Barack Hussein Obama II ([bəˈɹɑːk huˈseɪn oʊˈbɑːmə] ; * 4 Augustus 1961 in Honolulu, Hawaii) is op 20 Januarie 2009 ingehuldig as die 44ste president van die Verenigde State. Hy het in die Amerikaanse Kongres die amp van Juniorsenator vir die deelstaat Illinois beklee en is die vierde jongste kandidaat wat ooit as president verkies is.Shear, Michael D. en Anne E. Kornblut: A Historic Inauguration Draws Throngs to the Mall. In: www.washingtonpost.com, 21 Januarie 2009 Hy is daarnaas ook die eerste boorling van die deelstaat Hawaii wat die presidentsamp beklee.
Obama is die seun van 'n Keniaanse vader, Barack Obama, en 'n Amerikaanse moeder, Ann Dunham, wat in 'n Russies-klas by die Universiteit van Hawaii ontmoet het. Hy is in die eerste ses jare van sy lewe in die Hawaiïese hoofstad Honolulu grootgemaak en het daarna met sy moeder en sy Indonesiese stiefvader Lolo Soetero na Djakarta in Indonesië verhuis, waar hy tot op die ouderdom van tien jaar gebly het.
Obama het akademiese grade aan die Columbia-universiteit en aan die Harvard-universiteit se regsskool behaal en daarna 'n loopbaan as gemeenskapsorganiseerder en universiteitsdosent in Chicago, Illinois begin. Later het hy as advokaat vir burgerlike regte gepraktiseer. In die periode tussen 1997 en 2004 was hy 'n lid van Illinois se senaat. In 2000, het hy as kandidaat vir 'n setel in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gestaan, maar is uiteindelik nie verkies nie. In 2003 het hy aangekondig om as kandidaat vir die Amerikaanse Senaat te staan.
As 'n verteenwoordiger in Illinois se Huis van Verteenwoordigers het hy tydens die Demokratiese Party se Nasionale Byeenkoms op 27 Julie 2004 in Boston die sleuteltoespraak gelewer. In November van dieselfde jaar is hy met 'n meerderheid van 70 persent van die uitgebragte stemme tot die Amerikaanse Senaat verkies.
As 'n lid van die Demokratiese minderheid in die VSA-Senaat was hy by die indiening van 'n gemeenskaplike wetsontwerp van Demokrate en Republikeine ten opsigte van die beheer van konvensionele wapens betrokke en het hom ten gunste van 'n meer verantwoordelike besteding van federale fondse en toesighouding daaroor uitgespreek.
Obama het amptelike besoeke aan Oos-Europa, die Midde-Ooste en Afrika afgelê. Nadat hy in Februarie 2007 sy kandidaatskap vir die nominasie as Demokratiese presidensiële kandidaat aangekondig het, het Obama hom ten gunste van 'n einde van die Amerikaanse oorlogvoering in Irak, groter onafhanklikheid ten opsigte van energiebronne en die daarstelling van 'n algemene nasionale gesondheidsstelsel as sy politieke prioriteite uitgespreek.
Obama se presidensiële verkiesingsveldtog het in 2007 begin. Nadat hy die wedloop teen sy teenstander in die voorverkiesings van die Demokratiese Party, Hillary Rodham Clinton, gewen het, is Obama amptelik as kandidaat genomineer. In die presidensiële verkiesing van November 2008 het hy die Republikeinse teenkandidaat John McCain verslaan. Nege maande ná sy inhuldiging is Obama as wenner van die Nobelprys vir Vrede aangewys. In April 2011 het hy aangekondig dat hy vir 'n tweede ampstermyn sou staan en op 6 November 2012 sy Republikeinse teenstander, goewerneur Mitt Romney, in die presidentsverkiesing verslaan.
Obama en sy vrou Michelle, met wie hy in 1992 getrou het, het twee dogters, Malia en Sasha. Hy het twee blitsverkopers gepubliseer: 'n Outobiografie oor sy jeug Dreams from My Father ("Drome van My Vader") en The Audacity of Hope ("Die Stoutmoedigheid van Hoop"), waarin hy persoonlike kommentaar op die Amerikaanse politiek lewer. Die inkomste van 4,2 miljoen VSA-$, wat die Obamas in 2007 verdien het, is grotendeels deur tantieme op boeke gegenereer.Gruber, Peter; Joachim Hirzel; Nadja Matthes; Jürgen Schönstein; en Stefan Wagner: Obamas Kraftakt. In: Focus, nommer 5/2009, 26 Januarie 2009, bl. 121
Vroeë lewe en loopbaan Kinder- en skooljare duimnael|Barack Obama se geboortesertifikaat Obama is in die Kapi'olani Mediese Sentrum vir Vroue & Kinders in Honolulu (Hawaii) as die seun van Barack Obama, Sr. - 'n boorling van Nyang'oma Kogele in die Keniaanse provinsie Nyanza – en Ann Durham, 'n blanke Amerikaanse vrou van hoofsaaklik Engelse, Ierse en Duitse afkoms uit Wichita in die deelstaat Kansas, gebore. Sy ouers het in 1960, toe hulle albei by die Universiteit van Hawaii te Manoa ingeskryf was, met mekaar kennis gemaak. Hulle het op 2 Februarie 1961 getrou, maar het van mekaar vervreemd geraak toe Obama twee jaar oud was en is in 1964 geskei. Obama se vader het vervolgens na Kenia teruggekeer en sy seun nog net een keer gesien voordat hy in 1982 in 'n motorongeluk oorlede is. Obama het in Augustus 2006 saam met sy vrou en twee dogters 'n besoek aan sy pa se geboorteplek afgelê – 'n dorp naby Kisumu in landelike Wes-Kenia.
Ná haar egskeiding het Dunham met Lolo Soetoro getrou, en die paar het in 1967 na Soetero se geboorteland Indonesië verhuis waar Obama tot op die ouderdom van tien jaar plaaslike skole soos Asisi in Jakarta bygewoon het. Daarna het hy na Honolulu teruggekeer en by sy grootouers aan moederskant, Madelyn en Stanley Durham, gebly. Vanaf die vyfde graad (standerd) in 1971 het hy die Punahou-skool bygewoon en hier in 1979 die Amerikaanse matriek geskryf.
Obama se moeder het in 1972 na Hawaii teruggekeer om hier enkele jare te bly, maar het in 1977 weer na Indonesië verhuis waar sy as antropologiese veldwerker werksaam was. Vir die oorgrote res van haar lewe het sy in dié Suidoos-Asiatiese land aangebly om eers in 1994 na Hawaii terug te keer. In die volgende jaar is sy aan eierstokkanker dood.
Soos hy later as 'n volwasse man erken het, het Obama as hoërskoolleerder dagga en kokaïen asook alkoholiese dranke gebruik en dit tydens die Civil Forum on the Presidency in 2008 as sy grootste morele fout beskryf.www.cnn.com: Obama, McCain talk issues at pastor's forum
Studentejare duimnael|Barack en Michelle Obama Nadat hy sy hoërskoolmatriek voltooi het, het Obama na Los Angeles gegaan om daar twee jaar lank aan die Occidental College te studeer. Vervolgens het hy by die Columbia-universiteit in New York Stad vir 'n BA-graad in politieke wetenskap ingeskryf, met internasionale betrekkinge as sy spesialiseringsvak. Nadat hy sy BA-graad in 1983 voltooi het, het hy vroeg in 1984 vir die periode van een jaar by die Business International Corporation en daarna by die New York Public Interest Research Group begin werk.
Nadat hy vier jare in New York Stad gebly het, het Obama na Chicago verhuis om tussen Junie 1985 en Mei 1988 as direkteur van die Developing Communities Project (DCP) te werk, 'n kerk-gebaseerde gemeenskapsorganisasie wat oorspronklik uit agt Rooms-Katolieke parogieë in Greater Roseland (Roseland, West Pullman en Riverdale) in Chicago se South Side bestaan het. Gedurende sy drie jare as direkteur van die DCP het die projek se personeel van een medewerker tot dertien en sy jaarlikse begroting van $70 000 tot $400 000 aangegroei. Obama se prestasies as direkteur van die DCP sluit sy medewerking by die totstandkoming van 'n beroepsopleidingsprogram, 'n voorbereidingsprogram vir voornemende kollegestudente en 'n organisasie vir die beskerming van regte van huurders in Altgeld Gardens in. Obama was daarnaas ook as konsultant en instrukteur vir die Gamaliel-stigting werksaam, 'n instituut vir gemeenskapsorganisasie. In die middel van 1988 het hy vir die eerste keer 'n reis van drie weke na Europa en een van vyf weke na Kenia onderneem waar hy baie van sy familielede van vaderskant ontmoet het.
Teen die einde van 1988 het Obama by die Harvard Law School ingeskryf. Aan die einde van sy eerste studiejaar is hy danksy sy grade en 'n skryfkompetisie as 'n redakteur van die tydskrif Harvard Law Review gekies. In Februarie 1990 is hy – in sy tweede jaar – as voorsitter van die Law Review verkies – 'n vrywillige voltydse pos waarby Obama as hoofredakteur gefungeer en sodoende ook toesig oor die Law Review se span van tagtig redakteurs gehou het.
Die publisiteit, wat aan Obama as die eerste verkose Swart voorsitter van die Law Review gegee is, het aan hom 'n uitgewerskontrak en 'n voorskot vir 'n boek oor rasseverhoudings besorg. In 'n poging om hom vir hulle fakulteit aan te werf, het die University of Chicago Law School 'n studiebeurs en 'n kantoor vir die voltooiing van sy boek aan Obama voorsien. Hy was oorspronklik van plan om die werk binne 'n jaar vry te stel, tog het die boek uiteindelik tot 'n persoonlike lewensgeskiedenis ontwikkel en die skryfwerk vervolgens langer geneem. Om sonder onderbrekings te kan werk, het Obama en sy vrou Michelle na Bali gereis waar hy enkele maande lank met skryfwerk besig was. Die manuskrip het uiteindelik in die middel van 1995 onder die titel Dreams From my Father verskyn.
Obama het die deelstaat Illinois se Project Vote tussen April en Oktober 1992 bestuur. Hierdie projek was daarop gemik om 150 000 van Illinois se 400 000 ongeregistreerde Afro-Amerikaners as kiesers te registreer.
Obama het vanaf 1992 twaalf jaar as professor klas gegee in grondwetlike reg by die University of Chicago Law School. Daarnaas het hy by die regsmaatskappy Davis, Miner, Barnhill & Galland aangesluit wat hom met sy twaalf prokureurs op burgerregte en die ekonomiese ontwikkeling van stadsbuurte toegespits het. Obama se regslisensie het tot en met 2002 geldig gebly.
Politieke loopbaan Senator in Illinois: 1997–2004 duimnael|Barack Obama as senator vir Illinois In 1996 is Obama as die senator van Illinois se 13de Distrik in Chicago verkies. Hy het erkenning van albei groot partye gekry vir sy wetgewing rakende etiese sake en die voorsiening van gesondheidsdienste.Slevin, Peter: Obama Forged Political Mettle in Illinois Capitol. In: Washington Post, 9 Februarie 2007 Hy was onder meer by wetsontwerpe wat belasting vir werkers met lae inkomste gereël het asook by die hervorming van die plaaslike welvaartstelsel en kindersorg betrokke.
Obama is in 1998 en 2002 as senator herverkies, tog was sy kandidatuur vir 'n setel in die Huis van Verteenwoordigers in die Demokratiese Party nie suksesvol nie. Toe die Demokrate ná 'n dekade as minderheidsparty weer die meerderheid setels in die Senaat van Illinois verower het, het Obama in Januarie 2003 voorsitter van die Senaat se Komitee vir Gesondheids- en Menslike Dienste geword. Obama het hom veral vir hervormings in die plaaslike polisiediens beywer. Illinois het sodoende die eerste deelstaat geword wat video-opnames by ondervragings in moordsake verpligtend gemaak het.
Tydens die verkiesingsveldtog vir die Amerikaanse Senaat in 2004 het Obama met polisie-organisasies saamgewerk om die Amerikaanse wetgewing rakende die doodstraf te hervorm. Nadat hy in November van dieselfde jaar as senator vir Illinois verkies is en sodoende 'n lid van die Amerikaanse Kongres geword het, het hy as senator in Illinois bedank.
Amerikaanse Senator: 2005–2008 Op 4 Januarie 2005 het Obama sy ampseed as senator vir Illinois afgelê. Hy was die vyfde Afro-Amerikaanse senator in die geskiedenis van die VSA, en die derde sy setel volgens die Sewende Wysiging van die Amerikaanse Grondwet in 'n algemene verkiesing gewen het.U.S. Senate Historical Office: Breaking New Ground: African American Senators Volgens 'n ontleding van senatoriale stemmings in die periode tussen 2005 en 2007 het die weekblad Congressional Weekly, 'n onpartydige publikasie, na hom as 'n "lojale Demokraat" verwys, terwyl die National Journal hom volgens 'n ontleding van uitgesoekte stemmings in 2007 as die "liberaalste" senator beskryf het. Congress.org het hom in 2008 as die elfde magtigste senator geranglys.Power Rankings: Senate Op 13 November 2008 het Obama aangekondig dat hy op 16 November as senator sou bedank om homself sodoende op die oorgangsperiode tot sy presidentskap te kan konsentreer.Mason, Jeff: Obama resigns Senate seat, thanks Illinois. In: Washington Post, 16 November 2008
Presidensiële verkiesingsveldtog in 2008