Adelmo Fornaciari (Italiaanse uitspraak: aˈdɛlmo fornaˈtʃaːri; gebore 25 September 1955), meer algemeen bekend as Zucchero Fornaciari of slegs Zucchero (Italiaanse uitspraak: ˈdzukkero), is 'n Italiaanse sanger-liedjieskrywer en musikant. Sy naam is Italiaans vir "suiker", die naam wat sy kleuterskool onderwyseres vir hom gebruik het. Sy musiek word grootliks geïnspireer deur gospel-, soul-, blues- en rockmusiek en 'n mengsel van Italiaanse ballades en die meer ritmiese R&B boogie. Hy word erken as die "vader van Italiaanse blues", en het blues bekendgestel as 'n hoofstroomgenre in Italië. Hy is een van die min Europese blueskunstenaars wat steeds internasionale aansien geniet.
Fornaciari het in sy loopbaan van meer as drie dekades reeds meer as 60 miljoen albums verkoop. Op internasionale vlak is sy mees suksesvolle enkelsnitte "Diamante", "Il Volo", "Baila morena", en die duet "Senza una donna" saam met Paul Young. Hy het reeds verskeie toekennings ontvang, insluitende vier Festivalbar-toekennings, nege Wind Music-toekennings, twee World Music-pryse (1993, 1996), ses IFPI Europa Platinum-toekennings en 'n Grammy benoeming. Hy het saamgewerk met kunstenaars soos Eric Clapton, Jeff Beck, Stevie Ray Vaughan, Brian May, Miles Davis, Ray Charles, B. B. King, Sting, Bono, Dolores O'Riordan, Paul Young, Peter Gabriel, Luciano Pavarotti, en Andrea Bocelli.
Vroeë lewe Adelmo Fornaciari is op 25 September 1955 gebore in Roncocesi, 'n frazione (klein dorpie) naby Reggio Emilia in Italië. Sy vader, Giuseppe Fornaciari en moeder, Rina Bondavalli, is afkomstig van die Italiaanse platteland. Hy was op 'n jong ouderdom reeds die doelwagter van die plaaslike sokkerspan, A.C. Reggiana 1919. Hy spandeer die grootste deel van sy jeug in die kusdorpie Forte dei Marmi (Luca Provinsie, Toskane). Hier sing hy in die koor en speel orrel in die plaaslike kerk. Op 12 of 13-jarige ouderdom ontdek hy Amerikaanse soul- en Bluesmusiek, danksy 'n Afro-Amerikaanse vriend wat in Bologna studeer en naby sy huis woon. Die eerste liedjie wat hy aan Fornaciari gespeel het was (Sittin' On) The Dock of the Bay deur Otis Redding. Dit wek dadelik sy belangstelling in Soulmusiek. Die vriend het Fornaciari geleer hoe om liedjies deur Redding, Marvin Gaye, en Sam & Dave op die kitaar te speel. Fornaciari het saam met vriende rhythm and blues gespeel en op die wyse sy eie manier ontwikkel om "swart musiek" met Mediterreense musiek te vermeng. Hy het reeds op 13 of 14-jarige leeftyd sy eie liedjies begin skryf, en nadat hy die basiese instrumente onder die knie gekry het, vanaf 16 jaar die tenoorsaxofoon begin leer. Sy tegniese hoërskoolonderrig is in Forte dei Marmi gedoen. Hierna verhuis hy na Carrara.
Diskografie
Ateljee albums Un po' di Zucchero (1983) Zucchero & The Randy Jackson Band (1985) Rispetto (1986) Blue's (1987) Oro Incenso & Birra (1989) Miserere (1992) Spirito DiVino (1995) Bluesugar (1998) Shake (2001) Fly (2006) Chocabeck (2010) La Sesion Cubana (2012) Black Cat (2016) D.O.C. (2019)
Kompilasies The Best of Zucchero Sugar Fornaciari's Greatest Hits (1996) Zu & Co. (2004) All the Best (2007) Wanted (The Best Collection) (2017)
Verwysings
Eksterne skakels
Youtube video - Andrea Bocelli en Zucchero sing Miserere Youtube video - Zucchero - Il Volo
Kategorie:Geboortes in 1955 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Italiaanse sangers Kategorie:Italiaanse musici