Die Nasionale Rugbysportfederasie (Spaans: Federación Deportiva Nacional de Rugby, afgekort “FDNR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Chili beheer. Die beheerliggaam is in 1953 gestig en in Santiago de Chile gesetel. Sedert 1991 verteenwoordig dit Chili by Wêreldrugby en sedert 1988 ook by Suid-Amerika Rugby (SAR).
Geskiedenis Die Nasionale Rugbysportfederasie is in 1953 onder die naam Chileense Rugbyfederasie (Federación Chilena de Rugby, FCR) gestig en het in 1991 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Chileense beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR). In 2015 is die Chileense Rugbyfederasie in Nasionale Rugbysportfederasie hernoem.
Taak Die Nasionale Rugbysportfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Chili se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Kondors), vroue en jeug. Die FDNR hou ook toesig oor sewesrugby in Chili en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Chileense Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Nasionale Rugbysportfederasie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Chili. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Chili oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Chile Sevens is die Chileense sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in die land is die Primera Nacional TOP 10 wat in 1948 gestig is en tans deur tien spanne beslis word, waarvan die meeste uit die hoofstad Santiago de Chile of die metropolitaanse gebied. In die verlede was die meeste spelers van die Chileense nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Chileense spelers egter uit vir die keurspan Selknam wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay deel. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Frankryk of die Noord-Amerikaanse Major League Rugby aktief.
Kenteken Die Nasionale Rugbysportfederasie se kenteken toon ’n Andiese kondor op ’n rooi agtergrond. Die nasionale span se bynaam Los Condores (“die kondors”) is ontleen aan die Spaanse naam van dié voël uit die familie nuwewêreldse aasvoëls wat wydverspreid in Suid-Amerika voorkom.
Verwysings
Eksterne skakels Die Nasionale Rugbysportfederasie se amptelike tuisblad
Kategorie:Rugby in Chili Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby