Samuel Pauw (*17 Junie 1936 – †18 Mei 2016) was ’n Suid-Afrikaanse argitek en kunstenaar.

Beginjare Pauw is op 17 Junie 1936 in Germiston in Transvaal gebore as seun van Samuel Pauw en sy vrou (née Heroldt). Hy het twee broers, Koos en Heroldt. Sy opvoeding ontvang hy aan die Pretoria-Oos Laerskool en hy matrikuleer in 1953 aan die Paul Roos Gimnasium te Stellenbosch waar sy vader, Samuel Pauw, professor in Maatskaplike Werk en Sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch was. In sy grootwordjare het sy moeder graag werke van Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Maggie Laubser versamel en hom also aan die kunste bekendgestel. Pauw is doelbewus na skool van Kaapland terug na die Noorde “omdat hy gevoel het dat die erns om die Afrikaner hier dieper gaan”.

In 1954 sluit hy hom by die Lëergimnasium aan waarna hy sy studie aan die Universiteit van Pretoria begin en sy B.Arch.-graad in 1961 behaal. Op universiteit het Pauw bewus geword van bekende argitekte soos Frank Lloyd Wright en Le Corbusier. Na sy studies begin hy in 1962 ’n privaatpraktyk. In dié tyd het Suid-Afrika ’n bloeityd beleef waarin daar oormatig baie werk vir argitekte was.

Werkende Op 28-jarige ouderdom het hy saam met Piet Moolman opdrag van die Transvaalse Provinsiale Administrasie gekry om ’n operahuis vir Johannesburg te ontwerp. Die gebou, wat uit ’n operasaal, ’n teater, ’n balletskool en ’n werkswinkel sou bestaan is weens voortdurende uitstelling nooit opgerig nie. Pauw en Botha, soos Pauw se firma destyds bekend gestaan het, het die hoofkantoor van Volkskas, langs die Strijdomplein ontwerp. Die gebou is 38 verdiepings hoog en in die heroïse tradisie wat die groei van die Afrikaner versinnebeeld. As praktiserende argitek het Pauw tussen 1965 en 1991 verskeie studietoere na die buiteland onderneem, onder meer na Europa, die V.S.A., Kanada, Australië en die Ooste.

Van 1966 tot 1976 was Pau die direkteur van die multidissiplinêre firma Plan Medewerkers. Gedurende ’n praktykperiode van 32 jaar is ’n groot reeks geboutipes deur Pauw ontwerp. Dit sluit in kantoor-, woon-, kulturele, opvoedkundige, navorsings-, kommersiële, ontspannings- en industriëile geboue. Pauw was onder andere lid van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria Argitektevereniging, Stigting Simon van der Stel, die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging en die Middeleeuse Vereniging.

In 1986 het Samuel Pauw Argitekte die Y-Design Architectural School in Mamelodi gestig waar studente ’n tweejaarkursus as ontwerpers en tekenaars deurloop. Aldaar het ’n ateljeemeester en argitektuurstudente die opleiding gedoen.

Privaat lewe In 1990 verwerf Pauw die M.Arch.-graad aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getiteld “’n Vertolking van Le Corbusier se mensbeskouing soos dit in sy geskrifte voorkom”. Pauw het ’n lewendige belangstelling in die natuur, boerdery, sport (soos gholf, muurbal en skubaduik) en besigheid gehad.

Geboue Kliëntedienssentrum, Universiteit van Pretoria RGN-hoofgebou, Pretoria Ekonomiese en Bestuurswetenskappegebou, Universiteit van Pretoria Konferensiesentrum, Universiteit van Pretoria Sapekoe-hoofkwartier, Tzaneen

Toekennings 1978 – Meriete-toekenning van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte 1985 – Fulton Beton eervolle vermelding 1986 – Toekenning van die Baksteenvereniging en Fulton Beton-toekenning 1987 – Meriete-toekenning van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte 1990 – Meriete-toekenning van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte 1995 – Eremedalje vir Argitektuur van die SA Akademie

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse argitekte Kategorie:Geboortes in 1936 Kategorie:Sterftes in 2016