The Color Purple is 'n Amerikaanse periodedrama en musiekprent van 2023 oor 'n meisie se grootwordjare wat deur Blitz Bazawule geregisseer is. Die draaiboek is geskryf deur Marcus Gardley en is geskoei op die musiekverhoogstuk met dieselfde naam, wat weer geskoei is op 'n roman deur Alice Walker wat die Pulitzerprys gewen het. Dit is die tweede verwerking van die boek ná die 1985-rolprent, wat deur Steven Spielberg geregisseer en deur Spielberg en Quincy Jones vervaardig is. Spielberg en Jones was weer die vervaardigers in 2023, saam met Scott Sanders en Oprah Winfrey, wat in die rolprent van 1985 gespeel het.
Die akteurs sluit in Taraji P. Henson, Danielle Brooks, Colman Domingo, Corey Hawkins, H.E.R., Halle Bailey, Louis Gossett jr. en Fantasia Barrino in die hoofrol van Celie. Brooks en Barrino het ook die rolle in die verhoogproduksie vertolk. Dit vertel die verhaal van Celie, 'n swart meisie in die vroeë 1900's in die Amerikaanse Suide.
The Color Purple se première was op 20 November 2023 in Londen. Dit het positiewe resensies gekry en het gelei tot benoemings vir Golden Globes vir Barrino en Brooks.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:Musiekrolprente