The Silence of the Lambs is ’n Amerikaanse sielkundige rillerrolprent van 1991 wat deur Jonathan Demme geregisseer is. Dit is deur Ted Tally geskryf en is 'n verwerking van Thomas Harris se roman The Silence of the Lambs van 1988. Die vroulike hoofrolspeler is Jodie Foster as Clarice Starling, ’n jong FBI-agent wat op soek is na ’n reeksmoordenaar bekend as "Buffalo Bill", wat sy vroulike slagoffers ontvel. Om hom te vang, soek sy die advies van die gevangene Hannibal Lecter (Anthony Hopkins), ’n briljante psigiater en kannibalistiese reeksmoordenaar. Ander akteurs is Scott Glenn, Anthony Heald en Kasi Lemmons.

Die prent, wat op 14 Februarie 1991 deur Orion Pictures uitgereik is, het wêreldwyd $272,7 miljoen verdien (die begroting was $19 miljoen) en was die rolprent met die vyfde grootste inkomste van die jaar. Die première was op die 41ste Berlynse Internasionale Rolprentfees, waar Demme die Silwer Beer vir beste regisseur gewen het.

Op die 64ste Oscar-toekenningsaand het dit die derde rolprent geword wat die "Groot Vyf"-kategorieë wen: beste prent, beste regisseur, beste akteur, beste aktrise en beste verwerkte draaiboek. Dit is steeds die enigste gruwelprent wat die prys vir beste prent gewen het.

The Silence of the Lambs word gereeld deur resensente, rolprentregisseurs en gehore aangehaal as een van die grootste en invloedrykste prente. In 2018 het die tydskrif Empire dit 48ste geplaas op sy lys van die 500 grootste rolprente van alle tye. Die American Film Institute (AFI) het dit op no. 65 geplaas op sy lys van grootste prente in die Amerikaanse rolprentbedryf en as die AFI se vyfde grootste riller, terwyl Starling en Lecter ingesluit is onder die AFI se 100 grootste rolprentheldinne en . Die film is deur die Library of Congress as "kultureel, histories of esteties" betekenisvol beskou en is in 2011 vir bewaring in die nasionale rolprentregister gekies.

Die film het kritiek ontlok oor sy uitbeelding van geslagsidentiteit, veral met betrekking tot die karakter van Buffalo Bill, wat volgens sommige kritici skadelike stereotipes daarstel. Demme het die film se bedoelings verdedig en aangevoer dit vertel bloot die persoonlike verhaal van "’n gekwelde man".

Die rolprent het ’n franchise van stapel gestuur wat die opvolgprent Hannibal (2001), die voorprente Red Dragon (2002) en Hannibal Rising (2007) asook twee televisieverwerkings insluit.

Rolverdeling

Jodie Foster as Clarice Starling Masha Skorobogatov as 'n jong Clarice Anthony Hopkins as dr. Hannibal Lecter Scott Glenn as Jack Crawford Ted Levine as Jame "Buffalo Bill" Gumb Anthony Heald as dr. Frederick Chilton Brooke Smith as Catherine Martin Diane Baker as die Amerikaanse senator Ruth Martin Kasi Lemmons as Ardelia Mapp Charles Napier as lt. Bill Boyle Tracey Walter as Lamar Roger Corman as direkteur van die FBI Ron Vawter as Paul Krendler Danny Darst as sers. Tate Frankie Faison as Barney Matthews Paul Lazar as Pilcher Dan Butler as Roden Chris Isaak as aanvoerder van 'n gevegseenheid

Storielyn

Clarice Starling, ’n jong FBI-kwekeling, word gewerf om dr. Hannibal Lecter te ondervra; hy is ’n briljante en kannibalistiese psigiater wat in 'n staatshospitaal vir misdadige geestesiekes in Baltimore aangehou word. Amptelik doen Starling ’n sielkundige opname, maar haar werklike doel is om insigte te bekom wat kan help om die reeksmoordenaar "Buffalo Bill", wat jong vroue vermoor en hulle vel verwyder, vas te trek.

By die hospitaal maak die manipulerende direkteur dr. Frederick Chilton ongewenste toenaderings tot Starling voordat hy haar na Lecter se sel begelei. Lecter is aanvanklik hoflik, maar raak later koel nadat hy die verskuilde motief vir Starling se besoek afgelei het. Terwyl Starling vertrek, slinger die gevangene Miggs semen na haar, wat Lecter se afkeer wek. Hy roep haar terug en bied ’n anagram as ’n leidraad wat haar lei na ’n stooreenheid wat ’n afgesnyde kop in ’n fles bevat – wat later onthul word as dié van Benjamin Raspail, ’n voormalige pasiënt van Lecter wat glo deur Buffalo Bill vermoor is. Kort daarna word Miggs dood aangetref nadat hy sy eie tong ingesluk het – wat implisiet deur Lecter as vergelding bewerkstellig is. Lecter stem in om te help in ruil vir ’n oorplasing. Intussen word nog ’n slagoffer ontdek met ’n doodskopmot wat in haar keel vasgesit is – dieselfde spesie wat later binne-in die afgesnyde kop gevind word.

Toe Buffalo Bill later Catherine Martin, die dogter van die Amerikaanse senator Ruth Martin, ontvoer, kry Starling toestemming om ’n valse aanbod aan Lecter te maak: ’n gevangenisoorplasing in ruil vir bruikbare inligting. Lecter eis egter eerder ’n quid pro quo ('n uitruiling van dienste) en ontlok persoonlike besonderhede by Starling, wat onthul dat haar vader, ’n polisiebeampte, vermoor is toe sy 10 jaar oud was, waardeur sy ’n weeskind geword het. In ruil daarvoor onthul Lecter dat Buffalo Bill nie werklik transseksueel is nie, maar verkeerdelik glo hy is, moontlik nadat hy weens sielkundige onstabiliteit deur klinieke vir 'n geslagsoperasie afgekeur is. Chilton neem die gesprek in die geheim op, ontmasker haar misleiding en bied Lecter ’n verskuiwing na Tennessee in ruil vir inligting. Lecter stem in en word na Memphis gevlieg, waar hy senator Martin van akkurate besonderhede oor Buffalo Bill se voorkoms voorsien, maar hom valslik as "Louis Friend" identifiseer. Intussen hou Buffalo Bill Catherine in ’n droë put in sy kelder gevange.

Starling ontsyfer "Louis Friend" as ’n anagram vir "ystersulfied" en konfronteer Lecter in sy tydelike sel by ’n hofgebou in Memphis. Lecter eis dieper onthullings en bied ’n raaiselagtige leidraad – "Ons begeer dit wat ons elke dag sien" – voordat Starling ’n traumatiese gebeurtenis uit haar kinderjare vertel: Ná haar vader se dood het sy op ’n familielid se plaas gewoon, waar sy nie daarin kon slaag om lentelammers van 'n slagting te red nie. Lecter besef dat die redding van Catherine moontlik hierdie terugkerende trauma sal laat weggaan en, tevrede, gee hy die saakleggers terug. Daardie nag gebruik hy ’n deel van Chilton se pen om sy boeie oop te sluit, vermoor twee wagte en ontsnap in ’n ambulans, vermom in ’n dooie wag se uniform en afgeslagte gesig.

Deur Lecter se aantekeninge te ontleed, lei Starling af dat Buffalo Bill sy eerste slagoffer, Frederika Bimmel, ’n kleremaakster van Ohio, geken het en volg die leidraad. By Bimmel se huis vind sy onvoltooide rokke en patrone wat ooreenstem met die stukke vel wat van die slagoffers verwyder is. Sy besef dat Bill ’n "pak" van menslike vel probeer maak en sy gevangenes uithonger om hulle vel losser te maak. Crawford vergelyk Lecter se profiel met name van die Johns Hopkins-hospitaal en die databasis van bekende oortreders, en identifiseer Jame Gumb as die hoofverdagte. Die naam word bevestig deur doeanedokumente wat Gumb as die ontvanger aandui van lewende doodskopmotruspers wat uit Suriname ingevoer is. Terwyl Crawford se span Gumb se onbewoonde woning deursoek, ondervra Starling Bimmel se kennisse en kom sy by ’n huis aan waar Gumb hom as "Jack Gordon" voordoen. Sy skynbeeld stort in duie toe Starling ’n doodskopmot opmerk.

Terwyl sy Gumb tot in sy kelder agtervolg, ontdek Starling dat Catherine in die put vasgevang is. Gumb bekruip Starling in totale duisternis met behulp van 'n nagvisiebril, maar verraai sy posisie deur sy rewolwer or te haal; Starling skiet instinktief en maak hom dood. Catherine word gered.

Starling studeer aan die FBI-akademie af. Tydens die partytjie ná die seremonie bel Lecter uit ’n onbekende tropiese ligging en vra of "die lammers opgehou het om te skree." Hy verseker haar dat hy nie van plan is om haar te agtervolg nie en vra haar om hom dieselfde guns te bewys – ’n belofte wat sy weier. Lecter kondig aan dat hy ’n "ou vriend vir aandete het" voordat hy Chilton deur ’n skare volg.

Uitreiking en ontvangs The Silence of the Lambs is op 14 February 1991 uitgereik en het dié naweek die no. 1-posisie by die Amerikaanse loket bereik. Dit het vyf weke daar gebly.

In Londen is die fliek in Junie 1991 uitgereik en het dit volgens Rank Film Distributors 'n wêreldrekord opgestel vir die verdienste uit een teater. Die volgende week is dit in nog 281 teaters uitgereik en het dit in sy eerste week 'n Britse rekord opgestel.

Foster, Hopkins en Levine het baie lof vir hulle spel gekry. Op Rotten Tomatoes was 95% van die 154 resensies positief. Die webtuiste se konsensus lui: "Die regisseur Jonathan Demme se slim, gespanne riller balanseer op die rand tussen 'n sielkundige studie en volwaardige gruwel, en trek groot voordeel uit uitmuntende vertolkings deur Anthony Hopkins en Jodie Foster." Op Metacritic het die prent 'n telling van 86 uit 100 gekry op grond van 20 resensies, wat op 'n "algemeen gunstige" ontvangs dui.

Roger Ebert van die Chicago Sun-Times noem spesifiek die "skrikwekkende eienskappe" van Hannibal Lecter. Ebert het later die prent gevoeg by sy lys van "Die Groot Flieks" en het dit genoem in dieselfde asem as klassieke prente soos Nosferatu, Psycho en Halloween. Dit is egter een van net twee prente wat verskeie Oscars gewen het wat deur sy kollega Gene Siskel afgeskiet is (die ander een is Unforgiven). Sekel het in die Chicago Tribune geskryf: "Foster se karakter, wat aantreklik is, word verdwerg deur die monsters waarna sy op soek is. Ek sou haar eerder aan 'n ander saak wou sien werk."

Pryse The Silence of the Lambs het meer as 20 rolprentpryse gewen. Dit sluit in 5 Oscars, 'n Golden Globe, 2 Baftas, 3 National Board of Review- en 4 Saturnpryse.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:Engelse rolprente