Deon Godfrey Meyer (gebore 4 Julie 1958 in die Paarl) is 'n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer van Afrikaanse spanningsverhale. Sommige van Meyer se boeke is reeds in Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Tsjeggies, Bulgaars, Deens, Fins, Hebreeus en Sweeds vertaal.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Meyer is die middelste van drie seuns. Sy pa, Cornelus Petrus (Neil) Meyer, is ’n elektrisiën en sy ma is Francis. Hy het twee broers, Bertus en Francois. Toe hy agtien maande oud is, verhuis die gesin na Klerksdorp, waar hy grootword. Hy gaan skool aan Laerskool Meiringspark en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit. As dienspligtige is hy in 1977 in die Lugmag ’n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se koor- en konsertgroep.
Studie en loopbaan Hy studeer vanaf 1978 aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en behaal in 1980 ’n B.A.-graad met Engels en geskiedenis as hoofvakke. Vir een jaar gee hy skool aan minderbevoorregte matrieks as deel van ’n uitreikprogram om swart leerlinge met hulle studies te help, maar hy besef dat dit nie sy roeping is nie. Hy aanvaar in 1981 ’n pos in Bloemfontein as verslaggewer by Die Volksblad. Vir ’n ruk bly hy in Kroonstad vanwaar hy bydraes uit die kontrei vir ’n bylae van Die Volksblad lewer. In 1983 word hy bedryfsjoernalis by die Skakelburo van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy buitemuurs ’n B.A. Honneurs-graad in Geskiedenis behaal en ook ’n paar regsvakke aanpak. Hier word hy bevorder tot hoof van media en publikasies van die universiteit. Sanlam stel hom in 1989 in Kaapstad aan as senior kopieskrywer in hul reklame-afdeling, waarna hy in 1991 bevorder word tot hoof van die interne kommunikasie-afdeling en skeppende direkteur van die reklame-afdeling. In hierdie tyd is hy ook onder meer raadslid, president en later senator van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs en hoofbeoordelaar van SAVBR en UniTech se publikasiewedstryde. Hy gee ook deeltyds klas by die Kaapse Technikon.
Hierna raak hy op die Internet betrokke en hy en sy span by Sanlam wen verskeie Internet-toekennings, waaronder die Business Day en London Financial Times pryse. Hulle is die eerste organisasie in die wêreld om aanlyntransaksies vir effektetrusts deur die web te hanteer. Hy tree op as spreker oor Internet-strategie en -bruikbaarheid by kongresse en seminare in die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Europa en Suid-Afrika en hanteer ’n tegnologierubriek vir die tydskrif Insig, terwyl hy ook ’n gereelde radioprogram op Radiosondergrense oor die Internet aanbied. Nadat hy Sanlam vaarwel roep in 1998 is hy vir twee jaar strategiese direkteur van die internetmaatskappy Tinderbox, waarna hy sy eie onderneming begin wat hy later as New Media Digital, ’n sake-eenheid van New Media Publishing, bedryf. Dan word hy vryskutkonsultant en tree onder andere op as handelsnaamkonsultant vir BMW. In 2003 skryf hy in vir sy M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk wat hy onder leiding van Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Toe sy uitgewers danksy sy gewildheid hom aanpor om minstens een boek per jaar te skryf, begin hy vanaf die begin van 2008 om voltyds te skryf, hoewel hy steeds betrokke is by vryskutkonsultasiewerk. Hy deel sy ondervinding met skrywers en aspirant-skrywers op verskeie slypskole, onder andere een oor die skryf van spanningsverhale wat in 2004 deur die ATKV aangebied is. Hy is ’n gereelde deelnemer aan kunstefeeste se boekeprogramme en deel in 2006 die verhoog met Michael Connelly tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein.
Persoonlike lewe Sy eerste huwelik, waaruit ’n dogter (Lida) en ’n seun (Johan) gebore is, eindig na 13 jaar met ’n egskeiding in 1995. Hy is in Desember 1999 getroud met Anita le Roux, ’n dokter, wat self twee seuns uit ’n vorige huwelik het. Hulle woon aanvanklik op Melkbosstrand, waarna hulle teen die einde van 2008 na Vierlanden in die noordelike voorstede van Kaapstad verhuis. Hulle het ook ’n tweede huis op die plaas Jakhalsdans by Loxton in die Karoo, waarheen hy dikwels gaan om stilte te kry om te skryf. In September 2013 kondig Deon en Anita aan dat hulle gaan skei. Deon ontmoet wel nuwe liefde, en in 2018 raak hy en die kunstenares, Marianne Vorster verloof. Hulle is in Augustus 2019 getroud.https://www.netwerk24.com/Vermaak/Celebs/deon-meyer-trou-met-sy-flying-marianne-20190831
Skryfwerk Terwyl hy op universiteit is, skryf Meyer gedigte in Engels. Dit is eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf. In 1992 stuur hy 'n kortverhaal aan Huisgenoot, wat dit publiseer. Hy is so aangevuur dat hy onmiddellik nog een aan hulle stuur, wat afgekeur word. Dertien kortverhale verskyn later in Sarie en Huisgenoot; dit word later gebundel en in 1997 uitgegee deur Van der Walt onder die titel Bottervisse in die jêm. In 1992 begin Meyer ook werk aan sy eerste roman, met die titel Ikarus. Die uitgewers glo egter nie dat eenwoordtitels in Afrikaans sal werk nie en dit word gepubliseer onder die titel Wie met vuur speel. Meyer voel oor die boek "soos 'n mens oor 'n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie. Hierdie boek plaas Meyer op die toneel van die Afrikaanse letterkunde in ’n genre wat nog nie ontgin is nie, naamlik die spanningsverhaal. Feniks (1996), Orion (2000), Proteus (2002), Infanta (2005) en Onsigbaar (2007) word daarna gepubliseer.
Sy grootword omgewing het baie daarmee te doen dat hy eindelik ’n voltydse skrywer word. Hy word groot in ’n huis vol boeke, wat die leeslus by hom aanwakker en veral die boeke van die spanningverhaalskrywer Ed McBain maak ’n groot indruk op hom. Sy pa is ’n natuurlike storieverteller wat selfs van sy gewone daaglikse ervarings ’n boeiende storie kon maak. Op skool moedig sy Engels onderwyseres, Valerie de Bruyn, hom aan met haar positiewe terugvoer oor sy opstelle en kweek ’n mate van selfvertroue in skryf by hom aan. Hy skryf sy eerste boek op veertien en vra, dreig en smeek sy broers om dit te lees, maar op hul aandrang skryf hy nie gou daarna weer ’n boek nie. Terwyl hy op universiteit is, skryf hy soetsappige gedigte in Engels, maar dit is eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf. Hy deurloop ’n ATKV-kursus in draaiboekskryf en voltooi dan ’n televisie-draaiboek, waarmee hy die kompetisie wen. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie sou die uitsaairegte koop, maar verander van plan. Om te wys dat hy wel kan skryf, begin hy met kortverhale.
Kortverhale In 1992 word sy eerste kortverhaal deur Huisgenoot aanvaar vir publikasie en verskeie kortverhale word daarna in Huisgenoot en Sarie gepubliseer. ’n Keur uit hierdie kortverhale word saamgebundel inCrafford, Albert. Rapport, 10 Augustus 1997. Bottervisse in die jêm, waarin hy ’n wye verskeidenheid temas bestryk, telkens met ’n angel in die stert. Die romantiek, hoewel onkonvensioneel, bly nie agterweë nie. ’n Man wat kan huil is die verhaal van die universiteit se rugbyheld, Diesel Liebenberg, wat verlief raak op Sara Nieuwoudt. Diesel is gewoond daaraan dat die meisies mal is oor hom, maar Sara stel nie belang nie, want sy wil nie met rugbyspelers uitgaan nie. Sy soek ’n man wat kan huil en Diesel besef hy sal moet leer om te huil. Om ’n man te vang het die mooi jong konstabel Louise Luttig as hoofkarakter. Sy word deur haar mede-polisie geterg omdat sy na agt maande nog niemand gearresteer het nie. Daar is diegene wat ’n ogie op haar het, maar hulle is skrikkerig omdat sy in die polisiediens is. Dan trek die aantreklike Theuns Richter in die woonstelblok in en Louise begin drome droom. Sy vang dan ook vir Theuns, maar nie soos sy daaroor gedroom het nie. Die titelverhaal handel oor kinderlike onskuld en die slim wyse waarop kinders volwassenes kan manipuleer. Die Daniëlla-dossier het die privaatspeurder en geswore alleenloper Zatopek van Heerden as hoofkarakter. Jacomina de Villiers, ’n middeljarige tante, kom met ’n ongewone versoek: Zatopek moet vir haar mooi susterskind Daniëlla ’n man soek. As hy egter vir Daniëlla sien, soek hy nie meer te hard na iemand anders vir haar nie.
Meer as tien jaar later volg Meyer hierdie bundel op met die kortverhaalbundel Karoonag en ander verhale. Die tema van hierdie kortverhale is telkens misdaad, soos kapings, afpersings en seksuele misbruik van jong mense. Verskeie van die karakters in sy gewilde romans maak ook in hierdie verhale ’n draai, soos byvoorbeeld Bennie Griessel en Martin Lemmer. Lemmer is juis die hoofkarakter in die titelverhaal Karoonag, waar ’n plaasaanval ’n onverwagse wending neem en ook ’n internasionale nasleep het. Die lang kortverhaal Stiltetyd het voorheen in Die Burger as vervolgverhaal verskyn, terwyl Die Nostradamus-dokument en Die ontvoering van Leendert le Roux onderskeidelik in Huisgenoot en Sarie as vervolgverhale verskyn het. Telkens skryf hy ’n nawoord in ’n verskeidenheid van vorms vir die verhale, waarin hy meestal meer inligting gee oor die skryf van die verhaal en verdere tegniese inligting oordra.Koen, Dewald. Beeld, 21 September 2015.
Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale is ’n lywige versameling van sy kortverhale, wat meeste van die verhale in sy vorige bundels asook vyf nuwe kortverhale bevat. Die titelverhaal se hoofkarakter is ’n opkomende sangsensasie wat ’n hele paar geraamtes in die kas het. Hierdie verhaal is ook suksesvol verfilm voor publikasie van hierdie bundel. Meyer se kortverhaal Die perfekte moord word deur Francois Bloemhof in die versamelbundel Donker veld opgeneem en Verslag oor ’n verdwyning in Drif onder redaksie van Lindeque de Beer. Ander versamelbundels waarin sy werk verskyn sluit in Uit die kontreie vandaan.
Televisie en rolprentdraaiboeke Vir die beeldsending in 2006 van die televisiereeks van Orion skryf hy self die draaiboek vir die laaste vier episodes. Later skryf hy ook die reeks “Transito” vir die televisie, wat in 2008 uitgesaai word. Hierin kom die oud-weermagman Francois Brink af op ’n transito-rooftog wat skeefgeloop het en waar beide die rowers en die veiligheidsmense in die voorval omkom. Francois laat spat met die koffers vol geld. Die belanghebbendes wat hom begin agtervolg is Patrys le Roux (’n vasberade jong vrou wat haar finansiële vryheid begeer), die perlemoenbaas Charlotte Kruger (wat haar deel van die winste wil terughê) en die sluipmoordenaar Priester, wat in Charlotte se diens is.
Hierna skryf hy die draaiboek vir die Afrikaanse fliekVan den Berg, Marzanne. Beeld, 23 April 2010. Jakhalsdans. Die onderwyser Mara Malan verhuis saam met haar sesjarige dogtertjie Mia na Loxton. Daar hoor sy dat die skool gaan sluit tensy hulle in drie weke R500 000 kan insamel om die geboue op te knap en boeke aan te koop. Mara en die ander onderwysers maak planne vir ’n groot konsert, terwyl Mia bevriend raak met die kluisenaar op die dorp. Mara baklei met hom oor hierdie vriendskap en vind dan eers uit dat hy ’n bekende liedjieskrywer en sanger is wat hom uit die kollig onttrek het en waarskynlik die sleutel tot sukses van die konsert is.