The Jewel of Seven Stars is 'n rillerroman deur die Ierse skrywer Bram Stoker wat die eerste keer in 1903 gepubliseer is. Die storie is 'n vertelling in die eerste persoon van 'n jong man wat betrokke raak by 'n argeologiese plan om koningin Tera, 'n antieke Egiptiese mummie, te laat herleef. Dit verken temas soos imperialisme, die opkoms van die Nuwe Vrou en feminisme.
Die eerste Amerikaanse uitgawe is in 1904 deur Harper & Brothers uitgegee."The jewel of the seven stars" (1st US ed). LC Online Catalog. Library of Congress (loc.gov). Besoek op 16 September 2016."The Jewel of Seven Stars" (92pp, 1902); "The Jewel of Seven Stars" (162, 280pp, 1903). LC Online Catalog. Besoek op 16 September 2016.
Storielyn Malcolm Ross, 'n jong advokaat, word in die middel van die nag wakker gemaak en ontbied na die huis van die beroemde Egiptoloog Abel Trelawny op versoek van Trelawny se dogter, Margaret, op wie Malcolm verlief is. Toe Malcolm by die huis aankom, word hy begroet deur Margaret, superintendent Dolan en dokter Winchester. Hy hoor hoekom hy ontbied is: Margaret het vreemde geluide in haar vader se slaapkamer gehoor en hom bewusteloos en vol bloed op die vloer van die kamer gekry. Hy was in 'n soort beswyming. Margaret sê haar pa het 'n brief met vreemde instruksies gelos ingeval iets met hom gebeur. Daarin staan sy liggaam moenie uit sy kamer verwyder word nie en hy moet te alle tye dopgehou word totdat hy wakker word. Die kamer is vol Egiptiese relieke en Malcolm kom agter die mummiereuk het 'n invloed op die mense in die kamer. 'n Groot mummiekat in die kamer ontstel Margaret se kat, Silvio, en die dokter vermoed dit is Silvio wat krapmerke op Trelawny se arm gelaat het.
thumb|200px|Bram Stoker, die skrywer van The Jewel of Seven Stars. Tydens die eerste nagwaak word Malcolm wakker en kry Trelawny weer op die vloer, bebloed en bewusteloos. Ná 'n normale nag sonder enige verdere voorvalle daag 'n vreemdeling by die huis op en smeek om Trelawny te sien. Hy sê hy is Eugene Corbeck, 'n Egiptoloog wat saam met Trelawny gewerk het. Hy het van Egipte af gekom met lampe wat Trelawny gevra het, maar het by sy aankoms by die huis agtergekom die lampe is weg.
Die volgende dag bewonder Malcolm en Margaret Trelawny se Egiptiese skatte en merk veral 'n groot sarkofaag op, asook 'n kis bedek met hiërogliewe en 'n buitengewoon goed bewaarde mummiehand met sewe vingers. Malcolm ontdek die vermiste lampe in Margaret se slaapkamer. Hy is bekommerd oor Margaret en vertel vir Corbeck alles wat gebeur het voor sy aankoms. Corbeck gee Malcolm 'n geheimsinnige boek om te lees. Daarin word die verhaal vertel van Nicholas van Huyn, 'n Nederlandse verkenner wat na die Vallei van die Towenaar reis om die grafkelder van 'n geheimsinnige Egiptiese koningin, Tera, te besigtig. In die grafkelder ontdek hy 'n sarkofaag en 'n mummiehand met sewe vingers. Aan die vingers is 'n robynring met sewe punte wat soos sterre lyk.
Corbeck vertel vir Malcolm hy en Trelawny het jare tevore na Egipte gereis om te soek na die grafkelder waarin die sarkofaag is. Hulle het die grafkelder gekry en ontdek die mummie se pols is vol vars, droë bloed. Die hiërogliewe teen die muur het Corbeck en Trelawny laat glo die mummie is deur 'n soort swartmagie oorgeneem en dat koningin Tera ontsaglike mag oor die Bo- en Onderwêreld het. Die hiërogliewe het laat blyk dat koningin Tera beplan om uit die dode op te staan.
Hulle het die sarkofaag uit die grafkelder verwyder, maar is tydens 'n storm deur hulle Arabiese gidse beroof. Trelawny het voorgestel hulle keer terug na die grafkelder, en daar het hulle die mummie en drie Aarabiere gekry. Die Arabiere was vermoor. In die grafkelder is hulle in 'n soort beswyming geplaas en toe hulle drie dae later herstel, het hulle gehoor Trelawny se vrou is tydens hulle baba se geboorte oorlede, maar Margaret het oorleef. Sestien jaar het verbygegaan voordat Trelawny vir Corbeck gekontak het. Hy was rasend, want hy het geglo die lampe wat hulle in die grafkelder gesien het, kan in 'n spesifieke vorm gerangskik word en sal veroorsaak dat die kis oopgaan, en dit was moontlik die sleutel tot Tera se herrysenis.
