Noord-Amerika 200px|Ligging van Noord-Amerika op 'n wêreldkaart Oppervlakte 24 709 000 km² (3de) Bevolking 565 265 000 (2013, 4de) Bevolkingsdigtheid 23/km² Lande 23 Afhanklike gebiede 22 Tale Engels, Spaans, Frans, Nahuatl, Majaans en verskeie ander Tydsones UTC-10 (Verenigde State) tot UTC±0 (Groenland) Grootste stede Meksikostad New York Los Angeles Chicago Toronto Dallas–Fort Worth San Francisco Houston Miami Philadelphia Atlanta 50px|N60-90, W150-180 50px|N60-90, W120-150 50px|N60-90, W90-120 50px|N60-90, W60-90 50px|N60-90, W30-60 50px|N30-60, W150-180 50px|N30-60, W120-150 50px|N30-60, W90-120 50px|N30-60, W60-90 50px|N30-60, W30-60   50px|N0-30, W120-150 50px|N0-30, W90-120 50px|N0-30, W60-90   30° (Noord-Amerika)

Noord-Amerika is 'n kontinent in die Noordelike Halfrond van die Aarde, wat byna uitsluitlik in die Westelike Halfrond geleë is. Dit word in die noorde begrens deur die Arktiese Oseaan, in die ooste deur die noordelike Atlantiese Oseaan, in die suidooste deur die Karibiese See en in die suide en weste deur die noordelike Stille Oseaan. Met 24 709 000 vierkante kilometer beslaan dit 4,8 persent van die aarde se oppervlak en is die derde grootste vasteland na Asië en Afrika.

Etimologie Die Amerikas is deur die Duitse kartograwe Martin Waldseemüller en Matthias Ringmann na die Italiaanse ontdekkingsreisiger Amerigo Vespucci genoem.

Geografiese aspekte duimnael|’n Geologiese kaart van Noord-Amerika, volgens ouderdom. Die rooi en pienk dui rotse uit die Argeïkum aan. duimnael|Ekostreke van die Noord-Amerikaanse lande Kanada, Verenigde State en Meksiko duimnael|Geologiese kaart van Noord-Amerika duimnael|Sedimentêre, vulkaniese, plutoniese en metamorfe gesteentes van Noord-Amerika duimnael|Noord-Amerikaanse kratons en kelderrotse duimnael|Noord-Amerikaanse tektoniese plaat duimnael|Klimaatsones in Noord-Amerika volgens die Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|Inheemse tale van die Amerikas duimnael|Morainemeer in Banff Nasionale Park. duimnael|Die Majastad Chichén Itzá op die Yucatán-skiereiland, Meksiko, sedert 1988 Unesco-Wêrelderfenisgebied Noord-Amerika is die noordelike deel van die Amerikaanse kontinent en word in die ooste begrens deur die Atlantiese Oseaan, in die noorde deur die Noordelike Yssee en in die weste deur die Stille Oseaan.

Die meeste eilande wat rondom die subkontinent lê, soos die Karibiese Eilande, die Kanadese Arktiese Argipel, Groenland en die Aleoete-eilande, word hierby ingereken omdat hulle op die Noord-Amerikaanse kontinentale plaat lê. Die Sentraal-Amerikaanse lande (Guatemala, Belize, Honduras, El Salvador, Nicaragua, Costa Rica en Panama), die eilande van die Karibiese gebied, Groenland en Sint Pierre en Miquelon (Franse eilandjies suid van Newfoundland) word egter nie hier bespreek nie.

Fisies-geografiese aspekte Op grond van die geologiese verwantskap, soorte gesteentes en uiterlike verskynsvorm kan die Noord-Amerikaanse subkontinent in vyf gebiede ingedeel word: die westelike gebergte, die Kanadese Skild, die kusvlakte langs die Atlantiese Oseaan en die Golf van Meksiko, die oostelike hoogland en die binnelandse laagland.

Die Cordillera Die Cordillera of die westelike gebergte strek van Alaska tot aan Sentraal-Amerika en is deel van 'n reusagtige bergreeks wat tot aan Antarktika deurloop. Tussen 200 tot 300 miljoen jaar gelede het hier 'n geosinklinaal bestaan wat met water gevul was en waar in groot hoeveelhede sediment afgeset is.

Meer as 100 miljoen jaar gelede het die vorming van die oostelike reeks en van die belangrikste reeks van die Cordillera, die Rotsgebergte, begin. Die kusgebergte is jonger en is sowat 70 miljoen jaar gelede gevorm; aardbewingshaarde en vulkane word hier aangetref.

Die Cordillera bestaan uit ’n veertigtal rûens wat almal 'n eie naam het. In die noorde is 'n stelsel bergrûens wat deur lengtevalleie van mekaar geskei word. Meer na die suide word hierdie stelsel onderbreek deur groot plato's, onder meer die Groot Bekken. Hierdie vlakte is so groot dat dit dikwels nie meer tot die Cordillera gereken word nie. Oos hiervan ontbreek die reëlmatige patroon van die lengtevalleie vanweë die geweldige samepersing wat die reeks ondergaan het.

Die Kanadese Skild Die Kanadese of Laurentiese Skild is ’n ongeplooide, uitgestrekte gebied rondom Hudsonbaai. Die skild, wat uit die oudste gesteentes (graniet wat meer as 600 miljoen jaar gelede gevorm is, gneis, lawa en skis) van die subkontinent bestaan, het altyd bo seespieël gelê.

Sowat 25 000 jaar gelede het landys die grootste deel hiervan bedek en meer as 8 000 jaar gelede het die ys teruggetrek en 'n skuins landskap met granietrotse en duisende mere het agtergebly. Die dun, onvrugbare laag grond is nie geskik vir landbou nie en enorme denne- en sparbosse bedek die gebied.

Die kusvlakte Die kusvlakte langs die Atlantiese Oseaan en die Golf van Meksiko, van die deelstaat Massachusetts tot aan die Yucatán-skiereiland in Meksiko, is nie meer as sowat 200 miljoen jaar oud nie. Dit is deur sedimentasie gevorm en gaan baie geleidelik oor in die kontinentale plaat.

Die smal strook langs die Sierra Madre Oriental strek tot in die Mississippirivierdelta, waar die helling so geleidelik daal dat die oorgang tussen land en water 'n groot gebied beslaan. Ook die skiereiland Florida lê baie laag en is plat, behalwe die verre noordwestelike deel. Geologies dui die baie oorstroomde riviermondings of estuaria daarop dat daar relatief onlangs 'n positiewe verandering in die watervlak plaasgevind het.

Die oostelike bergland Die Appalache strek van Newfoundland in Kanada tot in die deelstate Alabama en Suid-Carolina in die suide van die Verenigde State. Tussen 200 en 600 miljoen jaar gelede was hier 'n geosinklinaal geleë wat met verloop van tyd met die oorblyfsels van seediere en die sediment van omringende berge opgevul is. Die gebergte is sowat 200 miljoen jaar gelede gevorm.

Die ou Appalache, wat uit kristallyne gesteentes opgebou is, loop in ’n noordwes-suidoostelike rigting en vorm die oostelike deel van die ou sentrale gebergte, terwyl die jong of sedimentêre Appalache in die weste afgeset is. In die noorde is die gebergte afgerond en kaal en is die valleie met sediment gevul. Die skuins en heuwelagtige landskap is kenmerkend van Nieu-Engeland.

Ondanks hul geringe hoogte word sommige rûe "berge" genoem, soos Green Mountains by Mount Mansfield (1 318 m), en White Mountains by Mount Washington (1 918 m). Na die suide is die bergrûens skerper en die valleie nouer en dieper. Die Great Smokey Mountains (Mount Mitche, 2 038 m) is die woesste deel van die Appalache.

Die binnelandse laagland Tussen die Rotsgebergte, die Kanadese Skild en die Appalache lê 'n byna ononderbroke plat gebied, wat hom van die Golf van Meksiko tot aan die Noordelike Yssee uitstrek. Oor hierdie afstand is die hoogteverskil nie meer as 300 m nie. Tot 70 miljoen jaar gelede is die plat gebied gereeld deur see oorstroom. Daarna het die gebied bo seespieël gebly en is dit met sediment van die Rotsgebergte bedek. Hierdie sentrale laagland word in drie dele onderskei, naamlik die noordelike deel, die Groot Vlaktes en die sentrale bekken.

Die kern van die noordelike deel word deur die Mackenzierivier gevorm. Aan die kus van die Noordelike Yssee is ’n laagliggende kusvlakte waarvan dele van die vasteland deur verskuiwings geskei is en die eilande van die Kanadese Arktiese Argipel gevorm het. Net 'n paar van hierdie eilande, soos Baffin- en Ellesmere-eiland, is aanmerklik bo seespieël.

Groot Vlaktes Die Groot Vlaktes strek van die Saskatchewanrivier in die noorde tot in Texas in die suide. Die wesgrens word deur die Rotsgebergte gevorm en die oosgrens deur die reënvallyn van 500 mm per jaar, wat met min of meer die 98ste meridiaan saamval. Vanweë die wispelturige klimaat in die gebied wes van hierdie lyn, waardeur baie oeste al vernietig is, word dit die ramplyn genoem.

Van die Mississippirivier tot by die Rotsgebergte styg die land oor 'n afstand van ongeveer 750 km van 300 tot 1800 m. Die noordelike deel van die Groot Vlaktes tot op die Missouriplato is deur ys geërodeer. Die ruwer Badlands, die suidelike deel van die plato, was net soos Black Hill (2 200 m) wes daarvan, nie deur die ys bedek nie. Die suidelike deel van die Groot Vlaktes gaan baie geleidelik oor in die uitlopers van die Appalache, en in die noorde in die Kanadese Skild. Die ys het hier 'n dik, vrugbare sediment agtergelaat.

Natuurstreke Die plant- en dierewêreld van Noord-Amerika toon ooreenkomste met sowel dié van Eurasië as met dié van Suid-Amerika. Dit kan verklaar word uit die feit dat daar tydens verskeie vroeëre tydperke in die geskiedenis van die aarde landverbindinge bestaan het tussen Noord- en Suid-Amerika enersyds en Noord-Amerika en Eurasië andersyds. So het die voorouers van die perd en dié van die kameel aan die einde van die Tersiêr (sowat twee miljoen jaar gelede) uit hul stamland, Noord-Amerika, na Eurasië getrek.

In dieselfde tyd was Noord en Suid-Amerika van mekaar geskei. Die tussenliggende see het vir die meeste diere, ondanks die eilande wat daarin was, 'n onoorkomelike versperring gevorm. Nadat daar vanweë vulkaniese bedrywighede ’n landbrug ontstaan het, het byvoorbeeld lamas in die ystyd (Pleistoseen) oor hierdie landbrug na Suid-Amerika getrek. Anders as in Eurasië, waar die bergreekse die kontinent in 'n oos-wesrigting deursny en die trek van diere vanuit die noorde na die suide belemmer het, vergemaklik die noord-suidbergrûens van Amerika die verspreiding in hierdie rigting juis.

Soögrafies maak Noord-Amerika deel uit van die nearktiese substreek. Plantegeografies vorm Noord-Amerika met Europa en ’n groot deel van Asië die holarktiese gebied, die grootste van die ses plantegeografiese hoofgebiede.

Toendra Die Noord-Amerikaanse toendralandskap, wat hom suid van die poolyskap uitstrek, toon baie ooreenkoms met die van Eurasië op dieselfde breedte. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit mosse, korsmosse en dwergstruike. Ook die dierewêreld toon ooreenkoms met die van Noord-Eurasië. Die lemmings (genus Lemmus) en poolhase is in albei gebiede 'n belangrike prooi vir poolvosse (Alapex lagopus), hermelyne (Mustela erminea) en ander roofdiere.

Die verskille is veral op die vlak van spesies en subspesies. So behoort die poolhaas van Amerika tot ’n ander spesie (Lepus timidus) en is die toendrarendier (Rangifer tarandus arcticus) die Noord-Amerikaanse teenhanger van die Noord-Europese rendier (Rangifer tarandus tarandus), al het hy in teenstelling met die Noord-Europese rendier nooit ’n huisdier geword nie.

Die muskusbees (Ovibos moschatus), wat vroeër net in Noord-Amerika, op Groenland en die Arktiese eilande voorgekom het, is nou ook na Noorweë en op Spitsbergen ingevoer. Langs die kus lewe talryke seevoëls, veral in die somer. Ganse sneeuhoenders en spesies soos die steenlopertjie (Arenaria interpres) en die drietoonstrandloper (Calidris alba) broei op die toendra.

Bosse Suid van die boomgrens, dit wil sê die grens van die gebiede waar die klimaat die groei van bome moontlik maak, is 'n breë gordel van naaldbome wat bekend is as die Kanadese of Hudson-leefsone, aangesien hierdie gordel die hele Kanada van Hudsonbaai af bedek. Hier hou die Amerikaanse of Europese eland (Alces alces), asook wolwe en losse. Behalwe baie bewers is daar ook die Amerikaanse marter (Martes americanus) en die swartbeer (Ursus americanus).