Moorreesburg se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog word hier vermeld. Om volkekundige verwarring en dubbelsinnigheid (soos "Engelse soldaat") te vermy word voortaan 'Kakies' en 'Tommies' in die artikel gebruik om na enigiemand te verwys wat aan die Engelse kant geveg het.

Afkondiging van die krygswet Die krygswet is nie oombliklik dwarsoor die hele Kolonie afgekondig nie, maar stuk-stuk. Op 7 Januarie 1901 is die krygswet so afgekondig in Calvinia, Clanwilliam, Piquetberg, Malmesbury, Tulbagh, Paarl en Stellenbosch, waaronder Moorreesburg ook sou ressorteer.Papers relating to the Administration of Martial Law in South Africa. 1902. p. 13]</ref>

Meer omtrent die krygswet In die woorde van die owerheid self is die krygswet nie 'n wet per se nie; maar dit setel alle mag van elke afsonderlike krygswetdistrik in die hande van sy aangewese kommandant om te maak soos sy smaak, al is sy dade ook hoe onbillik, onredelik of teenstrydig met die Wet (en selfs Victoriaanse waardes), om die veiligheid, die orde en die regering na goeddunke te verseker.<ref name="MartjieLouw.78">[https://play.google.com/books/reader?id=1KJKAQAAMAAJ&pg=GBS.PA78&hl=en_ZA Papers relating to the Administration of Martial Law in South Africa. 1902. pp. 78-115

Al word die wens uitgespreek dat daar eenvormigheid dwarsoor die Kolonie moet geld wat die reëls betref, het dit in die praktyk glad nie gebeur nie, soos duidelik blyk in die advokaat Frederic Mackarness se Martial Law in the Cape Colony during 1901.Mackarness, F. 1901. Martial Law in the Cape Colony during 1901. London: National Press Agency.

Beamptes kon sonder 'n lasbrief iemand in hegtenis neem wie ook al maar verdink word dat hy (of sy) die Boere sou help. En dan was daar ook nog die suiwere magsvertoon of intimidasie.

'n Mens dink hier in die besonder aan ds. Adriaan Moorrees en ds. Gustav Adolph Scholtz (van Colesberg) wat in die middel van die nag, nadat al die lampe uitgedoof is, by die pastorie in die Paarl lastig geval is, selfs al is al die reëlings vooraf nougeset by die polisie aangemeld. Die volgende oggend, die Vrydag, is die pastorie omring deur wagte, en Scholtz is verbied om na Kaapstad te reis. Eers die Maandag is die wagte verwyder, en 'n boodskap is aan Scholtz gerig: "By order of the Commandant, your guards have been removed, and you are permitted to proceed to Cape Town."

Niks kon mense keer om kwaadwillig hul medemens te vervolg nie. Blykbaar was die skoolkomitee van Moorreesburg nie geneë met Pappie Walters nie, en wou van hom ontslae raak. Matthys (Pappie) Walters (die oupa van die digter M.M. Walters), toe nog 'n skoolhoof, het 'n possak van Moorreesburg wat deur die drywer van 'n poskar agterweë gelaat is geneem en te perd die poskar probeer inhaal. Dit was alles duidelik bona fide bedoel. Hy word egter buite die dorp aangekeer en gearresteer op twee aanklagte: hy is buite die bepaalde grens en in die onwettige besit van 'n possak. Hy is met 8 medegevangenes na die gevangenis op Malmesbury gestuur, word tot dwangarbeid gevonnis en na Matjiesfontein gestuur. Pappie is sy pos as skoolhoof en onderwyser ook boonop kwyt. Na afloop van die oorlog het hy en sy jongste broer, Roelof, 'n winkeltjie op Moorreesburg oopgemaak.Walters, N.M. s.j. Pappie Walters- Agterbaai se seun en Onderwysman.

Die kommandant kon burgers wat die gewone wette (dus, gewone misdaad, soos gestipuleer in die strafreg) oortree in hegtenis neem en voor die landdros daag, maar die burgerlike regbank op sy beurt het feitlik nie die geringste invloed op die krygsraad uitgeoefen nie. Gestel 'n ongewenste persoon (ongeag of dit nou 'n invloedryke boer of raadslid, 'n predikant, onderwyser of selfs dokter was) word sonder 'n lasbrief summier opgepak en in aanhouding gehou, dan het selfs 'n petisie by die Hooggeregshof om 'n verklaring te eis vir die inhegtenisname, en waar die beskuldigde hom tans bevind, 'n doodloopstraat bereik.

Daar was ook die sogenaamde "leërkontrakteurs" wat rekwisisievorms van die Britse owerhede gebruik het om die burgers te dwing om byvoorbeeld hul ossewaens met 16 osse volledig met trekgoed en drywer en al net so aan hulle af te staan teen 'n geringe bedrag. Sou die burgers dan enige beswaar opper, is hulle bloot begroet met 'n dreigement dat hulle goed gekonfiskeer sou word. Sulke handelaars het enorme winste gemaak. Met die militêre owerheid wat vierkant agter hom staan, kon hierdie leërkontrakteur die boere se graan laat afsny en oplaai; ook tafelgerei is sonder vergoeding afgedwing.

Kernreëls Wat nou volg is die kernreëls wat feitlik dwaroor die hele Kaapkolonie gegeld het, en dus ook in Moorreesburg.

Met die uitsondering van 'n permit wat toegestaan is deur die kommandant, of 'n persoon wat deur hom afgevaardig is om die permit af te lewer, was geen persoon toegelaat om:

(a) die distrik binne te kom of te verlaat nie (b) om na of uit die distrik uit te trek nie (c) enige dorp te betree of te verlaat nie, met die uitsondering van (1) om produkte na die mark toe te bring (2) om diere aan die krygsmag te verkoop (3) om hul by die krygsmag aan te meld (4) om kerk by te woon

Die kommandante kon egter besluit dat alle boere eenvoudig tuis moes bly (as daar Boere of rebelle in die omgewing was); dan mag niemand produkte na die mark toe bring of kerke bywoon nie.

Niemand mag enige dorp betree of verlaat in die Distrik tussen sonsondergang of sonop, behalwe om 'n dokter te spreek nie.

Enige besoeker of vreemdeling wat by 'n huis of plaas aanklop moes sonder verwyl aan die kommandant gerapporteer word, al was dit ook te voet.

Alle vergaderings of samekomste (dit wil sê, waar meer as 6 persone teenwoordig is) was verbode, buiten:

(a) dié wat met spesiale vergunning deur die Kommandant skriftelik toegestaan is (b) dié van godsdienstige aard, soos kerkdienste, kerkraadvergaderings en die Nagmaal (c) vergaderings van die afdelings- en munisipale rade. (d) waar almal in dieselfde huis woonagtig was

Saans moes iedere persoon tussen 10 nm. en 5 vm. tuis wees. Die lampe moes uitgedoof wees tussen halfelf die aand en vyfuur soggens, met die uitsondering van siekte of noodgevalle. Ook hierdie uitsondering moes die volgende oggend onmiddellik by die Kommandant se kantoor aangemeld word; en selfs 'n permit moes aangevra word nadat 'n doktersbrief ingelewer is.

Geen vure mag saans op die plase buite brand nie (of enigiets wat as ligsein op die heuwels kan dien nie); ook die aansteek daarvan is verbode.

Alle vee wat van die vyand gebuit is, word staatsbesit.

Geen persoon mag 'n fiets, driewiel of motor bestuur of besit alvorens die masjien nie by die Kommandant se kantoor geregistreer is nie. Daarna sal 'n nommerplaat uitgereik word.

Fietsers mag nie vinniger as 6 myl per uur verby enige wag ry nie; ook moet die ryer afklim indien so gevra word. 'n Fietslamp moet ook aangebring word indien saans gery word.

Smouse is verbied, maar handelsreisigers kon spesiale vergunning by die kommandant kry om in die distrik rond te beweeg. Teen 20 Junie 1901 het sekere Distrikte nietemin wel permitte aan smouse begin uitreik.

Koerierdienste is feitlik verbode, want alle pakkies moes in poskantoorsakke vervoer word (om natuurlik gesensor te word).

Briewe en telegramme is gesensor; koerante wat die Boere goedgesind was, is toegemaak; die besit van heelwat Hollandse en Duitse koerante is verbied.

Selfs gedagtevryheid is ontneem. Ene Basson, 'n boer, het teenoor 'n mnr. Fick, 'n lojalis, gekruide taal gebruik - 'n boete van 10 sjielings is hom opgelê. Stel hierteenoor Hendrik de Waal, 'n 16-jarige van Fraserburg, wat £3 (of sy maandelikse loon) moes opdok omdat hy "abusive language" teenoor 'n stadswag gebesig het. Vergelyk hiermee A.W. Schultz, van Caledon, wat aangekla word van "opruiende taalgebruik" (5 September 1901): sy eerste straf is 2 jaar dwangarbeid, maar daarna word hy 'n krygsgevangene en word gedeporteer.<ref>Papers relating to the Administration of Martial Law in South Africa. 1902. p. 238]</ref>

Alle perde, muile, esels, osse, karre en toerusting moes na die Kommandant besorg word, sou hy daarvoor vra. Luidens 'n Reuters-korrespondent by Piquetberg was daar die voorval waar 'n jong en onervare boer, ene Maritz, £5 beboet is omdat hy nie sy perde 'om beskerming' laat wegstuur het nie.

Niemand mag enige sketse maak of foto's neem van enige wapenopslagplek of fort nie. Ook as jy in jou onkunde met 'n kamera in die omtrek betrap is, was jy diep in die sop.

Teen 21 Augustus 1901 is die wetgewing heelwat gewysig: Uit vrees dat die invallende Boere proviand in die hande kon kry, moes elke huisgesin op rantsoene leef - elke veertien dae moes die kos in die dorp waaronder 'n plaas sou val afgehaal word. Nou wel te voet, want die trekdiere is ontneem.

Die krygswet in die kolonie het, soos gestel op 25 Oktober 1901, Engeland 'n halfmiljoen pond sterling per week gekos.BUITENLAND. Zuid-Afrika.. "Provinciale Drentsche en Asser courant". Assen, 25-10-1901. Geraadpleegd op Delpher op 08-03-2025

Al is vrede op 31 Mei 1902 gesluit, is die krygswette van die Kaapkolonie eers op 16 September 1902 opgehef.Strauss, F. (samest.). 2001. Kaapse Afrikaners betaal duur. In: Voor Vrijheid en Voor Recht: Chronologie van die Tweede Vryheidsoorlog van die Boere-Republieke teen Groot-Brittanje, 1899-1902. Ongepubliseerde werk. Piketberg: Swartland Boere-Oorlog Herdenkingskomitee, pp. 121-122.

Verloop Die eerste suidwaartse offensief van Maritz het beoog om rebelle te werf en die strydperk dieper die Kolonie in te skuif, om meer aandag op hom te vestig, sodat die Boere in Transvaal tyd kan kry om hulself te herbewapen, of om ten minste daarvoor te sorg dat Engeland nie al sy magte op die Republieke konsentreer nie.

Op 30 September 1901 trek Boerekommandant Manie Maritz met 'n kommando van plus-minus 600 persone deur die Sandveld na Piketberg.Strauss, F. (samest.). 2001. Kaapse Afrikaners betaal duur. In: Voor Vrijheid en Voor Recht: Chronologie van die Tweede Vryheidsoorlog van die Boere-Republieke teen Groot-Brittanje, 1899-1902. Ongepubliseerde werk. Piketberg: Swartland Boere-Oorlog Herdenkingskomitee, pp. 80-85.

Die Britte het verwag dat Maritz vroeër of later Piketberg of Hopefield sou aanval, omdat groot Britse voorraaddepots hier te vinde was, maar ook moontlike rebellerekrute.Fourie, L.M. 1975. Die militêre loopbaan van Manie Maritz tot aan die einde van die Anglo-Boereoorlog. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Potchefstroom: Portchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, pp. 93-106.

Op 5 Oktober kom Maritz in Piketberg aan. 'n Deel van sy manskappe staan hy af aan kaptein J.J. Smith.

Die volgende dag, 6 Oktober, beset Maritz Porterville en Vredenburg. By Hoedjiesbaai kom hy te staan teenoor die Engelse; nog skermutselings woed op Drie Heuwels en Kersefontein.

Maandag, die 9de Oktober, beset Maritz vir Hopefield. Hier bekom hy heelwat voorrade. Die regeringsamptenare van Hopefield is op 10 Oktober opgesluit; die telegraafkantoor is vernietig om die uitlek van inligting rakende die rebelle se doen en late tot tyd en wyl te vertraag. Dit is waarskynlik ook die enigste voorval waar die Boeremag die Kakies (halfpad) op see aangedurf het.

12 Oktober woed nog 'n skermutseling naby Darling. Veldkornet Hildebrand sterf. Maritz en die Colonial Light Horse veg by Hoedjiesbaai.

Op 13 Oktober val Maritz vir Piketberg aan. Hier word 27 gewere en ammunisie gebuit. Generaal French en Stephenson kom met 1 200 Kakies per trein in Porterville aan.

Op Sondag, 15 Oktober 1901, val Manie Maritz Moorreesburg die eerste maal aan.

Op 17 Oktober is 300 perde deur Maritz by die Bergrivier gebuit en na Calvinia gestuur.