Die Douglas DC-4 is 'n Amerikaanse skroefaangedrewe passasiersvliegtuig met vier suierenjins wat deur die Douglas Aircraft Company ontwikkel en vervaardig is. Daar is ook militêre weergawes van die vliegtuig gebou, die Douglas C-54 Skymaster en R5D. Die militêre weergawes is in die Tweede Wêreldoorlog gebruik, hulle het ook gehelp met die Berlynse Lugbrug en diens gedoen tot in die 1960's. Sedert 1945 het verskeie lugvaartmaatskappye die DC-4 bedryf.

Ontwerp en ontwikkeling Ná toetsvlugte deur United Airlines met die DC-4E, het dit duidelik geword dat die 52-sitplekvliegtuig ondoeltreffend en onbetroubaar was om ekonomies te werk en rederye soos American Airlines, Eastern, Pan American, Trans World en United het 'n lys van verbeteringe van die ontwerp aangevra. Douglas het die nuwe vereistes geneem en 'n heeltemal nuwe, veel kleiner ontwerp, die DC-4A met 'n eenvoudiger romp wat steeds nie onder druk was nie, Pratt & Whitney R-2000 Twin Wasp-enjins, en 'n enkele rigtingroer en vin, geproduseer. Die driewielonderstel is behou.

Met die toetrede van die Verenigde State tot die Tweede Wêreldoorlog in Desember 1941, het die Amerikaanse Lugmag die voorlopige bestellings van die lugdienste oorgeneem en hulle die benaming C-54 Skymaster toegeken. Die eerste C-54 het op 14 Februarie 1942 vanaf Clover Field in Santa Monica, Kalifornië gevlieg.

Om aan militêre vereistes te voldoen, het die eerste produksievliegtuig vier bykomende brandstoftenks in die hoofkajuit gehad, wat die passasiersitplekke tot 26 verminder het. Die volgende groep vliegtuie was die eerste wat volgens militêre spesifikasies gebou is en is die C-54A genoem en met 'n sterker vloer en 'n vragdeur met 'n hystoestel en windas gebou. Die eerste C-54A is in Februarie 1943 afgelewer. Met die bekendstelling van die C-54B in Maart 1944 is die buitenste vlerke verander om geïntegreerde brandstoftenks te hou, wat dit moontlik gemaak het om twee van die kajuitenks te verwyder. Dit het weer die installering van 49 sitplekke (of 16 draagbare) moontlik gemaak. Die C-54C was 'n hibriedvliegtuig vir presidensiële gebruik; dit het 'n C-54A-romp met vier kajuitbrandstoftenks gehad en die C-54B-vlerke met ingeboude tenks om maksimum reikafstand te verseker.

Die mees algemene variant was die C-54D, wat in Augustus 1944 in diens gestel is, in wese 'n C-54B met kragtiger R-2000-11-enjins. Met die C-54E is die laaste twee kajuitbrandstoftenks na die vlerke verskuif, wat meer vrag of 44 passasiersitplekke moontlik gemaak het.

In totaal is 1 163 C-54's (of R5D in diens van die Amerikaanse Vloot) vir die Verenigde State se weermag gebou tussen 1942 en Januarie 1946 en nog 79 DC-4's is ná die oorlog gebou. 'n Latere variant, met kragtiger Merlin-enjins wat dit toelaat om meer as 40% vinniger te vlieg, is in Kanada gebou as die Canadair North Star.

Namate die wêreldsituasie al hoe meer gespanne geraak het, het die Amerikaanse regering vervaardigers opdrag gegee om die voorrang aan die produksie van militêre vliegtuie te verleen; dit het Douglas ingesluit. Laasgenoemde het, voordat Amerika behoorlik tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het, burgerlike DC-4’s ontwerp, maar die Oorlogsdepartement het in Maart 1941 begin beplan om die nege DC-4’s oor te neem wat toe in die produksieproses was.

Douglas het in die somer van 1944 begin om onder andere sy Model 1009-passasierslynvliegtuig aggressief te bemark. Hierdie model kon kajuite met of sonder drukreëling hê. Die vloer van die hoofdek was nie versterk nie. United Airlines was die eerste lugredery wat die Model 1009 gekies het en het op 11 September 1944 altesaam 15 vliegtuie bestel. Die Oorlogsbateadministrasie het egter oorlogsurplus-C-54's redelik goedkoop aangebied en United het sy DC-4-1009-bestelling gekanselleer. Douglas kon net 79 van die Model 1009 verkoop. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens was een van die klante.

Operasionele geskiedenis Die DC-4/C-54 het bewys dat dit 'n gewilde en betroubare vliegtuig was, met 1 245 wat tussen Mei 1942 en Augustus 1947 gebou is, insluitend 79 na-oorlogse DC-4's. Verskeie is steeds in diens teen 2022.

Douglas het ontwikkeling van die model tydens die oorlog voortgesit ter voorbereiding vir 'n terugkeer na burgerlike lugvaartgebruik wanneer die oorlog verby was. Verkope van nuwe vliegtuie moes meeding teen 500 oorlogstydse voormalige militêre C-54's en R5D's wat op die burgerlike mark gekom het, waarvan baie deur Douglas na die DC-4-standaard omgeskakel is. Die DC-4's was 'n gunsteling van huurlugrederye soos Great Lakes Airlines, North American Airlines, Universal Airlines en Transocean Airlines. In die 1950's was Transocean (Oakland, Kalifornië) die grootste burgerlike gebruiker van die C-54/DC-4.

Douglas het 79 nuwe DC-4's tussen Januarie 1946 en 9 Augustus 1947 vervaardig, waarvan die laaste een aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens afgelewer is. Drukvaste kajuite was 'n opsie, maar alle burgerlike DC-4's (en C-54's) is sonder hierdie opsie gebou.

'n Totaal van 330 DC-4's en C-54's is in die Berlynse Lugbrug gebruik, wat hulle een van die mees gebruikte tipes gemaak het.

Kopers van nuutgeboude DC-4's het Pan American Airways, National Airlines, Northwest Airlines en Western Airlines in die VSA ingesluit. Oorsese kopers was KLM, Scandinavian Airlines, IBERIA-lugredery, Swissair, Air France, Sabena, Cubana de Aviación, Avianca, Aerolíneas Argentinas, Aeropostal of Venezuela (1946) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.Berry 1967, pp. 70–73. Verskeie lugdienste het nuwe DC-4's gebruik om geskeduleerde trans-Atlantiese vlugte tussen Latyns-Amerika en Europa te begin. Van die vroegste was Aerolíneas Argentinas (1946), Iberia Airlines van Spanje (1946) en Cubana de Aviación (1948).

Basiese pryse vir 'n nuwe DC-4 in 1946–47 was ongeveer £140 000-£160 000 (gelykstaande aan £5 544 759 in 2023). In 1960 was gebruikte DC-4's beskikbaar vir ongeveer £80 000 (gelykstaande aan £1 534 159 in 2023).

Produksie van die DC-4 duimnael|Berlin-Gatow-lughawe 15 Julie 1945 Die totale produksie van die DC-4 en DC-4-variante het op 1244 vliegtuie te staan gekom. Dit het uit die C-54 (24), C-54A (252), C-54B (220), C-54D (380), C-54E (125), C-54G (162), XC-114 (1), YC-116 (1) en DC-4 (79) bestaan. Die C-54-variant is by die Santa Monica- en die Chicago-aanleg gebou.

In die meegaande foto word Douglas C-54-transportvliegtuie van die USAAF op 15 Julie 1945 op die Berlin-Gatow-lughawe in Duitsland gesien. Die vliegtuie het die VSA-president Harry S Truman en ander hooggeplaastes vir die Potsdam-konferensie gebring. Die tweede vliegtuig in hierdie ry het die stertnommer “49126”. Daar was ’n C-54E met die reeksnommer 44-9126 en hy het die konstruksienommer 27352 gehad. Die masjien is as ’n C-54E-15-DO gebou en is op 14 Mei 1945 aan die USAAF afgelewer.

Die Douglas C-54A Die C-54A is in Santa Monica (97 C-54A-DO’s) en Chicago (252  C-54A-DC’s) gebou. Dit was die eerste variant wat van die begin af vir militêre gebruik bedoel was en het versterkte kajuitvloere met vraghanteringsfasiliteite gehad. Daar was ’n dubbelvragdeur aan die linkerkant van die romp. Die afmetings van die vragdeur was ongeveer 2.38 meter by 1.7 meter. Voorsiening is gemaak dat voertuie met wiele in en uit die deuropening kan beweeg. Hierdie variant kon 50 troepe op voumateriaalsitplekke of 36 draagbare vervoer.

Die Douglas C-54A met die konstruksienommer 7488 het die identiteitsrekord 42-107469 (USAAF), N53103, PI-C102, HS-POE, HS-TSA, 42-107469 (Thai-lugmag), VQ-ZEF, A2-ZEF, ZS-IPR, 6906 (SALM), ZS-IPR (Aero Air) en PH-DDY. In Suid-Afrika  is die vliegtuig eers as ZS-IPR deur Suidwes Lugdiens bedryf (Januarie 1972 afgelewer en geregistreer; Oktober 1980 aan diens onttrek, September 1981 verkoop) en het daarna 6906 in die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) geword. Ná sy SALM-diens is die masjien verkoop.

In foto 1 hieronder word die Douglas C-54A met die konstruksienommer 7488 op 25 Februarie 1977 as ZS-IPR van Suidwes Lugdiens by die lughawe DF Malan gesien. Die Engelse naam van die redery is aan hierdie kant van die skroefvliegtuig gebruik. Die kleure op die vliegtuig is diep blou, wit en silwer, die individuele naam is Alexander Bay en die Suidwes Lugdiens-logo verskyn op die stertvin.

Foto's 2 en 3 hieronder: Die Douglas C-54A met die konstruksienommer 10417 het met die reeksnommer 6907 in die SALM gedien en het vervolgens die registrasie ZS-NJN gehad voordat hy as 7Q-YYY met Africa Cargo Airlines geregistreer is.

Foto's 4 en 5: Die Douglas C-54A met die konstruksienommer 10413 het as reeksnommer 6908 in die SALM gedien en was daarna 9Q-CJL met Transair Cargo.

Die Douglas C-54B Die C-54’s en C-54A’s se reikafstand was voldoende vir operasies oor ’n oseaan maar kon nie bruikbare loonvragte op lang sektore vervoer nie. Gevolglik is die brandstofstelsel van 100 C-54B-DO’s en 120 C-54B-DC’s gemodifiseer deur twee van die kajuittenke met tenke in die vlerkbuitepanele te vervang vir ’n maksimum brandstofvermoë van 14161 liter. Sodoende kon C-54B’s 41 militêre passasiers en vyf bemanningslede tussen Kalifornië en Hawaii karwei. Twee-en-dertig C-54B-DC’s het as R5D-2’s na die VSA-vloot gegaan en een het na die Britse Koninklike Lugmag vir gebruik deur die Eerste Minister Winston Churchill gegaan (met die reeksnommer EW999). duimnael|Britse Skymaster Merk I met die reeksnommer EW999 In die meegaande foto word die Douglas Skymaster Merk I met die reeksnommer EW999 van die Britse Koninklike Lugmag op die grond by Lyneham in Wiltshire in die Verenigde Koninkryk gesien. Die vliegtuig was van November 1944 tot November 1945 by Lyneham vir die persoonlike gebruik van die Britse Eerste Minister en sy gevolg gebaseer. Toe die foto geneem is, het die masjien nog die USAAF-stertnommer “317126” opgehad, wat na die reeksnommer 43-17126 verwys. Die konstruksienommer van die masjien is 18326. Die vliegtuig is in November 1945 aan die USAAF terugbesorg.

Die Douglas VC-54C ’n C-54A-5-DO is gedurende konstruksie gemodifiseer om die eerste VSA- presidensiële vliegtuig te word (hierdie C-54 se bynaam was “Sacred Cow”) . ’n Luik onder die romp is met ’n elektriese hysbak vir die rolstoel van President Roosevelt toegerus. Die klankdigte kajuit het 'n luukse presidensiële suite, ’n konferensiekamer, sitplek vir 15 mense en slaapakkommodassie vir ses gehad. Bykomende vlerktenke is gemonteer om die branstofvermoë tot 17070 liter te verhoog. Skyleaders noem dat hierdie vliegtuig die reeksnommer 41-37295 en die konstruksienommer 3086 gehad het, maar ander bronne verstrek inligting wat hiervan verskil (sien hieronder). President Roosevelt het op 3 Februarie 1945 met die “Sacred Cow” gereis om die Yalta-konferensie by te woon. Vir hierdie geleentheid het die vliegtuig die reeksnommer 42-72252 gehad (dit was die nommer van ’n C-54 wat minder as drie maande voor dit naby Hawaii neergestort het).

’n Vliegtuig met die stertnommer “2107451“ word op Wikimedia Commons as die presidensiële vliegtuig aangegee (sien meegaande foto’s). AirHistory.net se inligting dui daarop dat die C-54 met die reeksnommer 42-107451 die konstruksienommer 7470 het.

Volgens Propliners (sien die aantekening aan die einde van hierdie gedeelte) het die C-54 met die reeksnommer 42-107451 die konstruksienommer 7470 en is op 26 Januarie 1944 aan die USAAF afgelewer, in ’n VC-54C-1-DO omskep en van 1944 tot 1947 as presidensiële vliegtuig gebruik en het die bynaam “Sacred Cow” gehad. Presidente Roosevelt en Truman het “Sacred Cow” gebruik.

Die Douglas VC-54C met die stertnommer “2107451“ en die bynaam “Sacred Cow” word in die volgende drie foto’s geïllustreer.

Die Douglas C-54D Die C-54D is as C-54D-DC’s in die Chicago-aanleg (325) en C-54D-DO’s in die Santa Monica-aanleg (55) gebou. Altesaam 86 van hierdie vliegtuie het as R5D-3’s na die VSA-vloot gegaan en 22 het as Skymaster Merk I’s na die Britse Koninklike Lugmag gegaan.