Die Koreaanse Rugbyunie (Engels: Korea Rugby Union, afgekort “KRU”; Koreaans: 대한럭비협회) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Suid-Korea beheer. Die beheerliggaam is in 1946 gestig en in Seoel gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit Suid-Korea by Wêreldrugby en sedert 1968 ook by Asië Rugby (AR).

Geskiedenis Die Koreaanse Rugbyunie is in 1946 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die KRU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR).

Taak Die Koreaanse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Korea se nasionale seniormansrugbyspan (die Mugunghwas), vroue en jeug. Die KRU hou ook toesig oor sewesrugby in Suid-Korea en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Suid-Koreaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die KRU ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Suid-Korea. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Suid-Korea oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Korea Sevens is die Suid-Koreaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Suid-Korea is die in 2003 gestigte Koreaanse Superrugbyliga, waaraan vier spanne deelneem. Die meeste spelers van die Koreaanse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Japan aktief.

Die Koreaanse Rugbyunie organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Onder andere word die Korea Sewes jaarliks op die Incheon Namdong Asiad-rugbyveld in Incheon beslis.

Kenteken Die Koreaanse Rugbyunie se kenteken toon ’n gestileerde alteaboompie (Hibiscus syriacus, ook “Roos van Saron” genoem) in pienk op ’n gestiliseerde rugbybal met die belettering Korea Rugby in Engels. Die nasionale span se bynaam Mugunghwas (Hangul: 무궁화, Hanja: 無窮花; letterlik: “die ewige blom”) is ontleen aan die Koreaanse naam van dié nasionale blom.

Verwysings

Eksterne skakels Die Koreaanse Rugbyunie se amptelike tuisblad

Kategorie:Rugby in Suid-Korea Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby