duimnael|Die voorgestelde vlag van Khalistan word dikwels as simbool van die Khalistan-beweging gebruik. Die Khalistan-beweging is 'n separatistiese beweging wat poog om 'n tuisland vir Sikhs te skep deur 'n etno-godsdienstige soewereine staat genaamd Khalistan (Punjabi: ਖ਼ਾਲਿਸਤਾਨ, lit. 'land van die Khalsa') in die Punjab-streek te vestig. Die voorgestelde grense van Khalistan verskil tussen verskillende groepe; sommige stel die geheel van die Indiese deelstaat Punjab voor, terwyl ander aansprake die Pakistanse Punjab en ander dele van Noord-Indië soos Chandigarh, Haryana en Himachal Pradesh insluit.Crenshaw, Martha, 1995, Terrorism in Context, Pennsylvania State University, bl. 364 Shimla en Lahore is voorgestel as die hoofstad van Khalistan.

Die oproep vir 'n aparte Sikh-staat het gedurende die 1930's begin, toe Britse heerskappy in Indië sy einde begin nader het. In 1940 is die eerste eksplisiete oproep vir Khalistan gemaak in 'n pamflet getiteld "Khalistan”. Met finansiële en politieke ondersteuning van die Sikh-diaspora, het die beweging in die Indiese deelstaat Punjab – wat 'n Sikh-meerderheidsbevolking het – gefloreer, wat deur die 1970's en 1980's voortgeduur het en in die laat 1980's sy hoogtepunt bereik het. Die Sikh-separatistiese leier Jagjit Singh Chohan het beweer dat die Pakistanse Eerste minister Bhutto (tydens samesprekings met Chohan) "alle denkbare hulp" aan die Khalistan-beweging belowe het, om wraak te neem teen Indië nadat diè land Pakistan verslaan het tydens die Indo-Pakistanse Oorlog van 1971. Hierdie steun het egter nooit gerealiseer nie. In die 1990's het die opstand gekwyn, en die beweging het om verskeie redes nie sy doelwit bereik nie, as gevolg van onder andere hewige polisie-onderdrukking teen separatiste, faksie-binnegevegte en die Sikh-bevolking se ontnugtering.

Daar is 'n mate van steun binne Indië en die Sikh-diaspora, met jaarlikse betogings uit protes teen diegene wat tydens Operasie Blou Ster vermoor is. Vroeg in 2018 is sommige militante groepe deur die polisie in Punjab, Indië, gearresteer. Die voormalige hoofminister van Punjab, Amarinder Singh, het beweer dat onlangse ekstremisme gerugsteun word deur Pakistan se Inter-Dienste Intelligensie (ISI) en "Khalistan simpatiseerders" in Kanada, Italië en die Verenigde Koninkryk. Simranjit Singh Mann, wat in 2022 vir Sangrur verkies is, is tans die enigste parlementslid wat die Khalistan-beweging openlik ondersteun en sy party, Shiromani Akali Dal (Amritsar), is tans die enigste pro-Khalistan-party in die Indiese parlement.

Verwysings

Kategorie:Indië