thumb|240px|"Yngvi-Frey bou die Uppsala-tempel" (1830), deur Hugo Hamilton. Yngvi-Frey is 'n legendariese Sweedse koning van die Yngling-dinastie, en is volgens die sagas die kleinseun van Odin en die stigter van Uppsala.
Die legendariese konings van Swede (Sweeds: sagokonungar) is die heersers van Swede wat in legendes voorkom voor Erik die Oorwinnaar en Olof Skötkonung, wat volgens betroubare bronne die eerste bevestigde Sweedse konings was. Sommige van die stories kan egter aangepaste verhale wees van konings wat werklik bestaan het. 'n Vroeë legendariese koning, Hygelac (500 n.C.), het byvoorbeeld vermoedelik 'n historiese basis omdat sy naam in Frankiese, Engelse, Deense en Yslandse bronne voorkom.
Die historiese bestaan van die meeste legendariese konings is egter onmoontlik om te verifieer weens 'n gebrek aan bronne.Dick, Harrison 2011 http://blog.svd.se/historia/2011/10/13/varfor-jag-inte-tror-pa-sagokungar/ Die moderne Sweedse monargie beskou Erik die Oorwinnaar as die eerste koning van Swede.
links|thumb|240px|Die god Odin gooi sy spies tydens 'n oorlog tussen die Ase en die Wane (illustrasie deur Lorenz Frølich, 1895). Op Middeleeuse Sweedse koningslyste is die figuur wat gewoonlik as die eerste koning van Swede voorgehou word Olof Skötkonung, die eerste Christelike Sweedse koning en die eerste een wat geld laat munt het. Die vroeëre konings word meestal net aangetref in Yslandse sagas en 'n soms weersprekende mengsel van mites en poësie wat in die 11de tot 13de eeu geskryf is, verskeie eeue ná die gebeure wat in hulle beskryf word.
Wat ware geskiedenis is en wat legendes in die sagas is, is vandag onmoontlik om te bepaal, en alles daarin behoort as legendaries beskou te word, of selfs fiktief.
Die vroegste legendariese dinastie, die Ynglinge, kan 'n totaal opgemaakte reeks konings wees wat ten doel gehad het om latere dinastieë en heersers in Skandinawië te regverdig en te wettig wat beweer het hulle stam van dié dinastie af. Baie van die legendariese konings het egter regeer in die tyd voordat groter politieke strukture in Skandinawië (soos die Middeleeuse konininkryke Swede, Noorweë en Denemarke) in die Wikingtydperk gevorm is.
Die legendariese konings van Swede, soos hulle in die sagas voorkom, dek drie dinastieë: die Yngling-dinastie, wat beweer het hulle stam van die Noorse god Odin af; die dinastie wat deur Ivar Vidfamne gestig is en die Ynglinge onttroon het; en die Huis van Munsö, wat Vidfamne se dinastie opgevolg het. Die Yslandse sagas beskou die laaste paar konings as deel van die Munsö-dinastie; Erik die Oorwinnaar, Olof Skötkonung, Anund Jakob en Emund die Oue was egter ware historiese konings, hoewel dit nie beteken hulle legendariese voorouers was ware historiese figure nie.
Yngling-dinastie thumb|240px|Dag die Wyse, 'n illustrasie deur Gerhard Munthe (1899).
Die reeks legendariese konings hier onder kom uit die Ynglinga saga, die eerste deel van die Middeleeuse Yslandse digter en historikus Snorri Sturluson se sagaversameling Heimskringla. Die saga is omstreeks 1230 saamgestel en bevat inligting oor die bewind en lewe van die konings van die Yngling-dinastie (Sweeds: Ynglingar), 'n legendariese reeks konings wat glo van die Noorse god Odin afgestam het. Die saga noem die Ynglinge die eerste koninklike bloedlyn van die Swede.
Die Ynglinga saga bevat geen verwysings na chronologie (soos spesifieke datums van die regeringstye) nie, behalwe om die konings in 'n chronologiese volgorde te plaas. Op sommige plekke verskyn name (veral konings Ottar en Adils) wat ook in ander sagas aangetref word, soos Beowulf (wat in die 10de tot 11de eeu in Engeland geskryf is, maar gaan oor gebeure in die 6de en 7de eeu in Skandinawië). Daarin word die Ynglinge Scylfings genoem (Oudnoors: Skilfingar; Sweeds: Skilvingar). Volgens die Ynglinga saga het die eerste heersers die titel drotin (moderne Sweeds: drott) gebruik. Die meeste word ook genoem "konings van Uppsala", 'n vroeë politieke sentrum in Swede. Daar word ook soms na die dinastie verwys as die "Huis van Uppsala".
Reeks konings thumb|240px|Alarik en Erik vermoor mekaar met hulle tome, deur Hugo Hamilton (1830). thumb|240px|Ingjald|Ingjald verbrand minder belangrike konings, deur Hugo Hamilton (1830).
In die Ynglinga saga word die volgende reeks Sweedse konings aangetref:
Odin "die Oue" (Oudnoors: Óðinn; Sweeds: Oden) – stigter van die koninklike lyn; geïdentifiseer met die Noorse mitologiese figuur met dieselfde naam. Die god Odin, ook bekend as Wodan, heers oor Walhalla, die hemel van dapper krygers wat op die slagveld gesneuwel het. Hulle word versamel en gekeur deur die walkures. Njord "die Ryke" (Ounoors: Njörðr; Sweeds: Njord, Njärd) – die seun en opvolger van Odin; geïdentifiseer met die Noorse mitologiese god met dieselfde naam. Yngvi-Frey (Oudnoors: Yngvi-Freyr; Sweeds: Yngve-Frej, Yngve Frö, Frö) – die seun en opvolger van Njord; geïdentifiseer met die Noorse mitologiese god met dieselfde naam. Beskryf as die stigter van die politieke sentrum Uppsala uit die Wikingtydperk. Die Yngling-dinastie is na hom genoem. Fjölnir (Oudnoors: Fjölnir; Sweeds: Fjölner, Fjölne) – die seun en opvolger van Yngvi-Frey. Sveigder (Oudnoors: Sveigðir; Sweeds: Svegder, Svegde) – die seun en opvolger van Fjölnir. Vanlande (Oudnoors: Vanlandi; Swedish: Vanlande, Vanland) – die seun en opvolger van Sveigder. Visbur (Oudnoors: Vísburr; Sweeds: Visbur, Visburr) – die seun en opvolger van Vanlande. Domalde (Oudnoors: Dómaldi, Dómaldr; Sweeds: Domalde) – die seun en opvolger van Visbur. Domar (Oudnoors: Dómarr; Sweeds: Domar) – die seun en opvolger van Domalde. Dyggvi (Oudnoors: Dyggvi; Sweeds: Dyggve, Dygve) – die seun en opvolger van Domar. Dag "die Wyse" (Oudnoors: Dagr Spaka; Sweeds: Dag den vise) – die seun en opvolger van Dyggvi. Agne Skjálfarbondi (Oudnoors: Agni Skjálfarbondi; Sweeds: Agne Skjalfarbonde) – die seun en opvolger van Dag. Alarik (Oudnoors: Alrekr; Sweeds: Alrik, Alrek) en Erik (Oudnoors: Eiríkr; Sweeds: Erik) – die seuns en mede-opvolgers van Agne. Yngvi (Oudnoors: Yngvi; Sweeds: Yngve) en Alf (Oudnoors: Álfr; Sweeds: Alf) – die seuns van Alarik; mede-opvolgers van Alarik en Erik. Hugleik (Oudnoors: Hugleikr; Sweeds: Hugleik, Huglek) – die seun van Alf; opvolger van Yngvi en Alf. Haki (Oudnoors: Haki; Sweeds: Hake Hednasson) – Deense seekoning wat Swede oorwin en Hugleik se troon geroof het. Jorund (Oudnoors: Jörundr; Sweeds: Jorund, Jörund, Järund, Eorund) – die seun van Yngvi en neef van Hugleik; het die troon teruggeneem. Aun "die Oue" (Oudnoors: Aun hinn gamli; Sweeds: Aun, Ane, Ön, On, One) – die seun en opvolger van Jorund. Halfdan (Oudnoors: Halfdan; Sweeds: Halfdan, Halvdan) – legendariese Deense koning van die Scylding-dinastie; het glo Uppsala van Aun afgeneem en 20 jaar lank daar as koning regeer voordat hy aan natuurlike oorsake dood is, waarna Aun weer as koning herstel is. Ale die Sterke "die Sterke" (Oudnoors: Ale; Sweeds: Ale, Åle) – legendariese Deense koning van die Scylding-dinastie; het Uppsala van Aun afgeneem en 25 jaar lank daar as koning regeer voordat hy deur die legende Starkad vermoor is en Aun as koning herstel is. Egil Tunnadolg (Oudnoors: Egill Tunnudólgr; Sweeds: Egil Tunnadolg, Angantyr) – die seun en opvolger van Aun. Ottar Vendelkråka (Oudnoors: Ótarr vendilkráka; Sweeds: Ottar Vendelkråka) – die seun en opvolger van Egil. Adils "die Magtige" (Oudnoors: Aðils; Sweeds: Adils) – die seun en opvolger van Ottar. Eystein (Oudnoors: Eysteinn; Sweeds: Östen, Eystein) – die seun en opvolger van Adils. Sölve (Oudnoors: Sölve; Sweeds: Sölve Högnesson, Salve) – Deense seekoning wat Swede verower het en die troon van Eystein afgeneem het. Ingvar Harra (Oudnoors: Yngvari; Sweeds: Yngvar Harra, Ingvar) – die seun van Eystein, tot koning verklaar nadat die Swede Sölve vermoor het. Anund (Oudnoors: Brautönundr, Anundr; Sweeds: Bröt-Anund, Bryt-Önund) – die seun en opvolger van Ingvar. Ingjald Illråda (Oudnoors: Ingjaldr hinn illráði; Sweeds: Ingjald illråde, Ingjald illråda) – die seun en opvolger van Anund. Volgens die Ynglinga saga die laaste koning van die Sweedse Ynglinge, omdat Swede deur die koning van Skone, Ivar Vidfamne, verower is. Ingjald se seun Olof Trätälja was 'n voorouer van die latere konings van Noorweë.
Historiese egtheid thumb|link|220px|links|'n Bladsy van die Heimskringla wat bewaar gebly het.
Sturluson se Ynglinga saga is heeltemal te laat geskryf om 'n betroubare bron te wees van die gebeure en konings wat daarin voorkom: Dit is eers verskeie eeue daarna geskep. Die Ynglinga saga is oënskynlik geskoei op 'n vroeëre skaldegedig, Ynglingatal, wat aansienlik deur Sturluson aangehaal word. Dié is ook nie 'n betroubare bron nie, hoewel tradisioneel geglo word dit is aan die einde van die 9de of begin van die 10de eeu geskryf, hoewel dit eers in die 12de eeu kon gewees het. Sturluson sou toegang gehad het tot ouer (nou verlore) manuskripte toe hy die Ynglinga saga geskryf het, maar dit bewys niks in die saga as waar nie.
Dit is vandag onmoontlik om te bepaal wat historiese waarheid en wat mites en legendes is, en dus moet alles in die saga as legendaries of fiktief beskou word. Moderne geleerdes beskou nie sagas soos die Ynglinga saga as goeie bronne vir ware historiese inligting nie. As historiese bron kan die Ynglinga saga baie beter gebruik word as 'n bron van die geskiedenis en gemeenskap tydens Sturluson se eie tyd en nie as 'n bron van Swede se vroeë geskiedenis nie.
Die meeste sagas wat vandag bekend is, ook die Ynglinga saga, is geskryf in 'n relatief kort tydperk, van die 12de tot 13de eeu, 'n tyd toe koninklike mag in Noorweë, Denemarke en Swede gevestig is. Die skepping van die sagas kan dus stam uit politieke en sosiale behoeftes, byvoorbeeld as 'n manier om die heerskappy van 'n dinastie te regverdig.
thumb|240px|Koning Fjölnir berei hom voor om in 'n vat heuningbier te verdrink. (Karikatuur deur Albert Engström). Benewens dat die sagas geskryf is eeue voor die gebeure wat dit beskryf, is daar talle ander probleme wat hulle onbruikbaar maak as historiese bronne. Baie van die elemente van die Ynglinga saga lyk of dit geskoei is op latere, gedokumenteerde gebeure en mense in Skandinawië. Die figuur Aun, wat beskryf word as die persoon wat uit Uppsala verdryf is en in Västergötland gaan woon het, is byvoorbeeld soortgelyk aan die historiese Sweedse koning Inge die Ouere (bewind: 1079-1084, 1087-1105), wat in die 11de eeu uit Uppsala na Västergötland verdryf is.
Die Ynglinga saga kan ook 'n voorbeeld wees van antikoninklike sosiale kommentaar eerder as 'n poging om die geskiedenis te boekstaaf. Baie van die konings in die saga word oorskadu deur hulle vasalle en vroue, en hulle word selde in 'n positiewe lig uitgebeeld. Die onglorieryke dood van baie van die Sweedse Ynglinge is dalk Sturluson se manier om te sê die konings wat Swede in dié tyd regeer het en verklaar het hulle het 'n Yngling-herkoms, moenie ernstig opgeneem word nie. Voorbeelde is maniere waarop die konings dood is, wat wissel van moord en 'n branddood tot verdrinking in heuningbier en 'n gery deur 'n "merrie" (nagmerrie) tot hulle dood is. Hoewel 'n herkoms van figure soos Odin en Njord, gode in Noorse mitologie, prestigeryk klink, kon dit in die vroeë Middeleeue problematies gewees het aangesien die konings Christene was en hulle vermeende voorouers as heidense gode aanbid is. Dit kon dus nog 'n poging van Sturluson gewees het om koninklike ideologie te ondermyn.