thumb|280px|Tarotkaarte.

Tarotwaarsêery of tarotkaartlêery is 'n vorm van kartomansie, of waarsêery met speelkaarte, waar beoefenaars tarotkaarte gebruik om na bewering 'n insig in die verlede, teenswoordige en toekoms te kry. Hulle formuleer 'n vraag, en trek dan kaarte om die vraag te vertolk.

'n Tradisionele tarotpak bestaan uit 78 kaarte, wat in twee groepe verdeel kan word: die Groot Arcana en Klein Arcana. Franse speelkaarte kan ook gebruik word, asook enige pak met stelle, of kleure, wat aan identifiseerbare elemente toegewys is (soos lug, aarde, vuur en water).

Geskiedenis Die eerste geskrewe verwysings na tarotpakke het tussen 1440 en 1450 in Noord-Italië voorgekom, byvoorbeeld in Milaan en Ferrara, toe bykomende kaarte met simboliese illustrasies gevoeg is by die gewone pak met vier stelle. Dié nuwe kaarte is carte da trionfi (triomfpakke) genoem en die bykomende kaarte trionfi. Dit het in Engels "trumps" geword en in Afrikaans "troefkaarte".Pratesi, Franco. Studies on Giusto Giusti by trionfi.com. Besoek op 4 Februarie 2018.

Een van die vroegste verwysings na tarottroefkaarte was omstreeks 1450-'70 deur 'n Dominikaanse prediker in 'n preek teen dobbelstene, speelkaarte en "troefkaarte". Verwysings na die tarot as 'n sosiale pes het voortgeduur deur die 16de en 17de eeu, maar daar is geen aanduiding dat die kaarte vir iets anders as kaartspeletjies gebruik is nie. Volgens die filosoof en tarothistorikus Michael Dummett "was dit eers in die 1780's, toe die praktyk van toekomsvoorspelling met gewone speelkaarte minstens twee dekades lank goed gevestig was, dat enigiemand die tarotpak vir kaartleëry begin gebruik het".

Bewerings deur die vroeë Franse okkultiste dat tarotkaarte duistere bande met antieke Egipte, die kabbala, tantra of Yijing het, word dikwels herhaal deur skrywers oor waarsêery met kaarte. Navorsing deur geleerdes het egter onthul dit is in die vroeë 15de eeu in Italië vir speletjies uitgevind, en daar is geen bewyse dat tarotkaarte voor die laat 18de eeu vir waarsêery gebruik is nie. Historici beskryf Westerse idees oor die tarotpak in werklikheid as "die onderwerp van die suksesvolste propagandaveldtog nog... 'n Hele valse geskiedenis en false vertolking van die tarotpak is deur okkultiste saamgeflans; en dit word feitlik oral geglo."Decker, Depaulis & Dummett (1996), p. 27.

Die geloof in die waarsêery-betekenisse van die kaarte hang nou saam met 'n geloof in hulle okkulte eienskappe, 'n algemene geloof in die vroeë moderne Europa wat deur prominente Christelike Protestantse geestelikes en Vrymesselaars versprei is. Een van hulle was Antoine Court de Gebelin (sien onder).

Vandat die tarot in die 18de-eeuse Frankryk gewild geword het as 'n manier van waarsêery, is dit begin gebruik in hermeneutiek (Bybelse uitlegkunde), towerkuns, mistisisme, semiotiek (die studie van tekens en simbole) en psigologiese praktyke. Dit is deur die Romavolk gebruik om mense se fortuin te vertel en as 'n jungiaanse apparaat om onder meer "absolute kennis van die onderbewuste" te verkry.

Court de Gébelin 180px|thumb|links|Court de Gébelin.

Baie mense wat by waarsêery en die okkulte betrokke was, het probeer om die tarot terug te speur na antieke Egipte, goddelike hermetiese wysheid en die misterieë van Isis.

Die eerste een was Antoine Court de Gébelin, 'n Franse geestelike, wat geskryf het hy het 'n groep vroue sien kaartspeel en die idee gekry dat tarot nie net 'n kaartspeletjie is nie, maar van antieke Egiptiese oorsprong en van diep goddelike betekenis is. Court de Gébelin het in 1781 'n tesis geskryf oor die oorsprong van die simbolisme in die tarot in volume VIII van sy werk Le Monde primitif. Hy het gedink die tarot verteenwoordig antieke Egiptiese teologie, insluitende Isis, Osiris en Tifon. Hy was byvoorbeeld van mening "Die Pousin", wat vandag in okkulte kringe as Die Hoëpriesteres bekend is, verteenwoordig Isis. Hy het ook vier tarotkaarte verbind met die vier Christelike kardinale deugde: Matigheid, Geregtigheid, Krag en Wysheid. Hy het Die Toring verbind met die Griekse mite oor hebsug.

Hoewel Egipties destyds nog nie ontsyfer was nie, het Court de Gébelin beweer die naam "tarot" kom van die Egiptiese woorde tar ("pad" of "weg") en ro ("koning"), en dat die tarot letterlik vertaal beteken die "Koninklike Lewenspad". Daaropvolgende navorsing deur Egiptoloë het niks in Egipties gekry wat Court de Gébelin se verklaring steun nie. Desondanks bestaan die geloof dat die tarot verband hou met die Egiptiese Boek van Thoth tot vandag toe.Alexander & Shannon (2019), p. 12.

Die werklike bron van die okkulte tarotkaarte kan in werklikheid teruggespeur word na twee artikels in volume VIII, een wat deur hom geskryf is en een deur M. le C. de M.***, wat geïdentifiseer is as generaal-majoor Louis-Raphaël-Lucrèce de Fayolle, Comte de Mellet. Die tweede artikel is "aansienlik indrukwekkender" as De Gébelin's s'n, al is dit "vol aannames sonder 'n voet in die waarheid". Dit was invloedryker as Court de Gébelin se artikel. Die skrywer maak geen melding van De Gébelin nie en, hoewel hy met al sy belangrikste gevolgtrekkings saamstem, weerspreek hy hom oor sulke besonderhede as die betekenis van die woord "tarot" en in hoe die kaarte deur Europa versprei het. Tog neem hy De Gébelin se gissings selfs verder en stem hy met hom saam oor die mistieke oorsprong van die tarot in antieke Egipte. Hy maak ook verskeie bykomende, en invloedryke, verklarings wat tot vandag 'n verkeerde indruk van die okkulte tarot wek. Hy het eerste die uitlatings gemaak dat die tarot die Boek van Thoth is en het die eerste verbintenis van die tarot met waarsêery gemaak.

Etteilla Die eerste mens wat elemente van waarsêery aan die tarotkaarte toegeskryf het, was die kaartleser Jean-Baptiste Alliette (ook bekend as Etteilla) in 1783.

Volgens Dummett het Etteilla:

'n metode van tarotwaarsêery in 1783 uitgedink, 'n kartomantiese tesis geskryf oor die tarot as die Boek van Thoth, die eerste vereniging vir tarotkartomansie gestig, met die naam die Société littéraire des associés libres des interprètes du livre de Thot. die eerste Egiptiese tarot geskep wat uitsluitlik vir tarotkaartlêery gebruik is, en die Dictionnaire synonimique du Livre de Thot gepubliseer, 'n boek wat al die moontlike betekenisse wat elke kaart kan inhou, regop en omgekeer, stelselmatig getabelleer het".

In 'n boek van 1980, The Game of Tarot, stel Michael Dummett voor Etteilla het probeer om Court de Gébelin te onttroon as die skrywer van die okkulte tarot. Etteilla het in werklikheid beweer hy is langer as Court de Gébelin by tarot betrokke.

Marie Anne Lenormand Mlle Marie-Anne Adelaide Lenormand het selfs vir Etteilla oortref en was die eerste kaartleser vir belangrike mense, deur middel van haar bewerings dat sy die persoonlike vertroueling was van keiserin Josephine, Napoleon en ander beroemdes. Lenormand het beide gewone speelkaarte, veral die piketpak waarvan sommige kaarte verwyder is, en tarotkaarte wat waarskynlik op die Tarot van Marseille geskoei was, gebruik.

Eliphas Levi thumb|links|180px|Eliphas Levi. Die begrip van die kaarte as 'n mistieke sleutel is deur Eliphas Levi uitgebrei. Levi (wie se regte naam Alphonse-Louis Constant was), is as 'n diaken ingewy, maar het nooit 'n priester geword nie. Dummett teken aan dat dit van Levi se boek Dogme et Rituel de la Haute Magie is dat die "hele moderne okkultistiese beweging afstam". Volgens Dummett het Levi beweer hy is die eerste een "wat hierdie ongeskonde en nog onbekende sleutel tot alle leerstellings en alle filosofieë van die ou wêreld ontdek het... sonder die tarot is die magie van die antieke mense 'n geslote boek..."

Levi het Court de Gébelin se bewerings aanvaar dat die tarot 'n Egiptiese oorsprong het, maar hy het Etteilla se vertolking en korrigering van die kaarte verwerp ten gunste van die Tarot van Marseille. Hy noem dit die "Boek van Hermes" en beweer die tarot het voor Moses al bestaan en was in werklikheid 'n universele sleutel van geleerdheid, filosofie en towerkuns wat hermetiese en kabbalistiese begrippe kon ontsluit. Volgens Levi "sou 'n gevangene met geen ander boek as die tarot nie, as hy geweet het hoe om dit te gebruik, binne 'n paar jaar universele kennis kon opgedoen het en die vermoë kon gehad het om oor alle onderwerpe met ongeëwenaarde geleerdheid en onuitputlike welsprekendheid te praat".

Volgens Dummett het Levi: geïnspireer deur de Gébelin, die Hebreeuse alfabet met die Groot Arcana (troefkaarte) verbind, die 10 genommerde kaarte van die tarot verbind met die 10 sefirot van kabbala, beweer die prentkaarte verteenwoordig stadiums van die menslike lewe, en beweer die vier stelle van die tarotpak verteenwoordig die Tetragrammaton.

Ná Levi Okkultiste en towenaars tot in die 21ste eeu noem Levi as 'n groot invloed. Onder die eerste mense wat Levi se idees aanvaar het, was Jean-Baptiste Pitois. Hy het twee boeke onder die naam Paul Christian geskryf wat van Levi se werk aanhaal. Hy het die mitologie van die tarot herhaal en uitgebrei en die name van die troefkaarte en die stelle verander. Knuppels het septers geword, swaarde het lemme geowrd en muntstukke het sikkels geword.

links|thumb|180px|Gérard Encausse, ook bekend as Papus. Eers in die 18de eeu het Levi se visioen van die okkulte egter begin vrugte afwerp, toe sy idees begin versprei is deur verskeie Franse en Engelse okkultiste. Die Franse okkultis Papus was een van die mees vooraanstaandes. Onder sy 260 publikasies is twee verhandelings oor die gebruik van tarotkaarte, Le Tarot des Bohémiens (1889), wat die idees van Levi in sy Clef des grands mysteries (1861) gevolg het, en Le Tarot divinatoire (1909), wat op eenvoudiger aspekte van die kaarte fokus.

Die markies Stanislas de Guaita het die amateurkunstenaar Oswald Wirth in 1887 ontmoet en 'n produksie geborg van die pak wat Levi van voorneme was om te vervaardig. Wirth het hom geheel en al deur De Guaita laat lei en die eerste neo-okkultistiese kartomantiese pak kaarte ontwerp (die eerste een wat nie op Etteilla se Egiptiese pak geskoei was nie). Dit is in 1889 uitgereik as Les 22 Arcanes du Tarot kabbalistique, en bestaan uit slegs die 22 Groot Arcana-kaarte. Dit is in 1926 herontwerp as Le Tarot des imagers du moyen âge. Wirth het ook die volgende jaar 'n boek geskryf oor sy herontwerpte kaarte met sy eie teorieë oor die okkulte tarot.

In 1888 het die Franse sterrewiggelaar Ély Star Les mystères de l'horoscope gepubliseer, wat in 'n groot mate Christian se veranderings herhaal. Sy grootste bydrae was die instelling van die terme "Groot Arcana" en "Klein Arcana", en die numering van Die Krokodil (Die Dwaas) as XXII in plaas van 0.

Die Hermetiese Orde van die Goue Daeraad en sy opvolgers In die laat 1880's het die okkulte tarot nie net in Frankryk versprei nie, maar is dit ook in die Engelse wêreld begin aanvaar. In 1886 het A.E. Waite The Mysteries of Magic gepubliseer, wat 'n keuse van Levi se geskrifte bevat het wat deur Waite vertaal is. Dit was die eerste werk oor die okkulte tarot wat in Engeland die lig gesien het. Dit was egter net deur die stigting van Die Hermetiese Orde van die Goue Daeraad in 1888 dat die okkulte tarot in die Engelssprekende wêreld bekend geraak het.

Van die drie stigterslede van die Goue Daeraad het twee, Samuel Liddell Mathers en William Wynn Westcott, voor die stigting van die orde geskrifte gepubliseer oor die okkulte tarot. Westcott het omstreeks 1886 inksketse van die troefkaarte gemaak en die tarot bespreek in sy verhandeling Tabula Bembina, sive Mensa Isiaca, wat in 1887 gepubliseer is. Mathers het die eerste Britse werk gepubliseer wat hoofsaaklik op die tarot gefokus het: sy boekie van 1888 The Tarot: Its Occult Signification, Use in Fortune-Telling and Method of Play.