Aten (volle naam: Die Glansende Aten, hoewel argeoloë dit aanvanklik "Die Horison van Aten" genoem het) is die ruïnes van 'n antieke Egiptiese stad aan die westeroewer van die Nyl in die Thebaanse Dodeakker naby Luxor. Dit is genoem na die Egiptiese songod Aten en het blykbaar langer as drie millenniums ongeskonde bewaar gebly.
Sedert uitgrawings in September 2020 begin het, blyk dit die grootste stad in sy soort in antieke Egipte te wees; die merkwaardige graad van sy bewaring het gelei tot vergelykings met Pompeji.
Geskiedenis
Die stad se stigting dateer van die tydperk van Amenhotep III, sowat 3 400 jaar gelede (1386-'53 v.C.). 'n Paar inskripsies stel argeoloë in staat om presiese datums vir die stad se geskiedenis te bepaal. Een verwys na 1337 v.C., wat saamval met die bewind van Achenaten, wat vermoedelik sy hoofstad die volgende jaar na Achetaten geskuif het.
Bewyse wat tot dusver ontdek is, dui daarop dat Aten daarna onder beheer van Toetankaten gekom het. Hy het sy naam na Toetankamen (of Toetanchamoen) verander, na die ou hoofgod, Amoen. Die stad is ook deur die tweede laaste heerser van die 18de Dinastie, Ai, gebruik. Tot dusver is vier afsonderlike nedersettingslae ontdek wat getuig van hernude vestiging, tot so laat as die Kopties-Bisantyne tydperk, van die 3de tot 7de eeu n.C.
Ontdekking Baie vorige sendings het sonder sukses probeer om die stad te vind. Uitgrawings op die terrein rofweg tussen die dodetempel van Ramses III en dié van Amenhotep III is in September 2020 begin onder leiding van die Egiptiese argeoloog Zahi Hawass, en die suidelike kwartier van die stad is ontdek terwyl Hawass en sy span na die dodetempel van Toetankamen gesoek het.
Die ontdekking vorm deel van Amenhotep se paleiskompleks (Malkata), net noord van die nuwe gebied. Dit is op 8 April 2021 aangekondig. Die Egiptoloog Betsy Bryan noem dit die belangrikste argeologiese ontdekking sedert die uitgrawing van Toetankanmen se grafkelder.
Struktuur Verskeie afsonderlike buurte is al ontdek; hulle word afgesluit deur kronkelende moddersteenwalle. Daaronder is 'n bakkerykwartier met voorwerpe uit die alledaagse lewe. Drie paleise is ook al geïdentifiseer.
Verwysings
Bronne
Skakels
Kategorie:Thebaanse Dodeakker Kategorie:Nedersettings in Antieke Egipte Kategorie:Wêrelderfenisgebiede in Egipte