Die Afrika wildehond (Lycaon pictus) is 'n karnivoor en soogdier uit die familie Canidae. Wildehonde kom slegs in Afrika voor, veral in struikvelde en ander lig beboste gebiede. Dit is die enigste spesie in die genus Lycaon.

In Suider-Afrika word die wildehond meestal in die Krugerwildtuin, Botswana, Namibië en KwaZulu-Natal aangetref. Wildehonde leef in troppe en is veral bekend as roofdiere wat hul prooi meedoënloos jag.

Identifikasie Die soogdier het groot, ronde ore, 'n kort donker snoet met 'n pels wat kort en glad is. Kenmerkend is hul lang wit sterte wat opgelig word wanneer hulle opgewonde is. Hulle is oorwegend wit met geelwit, swart en skakerings van bruin vlekke oor die hele lyf. Die reuns is donkerder as die tewe. Daar is 'n donker streep van die voorkop na agter oor die kop. 'n Volwasse wildehond het 'n gemiddelde massa van 25 kg en 'n hoogte van tussen 60 en 75 cm.

Die wildehond lyk baie soos 'n gewone hond, maar anders as die ander lede van die hondefamilie het die wildehond vier in plaas van vyf tone.

Habitat en gewoontes Hulle verkies bosveld of operige dele. Die diere lewe in troppe van gewoonlik 10 - 15 diere wat saam jag en kossoek. Hulle maak staat op hul sig eerder as reuk tydens jagtogte. Die wyfie is telkens vir twee maande dragtig en skenk dan gewoonlik in die winter geboorte aan twee tot ses kleintjies. 'n Wildehond het 'n moontlike lewensduur van tien jaar. Na 'n jagtog braak die grotes vleis by die kleintjies sodat hulle ook kan eet.

Wildehonde jag normaalweg in troppe: die prooi word gejag en in die hardloop verskeur.

'n Werpsel bevat hoogstens 9 kleintjies, wat na 'n dratyd van ongeveer 71 dae in ou erdvarkgate gebore word. Die kleintjies bly daar totdat hulle groot genoeg is om saam te gaan jag. Nadat hulle gespeen is, voed die wyfie hulle met half verteerde vleis wat sy uitbraak. Wildehonde is bekend vir hul uitsonderlike en effektiewe jagmetodes.

Hulle jag soggens of saans in troppe van 4 tot 60, hoewel daar gewoonlik nie meer as 20 in 'n trop is nie. Hulle gebruik hoofsaaklik hul reuk- en sigsintuie vir jag en hulle val meestal hoefdiere aan. Die leier van die trop kies 'n prooi, meestal 'n swak of siek dier, uit, waarna die trop hom volg. Die prooidier word aangeval totdat hy van uitputting neerslaan en dan word hy vinnig verskeur.

Omdat wildehonde maklik vee vang en oor groot afstande beweeg, word hulle meestal dadelik uitgeroei wanneer hulle buite wildtuine kom. In veral lande soos Suid-Afrika is die diere vandag gevolglik baie skaars en word hulle deur uitwissing bedreig.

Galery

Sien ook Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere volgens wetenskaplike name Suider-Afrikaanse soogdiere en hul ordes

Verwysings

Bronnelys Wêreldspektrum, 1982, , volume 29, bl. 131 Die Soogdiergids van Suider-Afrika. Burger Cillié. 2009. Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. . McNutt, J.W., Mills, M.G.L., McCreery, K., Rasmussen, G., Robbins, R. & Woodroffe, R. 2004. Lycaon pictus . In: IUCN 2007. 2007 IUCN se Rooi Lys van Bedreigde Spesies. www.iucnredlist.org. Verkry op 14 Maart 2008.

Kategorie:Hondagtiges