Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag (SAAO; Engels: South African Astronomical Observatory) is die nasionale sentrum vir optiese en infrafooisterrekunde in Suid-Afrika. Dit is in 1972 gestig en word bestuur deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika. Die sterrewag doen navorsing in sterrekunde en astrofisika. Die hoofteleskope is geleë in Sutherland, Noord-Kaap, wat 370 km is van Observatory, Kaapstad, waar die hoofkantoor by die ou Koninklike Sterrewag geleë is.
Die SAAO het wêreldwyd bande vir wetensakplike en tegnologiese samewerking. Instrumentele bydraes van die sterrewag sluit in die ontwikkeling van 'n sferieseafwykingskorrigeerder en die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT).
Die middagkanon op Vlaeberg in Kaapstad word met afstandbeheer afgevuur met 'n tydsein van die sterrewag af.
Geskiedenis Die geskiedenis van die SAAO het begin toe die Royal Observatory at the Cape of Good Hope in 1820 gestig is as die eerste wetenskaplike instelling in Afrika. Die oprigting van die hoofgeboue is in 1829 voltooi.
thumb|links|Die geboue van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Kaapstad. Aan die amp His/Her Majesty's astronomer at the Cape of Good Hope is op twee geleenthede die Koninklike Medalje toegeken: die eerste keer aan Thomas Maclear in 1869 vir die meting van die meridiaansboog by die Kaap die Goeie Hoop en die tweede keer aan David Gill in 1903 vir navorsing in son- en stellêre parallaks en vir sy energieke bestuur van die Royal Observatory.
Die Republieksterrewag in Johannesburg is in Januarie 1972 met die veel ouer Royal Observatory versmelt om die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag te vorm. In 1974 is die teleskoop van die Radcliffe-sterrewag in Pretoria aangekoop en na Sutherland verskuif, waar dit in 1976 begin werk het.
Die sterrewag se hoofkantoor is geleë op die terrein van die ou Royal Observatory waar die hoofgebou, kantore, nasionale biblioteek vir sterrekunde en rekenaargeriewe is. Historiese teleskope kan in die hoofkantoor gesien word in 'n aantal koepels en 'n klein museum waar wetenskaplike instrumente uitgestal word. Die sterrewag word tans as 'n nasionale fasiliteit bestuur deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF), voorheen die Stigting vir Navorsingsontwikkeling (FRD).
Galery
Verwysings
Skakels
Kategorie:Sterrewagte Kategorie:Wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika