duimnael|240px|Sadko in die Onderwêreld-ryk, Ilja Repin (1876). Die Slawiese mitologie en godsdiens het oor meer as 3 000 jaar ontwikkel. Daar word geglo dat dit uit 'n deel van die Steentydperk of moontlik selfs vroeër kom. Die godsdiens stem baie ooreen met ander wat uit die Proto-Indo-Europese godsdiens ontwikkel het.
Bronne duimnael|240px|'n Teksgedeelte uit die Boek van Weles, wat op 'n reeks houtplanke geskryf is. Daar word beweer dat dit 'n antieke teks oor die Slawiese geloof en geskiedenis is, maar baie akademici beskou dit as 'n vervalsing. Anders as met die Griekse of Egiptiese mitologie, is daar geen eerstehandse rekords vir die bestudering van Slawiese mitologie nie. Ondanks 'n paar omstrede teorieë (soos die Boek van Weles), kan daar nie bewys word dat die Slawiërs enige skryfstelsel gehad het voor hulle kerstening nie. Al hulle oorspronklike godsdienstige gelowe en tradisies is waarskynlik mondelings van geslag tot geslag oorgedra. Voor hul kerstening is ylgesaaide rekords van die Slawiese godsdiens meestal geskryf deur nie-Slawiese sendelinge wat nie baie geïnteresseerd of objektief was in hul beskrywings van heidense gelowe nie. Argeologiese oorblyfsels van ou Slawiese idole en tempels is gevind, maar dit bevestig bloot bestaande historiese rekords en lewer niks nuuts op nie. Oorblyfsels van ou mitologiese gelowe en heidense feeste word vandag nog aangetref in volksgewoontes, liedere en stories van al die Slawiese nasies. Die rekonstruksie van antieke mites uit volksoorleweringe is ’n moeilike en ingewikkelde taak wat navorsers dikwels pootjie. Dit kan die verkeerde vertolkings, verwarring of selfs vervalsings en versinsels tot gevolg hê.
Geskrewe bronne Daar is geen bekende bronne van die Slawiese mitologie voor die verdeling van die Proto-Slawiese etniese groep in Wes-, Oos-, en Suid-Slawiërs nie, met die moontlike uitsondering van 'n kort aantekening in Herodotus se Geskiedenisse. Hierin word 'n stam van Neuri in die verre noorde genoem waarvan die mans, volgens Herodotus, hulleself vir 'n paar dae elke jaar in wolwe verander. Sommige navorsers glo dit kom van die Slawiese geloof in weerwolwe, terwyl ander glo Herodotus verwys eintlik na antieke Slawiese karnivalle, waar groepe jong mans met maskers op in dorpies rondgeloop het. Hulle is soms vucari ("wolfmans") genoem.
Die eerste definitiewe verwysings na die Slawiërs en hulle mitologie in die geskrewe geskiedenis is deur die 6de-eeuse Bisantynse historikus Prokopios, wie se Bellum Gothicum die gelowe van ’n sekere Suid-Slawiese stam beskryf. Hulle het net een god aanbid wat weerlig en donder geskep het. Hoewel Prokopios nie die naam van die god noem nie, kan 'n mens aflei dat hy verwys na Peroen in latere historiese bronne, aangesien peroen vandag in baie Slawiese tale bloot "donder" of "weerligstraal" beteken. Hy noem ook dat hulle glo in verskeie demone en nimfe (dus Slawiese feetjies), maar noem nie enige ander name nie.
Die Russiese Primêre Kronieke is 'n groot werk met baie waardevolle verwysings na die heidense geloofstelsel van die Oos-Slawiërs. Die kronieke handel oor die geskiedenis van die vroeë Oos-Slawiese staat Kiëf-Roes. Hoewel dit aan die begin van die 12de eeu geskryf is, bevat dit verwysings na en afskrifte van ouer dokumente en beskryf dit gebeure van voor die kerstening van Kiëf. Twee gode, Peroen en Weles/Wolos, word genoem in die teks van die vroeë 10de-eeuse vredesooreenkomste tussen die heidense heersers van die Oos-Slawiërs en Bisantynse keisers. Later beskryf Nestor die kroniekskrywer 'n staatsgoderyk wat in 980 in Kiëf ingestel is deur grootprins Wladimir. Wladimir se goderyk het Peroen, Chors, Dazjbog, Stribog, Simargl en Mokosj ingesluit. Die Ipatijefse Kodeks van die Primêre Kronieke noem ook Swarog, wat vergelyk word met die Griekse Hefaistos. Ook interessant is die passasies in die Oos-Slawiese epiese Die Verhaal van Igor se Veldtog waarin Weles, Dazjbog en Chors genoem word. Die oorspronklike verhaal is gedateer einde van die 12de eeu, maar daar is twyfel oor die egtheid van die werk.
Die meeste geskrewe rekords gaan oor die Wes-Slawiese heidendom, veral van die Wendiese en Polabiese stamme wat eers teen die einde van die 12de eeu gedwing is om die Christelike geloof aan te neem. Die Duitse sendelinge en priesters wat teen die heidense geloof geveg het, het breedvoerige rekords van die ou mitologiese stelsels gelaat wat hulle moes oorkom. Hulle het egter geen geheim gemaak van hoe "laag" hulle die "bloeddorstige" Slawiese "barbare" beskou nie en aangesien nie een van hulle ’n Slawiese taal aangeleer het nie, is hul rekords 'n mengsel van waardevolle inligting, verwarring en oordrywing.
Groot werke sluit in 'n kroniek van Thietmar van Merseburg van die begin van die 11de eeu, wat 'n tempel beskryf in die stad Radagast waar die groot god Swarogitsj aanbid is. Volgens Thietmar was dit die heiligste plek in die land van die heidense Slawiërs, en Swarogitsj was hul belangrikste god.
Nog 'n baie waardevolle dokument is die Chronica Slavorum wat in die laat 12de eeu geskryf is deur Helmold, 'n Duitse priester. Hy noem die "duiwel Zerneboh" (Tsjernobog), die god Porenoet, godin Siwa, 'n paar naamlose gode waarvan die standbeelde meer as een kop gehad het, asook die groot god Swantewit, wat op die Rügen-eiland aanbid is en volgens Helmod die belangrikste god van al die Wes-Slawiërs was.
Die derde en waarskynlik belangrikste rekord is dié van die Deense kroniekskrywer Saxo Grammaticus, wat in sy Gesta Danorum die oorlog beskryf wat in 1168 deur die Deense koning Waldemar gevoer is teen die Wende van Rügen, die verowering van hul stad by Kaap Arkona en die verwoesting van die groot tempel van Swantewit wat daar gestaan het. Saxo beskryf die aanbidding van Swantewit breedvoerig, asook die gepaardgaande gebruike en die hoë vierkoppige standbeeld van die god. Hy noem ook die meerkoppige gode van ander Slawiese stamme: Rugievit, Porewit en Porentius.
Die vierde groot bron is die drie biografieë van die Duitse vegter-biskop sint Otto, wat in die vroeë 12de eeu verskeie militêr-pastorale ekspedisies gelei het na die streke van die Slawiese stamme wat naby die Oossee gewoon het. Volgens dié manuskrip was die belangrikste Slawiese god Triglaf, waarvan die tempels in die stad Szczecin asemrowend was. In die stede Wolgast en Havelberg is die oorlogsgod Gerovit aanbid. Dit was waarskynlik 'n verknoeiing van die naam Jarowit, ’n Slawiese god wat moontlik identies was aan Jarilo van die Oos-Slawiese folklore.
Argeologiese ontdekkings duimnael|300px|links|Die Indo-Europese gebruik van gemeenskaplike bankette, bekend as brattsjina (van brat, "broer") in Rusland
Die standbeelde van verskeie Slawiese gode is ontdek. 'n Hoë klipstandbeeld is in 1848 op die oewers van die Zbruch-rivier gevind met vier gesigte onder ’n kliphoed. Vanweë die ooreenkoms met Saxo se beskrywing van die groot idool in die tempel van Rügen, is daar dadelik beweer dat die standbeeld van Swantewit is, hoewel dit duidelik was dat dit nie die oorspronklike Swantewit van Rügen kon wees nie. Verskeie meerkoppige standbeelde is elders ontdek. 'n Klein vierkoppige standbeeld uit die 10de eeu wat uit been gekerf is, is opgegrawe tussen die ruïnes van Preslaf, 'n hoofstad van Middeleeuse Bulgaarse tsaars. 'n Tweekoppige, lewensgroot houtstandbeeld is ontdek op 'n eiland in die Tollensesee naby Neubrandenburg. 'n Driekoppige standbeeld is ook ontdek in Dalmasië (Kroasië) op die heuwel met die naam Suvid, nie ver van die piek Triglaf van Berg Dinara nie.
Die oorblyfsels van verskeie Slawiese tempels is ook gevind, soos in Kaap Arkona op Rügeneiland, in Nowgorod en naby Breclav in die Tsjeggiese Republiek.
Standbeelde van meerkoppige gode en tempels met verskeie altare bevestig verslae van Christelike sendelinge oor die Slawiërs se aanbidding van gode met verskeie eienskappe.
Folklore Toe die verskeie Slawiese stamme tussen die 7de en 12de eeu gekersten is, is die Christendom beskou as 'n godsdiens van die adel, veral dié in die stede. Onder die meeste Middeleeuse Slawiërs het die ou mites voortgeleef. Christelike priesters en monnike in Slawiese lande, veral Rusland, het eeue lank geveg teen die verskynsel dwojewerije (dubbele geloof). Aan die een kant het boere en landarbeiders die doop, mis en Christelike feesdae gretig aanvaar, maar aan die ander kant het hulle daarop aangedring om ou rituele uit te voer en heidense gebruike aan te hang, selfs al was die antieke gode en mites waarop hulle gebaseer is, lankal vergete.
Dit is omdat die Slawiese boere die Christendom nie as 'n vervanging van die ou Slawiese mitologie beskou het nie, maar as 'n verlenging daarvan. Die Christelike geloof het dalk die belofte van redding en 'n geseënde ewige lewe in die volgende wêreld ingehou, maar vir die oorlewing in hierdie wêreld, vir die jaarlikse oeste en die beskerming van die vee, was die ou godsdiensstelsel met sy vrugbaarheidsrituele, beskermende gode en huisgeeste noodsaaklik. Dit was 'n probleem wat die kerk nooit werklik opgelos het nie; ten beste kon die kerk 'n Christelike heilige of martelaar in die plek van 'n heidense god vir 'n sekere gebruik stel, maar die gebruike self het voortgeduur, asook die mitologiese siening van die wêreld waardeur natuurverskynsels verduidelik is.
'n Absurde situasie is dus geskep vir die bestudering van die Slawiese mitologie. Terwyl volksgelowe en tradisies van al die Slawiese volke inderdaad die rykste bron is vir die rekonstruksie van antieke heidense gelowe, die sleutel vir die ontsluiting van die geheime van die langvergete goderyk, is hulle bronne van 'n baie ongewone aard wat nie sommerso geglo kan word nie. Volksliedere, stories en feeste het lankal hulle oorspronklike heilige, mitiese karakter en hul oorspronklike betekenis verloor, en is afgeskaal tot 'n vlak van 'n blote bygeloof of betekenislose tradisie wat van geslag tot geslag oorgedra is deur mense wat nie die ware betekenis daarvan verstaan het nie. Mense het 'n vae idee gehad dat feeste op sekere maniere gevier moet word, dat sekere stories vertel moet word of sekere liedere gesing moet word omdat dit "nog altyd" so gedoen is. Die heidense geloof is gemeng met die Christelike geloof en ou rituele met nuwe Christelike feesdae. duimnael|200px|Gamajoen, een van drie profetiese voëls in Russiese folklore (die ander is Alkonost en Sirin), deur Wiktor Wasnetsof (1897).
Geleerdes het dus na folklore begin kyk om die verlore mitologie te probeer rekonstrueer. Die volksoorleweringe kan rofweg in twee groepe verdeel word:
Feëverhale oor verskeie fantasiekarakters soos Alkonost, Baba Jaga, Kosjtsjei die Onsterflike, zmei-liedere en verhale van legendariese helde soos Russies bogatirs, en bygelowe oor verskeie demone en geeste soos domowois, licho's, wilas, vampiere, wodjanois, roesalkas, ens. Baie van hierdie verhale en gelowe kan heel antiek wees en bevat waarskynlik minstens 'n paar mitologiese elemente, maar is nie op sigself mites nie. Hulle kort 'n dieper, heilige en godsdienstige betekenis en verder verskil hulle grootliks tussen die verskillende Slawiese volke.
Die viering van verskeie Christelike feeste en die geloof in verskeie heiliges. Dit is byvoorbeeld heel duidelik dat 'n gewilde heilige in baie Slawiese lande, Sint Elia die Donderaar, 'n vervanging is van die ou dondergod Peroen. Net so kan spore van antieke gode gevind word in die gebruike wat met baie ander heiliges verband hou, soos sint Vitus, sint Giorgi, sint Wlasi, sint Maria en sint Nikolaas. Dis ook duidelik dat sekere volksfeeste, soos die lentefees van Jare of Jurjevo en die somerfees van Ivanje of Iwan Koepala, albei verband hou met Christelike vakansiedae, al is hulle vol voor-Christelike elemente.