duimnael|regs|300px|Zürich Lughawe. Die landingsbane, die terminaalgeboue en die pad en trein aansluitings is hier sigbaar. duimnael|links|Vertreksaal by Londen Luton in Groot-Brittanje duimnael|links|Bagasie-opeisgebied te Lughawe Londen-Heathrow in Groot-Brittanje
'n Lughawe is 'n groot, gelyk terrein met aanloopbane (vliegveld) waarop vliegtuie kan land (landingsbaan) en opstyg (stygbaan), 'n lugbeheertoring en radar; verder terminaalgeboue met kantore vir die administrasie van die lugdienste en geriewe vir passasiers. Gewoonlik bestaan die terminaalgeboue uit 'n aankomssaal met bagasie-area (bagasie-opeisgebied), 'n vertreksaal met inweeg-toonbanke, sekuriteitsbeheer, paspoort- en doeanebeheer vir buitelandse vlugte, vluginligtingsborde, winkels en sale waar die reisigers vir hulle vlug kan wag.
Verder beskik groot lughawens deesdae oor moderne infrastruktuur soos spoorwegstasies, bus- en taxistaanplekke, parkeergarages, motorhuur, boekstalletjies, poskantore, winkelsentrums, hotelle, restaurante, kafees, polisie- en brandweerstasies, hospitale ens. 'n Groot aantal bedrywe en hulle grondpersoneel sorg vir 'n vloeiende verloop van sake op die lughawe: spyseniers, brandstofversorging, skoonmakers, bagasievervoer, vliegtuigloodse ens.
Algemeen 'n Lughawe is 'n terrein wat gebruik word vir die opstyg en land van burgerlike vliegtuie en vir die uitvoering van alle ander bedrywighede wat daarmee verband hou. By militêre lugvaart word die woord lughawe nie gebruik nie, maar word van 'n lugmagbasis gepraat. In die eerste dekades van die 20ste eeu, toe die lugvaart nog in sy beginjare was, het 'n lughawe dikwels uit niks meer as 'n weiveld of 'n grasland bestaan nie.
Vandaar die benaming vliegveld. In Suid-Afrika en in die meeste ander lande word talle sulke kleiner vliegvelde nog gebruik. Dit is byna 'n vereiste dat die vlieënier teen die windrigting land of opstyg, aangesien ligte vliegtuie besonder gevoelig is vir dwarswinde. Bowendien verseker die wind van voor 'n beter opstyging en maak die landingsafstande korter.
Op hierdie vliegvelde bestaan die geboue dikwels slegs uit 'n vliegtuigloods. Vliegtuie het mettertyd swaarder geword en die bykomende massa het die gevaar laat ontstaan dat vliegtuigonderstelle in die grond kon wegsak. Die oppervlak van die hele landingsgebied moes dus versterk en plavei word. Teen die middel van die dertigerjare is spesiaal verharde landingstroke vir die opstyg en land van vliegtuie aangelê. Toegang tot die stroke is verkry deur middel van rybane. In daardie tyd het daar by alle groot lughawens ook eindpuntgeboue verrys, asook groot loodse waarin vliegtuie geberg en herstel kon word. Die groter en swaarder vliegtuie was nie so gevoelig vir dwarswinde nie en spesiale landingstroke is aangelê.
Aanvanklik is daar in elk geval verskeie bane in verskillende rigtings aangelê, sodat die vlieënier 'n aanloopbaan kon kies wat naastenby teen die windrigting in was. 'n Voorbeeld van 'n lughawe met so 'n baankeuse is La Guardia by New York, waar 4 bane in ʼn stervorm aangelê is. In die praktyk is 2 bane nagenoeg loodreg tot mekaar voldoende. Sommige lughawens het slegs een aanloopbaan, soos byvoorbeeld die een by Hongkong. Na die Tweede Wêreldoorlog het groot ontwikkeling in burgerlike lugvaart plaasgevind en die ligging van lughawens is deur heel nuwe maatstawwe bepaal. Op vandag se groot lughawens moet ʼn groot aantal vliegtuie vinnig na mekaar kan land en opstyg.
Vrag moet vinnig gelaai kan word en passasiers moet hul vliegtuie met die minste ongerief kan bereik. Om hierdie redes is daar in baie gevalle platforms (terminusse) by die eindpuntgebou aangebring waar die vliegtuie kan stilhou - amper soos ʼn passasiersboot wat by 'n kaai vasgemeer word. Die rybane wat die loopbane en die terminusse met mekaar verbind, moet aan spesiale vereistes voldoen aangesien vliegtuie in staat moet wees om die aanloopbane vinnig te kan ontruim.
Daarbenewens moet die terminusse so vinnig moontlik en met die minste draaie en kinkels bereik kan word, en tweerigtingverkeer moet hanteer kan word. Die aanloopbane word dikwels rondom die eindpuntgebouekompleks met sy platforms (byvoorbeeld in 'n vyfhoekvorm) op so 'n manier uitgelê dat die kompleks nie 'n hindernis vir vliegtuie is nie. Die lengte van aanloopbane word nie slegs bepaal deur die soort vliegtuie wat die lughawe gebruik nie, maar ook deur die hoogteligging van die lughawe bo seespieël. Groot vliegtuie wat dikwels meer as 300 passasiers op veral interkontinentale vlugte moet vervoer, vereis op seevlak 'n baanlengte van 2 tot 3 kilometer.
Vir kleiner passasiersvliegtuie is 'n aanloopbaanlengte van 0,8 km tot 1,5 km voldoende, en vliegtuie vir sportdoeleindes het slegs 'n afstand van 0,5 km nodig. Weens die dun lug by hoërliggende lughawens word langer aanloopbane daar vereis. Die lughawe van La Paz in Bolivië is byvoorbeeld met 'n kilometer verleng. Die konstruksie van aanloopbane is aan sekere belangrike vereistes onderhewig. Gladde oppervlakke is nie toelaatbaar nie en hoegenaamd geen barste mag ontstaan nie.
Die aanloopbane word dus van 'n besonder stewige fondament voorsien ten einde die groot kragte waaraan dit blootgestel word, te weerstaan. Die swaarste vliegtuie vereis 'n deklaag van bewapende beton van nagenoeg 0,5 m dik, en die nate tussen die betonblaaie word met asfalt gevul. Vir ligte vliegtuie is aanloopbane van asfalt toereikend. Aanloopbane se dravermoë is 'n baie belangrike aspek van 'n lughawe. Hoogstens 50 vliegtuie kan elke uur op 'n aanloopbaan opstyg of land. Twee aanloopbane word daarom dikwels parallel met mekaar gebou, waardeur die lugverkeer tot sowat 80 vliegtuie per uur verhoog kan word.
Uitleg
Ontwerp van 'n moderne lughawe Die geweldige toename in lugverkeer het die behoefte aan lughawens laat toeneem, terwyl bestaande lughawens dikwels nie vir verdere uitbreidings geskik was nie. Gevolglik moes heelparty nuwe lughawens gebou word, onder meer by Rome, Parys, Zürich en New York. Sommige stede het twee of selfs meer lughawens, soos byvoorbeeld Londen, Parys, New York, Chicago, Stockholm, Moskou en Tokio. By die ontwerp van 'n lughawe word eerstens vasgestel of dit 'n streek-, nasionale of internasionale funksie moet vervul.
Sowel die bestaande as die verwagte omvang, wat vrag en passasiers betref, word beraam, en die soort en aantal vliegtuie wat van die nuwe lughawe gebruik sal maak, word daarvolgens bepaal. Die terrein waar die nuwe lughawe gebou word, moet aan besonder hoë vereistes voldoen: die oppervlakte moet groot genoeg wees vir die bestaande behoeftes, maar moet ook voorsiening maak vir toekomstige uitbreidings. Ten einde die koste van die aanleg binne perke te hou, moet die beoogde terrein so plat moontlik wees.
Die grondwatervlak moet ook baie laag wees sodat die koste van die dreineringsnetwerk nie buitensporig hoog raak nie. Die moontlikheid van swak sig moet sover moontlik uitgeskakel word. Gevolglik moet 'n omgewing met groot wateroppervlakke of lugbesoedelende nywerhede vermy word, aangesien hierdie elemente swak sig kan veroorsaak. In die omgewing van lughawens moet geen hindernisse soos hoë geboue wees wat die sig van vlieëniers kan belemmer nie.
Tog het 'n mens by die ontwerp van 'n nuwe lughawe steeds met ʼn teenstrydigheid te kampe: ʼn lughawe se dienlikheid word grootliks bepaal deur die snelheid en die gerief waarmee dit per pad bereik kan word, maar die hoë geraasvlak vereis terselfdertyd dat die lughawe nie te naby aan beboude gebiede geleë moet wees nie. 'n Kompromis is dus nodig: nuwe lughawens word nou so geplaas dat dit ongeveer een uur per motor van 'n groot woongebied af is. Wat die toekoms betref, word daar baie van STOL-lughawens vir STOL-vliegtuie ("Short Take-off and Landing") verwag. In die uiteindelike ontwerp word ook die toegangspaaie, parkeerruimte, spoorwegaansluiting, ensovoorts in ag geneem.
Geriewe op lughawens Lughawegeriewe het in die eerste plek op die beheer van lugverkeer betrekking, en die lugverkeerbeheerdiens is in die lughawe se beheertoring gesetel. Beheer geskied met behulp van radio en radar en ook visueel vanuit die toring. Daarbenewens is daar ook op die grond beheergeriewe in die vorm van radiobakens en landingsligte in vaste kleure en patrone, waardeur veilige landings by swak sig en ook snags moontlik is. In die meeste gevalle is minstens een van die aanloopbane op ʼn lughawe so toegerus dat 'n landing met behulp van slegs instrumente moontlik is (ILS = lnstrumente-landingstelsel).
Die ander belangrikste geriewe hou verband met die doeltreffende hantering van passasiers en vrag. In baie gevalle bestaan daar 'n algehele wanverhouding tussen die tydsduur van die vlug en die tyd wat dit 'n passasier neem om die lughawe te bereik en op die vliegtuig se vertrek te wag. Die werklike vliegtyd is dikwels korter. Die eindpuntgebou moet dan ook aan besondere vereistes voldoen; Die gebou moet die grootste moontlike fasade hê sodat die onderskeie afdelings op die maklikste manier bereik kan word.
Inligtingsdienste, doeane, kaartjieskantore, hanteringspunte vir persoonlike bagasie, aankondigingsborde en dies meer word alles in 'n moderne eindpuntsaal aangetref. Parkeerruimtes, restaurante, bagasiekantore, belastingvrye winkels, bushaltes en taxistaanplekke moet binne of naby die eindpuntgebou geleë wees. Ten einde passasiersverkeer vlot te laat verloop, moet die in- en uitgaande passasierstroom nie met mekaar in aanraking kom nie.
Dit word bewerkstellig deur die passasiers se roetes te skei of hulle op verskillende verdiepings in die kompleks te laat beweeg. Die eindpuntgebou moet regstreeks met die terminusse verbind wees en die passasiers moet die vliegtuig deur middel van loopbrûe onderdak kan bestyg of verlaat. Dit is noodsaaklik dat bagasie en vrag vinnig en stelselmatig gehanteer word. Op moderne lughawens word gevorderde vervoerstelsels vir hierdie doel gebruik, terwyl daar ook magasyne vir die berging van bagasie en vrag is.
Naas bogenoemde geriewe het lughawens 'n eie brandweerdiens, lughawepolisie en 'n afdeling wat die meteorologiese gegewens verwerk sodat vlieëniers ten opsigte van weerstoestande van betroubare inligting voorsien kan word. Verder huisves lughawens talle bedrywe wat onder meer sorg vir voorraad aan boord van die vliegtuie (die verversingsdiens wat maaltye op die vliegtuig verskaf), brandstofvoorsiening, leegpomp van toilette, ensovoorts. Daar is ook vliegtuigloodse vir die berging van vliegtuie, onderhouds- en herstelwerkplase, en dies meer. 'n Moderne lughawe is dus ʼn omvangryke bedryf wat aan duisende mense werk verskaf.
Lugverkeerbeveiliging duimnael|regs|Die lugverkeerbeheertoring van die lughawe van Helsinki. Inleiding Lugverkeerbeveiliging het ten doel om vliegtuie tydens opstygings en landings te begelei om die moontlikheid van ongelukke sover moontlik uit te skakel. Daar word onderskei tussen die geriewe aan boord van die vliegtuie en die maatreëls wat op die grond getref word. Die instrumentasie op sowel die grond as in die vliegtuig is tot hoogs verfynde apparaat ontwikkel. Veral die ingebruikneming van radio in die dertigerjare en van radar gedurende die Tweede Wêreldoorlog het groot veranderinge in lugverkeerstelsels tot gevolg gehad. Nog 'n rede vir die snelle ontwikkeling was die enorme uitbreiding van die lugvaart in die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu.
Historiese oorsig Onder die begrip lugverkeerbeveiliging word verstaan die stelsel van maatreëls en voorskrifte wat daarop gemik is om lugbotsings te voorkom en veilige opstygings en landings te verseker. Die ingebruikneming van die wêreld se eerste handelsvlugroete tussen Londen en Parys (1919) het gepaard gegaan met die eerste internasionale ooreenkomste ten opsigte van die beveiliging van lugverkeer. Hierdie ooreenkomste is in die Konvensie van Parys (1919) vasgelê.