duimnael|Die Eerste Taalmonument te Burgersdorp duimnael|Die Afrikaanse Taalmonument in Paarl (Wes-Kaap) versinnebeeld die invloed van ander tale by die ontstaan van Afrikaans.

Die geskiedenis van Afrikaans is verweef met die geskiedenis van Nederlands in Suid-Afrika. Die erkenning van Nederlands as amptelike taal, of ook die miskenning van die taal onder Britse gesag, was per definisie 'n erkenning of miskenning van Afrikaans. Daarbenewens het Afrikaans en Nederlands lank in 'n harmonieuse verhouding geleef; in 'n taalsituasie wat as diglossie bekend staan. In Mei 2022 is Afrikaans vir die eerste keer as 'n inheemse taal van Suid-Afrika erken.ANC forced to recognise Afrikaans, Khoi and San languages – Leon Schreiber. Besoek op 31 Maart 2025

Dekades voor die vestiging van 'n Nederlandse kolonie aan die suidpunt van Afrika het Kaapse Khoikhoi reeds kennis gemaak met Seemansnederlands. Besoeke van seevaarders soos Van Linschoten (in 1583) en De Houtman (in 1595) aan die Kaapse kus is gedokumenteer. Die vroegste vorm van Afrikaans, Khoi-Afrikaans as aanleerderstaal of trade jargon ('n eenvoudige verkeerstaal wat kommunikasie tussen seevarende Europeërs en inheemses vergemaklik het), is dus nog voor die begin van die 17de eeu aan die Kaap gebruik.Frank Hendricks • Charlyn Dyers: Kaaps in Fokus. Stellenbosch: SUNMedia 2016, bl. 49-50

Vanaf 1652 het hoofsaaklik Nederduitse en Hoogduitse immigrante hulle aan die Kaap gevestig. Die Nederlanders (of Nederduitsers) het hulself destyds as 'n Duitse/Dietse volk beskou en het ook as Duitsmanne, Duismanne of Duusmanne bekend gestaan. Ook sou Franse Hugenote, Engelse, Portugese, Skandinawiërs en Maleiers hulle aan die Kaap vestig. Die nedersetting aan die Kaap is deur die VOC vanuit Nederland bestuur en die voertaal was Nederlands. Alle inwoners aan die Kaap, inklusief die inheemse bevolking en slawe, het Nederlands gebruik (of dit aangeleer).

Uit die smeltkroes aan die Kaap het nuwe omgangsvariëteite tot stand gekom soos ook elders in die Nuwe Wêreld-lande. Ondersoekers wys daarop dat tussen 1800 en 1875 variëteite gepraat is aan die Kaap, soos suiwer Nederlands, Kaaps-Hollands, Boere-Hollands (of Boere-Afrikaans), Plat-Kaaps, Hottentot-Hollands (of Hottentot-Afrikaans), Slawe-Afrikaans en Vreemdeling-Afrikaans.H.J.J.M. van der Merwe: Afrikaans; sy aard en ontwikkeling, 1968, bl. 69

Taalondersoekers is van mening dat sommige van hierdie taalvariëteite onderworpe was aan 'n kreoliseringsproses. Dit was veral die variëteite wat deur die laer sosio-ekonomiese klasse gebruik is. Daar is ook taalondersoekers wat van mening is dat Maleis-Portugees as 'n lingua franca gedien het onder hierdie klasse. Die variëteite wat deur die hoër sosio-ekonomiese klasse gebruik is, het egter weinig invloed ervaar van ander tale. Die invloed van vreemde tale op die latere Standaardafrikaans was gering.

Taalondersoekers wys verder daarop dat mense in laer sosio-ekonomiese klasse 'n vereenvoudigde taalkode gebruik. Hierdie verskynsel kom oral in die wêreld voor (in die stede sowel as op die platteland).K.P. Prinsloo: "Taalbeplanning vir Suid-Afrika", K.P. Prinsloo & M.C.J. van Rensburg (reds.) Afrikaans: Stand, Taak, Toekoms, 1984, bl. 140 Die omgangsvariëteite aan die Kaap was ongetwyfeld ook onderworpe aan hierdie proses. Vereenvoudigde Afrikaans-Nederlandse omgangsvariëteite was die resultaat van hierdie proses. Die huidige Standaardafrikaans is in werklikheid vereenvoudigde Nederlands.

Ten spyte daarvan dat die Afrikaners oor 'n kultuurtaal beskik het (Nederlands), was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 van mening dat ook een van die ander omgangsvariëteite wat daar aan die Kaap gepraat is, uitgebou moes word tot 'n kultuurtaal vir die Afrikaners. Hierdie "regte" variëteit was Boere-Afrikaans.E.H. Raidt: Taalvariasie in Negentiende-Eeuse Afrikaans, Tydskrif vir Geestesweteskappe, jaargang 32(4), 1992, bl. 241.

Die doelstelling van die GRA het egter ingedruis teen die algemene opvatting van die publiek oor taal (in die tyd). Nederlands is toe beskou as die algemeen aanvaarde kultuurtaal. Om hierdie rede moes lede van die GRA in die geheim vergader omdat hulle idee oor "Afrikaans as skryftaal" te radikaal was. Afrikaans is toe met onkunde, agterlikheid en ongeletterdheid geassosieer. Daarbenewens het die Afrikaners van 1880 nie aanvaar dat hulle Afrikaans praat nie, maar het hulle werklik 'n taal gepraat wat as tussen Afrikaans en Nederlands bestempel kan word.A. de Villiers: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Kaapstad: Naspers. 1936, bl. 36. Sowat sestig jaar gelede het Afrikaans ook bekend gestaan as die Kombuistaal.Alatis, J.E., Hamilton, H.E., & Ai-Hui Tan. (2002). Linguistics, language and the professions: education, journalism, law, medicine, and technology. Washington: University Press. bl. 132

Erkenning van Afrikaans-Nederlands Taalerkenning Hoofartikel: Erkenning van Afrikaans.

Taalbewegings Eerste taalbeweging duimnael|Ds. S.J. du Toit. Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig onder leiding van ds. S.J. du Toit. Hierdie gebeurtenis word as 'n mylpaal beskou in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en as die begin van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die doel van hierdie organisasie was om die mense daarvan bewus te maak dat hulle 'n eie taal het wat Afrikaans genoem word. Die GRA was egter van mening dat dit nog te vroeg was om te dink aan 'n Bybelvertaling in Afrikaans, alhoewel hulle die idee verwelkom het.

Die oogmerk van die GRA was om Afrikaans tot 'n kultuurtaal uit te bou wat kenmerke moes hê van sowel Kaapse Afrikaans, as Oosgrensafrikaans.Van Rensburg, Christo (red.): Afrikaans in Afrika. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies 1997, bl. 43 Die dryfkrag agter die GRA was mense soos Arnoldus Pannevis en S.J. du Toit. Pannevis het vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling gepleit omdat die Kleurlinge Nederlands (volgens hom) nie goed kon verstaan nie. Du Toit het sy volksgenote aangemoedig om in Afrikaans te skryf en sodoende die publikasie van 'n aantal boeke en klein toneelstukke bevorder. Die GRA se belangrikste medium was die koerant Di Patriot, 'n dagblad waarin hulle hul eie soort Afrikaans aan die publiek bekend gestel het, en later ook Ons Klyntji. In 1876 het du Toit se grammatikaboek, Eerste beginsels van die Nederlandse taal, verskyn, en in 1897 het hy die Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels gepubliseer.

In die tyd was bitter min Kapenaars geesdriftig oor die moontlike koms van Afrikaans as kultuurtaal. Die algemeen aanvaarde kultuurtaal in dié tyd was Nederlands. Afrikaanse briewe, wat aan die pers gestuur is, is onder skuilname geskryf. Die eerste redakteure van Afrikaanse blaaie het ook onder skuilname geskryf omdat daar 'n stigma aan Afrikaans as skryftaal gekleef het. Die redakteur van Di Patriot, naamlik D.F. du Toit, se skuilnaam was Oom Lokomotief. Du Toit is selfs met die dood gedreig omdat hy in Afrikaans geskryf het.G.S. Nienaber & P.J. Nienaber: Die Geskiedenis van die Afrikaanse Beweging, 1941, bl. 82 Die Eerste Taalbeweging word ook gekenmerk deur 'n poging om die Afrikaanse skryftaal so na as moontlik aan die spreektaal te bring. Dit kan beskou word as 'n pre-standaardiseringsfase.

Die Eerste Taalbeweging het met die Anglo-Boereoorlog doodgeloop.

Tweede taalbeweging duimnael|links|Die Brandwag, 1 November 1910.

regs|300px|duimnael|Die redaksie van Ons Moedertaal, Stellenbosch (van links): prof. J.J. Smith, dr. Tobie Muller en Gordon Tomlinson. Dié tydskrif was die mondstuk van die ATV.

Op 13 Desember 1905 is die Afrikaanse Taalgenootskap op 'n kongres in Pretoria gestig onder leiding van Gustav Preller. Die doel van die Afrikaanse Taalgenootskap volgens Preller was: "Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen."A. de Villiers: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika, Kaapstad, 1936, bl. 179 Op 3 November 1906 is deur die voorstanders van Afrikaans, in Kaapstad, die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) gestig, onder leiding van J.H.H. de Waal. Die leuse van die ATV was: "Leer Nederlands, schrijf Nederlands als ge kunt en wilt, maar als ge niet kunt of wilt, schrijf dan niet Engels, maar Afrikaans." Die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging en die Afrikaanse Taalgenootskap word beskou as die aanvang van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Die mondstuk van die ATV, Ons Moedertaal, was die voorloper van Die Huisgenoot en was tot sy oorname deur laasgenoemde in 1915 onder redaksie van prof. Tobie Muller, Gordon Tomlinson en prof. J.J. Smith (in volksmond bekend as die "driemanskap").

Op 18 September 1915 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die spelwyse van Afrikaans aanvaar soos voorgestel deur sy Spellingskommissie. Die grondslag vir 'n Afrikaanse spelling was gelê en in 1917 verskyn die Woordelys en Spelreëls in opdrag van die Akademie.

Om die fout van die Eerste Taalbeweging te voorkom deur die skryftaal so na as moontlik aan die spreektaal te hou, is daar nou besluit om die Afrikaanse spelling ná aan Nederlands te hou. Nie almal was dit eens met die Afrikaanse spelling nie. Veral die wysiging van die spelreëls in 1920 het heftige reaksies ontlok. Die taalstryder Gustav Preller het beswaar aangeteken. Ook is beswaarskrifte deur talle koerante en tydskrifte opgestel en aan die Akademie voorgelê, waarop die Akademie nouliks gereageer het. Die blaaie wat beswaarskrifte opgestel het was onder andere: Die Volkstem, Ons Vaderland, De Spectator, Die Brandwag, Die Landbouer, Die Boer, Die Kristelike Skoolblad, Die Banier, Jong Suid Afrika en De Vriend des Volks.J.C. Steyn: Trouwe Afrikaners, Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1987 bl. 210

Die Taalkommissie moes nie alleen besluit hoe daar gespel moes word nie, maar ook welke woorde as Afrikaans erken sou word. Die nuwe spelvorm het ook 'n toonaangewende rol in die uitspraak van die taal gespeel. Ook sou die Noordelike (Transvaalse) uitspraak meer erkenning begin kry het in die normeringsproses, waar Suidelike (Kaapse) taalkenmerke aanvanklik dominant was.Raidt (1991), bl. 255

Waar D.F. du Toit herhaaldelik verklaar het dat die Eerste Taalbeweging nie 'n stryd teen Nederlands was nie, word die Tweede Taalbeweging deur 'n openlike stryd teen Nederlands gekenmerk.G.S. Nienaber & P.J. Nienaber: Die Opkoms van Afrikaans as Kultuurtaal, 1970, bl. 40 Ook was C.J. Langenhoven van mening dat die hoofstryd nie teen Engels was nie, maar teen Nederlands.J.C. Steyn: Taalstryd, konsolidasie en rebellie – Langenhoven se eerste jare in die politiek, Acta Academica, jaargang 25 (2&3), 114-136, 1993, bl. 120 Die stryd van Afrikaans teen Nederlands is beskou as 'n stormloop teen die ou orde. Die handhawers van Nederlands in Suid-Afrika is die manne van die ou garde genoem, of alle kerkvaste Afrikaners van die ou stempel, of ook die verroeste remskoene.E.C. Pienaar: Die Triomf van Afrikaans: Historiese oorsig van die wording, ontwikkeling, skriftelike gebruik en geleidelike erkenning van ons taal, 1943, bl. 131, 233, 351 en 365

Taalverenigings duimnael|Gustav Preller, toe hy redakteur van Ons Vaderland was. duimnael|J.H.H. de Waal Reeds in 1890 is die Zuid Afrikaansche Taalbond (Taalbond) in Kaapstad gestig met as doel: "Bevordering van de kennis der Volkstaal en aankweking van een ontwikkeld nationaliteitsgevoel". Die Taalbond was ten gunste van die behoud van Nederlands as kultuurtaal van die Afrikaners. Die leuse van die Taalbond was: "Leer Nederlands, schrijf Nederlands, en spreek Afrikaans."J.du P. Scholtz: Wording en Ontwikkeling van Afrikaans, Kaapstad, Tafelberg uitgewers, 1980, bl. 18 Die Taalbond (voorstanders van Nederlands) is gestig deur die elite aan die Kaap en was 'n teenreaksie op die stigting van die GRA (voorstanders van Afrikaans). Die stigting van die Taalbond word beskou as die begin van die Nederlandse Taalbeweging in Suid-Afrika.