Annelie Rabie is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat tussen Maart 2018 en Julie 2020 burgemeester van die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit gedien het en daarna, tussen November 2021 en April 2025, die burgemeester van die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit was. Rabie is 'n lid van die Demokratiese Alliansie. Loopbaan Rabie was vir jare lank die Kaapse uitvoerende hoof van die Business Against Corruption nie-winsgewende organisasie totdat sy in Maart 2011 geskors is nadat sy daarvan beskuldig is dat sy haar BAC-kredietkaart misbruik het sowel as haar salaris vermeerder het sonder goedkeuring van die organisasie se bestuur. Sy het toe in April haar bedanking ingedien omdat sy as die Demokratiese Alliansie se burgemeesterskandidaat vir die Prins Albert Plaaslike Munisipaliteit aangewys is, maar dit is nie aanvaar nie. Rabie is as 'n DA-raadslid in die Prins Albert munisipaliteit tydens die plaaslike verkiesings in Mei verkies en toe as koukusleier van die DA op die raad. Na 'n lang dissiplinêre proses is sy op 17 Junie 2011 deur die BAC nasionale bestuur afgedank. Volgens 'n brief wat Februarie 2016 deur die Handelsmisdaadeenheid (Valke) uitgereik is, is geen klag teen Rabie gelê nie, geen ondersoek het plaasgevind nie, en sy is ook nooit deur 'n amptelike wetstoepassingsagentskap aangekla en/of aan enige oortreding skuldig bevind nie.
Rabie is in die 2016-verkiesing as DA-raadslid in die Prins Albert munisipaliteit herverkies en ook as 'n raadslid van die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit aangewys.Prins Albert hou asem op oor koalisiebeheer In Maart 2018 is sy as burgemeester van die distriksmunisipaliteit verkies nadat die DA 'n koalisie met die kleiner Karoo Gemeenskapsparty gevorm het. Rabie is in Julie 2020 deur 'n mosie van wantroue uit die amp verwyder nadat die burgemeester van Prins Albert, Goliat Lottering van die KGP, die koalisie-ooreenkomste tussen sy party en die DA opgeskort het.DA-burgemeester van Sentraal Karoo pos kwyt
In Augustus 2021 het die DA vir Rabie as hul burgemeesterskandidaat vir die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit aangewys vir die verkiesings wat op 1 November 2021 sou plaasvind. Die DA het in die verkiesing hul meerderheid op die Overstrand-stadsraad behou en Rabie is toe tydens die eerste sitting van die raad na die verkiesing op 17 November 2021 as burgemeester verkies.Mayor unveils her plans Sy het op 19 Maart 2025 haar bedanking as burgemeester aangekondig en die amp op 1 April 2025 neergelê. Sy is deur Archie Klaas opgevolg.
Op 5 Februarie 2026 is Rabie deur die DA as die party se burgemeesterskandidaat vir die Overberg-distriksmunisipaliteit in die komende plaaslike verkiesings aangewys.
Verwysings
Kategorie:Lewende mense Kategorie:Afrikaners Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Suid-Afrikaanse burgemeesters