Corbeck se storie word onderbreek toe Trelawny bykom. Hy omhels sy dogter. Dolan en die polisie gaan weg en Trelawny verduidelik aan die oorblywendes sy Groot Eksperiment. Hy beskryf hoe magtig koningin Tera was en dat haar gees in die mummiekat in sy slaapkamer is; dit wag om met sy menslike vorm herenig te word. Trelawny glo die kis, wanneer dit met die regte plasing van die lampe oopgemaak word, sal 'n soort towerkrag vrylaat wat die mummie sal laat herlewe en Tera se gees sal terugbring. Die aanval op Trelawny was 'n poging van Tera se astrale liggaam – die mummiekat – om die Juweel van die Sewe Srerre uit 'n toegesluite kluis in sy slaapkamer te kry. Hy onthul hy het 'n afgesonderde huis by Kyllion, in Cornwall, voorberei waar sy eksperiment kan plaasvind.
Nadat al dié inligting bekend gemaak is, bevraagteken Malcolm die implikasies van 'n wisselwerking tussen antieke magte en die nuwe beskawing. Hy is bekommerd oor die uitwerking op godsdiens en monoteïsme as die mag van die antieke Egiptiese gode korrek bewys word. Trelawny vertel hy meen die antieke Egiptenare het hedendaagse wetenskaplike kennis gehad, soos die ontdekking van radium en die uitvinding van elektrisiteit.
Toe almal by die nuwe huis aankom, word Margaret se gedrag al hoe onreëlmatiger en openbaar sy 'n ongewone kennis van Tera se gedagtes en gevoelens. Malcolm begin vermoed Margaret is die astrale liggaam van Tera en is bang sy sal te swak wees om 'n besitneming af te weer. Toe hy dit egter met Trelawny en Margaret bespreek, lyk dit of hulle nie bang is vir so 'n moontlikheid nie.
Op die aand van die eksperiment woed 'n wilde storm buite terwyl hulle die grot onder die huis voorberei. Hulle begin die mummie oopdraai. Malcolm kry opdrag om die elektriese ligte aan te sit wanneer die eksperiment verby is, en Margaret blaas die kerse dood. Toe die lampe aangesteek word, begin die kis gloei en gee dit 'n groen walm af wat in die sarkofaag intrek. Skielik waai die storm buite 'n venster uit en die walm word in die kamer rondgewaai. Swart rook trek uit die kis. Die kamer is vol rook en Malcolm wag vir die opdrag om die ligte aan te sit, maar dit kom nooit. Die lampe brand stadig uit en Malcolm voel in die donker rond. Hy kom op die slap liggaam van 'n vrou af, wat hy glo Margaret is. Hy dra haar met die trap op en los haar in die gang, en hy gaan soek vuurhoutjies. Toe hy terugkeer, ontdek hy net Tera se rok op die vloer lê, met die Juweel van Sewe Sterre in die plek van waar die hart moes wees. Hy keer terug na die grot en sien al sy metgeselle lê dood op die vloer.
In 'n hersiene uitgawe van 1912 is die einde verander. Daarin misluk die eksperiment, niemand kom iets oor nie en Margaret en Malcolm trou 'n paar jaar later.
Karakters Malcolm Ross: Die hoofkarakter en verteller. Hy word betrek by die geheim van koningin Tera deur sy liefde vir Margaret Trelawny. Sy begeerte om haar te beskerm bepaal die meeste van sy dade. Abel Trelawny: 'n Beroemde Egiptoloog wat obsessief raak met die idee om Tera te laat herlewe. Hy is 'n ambisieuse en vreeslose man wat glo die antieke Egiptenare was ver voor die hedendaagse Britte wat vooruitgang betref. Margaret Trelawney: Die dogter van Abel wat gebore is terwyl Abel in Tera se grafkelder in 'n beswyming was. Sy is in die begin onskuldig en minsaam, maar word al hoe onafhankliker. Sy begin al hoe meer soos Tera optree en is moontlik deur Tera se gees oorgeneem. Eugene Corbeck: 'n Egiptoloog wat Trelawny help om Egiptiese relieke te ontdek Hy stel meer in die relieke belang as om Tera op te wek.
Historiese agtergrond Egiptomanie In 1882 het die Britte Egipte beset en 'n groot invloed op die land begin uitoefen.Egypt. In Britannica Online Encyclopedia. Encyclopædia Britannica Inc. Die betowering met Egipte in die Victoriaanse tydperk het egter aan die begin van die 19de eeu al 'n aanvang geneem, toe die Europese verkenning van Egipte begin het. Argeologiese ontdekkings van Egiptiese grafkelders en monumente soos Cleopatra se Naald en die Rosettasteen het Europese geleerdes en reisigers se belangstelling gewek.Brier, B. (2013). Egyptomania: Our three thousand year obsession with the Land of the Pharaohs. Palgrave Macmillan. Oktober 2023 Die besetting van Egipte het dit makliker gemaak om dié monumente na Brittanje te neem, en daar was gou 'n vraag na antiekhede uit Egipte in privaat huise en in museums. Huise is ook versier met Egiptiese ontwerpe en artefakte.Patterson, J. D. (2002). Beyond Orientalism: Nineteenth century Egyptomania and Frederick Arthur Bridgman’s 'The Funeral of a Mummy'. University of Louisville. Oktober 2023
Egiptologie en die betowering met antieke artefakte is in die letterkunde van die 19de eeu weerspieël. Tussen 1860 en 1914 is honderde stories oor Egiptiese mummies, vloeke en verkennings gepubliseer. Roger Luckhurst noem dié neiging "Egiptiese Gotiek", "'n stel geloofsoortuigings of kennisse in 'n losse okkultiese raamwerk" wat ontwikkel het in antwoord op Britse vrese oor die heerskappy van Egipte.Luckhurst, R. (2012). The mummy’s curse: The true history of a dark fantasy. Oxford University Press. Oktober 2023 'n Algemene storielyn was die "mummievloek", oor die peutery met artefakte met dodelike gevolge; dié artefakte was dikwels in besit geneem deur die een of ander bonatuurlike element.
Baie van die mummies was van farao's en mense was verstom oor die feitlik perfekte bewaring daarvan.
Koningin Hatsjepsoet Hoewel koningin Tera 'n heeltemal fiktiewe karakter is, toon sy baie ooreenkomste met koningin Hatsjepsoet, 'n farao wat van 1479-'58 v.C. oor Egipte regeer het. Sy was een van die eerste en min vroulike farao's. Sy is met haar halfbroer, Toetmoses II, getroud. Hy het van 1492 v.C. tot met sy dood in 1479 v.C. regeer. In dié stadium het Hatsjepsoet die regent van Toetmoses se seun by 'n byvrou geword. Sy het egter die troon oorgeneem en haarself tot heerser verklaar.
thumb|200px|Die sfinks van Hatsjepsoet in die Metropolitan Museum of Art. Omdat die heersers hoofsaaklik mans was, het Hatsjepsoet die openbare beeld van haar vroulike self verander; alle "beelde van haar ná haar kroning beeld haar as 'n man uit – met breë skouers, smal heupe en geen teken van borste nie".
Sowat 20 jaar ná haar dood in 1458 v.C. is haar naam en beelde verwyder van tempelmure en baie van haar standbeelde is vernietig. Dorman glo dit was nie persoonlike vyandigheid nie, maar eerder 'n poging om alle bewyse van 'n vroulike heerser uit te wis, "om die moontlikheid te voorkom dat nog 'n magtige vrou haar tot die lang lys manlike heerers wil voeg".
Die grafkelder van koningin Hatsjepsoet is vroeg in 1903 deur Howard Carter ontdek in die Vallei van die Konings (soortgelyk aan die Vallei van die Towenaar, waar Tera in die roman ontdek word). Die ooreenkomste tussen die twee is volgens Hebblethwaite "amper te openlik om blote toeval te wees";Hebblethwaite, K. (2008). "Introduction". The jewel of seven stars. New York, NY: Penguin Classics. Oktober 2023 albei is uiters magtige vroulike heersers wat die rol van 'n man aangeneem het. Nes Hatsjepsoet haar in 'n man omtower het, word in Tera se grafkelder gevind dat "prominensie gegee is aan die feit dat sy, hoewel 'n koningin, aanspraak gemaak het op koningskap en manlikheid. Op een plek word sy uitgebeeld in 'n man se klere en met die Wit en Rooi Kroon. In die volgende beeld het sy 'n rok aan, maar sy dra steeds die krone van Bo- en Benede-Egipte, terwyl die uitgetrekte manlike kledingstuk aan haar voete lê."The jewel of seven stars, p.129