duimnael duimnael|Kenteken op die Pirates se bofbalpet.
Die Pittsburgh PiratesIn die verlede ook amptelik bekend as die Pittsburgh Alleghenys (1887–1890) en die Allegheny (1882–1886). (noemname: Bucs, Buccos en The Lumber Company) is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat gebaseer is in Pittsburgh, Pennsilvanië. Die Pirates ding mee in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Nasionale Liga (NL) se Sentrale Divisie (NL-Sentraal). Die span is gestig in 1881 onder die naam Pittsburgh Alleghenys as deel van die American Association. Die span het in 1887 aangesluit by die Nasionale Liga en was van 1969 tot 1993 'n lid van die NL-Oos. Die Pirates het vyf Wêreldreekskampioenskappe, nege Nasionale Liga-wimpels en nege NL-Oos divisietitels gewen, en drie verskynings gemaak in 'n "Wild Card"-wedstryd. Die Pirates se huidige kleure is swart, goud en wit.
Die Pirates was een van die beste bofbalspanne aan die begin van die 20ste eeu, en het in 1903 in die eerste Wêreldreeks gespeel en hul eerste titel in 1909 gewen saam met Honus Wagner. Die Pirates het deelgeneem aan wat waarskynlik tot op hede die opwindendste einde aan 'n Wêreldreeks was, toe hulle 1960-Wêreldreeks teen die New York Yankees gewen het met Bill Mazeroski se afstap-tuislopie ("walk-off home run"). Dit was die enigste keer dat Wedstryd-7 van die Wêreldreeks met 'n tuislopie ("home run") geëindig het. Die Pirates kon eers weer in 1971 sukses smaak onder Roberto Clemente, (wat die eerste Latyns-Amerikaner was wat in die Nasionale Bofbal Eregalery opgeneem is) en daarna in 1979 onder leiding van Willie Stargell.
Sedert hul laaste Wêreldreeksoorwinning in 1979 het die Pirates grootliks 'n sukkelbestaan deurgemaak. Sedertdien het die span slegs elf wenseisoene, ses naseisoense verskynings en drie divisietitels beklink, en slegs een keer na die naseisoen gevorder met 'n oorwinning in die 2013 Nasionale Liga Wild Card-wedstryd. Die Pirates het ook 'n verloorrekord (meer wedstryde gedurende die 163-wedstryd-seisoen verloor as gewen) in 20 opeenvolgende seisoene gehad vanaf 1993 tot 2012, 'n rekord in beide Hoofligabofbal en die vier groot Noord-Amerikaanse professionele sportligas. Die Pirates het die vyfde-langste Wêreldkampioenskapsdroogte, die langste wimpel-droogte in die Nasionale Liga en die langste Ligakampioenskapsreeks- en Divisiekampioenskapsreeks droogte in bofbal. Die Pirates se rekord van 1882 tot 2023 is: 10,763 wedstryde gewen, 10,733 wedstryde verloor en 140 wedstryde gelykop gespeel. ('n wenpersentasie van .501).
Daar word ook dikwels na die Pirates verwys as die "Bucs" of die "Buccos" (afgelei van die Engelse "buccaneer", 'n sinoniem vir "pirate"). Die span speel sedert 2001 sy tuiswedstryde by PNC Park, 'n 39 000-sitplek stadion langs die Allegheny-rivier in Pittsburgh se "North Side". Die Pirates het voorheen by Forbes Field (van 1909 tot 1970) en by Three Rivers-stadion (van 1970 tot 2000) gespeel. Die Pirates se kleure is sedert 1948 swart, goud en wit, gebaseer van die vlag van Pittsburgh. Die ander groot professionele sportspanne in Pittsburgh, die Pittsburgh Steelers en die Pittsburgh Penguins, dra ook die kleure.
Spangeskiedenis Professionele bofbal in die Pittsburgh-omgewing het in 1876 posgevat met die stigting van die Allegheny Base Ball Club, 'n onafhanklike (nie-liga) klub gebaseer in 'n destyds aparte stad genaamd Allegheny City, oorkant die Allegheny-rivier. Die span het in 1877 by die Minor League-International Association for Professional Base Ball Players aangesluit, maar die span het die volgende seisoen in duie gestort. Op 15 Oktober 1881 het Denny McKnight 'n vergadering gehou by Pittsburgh se St. Clair Hotel om 'n nuwe Allegheny klub te stig, wat in 1882 begin speel het as 'n stigterslid van die American Association, en wat geoktrooieer is as die Allegheny Base Ball Club of Pittsburgh."Charter of Incorporation of Allegheny Base Ball Club of Pgh. Penna." March 11, 1882. Pennsylvania Department of State, Business Entity Search , entity number 6131816. Opgespoor op 28 Maart 2018. Die span is op die punteleer as "Allegheny" gelys, en is soms die "Alleghenys" (maar selde die "Alleghenies") genoem, in ooreenstemming met daardie era se gebruik om na 'n span te verwys in sy stad- of klubnaam se meervoudsvorm. Na vyf middelmatige seisoene het Pittsburgh die eerste A.A. span geword om oor te skakel na die ouer Nasionale Liga in 1887.
Voor die 1890-seisoen het byna al die Alleghenys se beste spelers oorgeskuif na die Players' League se Pittsburgh Burghers. Die Players' League het ná die seisoen in duie gestort, en die spelers is toegelaat om terug te gaan na hul ou klubs. Die Alleghenys het egter ook die hoogaangeskrewe tweede bofman, Lou Bierbauer, wat voorheen saam met die American Association (AA) se Philadelphia Athletics gespeel het, opgeraap. Alhoewel die Athletics nie daarin geslaag het om Bierbauer op hul reserwelys in te sluit nie, het hulle luidkeels teen die Alleghenys se optrede geprotesteer. In 'n amptelike klagte het 'n AA-amptenaar beweer die Alleghenys se ondertekening van Bierbauer was "piratical".Why is our baseball team called the Pirates? Pittsburgh City Paper, 14 Augustus 2003. Hierdie voorval het vinnig gelei tot 'n skeuring tussen die ligas, wat bygedra het tot die ondergang van die A.A. Alhoewel die Alleghenys nooit aan enige oortreding skuldig bevind is nie, het hul beweerde "piratical" daad hulle met afwisseling vanaf 1891 die bynaam "Pirates" besorg. Binne 'n paar jaar het die bynaam by Pittsburgh-koerante byval gevind. Die noemnaam is die eerste keer in 1912 erken as deel van die span se uniform.
Na byna twee dekades van middelmatige bofbal, het die Pirates se lot aan die begin van die 20ste eeu begin verander. Die Pirates het verskeie sterspelers van die Louisville Colonels bekom, wat bestem was vir uitskakeling toe die NL van 12 tot 8 spanne verminder is. (Die spanne het nie formeel saamgesmelt nie; die spelerverkrygings was afsonderlike transaksies.) Onder die spelers was Honus Wagner, wat een van die eerste spelers sou word wat in die Bofbal Eregalery opgeneem is. Die Pirates was een van die beste spanne in bofbal in die vroeë 1900's, en het drie agtereenvolgende Nasionale Liga-wimpels van 1901 tot 1903 gewen en in 1903 aan die eerste moderne Wêreldreeks deelgeneem, wat hulle verloor het teen Boston. Die Pirates het teruggekeer na die Wêreldreeks in 1909 en die Detroit Tigers verslaan vir hul eerste Wêreldreeks-titel. Daardie jaar het die Pirates van Exposition Park na een van die eerste staal- en betonbalparke, Forbes Field, verskuif.
Soos Wagner ouer geword het, het die Pirates in die 1910's in die Nasionale Liga se punteleer begin afsak, wat in 1917 op 'n rampspoedige rekord van 51–103 uitgeloop het; die veteraan-buiteveldspeler Max Carey en jong spelers soos Pie Traynor en Kiki Cuyler, tesame met 'n merkwaardige boulaanval met baie diepte, het die Pirates in die 1920's weer 'n span gemaak waarmee rekening gehou moes word. Die Pirates het hul tweede Wêreldreeks-titel in 1925 gewen, en sodoende die eerste span geword wat teruggekeer het van 'n 3–1 wedstryd-agterstand om uiteindelik die Wêreldreeks in 7 wedstryde te wen. Die Pirates het in 1927 teruggekeer na die Wêreldreeks, maar is deur die sogenaamde "Murderer's Row" Yankees oorrompel. Die Pirates was deur die 1930's 'n mededingende span, maar kon nie daarin slaag om die wimpel te wen nie, en het in 1938 die naaste daaraan gekom, toe hulle deur die Chicago Cubs in die laaste week van die seisoen verbygesteek is.
Ten spyte van die bekwaamheid van Ralph Kiner as kolwer was die Pirates meestal ellendig in die 1940's en 1950's. Branch Rickey is ingebring om die span te herbou, waarna hul teruggekeer het na die Wêreldreeks in 1960. Hulle is in die reeks uitoorlê deur die Yankees, maar die Pirates het nogtans gewen na 'n afstap-tuislopie ("walk-off home run") deur Bill Mazeroski aan die einde van die 9de beurt in Wedstryd-7. Met ingang 2022 is dit die enigste Wedstryd-7 afstap-tuislopie in die geskiedenis van die Wêreldreeks.
Onder leiding van die regterveldspeler Roberto Clemente het die Pirates 'n sterk span gebly deur die 1960's, maar eers in 1971 'n terugkeer gemaak na die Wêreldreeks. Die Pirates het in die nuwe Three Rivers-stadion gespeel en die gunstelinge vir die titel, die Baltimore Orioles, verslaan na Clemente se brilante slaanwerk en die boulwerk van Steve Blass. Ten spyte van Clemente se dood na die 1972-seisoen, was die Pirates een van die oorheersende spanne van die dekade, en het hulle die nuutgeskepte Nasionale Liga-Oos in 1970, 1971, 1972, 1974, 1975 en 1979 gewen. Aangespoor deur kolwers soos Willie Stargell, Dave Parker en Al Oliver, het die span die bynaam "The Lumber Company" gekry. Met Stargell se leierskap en die diskoliedjie "We Are Family" (wat die span as sy amptelike lied aangeneem het), het die Pirates teruggeveg van 'n 3–1-wedstryd agterstand om weereens die Orioles te klop tydens die 1979-Wêreldreeks vir die franchise se vyfde kampioenskap. Gedurende die 1979-kampioenskapseisoen is 'n Pittsburgh-speler in elke beskikbare kategorie (All-Star-wedstryd MVP [Dave Parker], Nasionale Liga Kampioenskapsreeks (National League Championship Series, of afgekort, NLCS) MVP [Willie Stargell], Wêreldreeks MVP [Willie Stargell] en Nasionale Liga MVP [Willie Stargell, gedeel met Keith Hernandez van St. Louis]) aangewys as die Mees Waardevolle Speler ("Most Valuable Player").
Die Pirates het in die 1980's in middelmatigheid teruggesak en eers weer in die vroeë 1990's na die na-seisoen teruggekeer met jong spelers soos Barry Bonds, Bobby Bonilla en Doug Drabek. Die Pirates het drie agtereenvolgende divisietitels van 1990 tot 1992 gewen, maar het telkens in die Nasionale Liga-kampioenskapsreeks verloor, en in 1992 byna na die Wêreldreeks deurgedring. Verskeie van die span se beste spelers, insluitend Bonds en Drabek, het ná dié seisoen as vrye agente vertrek.
duimnael|links|upright=0.7|Andrew McCutchen, 2012 Met salarisse in bofbal wat dramaties gestyg het, kon die kleinskaalse Pirates nie byhou nie, en vir 20 opeenvolgende seisoene 'n verloorekord (meer wedstryde in die seisoen verloor as gewen) gehad, wat 'n rekord is onder Noord-Amerikaanse professionele sportspanne. Selfs die opening van 'n nuwe stadion in 2001, PNC Park, het min gedoen om die span se lotgevalle te verander. Die Pirates het uiteindelik in 2013 teruggekeer na die na-seisoen saam met die Nasionale Liga-MVP, Andrew McCutchen, en die Cincinnati Reds in die 2013 NL Wild Card-wedstryd verslaan. Hulle is in vyf wedstryde in die volgende rondte deur die St. Louis Cardinals uitgeskakel. Daardie seisoen het die Pirates ook die sewende MLB-span geword wat 10 000 oorwinnings in die normale seisoen kon behaal. Op Openingsdag van die 2015-seisoen het die Pirates die span se tien-duisendste wedstryd verloor, wat die Pirates die vierde Hoofligabofbalspan gemaak het om die twyfelagtige onderskeid te bereik, na die Philadelphia Phillies, Atlanta Braves en die Chicago Cubs. Die Pirates het in 2014 en 2015 teruggekeer na die na-seisoen en op beide geleenthede die Wild card-wedstryd verloor, en het sedertdien nie teruggekeer na die uitspeelrondtes nie.
Stadion