Kalkoentjies (genus Macronyx) is middelgroot sangvoëls in die familie Motacillidae wat veral in oop grasveld of vleierige gebiede aangetref word. Hulle is terrestriële insekvreters wat bolangs kripties geveerd is, maar aan die keel, bors en buik opvallend gekleurd is. Die 8 spesies van genus Macronyx en subfamilie Anthinae is almal endemies aan Sub-Sahara Afrika. Die genus Macronyx is in 1827 deur die Engelse naturalis William Swainson ingevoer met die oranjekeelkalkoentjie as die tipe-spesie. Hul Engelse naam longclaws verwys soos die wetenskaplike genusnaam na hul besonder lang agterklou.

Kenmerke Hulle is monogame standvoëls wat op die grond voed, oornag en nesmaak. Hulle leef van insekte, sade en spinnekoppe, en sommige prooi word uit die lug gegryp. Anders as koesters (Anthus) het hulle stewige borselhare bo die mondhoeke, wat die vang van hul prooi vergemaklik. Vergeleke met koesters is kalkoentjies ook groter en meer robuust gebou, met korter sterte en meer geronde vlerke, en relatief tot koesters is hul pote enorm. Die tarsi en tone is lank en stewig, en die agterkloue besonder lank. Hul wetenskaplike naam (macro = groot, nyx = klou) verwys juis na hierdie klou aan die hallukstoon, wat ‘n aanpassing is vir hul habitat van digte grasveld. Dit laat hulle toe om makliker bo-op gras te staan om gevaar of prooi te bespied. Alhoewel hulle aan die rugkant ook kripties gekleurd is, is die keel, bors en buik helderkleurig. Die kleurryke keelvlek (rosig, oranje of geel) word by sommige spesies deur ’n swart soom geaksentueer, wat by die onvolwassenes nog afwesig is. Hulle vlieg laag met onderbroke vlerkslae, en sweef dan met die vlerke effe afwaarts. Hulle maak op die grond nes, teen 'n beskermende graspol. Die 2 tot 4 roomkleurige eiers is lig tot swaar gevlek en die eierinkubasie- en kuikenperiodes duur elk in die omgewing van twee weke.

Spesies Agt spesies word erken: Macronyx ameliae — Rooskeelkalkoentjie Macronyx aurantiigula Macronyx capensis — Oranjekeelkalkoentjie Macronyx croceus — Geelkeelkalkoentjie Macronyx flavicollis Macronyx fuellebornii Macronyx grimwoodi Macronyx sharpei

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Verwysings