Die plafon van die Sixtynse kapel (Italiaans: soffitto della Cappella Sistina), wat tussen 1508 en 1512 deur Michelangelo beskilder is, is 'n hoeksteen van Hoogrenaissancistiese kuns. Die plafon is dié van die Sixtynse kapel, die groot pouslike kapel wat tussen 1477 en 1480 in die Vatikaan gebou is deur pous Sixtus IV, na wie die kapel genoem is. Dit is geskilder in opdrag van pous Julius II. Die kapel is die ligging van die pouslike konklaaf, waar die pous gekies word, en baie ander belangrike dienste.Shearman, John (1986) The Chapel of Sixtus IV in The Sistine Chapel, red. Massimo Giacometti.
Die plafon se verskeie geskilderde elemente vorm deel van 'n groter versieringskema in die kapel, wat insluit die groot fresko Die laaste oordeel teen die muur van die heiligdom, ook deur Michelangelo; muurskilderings deur verskeie voorste skilders van die laat 15de eeu, insluitende Sandro Botticelli, Domenico Ghirlandaio en Pietro Perugino; en Raphael se stel groot tapisserieë. Die geheel is verteenwoordigend van 'n groot deel van die geloofsleer van die Katolieke Kerk.Shearman, John (1986b) The Fresco Decoration of Sixtus IV in The Sistine Chapel, red. Massimo Giacometti.O'Malley, John (1986). The Theology behind Michelangelo's Ceiling in The Sistine Chapel, red. Massimo Giacometti.
Teen die plafon staan die nege tonele uit die boek Genesis sentraal, insluitende die beroemde Skepping van Adam. Die ingewikkelde ontwerp sluit verskeie stelle individuele figure in, beide geklee en nakend, wat Michelangelo in staat gestel het om sy talent te demonstreer om 'n groot verskeidenheid houdings vir die menslike figuur te skep. Dit het 'n ontsettend invloedryke patroon daargestel vir die modelle van ander kunstenaars daarna.
Konteks en geskiedenis Die mure van die Sixtynse kapel is versier 20 jaar voor Michelangelo se werk aan die plafon. Die onderste van drie vlakke is geskilder om soos gedrapeerde behangsels te lyk en word soms steeds op spesiale geleenthede gehang saam met 'n stel tapisserieë wat Raphael ontwerp het. Die middelste vlak bevat 'n komplekse skema van fresko's wat die Lewe van Christus aan die regterkant en die Lewe van Moses aan die linkerkant uitbeeld. Dit is gedoen deur van die vernaamste skilders van die Renaissance: Sandro Botticelli, Domenico Ghirlandaio, Pietro Perugino, Pinturicchio, Luca Signorelli en Cosimo Rosselli.Shearman 1986b, pp. 45–47. Die boonste vlak van die mure bevat die vensters, waartussen pare denkbeeldige nisse geskilder is wat die eerste 32 pouse verteenwoordig.Partridge, 1996, p. 10.
thumb|220px|Die plafon soos dit kon gelyk het voordat Michelangelo dit beskilder het. Die oorspronklike plafonskildery was van sterre op 'n blou agtergrond. 'n Diagonale kraak in die kapel se gewelf het die kapel in 1504 vir ses maande onbruikbaar gemaak en pous Julius II (Giuliano della Rovere) het die beskadigde skilderwerk deur Piero Roselli, 'n vriend van Michelangelo, laat verwyder.
Die pous, wat aggressiewe veldtogte onderneem het, het Michelangelo vroeg in 1505 na Rome ontbied en hom opdrag gegee om sy graftombe te ontwerp. Die kunstenaar moes Florence verlaat terwyl sy beplande skildery Slag van Cascina nog onvoltooi was. Teen dié tyd was Michelangelo 'n gevestigde kunstenaar. Hy het Julius II het albei vinnige humeure gehad en hulle het gou . Op 17 April 1506 het Michelangelo Rome stilletjies verlaat en na Florence teruggekeer. Hy het daar gebly totdat die regering van Florence druk op hom geplaas het om na die pous terug te keer.
thumb|220px|'n Hipotetiese rekonstruksie van die eerste projek vir die graftombe van Julius II (1505), volgens 'n vertolking deur Adriano Marinazzo (2018).
In 1506 het Julius II 'n program bedink vir die beskildering van die plafon van die Sixtynse kapel.Goldscheider 1953. Die skema wat die pous voorgestel het, was vir 12 groot figure van die apostels aan die pendentiewe (geronde, driehoekige dele van 'n gewelf).O'Malley 1986, p. 104. Michelangelo het onderhandel vir 'n groter, komplekser skema en is eindelik toegelaat om, in sy eie woorde, "te doen wat ek wil".Partridge 1996, p. 13. Dit is onseker of Michelangelo wel kon skilder wat hy wou. Baie skrywers glo egter hy het die intellek, Bybelse kennis en artistieke vermoë gehad om self die skema uit te dink. Dit word ondersteun deur Ascanio Condivi se stelling dat Michelangelo die Ou Testament oor en oor gelees het terwyl hy die plafon beskilder het en sy inspirasie uit die Skrif gekry het, eerder as uit die gevestigde tradisies van heilige kuns.Graham-Dixon 2008, pp. 181ff.
Op 10 Mei 1506 het Piero Roselli namens die pous aan Michelangelo geskryf. In die brief noem Roselli dat die argitek van die pouslike hof, Donato Bramante, twyfel of Michelangelo so 'n groot freskoprojek kon aanpak, omdat hy beperkte ondervinding in dié medium gehad het. Volgens Bramante het Michelangelo dit van die hand gewys. In November 1506 het hy na Bologna gegaan, waar hy opdrag van die pous gekry het om 'n kolossale bronsstandbeeld te maak van hom waar hy die Bolognese oorwin. Nadat hy dit vroeg in 1508 voltooi het, het Michelangelo na Rome teruggekeer om werk aan die pous se graftombe te hervat, maar dié projek is intussen stilletjies tersyde gestel.
Michelangelo het in die plek daarvan opdrag gekry om 'n siklus fresko's aan die gewelf en boonste mure van die Sixtynse kapel te skilder. Michelangelo, wat hoofsaaklik 'n beeldhouer was en nie 'n skilder nie, was huiwerig om die werk te aanvaar; hy het voorgestel sy jong mededinger Raphael doen dit eerder. Die pous het egter aangedring en Michelangelo het nie eintlik 'n keuse gehad nie. Die kontrak is op 8 Mei 1508 onderteken.
In opdrag van die pous het Bramante die aanvanklike steierwerk gebou en dit laat hang van gate in die plafon wat later toegeverf sou moes word. Michelangelo het nie van die idee gehou nie en hy het sy eie steierwerk laat bou. Dit is opgerig deur Piero Roselli, wat die plafon daarna gegrintspat het. Michelangelo wou aanvanklik assistente kry wat meer van die skildering van fresko's geweet het as hy, maar kon nie geskikte kandidate kry nie en het besluit om die werk alleen aan te pak.
Michelangelo het gou daarna sy werk begin. Hy het aan die westekant begin met Die dronkenskap van Noag en Die profeet Sagaria, en terug deur die narratief (verhaal) gewerk tot by Die skepping van Eva. Hy het dit in September 1510 voltooi. Die tweede helfte van die plafon se fresko's is vinnig gedoen. Die voltooide werk is op 31 Oktober 1512 onthul en die volgende dag, Allerheiligedag, aan die publiek vertoon. Michelangelo se finale skema vir die plafon sluit meer as 300 figure in.
Ná die onthulling, op 37-jarige ouderdom, het Michelangelo se aansien so gestyg dat hy il divino ("die goddelike") genoem is. Hy is daarna vir die res van sy lewe gereken as een van die grootste kunstenaars van sy tyd, en sy Sixtynse kapel word sedertdien beskou as een van die "grootste meesterstukke van geïlustreerde kuns".
Inhoud thumb|220px|Detail wat die snypunt van die eerste en tweede register wys, met: 'n profeet, lunet, sibille, ignudi, medaljons, bronsfigure en telamones. thumb|220px|Detail van Die skepping van Adam, wat wys hoe God die mens skep.
Michelangelo se fresko's vorm die agtergrondinligting van die 15de-eeuse narratiewe (verhalende) siklusse van die lewens van Moses en Christus deur Perugino en Botticelli teen die kapel se mure. Terwyl die sentrale hooftonele gebeure uit die boek Genesis uitbeeld, word gedebatteer oor die presiese vertolking van die talle figure. Die Sixtynse kapel se plafon is 'n vlak tonnelgewelf van sowat 35 m lank en sowat 14 m breed. Die kapel se vensters loop in die gewelf se kurwe in en skep 'n ry lunette wat afgewissel word deur driehoeke.
Die sentrale, feitlik plat deel van die plafon word omlyn deur 'n denkbeeldige argitektoniese kroonlys, en in vier groot reghoeke en vyf kleiner reghoeke verdeel deur vyf pare geskilderde ribbe wat sydelings oor die sentrale reghoekig loop. Hierdie reghoeke het Michelangelo beskilder met tonele uit die Ou Testament.
Die narratief begin aan die kapel se oostekant. Die eerste toneel is bo die altaar, die fokuspunt van Eucharistiese seremonies wat deur die geestelikes uitgevoer word. Die klein reghoekige paneel reg bo die altaar beeld Die skeiding van lig en donker met die Skepping uit. Die laaste van die nege sentrale panele, aan die westekant, wys Die dronkenskap van Noag; onder dié toneel is die deur wat die kerkgangers gebruik. Die dronkenskap van Noag is die verste van die altaar af en verteenwoordig die sondige aard van die mens.
Bo die kroonlys, by die vier hoeke van elk van die vyf kleiner sentrale panele, is jong, naakte mans, wat ignudi genoem word. Hulle presiese betekenis is onbekend. Hulle verteenwoordig waarskynlik die Florentynse Neoplatoniste se siening van die mens se ideale Platoniese vorm, sonder die skending van die erfsonde, waaraan al die onderste figure onderwerp is. Kenneth Clark skryf "hulle fisieke skoonheid is 'n uitbeelding van goddelike volmaaktheid; hulle wakker en lewendige bewegings is 'n uitbeelding van goddelike energie".
Onder die geskilderde kroonlys, om die sentrale reghoekige area, is 'n laer register. Dit beeld 'n voortsetting uit van die kapel se mure as 'n trompe-l'œil-raamwerk waarteen figure druk. Die figure is op 'n groter skaal as in die sentrale tonele, en dit "skep 'n sin van ruimtelike onewewigtigheid".
By die kapel se vier hoeke vorm die plafon groot driehoeke, wat beskilder is met verlossingstonele uit die Ou Testament: Die bronsslang, Die kruisiging van Haman, Judit en Holofernes en Dawid en Goliat.
Elk van die kapel se vensterboë loop in die gekurfde gewelf in, en dit skep bo elk van hulle 'n driehoek. Die boog van elke venster word van die volgende een geskei deur hierdie driehoeke. In elk van die driehoeke is profete geskilder, afgewissel met sibilles. Dié figure, sewe Ou Testamentiese profete en vyf Grieks-Romeinse sibilles, is in die Christelike tradisie bekend vir hulle profesieë van die Messias of die geboorte van Jesus. Die lunette bo die vensters en die spasies aan weerskante van die vensters is beskilder met tonele van die menslike voorouers van Christus. Hulle is die laagste in die gewelf en ook die donkerste, in teenstelling met die lugtige boonste gewelf.
Vertolking Die sigbare inhoud van die plafon is die Christelike leerstelling van die mens se behoefte aan verlossing, soos verskaf deur God deur middel van Jesus. Dit is 'n visuele metafoor van die mens se behoefte aan 'n verbond met God. Die Ou Verbond van die kinders van Israel deur Moses en die Nuwe Verbond deur Christus word reeds aan die mure van die kapel uitgebeeld. Sommige kenners, onder andere Benjamin Blech en die Vatikaan se kunshistorikus Enrico Bruschini, meen daar is ook minder sigbare inhoud, wat hulle beskyf as "verskuil" en "verbode".Blech, Benjamin (2008). The Sistine Secrets: Michelangelo's Forbidden Messages in the Heart of the Vatican, HarperOne, pp. ix, x, 130, 158.
In die halfmaanvormige areas, of lunette, bo elk van die kapelvensters is tablette wat die voorouers van Christus noem en bygaande figure. Bo hulle, in die driehoeke, word nog agt groepe figure gewys, maar hulle word nie aan spesifieke Bybelse karakters verbind nie. Die skema word voltooi deur vier groot hoekpendentiefboë, wat elk 'n dramatiese Bybelstorie uitbeeld.
Die verhalende elemente van die plafon illustreer dat God die wêreld as 'n perfekte skepping gemaak en die mens daarin geplaas het, en dat die mens in sonde verval het en met die dood en skeiding van God gestraf is. Die mens het toe verder in sonde verval en is met die Sondvloed gestraf. Deur 'n linie voorouers – van Abraham tot Josef – het God die mens se verlosser, Jesus Christus, gestuur. Die koms van die Verlosser is verkondig deur profete van Israel en sibilles van die Klassieke wêreld. Die verskeie komponente van die plafon word met dié Christelike leerstelling verbind.