Belgium Rugby, tot 2019 bekend as die Belgiese Rugbyfederasie (Duits: Belgischer Rugby-Verband; Frans: Fédération Belge de Rugby, FBRB; Nederlands: Belgische Rugby Bond) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in België beheer. Die beheerliggaam is in 1931 gestig en by die Nelson Mandela-stadion in Brussel gesetel. Sedert 1998 verteenwoordig dit België by Wêreldrugby en sedert 1934 ook by Rugby Europa (RE).

Geskiedenis Belgium Rugby is in 1931 gestig as die Belgiese Rugbyfederasie en het in 1998 by die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens was die FBRB in 1934 ’n stigterslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE). In 2019 is die naam verander in Belgium Rugby.

Taak Belgium Rugby organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend België se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Swart duiwels), vroue en jeug. Belgium Rugby hou ook toesig oor sewesrugby in België en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Belgiese Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep Belgium Rugby ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in België. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik België oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese Juniorkampioenskap en Wêreldrugby o/20-trofee deelneem.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in die land is die Eerste Divisie, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Belgiese nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Frankryk op professionele vlak aktief. In België self speel aktiewe spelers van die nasionale span meestal vir die professionele klubspan Brussels Devils wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem.

Kenteken Belgium Rugby se kenteken toon ’n leeu met doelpale op die agtergrond voor ’n rugbybal in die nasionale kleure swart-geel-rooi met die afkorting FBRB daaronder.

Verwysings

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Rugby in België Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby