Ena Murray (27 Desember 1936 – 4 Junie 2015) was ’n Afrikaanse skrywer van ontspanningsleesstof, wat meer as 130 boeke in haar loopbaan geskryf het. Sy is as "die mees gelese skrywer in Afrikaans" beskryf.
Lewe en werk Gedurende die 33 jaar wat sy voltyds geskryf het, het 131 titels onder haar naam verskyn. Sy is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, as die middelste van drie dogters van die plaaslike geneesheer, dr. Andries Mans, en sy vrou Anna. Sy gaan skool op die laerskool op Loxton en matrikuleer dan op Hoërskool Victoria-Wes. Hierna word sy vir twee jaar ’n verpleegster in Bloemfontein en trou dan in 1959 met Boet Murray, ’n boorkontrakteur van Loxton, waarna sy voltyds skryf. Hierdie huwelik is kinderloos, maar sy het twee miskrame, waarna sy ’n histerektomie ondergaan. In 1979 skei sy en gaan vestig haar later dieselfde jaar op Wildernis naby George. Sy noem haar huis "Plekkie in die Son", na aanleiding van haar gewilde roman. Twee jaar later, in 1981, trou sy met die landboukundige Jacques Mostert (wat sy op ’n toe-oë-afspraak ontmoet) in Hoekwil se kerkie. Die egpaar vestig hulle in Ena se huis, maar na tien jaar verhuis hulle in 1991 na die aftreeoord Santos Haven in Mosselbaai. Hulle besit ook ’n huis op Kanonpunt, naby Mosselbaai, waar hulle naweke kon uitspan. Sy het drie stiefkinders as resultaat van haar tweede huwelik.
Sy het bekendheid verwerf hoofsaaklik deur haar liefdesverhale, maar sy het ook speur- , spioenasie- en avontuurverhale die lig laat sien en daardeur 'n wye veld van lesers bereik. Ook 'n paar geestelike boeke en 'n digbundel het uit haar pen verskyn.
Sy is al bestempel as "die mees gelese skrywer in Afrikaans". In 'n opname deur Radio Sonder Grense en Tafelberg Uitgewers is sy aangewys as die gewildste skrywer in Afrikaans.Suid-Afrikaanse Skrywers: Ena Murray Haar boeke verskyn ook in grootdruk en is deur die Pioeniersskool te Worcester en deur Bandhulp vir Blindes in braille en band opgeneem.
Weens die sukses van haar boeke stig sy in 1980 haar eie uitgewery, Ena Murray Boeke, waar sy sommige van haar romans publiseer. Haar vennoot in hierdie onderneming is Johnny Bohnen van Pinetown in Natal en die uitgewery is in Durban in Natal gesetel. Nadat sy artritis opdoen, hou sy in 1996 op met skryf. In 2007 word Alzheimers se siekte by Jacques gediagnoseer, waarna hulle na die versorgingsoord van Santos Haven oorskuif. Ena skenk in 2012 R10 000 aan die Erfenisstigting ter ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. Wanneer longkanker by haar gediagnoseer word, besluit sy om geen behandeling daarvoor te ontvang nie. Sy is vroegoggend Donderdag 4 Junie 2015 in haar slaap by die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai oorlede.
Skryfwerk Op laerskool is sy die beste opstelskrywer in haar klas en is sy al bewus van die begeerte om stories te skryf. Reeds op veertienjarige ouderdom skryf sy die kort novelle “Minnaars van die glimmende simitar”, wat in 1960 as haar eerste vervolgverhaal deur Rooi Rose gepubliseer word. Dit is so gewild dat sy ’n vervolg hierop skryf, naamlik “Die rowerprins van El Marco”. In 1960 verskyn haar eerste roman, “Lise” en hierna skryf sy meer as 130 boeke. Twee daarvan word ook verfilm, naamlik “Vrou uit die nag” (oor ’n vrou wat in die nag in die klein dorpie Saailaagte in die Vrystaat aankom en oor dwelmgebruik die skindertonge aan die praat sit) en “Plekkie in die son” (oor ’n jong vrou in ’n inrigting vir melaatses wat deur haar familie in die steek gelaat word). “Maanlig oor die Amasone” verwerf die eerste prys in ’n landswye vervolgverhaalwedstryd wat Rooi Rose uitgeskryf het. “Reënboog van koraal” word op skole voorgeskryf. Sy word op haar kruin bestempel as die mees gelese skrywer in Afrikaans en op ’n opname deur Radio Sonder Grense en Tafelberg Uitgewers word sy aangewys as die gewildste skrywer in Afrikaans. Baie van haar boeke word in grootdruk uitgegee en sommige word deur die Pionierskool (die skool vir gesiggestremdes in Worcester) en Bandhulp vir Blindes op band opgeneem, terwyl sommige boeke ook in braille oorgesit is. Sy doen navorsing oor al die plekke waar haar boeke afspeel om die verhaal so lewensgetrou moontlik te maak. So bly sy byvoorbeeld ’n rukkie saam met die melaatses in Wesfort naby Danville in Pretoria om inligting in te win vir haar roman oor melaatsheid, “Plekkie in die son”. Haar verhale word vooraf fyn beplan met ’n raamwerk wat die intrige uiteensit, voordat sy begin skryf. Sy het met die loop van jare ook meer aktueel begin skryf en die boek “Sê vir pappa” handel byvoorbeeld oor ’n pedofiel, terwyl sy ook die kleurkwessie behandel. Haar mediese kennis kom in vele verhale tot uiting. In haar boek “Dae van ons nietigheid” kom Kongokoors ter sprake en sy ontvang daarna ’n brief van ’n verpleegster wat sê dat sy kort nadat sy die boek gelees het, ’n pasiënt wat in ’n kritieke toestand was korrek gediagnoseer het na aanleiding van Ena se beskrywing van die siekte. Veral nadat sy in 1993 weens artritis ophou skryf, word haar boeke gereeld herdruk en word dit ook in grootdruk formaat, in braille en in omnibusse uitgegee. Benewens romans skryf sy ook verskeie geestelike boeke, veral dagstukke, waaronder “Daaglikse gesprek met Ena Murray” en “’n Stil oomblik saam met Ena Murray”. Sy skryf ook die digbundel “Roosknop vir ’n engel” met die gedig “Aan ’n fetus in ’n bottel” wat haar hartseer oor haar miskrame beskryf.
Ena skryf hoofsaaklik liefdesverhale. “Bloeisels in die ryp” (1968) is die weeskind Renske Conradie se verhaal. Sy is onvoorbereid vir die lewe se ontnugterings en word die slagoffer van Desmond, met wie sy ’n verhouding begin. By Desmond se broer, die bekende advokaat Brand Laubscher, probeer sy Desmond se adres kry sodat hy met haar kan trou. Brand vertel haar dat sy die vyfde meisie is wat hom nader met dieselfde versoek. Na haar vertrek kan Brand haar nie uit sy gedagtes kry nie. Wanneer Charmain van Rhijn in “Die geleende bruid” (1969) een aand aankom op die spogplaas Berg-en-Dal, die erfplaas van die Van Rhijns, heers daar ’n feestelike atmosfeer. Die opgewekte stemming onder die vooraanstaande gaste word egter gedemp wanneer Charmain aankondig dat sy mevrou Van Rhijn is, want hulle is juis daar om Arnold van Rhijn (haar man) se verlowing aan Esther te vier. Arnold se broer Ewert gee voor dat Charmain sy vrou is en sy moet daagliks aanskou hoedat Arnold en Esther reëlings tref vir hulle voorgenome huwelik, terwyl sy die agterdog van Ewert en Arnold se niggie Francis van Rhijn moet trotseer. Die vriendelike en liefdevolle moeder Van Rhijn stel alles in werking om haar te laat tuis voel, maar die ou dame ly aan ’n verswakte hart en mag onder geen omstandigheid ontstel word nie. “As die wiel draai” (1972) se tema is die val van ’n hooghartige man, wat daarna as werknemer in stede as werkgewer sy weg moet vind. In “Bring dan jou offer” (1972) moet Ninon na haar pa se skielike dood dringend werk kry, maar sy het nie kwalifikasies nie. Sy kry ’n nederige pos as kelnerin by ’n groot winkelgroep, waar sy onmiddellik ’n vyand maak van een van die vennote. Hierdie vennoot se seun raak verlief op haar. Haar ma word ernstig siek en benodig ’n duur operasie wat net in Amerika gedoen kan word. Sy sal enigiets offer om dit te bewerkstellig. “Vrou uit die nag” (1973) word verfilm deur Carfo. Saailaagte is ’n stil dorpie in die Vrystaat, maar alles verander wanneer Naomi Louw een nag daar aankom. Sy wil net vlug en vergeet en die predikant en sy dogter Betsie vind dit moeilik om haar guns te wen. Hierdie verhaal is die eerste keer dat ’n Afrikaanse skrywer die dwelmprobleem ook op die platteland uitbeeld. “Waar die wilde besembos bloei” (1973) word ook verfilm. In “Weerklank van ons liefde” (1974) vind dokter Rudolf van der Merwe se amper-verloofde, Catherine Huysamen, ’n vreemde vrou met Rudolf se slaapklere aan in Rudolf se bed in sy woonstel. Rudolf sweer hy weet van geen sout of water nie en Madie, soos hy die vrou noem, verstaan nie hoekom haar man nie meer liefdevol teenoor haar optree nie. Sy was in ’n motorongeluk en ly vir baie weke aan geheueverlies. In hierdie tyd gee Rudolf voor dat hulle getroud is, maar dit skep allerlei probleme. In “Rabbedoe van Rietkuil” (1975) kry Wynand Hechter van die plaas Rietkuil ’n verrassing wanneer sy nuwe plaasvoorman Nic Bezuidenhout, opdaag. Sy is ’n vrou, Nicolette Bezuidenhout, en nie die man wat hy verwag het nie. Wynand het ’n harde liefdesknou agter die rug want Melodie het sy broer bo hom verkies en hy wil nie ’n vrou op sy plaas hê nie. Nicolette sê dat sy alles kan doen wat enige man kan doen, dat sy skriftelik aangestel is en dat sy nie van plan is om weg te loop of afgedank te word nog voordat sy behoorlik begin werk het nie. Wynand dreig dat sy ’n man se werk sal doen, of trap. “Wewenaar van Groene Weide” (1975) is die verhaal van miljoenêr Rocco de la Harpe en sy agtienjarige niggie, Jeanette, wat al die jare nog te veel geld en te min slae gekry het, en van Manda Maree, die joernaliste wat vir ’n ruk die probleme-rubriek van ’n tydskrif moet oorneem. Manda gee ewe hulpvaardig raad wanneer sy per brief daarvoor gevra word, maar word op ’n dag deur ’n jong, woedende man gekonfronteer. Dan is daar nog Steve Bekker, die groot vlieg in Rocco de la Harpe se salf omdat hy weet dat die jongman bloot in Jeanette belangstel omdat sy eendag ryk gaan erf.
Die drie boeke in die Hammanshof-sage is “Luidende simbale” (1975), “Dieplood” (1978) en “Groter liefde as dit” (1979). Hierdie reeks dra die boodskap dat die mens nie net vir homself kan lewe nie en dat jy sonder liefde arm is, al besit jy ook die wêreld. Die luidende simbale is beskrywend van die mense wat nie liefde ken nie. Die mense van Hammanshof is betrokke in verskeie skandale, maar hulle loon wag. “Dieplood” was ’n gewilde vervolgverhaal in Huisgenoot voordat dit as boek gepubliseer is. In “Groter liefde as dit” is Ben Woudberg en Dawid Booysen sulke groot vriende dat niks of niemand tussen hulle kon kom nie. Toe verskyn Hepsibah de Villiers, die pragtige dogter van die nuwe skoolhoof, op die toneel, en omdat die twee vriende se smaak in alle opsigte presies dieselfde was, het hulle albei vir Hepsibah liefgekry. Hepsibah word vir albei lief maar kan slegs met een trou. Skaars ’n week na hul troue moes Hepsibah se man en sy vriend hul vir grensdiens aanmeld. Saam het hulle vertrek, maar net een sou terugkeer en die een wat teruggekeer het dra ’n verskriklike las met hom saam.