corinthian spoor Jed op en vermoor sy pleegouers. Hy neem Jed gevange om Rose na die reeksmoordenaarskonferensie te lok.
Aangepas van The Sandman #12 ("Playing House") en #15 ("Into the Night").
Episode 9: Collectors