Barbara Hogan is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat van 25 September 2008 tot 10 Mei 2009 as minister van gesondheid in die kabinet van president Kgalema Motlanthe gedien het en van 10 Mei 2009 tot 31 Oktober 2010 die minister van openbare ondernemings in die kabinet van president Jacob Zuma was.

Hogan het kort ná die opstand in Soweto in Junie 1976 by die African National Congress aangesluit toe die organisasie reeds verbied is en sy bedrywighede ondergronds beweeg het. Haar verantwoordelikheid was om die linksgesindes onder die wit bevolking te mobiliseer, aan openbare politieke veldtogte deel te neem en die ANC in Botswana van inligting rakende vakbonde en gemeenskapsbedrywighede in Suid-Afrika te voorsien. Hogan is in 1982 aangehou omdat sy die doelwitte van 'n verbode organisasie bevorder het. Nadat sy ondervra is en 'n jaar lank in afgesonderde aanhouding aangehou is, is sy skuldig bevind aan hoogverraad en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Sy is in 1990 vrygelaat met die ontperking van verbode organisasies toe talle ander politieke gevangenes ook vrygelaat is, waarvan die bekendste Nelson Mandela was. Ná haar vrylating het Hogan 'n deurslaggewende rol gespeel in die omskepping van die ANC van vryheidsorganisasie tot politieke party in haar hoedanigheid as sekretaris van die streek wat tans as Gauteng bekend staan.

Hogan het minister van gesondheid geword op 25 September 2008 toe Kgalema Motlanthe Thabo Mbeki as staatspresident vervang het. Haar voorganger was Manto Tshabalala-Msimang.

Hogan is lid van die adviesraad van die Amandla Aids Fund (AAF), wat opgerig is deur die vereniging sonder winsoogmerk Artists for a New South Africa in 2003 met 'n skenking van $2,5 miljoen van Carlos en Deborah Santana. Dit was die hele opbrengs van die 2003 Summer Santana Shaman-toer in die VSA. AAF se adviesraad sluit talle vooraanstaande Suid-Afrikaanse vigskenners en -aktiviste in wat help met die kies van Suid-Afrikaanse organisasies en programme wat vir hulle befondsing in aanmerking sal kom. Die voorsitter is emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu.

Bronne 'n Kort biografie Records of Imprisonment

Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van gesondheid Kategorie:Geboortes in 1952 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste