Major League Baseball (MLB) of in Afrikaans Hoofligabofbal, is 'n professionele bofballiga en die hoogste vlak van georganiseerde bofbal in die Verenigde State en die wêreld. Dit is een van die groot vier professionele sportligas in die Verenigde State en Kanada (die ander drie is die NFL (Amerikaanse voetbal), NHL (yshokkie) en die NBA (basketbal) ). Die MLB bestaan uit 30 mededingende klubs of franchises, wat gelykop verdeel is tussen die Amerikaanse liga (AL) en die Nasionale liga (NL), met 15 spanne elk. Daar is 29 spanne in die Verenigde State, met een span (die Toronto Blue Jays), wat in Kanada gebaseer is. Die NL en die AL, wat in respektiewelik 1876 en 1901 gestig is, het begin saamwerk in 1903 met die Nasionale Ooreenkoms, wat MLB die oudste professionele sportliga ter wêreld maak. Die NL en die AL was tot 2000 aparte regsentiteite, toe hulle geamalgameer is in een organisasie wat gelei word deur die Kommmissaris van Bofbal. MLB se hoofkwarier is geleë in Manhattan, New York.

Die Cincinnati Red Stockings, wat in 1869 gestig is, was die eerste volslae professionele bofbalspan. Die eerste paar dekades van professionele bofbal is gekenmerk deur mededinging tussen die twee ligas, met spelers wat gereeld van een span of liga na 'n ander span of liga beweeg het. Hierdie praktyke is uiteindelik grootliks stopgesit deur die Nasionale Ooreenkoms van 1903, waarin die AL en die NL ooreengekom het om mekaar se spelerskontrakte te respekteer, insluitende die berugte "reserwe klousule" In Noord-Amerikaanse sport was die reserweklousule 'n deel van 'n spelerskontrak wat bepaal het dat die regte op spelers deur die span behou word met die kontrak se verstryking. Spelers onder hierdie kontrakte was nie vry om nog 'n kontrak met 'n ander span aan te gaan nie. Sodra 'n kontrak onderteken is, kon spelers, volgens die span se diskresie, heraangewys, verhandel, verkoop of vrygelaat word. Die enigste onderhandelingstaktiek vir die meeste spelers was om uit te hou tydens kontraktyd en om te weier om te speel tensy hul voorwaardes nagekom is. Spelers was verplig om 'n nuwe kontrak te onderhandel om nog 'n jaar vir dieselfde span te speel of om te vra om vrygelaat of verhandel te word. Hulle het geen vryheid gehad om van spanne te verander nie tensy hulle 'n onvoorwaardelike vrylating ontvang het nie. In die dae van die reserweklousule was dit die enigste manier waarop 'n speler 'n vrye agent kon wees.

Die periode voor 1920 staan bekend as die "dead-ball era" omdat "home runs" (Afr: tuislopie[s]) selde geslaan is. Professionele bofbal is getref deur die "Black Sox-skandaal", 'n sameswering om die wenner van 1919 Wêreldreeks by wyse van wedstrydknoeiery te bepaal. Bofbal het gelukkig die skandaal oorleef, alhoewel met groot veranderinge wat die beheer van die spel betref, toe die relatief swak Nasionale Kommissie vervang is met die kragtige Kommissaris van Bofbal wat byna onbeperkte gesag oor die sport kon uitoefen.

MLB het in die dekade ná die "Black Sox-skandaal" in gewildheid toegeneem, en anders as groot ligas in ander sportsoorte, het dit die Groot Depressie en Tweede Wêreldoorlog verduur sonder dat enige van sy spanne gevou het. Kort na die oorlog het Jackie Robinson bofbal se kleurgrens verbreek.

Die AL en NL het in die 1950's en 1960's klubs bygevoeg en sommige het na ander stede verskuif. Spelers se ontevredenheid met gevestigde arbeidspraktyke, veral die reserweklousule, het gelei tot die organisasie van die "Major League Baseball Players Association" om kollektief te beding met die eienaars, wat weer gelei het tot die bekendstelling van "vrye agentskap" in bofbal.

Moderne stadions met kunsmatige-grasoppervlaktes het die spel in die 1970's en 1980's begin verander. Tuislopies het die spel gedurende die 1990's oorheers. In die middel 2000's het mediaberigte die gebruik van anaboliese steroïde onder MLB-spelers bekend gemaak; 'n 2006–07-ondersoek het die Mitchell-verslag opgelewer, wat bevind het dat baie spelers steroïede en ander prestasieverbeterende middels gebruik het, met ten minste een speler uit elke span wat hom hieraan skuldig gemaak het.

Elke span speel 162 wedstryde per seisoen, met "openingsdag" wat tradisioneel gedurende die eerste week van April gehou word. Ses spanne uit elke liga dring dan deur na 'n vier-ronde naseisoen-toernooi in Oktober, wat uitloop op die Wêreldreeks, 'n beste-van-sewe kampioenskapsreeks tussen die twee ligakampioene wat die eerste keer in 1903 gespeel is. Die New York Yankees het die meeste kampioenskappe met 27 titels. Die heersende kampioene is die Texas Rangers, wat die Arizona Diamondbacks tydens die 2023 Wêreldreeks verslaan het.

MLB is die naasrykste professionele sportliga volgens inkomste ná die National Football League (NFL). Bofbalwedstryde word regdeur Noord-Amerika en in verskeie ander lande uitgesaai deur middel van televisie en radio, en word ook gestroom deur stromingsdienste op die internet. MLB spog met die hoogste totale bywoningssyfer ter wêreld; in 2018 het meer as 69.6 miljoen toeskouers wedstryde bygewoon.

Minor League Baseball val ook onder die oorkoepelende sambreel van MLB. Dit bestaan uit laer-vlak spanne wat geaffilieer is met die MLB-klubs. MLB en die Wêreld-bofbal-sagtebalkonfederasie bestuur gesamentlik die internasionale World Baseball Classic toernooi.

Deelnemende spanne Amerikaanse Liga Die vyftien spanne wat met ingang 2024 deel vorm van die Amerikaanse Liga sien soos volg daaruit: Oostelike divisie (AL-Oos): New York Yankees Baltimore Orioles Boston Red Sox Tampa Bay Rays Toronto Blue Jays

Sentrale divisie (AL-Sentraal): Cleveland Guardians (voor die 2021-seisoen bekend as die Cleveland Indians) Kansas City Royals Minnesota Twins Detroit Tigers Chicago White Sox

Westelike divisie (AL-Wes): Houston Astros (skuif van die NL na die AL in 2013) Seattle Mariners Texas Rangers Oakland Athletics Los Angeles Angels (voorheen die Los Angeles Angels of Anaheim)

Nasionale Liga Die vyftien spanne wat met ingang 2024 deel vorm van die Nasionale Liga sien soos volg daaruit: Oostelike divisie (NL-Oos): Philadelphia Phillies Atlanta Braves New York Mets Washington Nationals Miami Marlins

Sentrale divisie (NL-Sentraal): Milwaukee Brewers (skuif van die AL na die NL in 1998) St. Louis Cardinals Chicago Cubs Cincinnati Reds Pittsburgh Pirates

Westelike divisie (NL-Wes): Los Angeles Dodgers Arizona Diamondbacks (of informeel, die D-backs) San Diego Padres San Francisco Giants Colorado Rockies

Seisoenstruktuur

Lentekamp

duimnael|'n Grapefruit League game by die voormalige Los Angeles Dodgers-kamp in Vero-strand, Florida Lentekamp ("Spring training") is 'n reeks oefening- en eksibisiewedstryde wat die begin van die gewone seisoen voorafgaan. Spanne hou oefenkampe in die state van Arizona en Florida, waar die vroeë warm weer spanne toelaat om te oefen sonder om bekommerd te wees oor die laat winterkoue. Lentekamp laat nuwe spelers toe om mee te ding om rooster- en posisieplekke, en bied aan bestaande spanspelers broodnodige oefentyd voor mededingende spel 'n aanvang neem. Die spanne wat lentekamp in Arizona hou, word gegroepeer in die "Cactus League", terwyl spanne wat lentekamp hou in Florida bekend staan as die "Grapefruit League". Lentekamp het nog altyd aanhangers aangetrek, met skares wat getrek word na die warmer klimaat en reis om die weer te geniet en te kyk hoe hul gunsteling spanne speel, en lente-oefening val gewoonlik saam met lente-vakansie vir baie studente.

Lente-opleiding duur tipies byna twee maande. Dit begin in die middel van Februarie en duur tot net voor openingsdag, tradisioneel die eerste week van April. Aangesien veral boulers baat vind by 'n langer oefenperiode, begin die boulers en vangers 'n paar dae voor die res van die span met lentekamp.

Gewone seisoen Elke span speel 162 wedstryde pers seisoen. 'n Span se skedule word tipies ingedeel in drie-wedstryd reekse, d.w.s. opeenvolgende wedstryde teen dieselfde opponent. Af-en-toe word selfs twee- of vier-wedstryd reekse gespeel.Uitgestelde wedstryde of voortsetting van opgeskorte wedstryde kan lei tot 'n ad hoc een- of vyf-wedstryd reeks. Alle wedstryde van 'n reeks word gewoonlik deur dieselfde span aangebied, en verskeie reekse word tipies saam gegroepeer. D.w.s. 'n span bied gewoonlik verskeie reekse in 'n ry aan, wat 'n tuisreeks genoem word, en volg dit op deur verskeie opeenvolgende wegreekse te speel. Spanne speel gewoonlik vyf tot sewe wedstryde per week. Die meeste wedstryde word snags geskeduleer, hoewel spanne dikwels dagwedstryde op openingsdag, vakansiedae en op die laaste dag van 'n reeks sal speel om spanne ekstra tyd te gee om na hul volgende teenstander te reis. Sondagwedstryde word gewoonlik gedurende die middag gespeel, wat spanne toelaat om na hul volgende bestemming te reis voor 'n Maandagaand-wedstryd.

In die huidige drie-divisie-struktuur (Oostelike- Sentrale- en Westelike-divisie, met elke divisie wat bestaan uit 5 spanne, en elke liga wat dus bestaan uit 15 spanne) per liga (AL of NL), speel elke span dus 19 wedstryde teen elk van sy vier divisie-teenstanders. In die huidige Amerikaanse liga [AL] se Oostelike-divisie (wat een van drie divisies is) sal dit byvoorbeeld beteken dat die New York Yankees, as deel van die AL se Oostelike-divisie, dus 19 wedstryde speel teen elk van die ander 4 spanne wat deel vorm van die Oostelike-divisie van die AL (die Baltimore Oreoles, Tampa Bay Rays, Boston Red Sox en die Toronto Blue Jays). Elke span speel een tuisreeks en een wegreeks, wat uit ses of sewe wedstryde bestaan, teen die 10 ander spanne in sy liga. 'n Span speel ook teen een van die divisies in die ander liga, wat elke jaar roteer, met twee teenstanders in 'n drie-wedstryd tuisreeks, twee teenstanders in 'n drie-wedstryd wegreeks, en een teenstander met vier wedstryde verdeel tussen tuis en weg. Bykomend hiertoe het elke span 'n interliga "natuurlike mededinger" (in baie gevalle sy eweknie in dieselfde metrogebied), waarteen hy elke jaar twee tuiswedstryde en twee wegwedstryde speel.

Met 'n onewe aantal spanne in elke liga (15), is dit nodig om twee spanne vir die meeste dae in die seisoen aan interligaspel te laat deelneem, behalwe wanneer twee of meer spanne 'n afdag het. Elke span speel 20 interligawedstryde deur die seisoen, gewoonlik met net een interligawedstryd per dag, maar vir een naweek aan die einde van Mei sal alle spanne aan 'n interligareeks deelneem. Voor 2013 was interligaspel anders gestruktureer: daar sou een naweek in die middel van Mei wees en nog 'n tydperk wat tipies uit die laaste twee derdes van Junie bestaan, waarin alle spanne interligawedstryde gespeel het (behalwe vir twee NL-spanne elke dag), en geen interligawedstryde is buite daardie datums geskeduleer nie. (Voor 2013 was seisoenlange interligaspel nie nodig nie, want elke liga het 'n ewe aantal spanne gehad. In 2013 het die Houston Astros na die Amerikaanse liga geskuif, sodat elke liga 15 spanne sou hê.). Voor die aanvaarding van die universele aangewese kolwer-reël ("universal designated hitter rule", DH) in 2022, het die gebruik van die aangewese kolwer (DH) daarvan afgehang of die tuisspan van die Amerikaanse liga is, waar die aangewese kolwer gebruik is, of die Nasionale liga, waar die aangewese kolwer nie gebruik is nie.

Met aanvang van die 2023-seisoen is die skeduleringsformule verander, met elke span wat elke jaar ten minste een reeks teen elke ander span speel. Elke span sal 14 wedstryde teen spanne in dieselfde divisie speel, met een drie-wedstryd- en een vier-wedstrydreeks by elke stadion, ses wedstryde teen spanne binne dieselfde liga maar in ander divisies, met een drie-wedstrydreeks by elke stadion, en een reeks van 3 wedstryde teen spanne in die ander liga, met tuisspan-status wat elke jaar wissel, behalwe vir elke span se aangewese interliga-mededinger, wat steeds uit twee reekse van twee wedstryde by elk van die spanne se tuisstadions bestaan.