Reykjavik

Europese Kultuurhoofstad 2000Menningarborg Evrópu 2000

280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land  Administratiewe gewes Höfuðborgarsvæðið Koördinate  Stigting 1786 Oppervlakte:    - Totaal 273 vk km  Hoogte bo seevlak 0 m Bevolking:    - Totaal (2023) 139 875  - Bevolkingsdigtheid 510/vk km  - Metropolitaanse gebied 247 590 Tydsone UTC +0 (GMT) Klimaat    - Tipe Polêre seeklimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 4,7 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie 0,0 / 11,2 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslag 798,2 mm Burgemeester Einar Þorsteinsson Amptelike webwerf www.reykjavik.is

Reykjavik (Yslands: Reykjavík, [ˈreiːcaˌviːk], ; letterlik: "Rookbaai") is die hoofstad van Ysland – en ook die wêreld se mees noordelik geleë hoofstad: Sy breedtegraad lê teen 64° 09' Noord net effens suid van die Noordpoolsirkel (66° 33'). Die stad met 'n bevolking van naastenby 140 000 inwoners lê aan die voet van die bergpiek Esja met 'n hoogte van 900 meter en aan die suidoewer van die Faxaflóibaai, wat deel uitmaak van die Atlantiese Oseaan, en fungeer as die administratiewe, kulturele en ekonomiese spilpunt van Ysland. Reykjavik huisves die meeste departemente van die Universiteit van Ysland en verskeie ander tersiêre instellings, teaters, museums en ander kulturele instellings. Die stad beskik daarnaas oor Ysland se belangrikste seehawe.

duimnael|links|'n Uitsig oor Reykjavik vanaf Hallgrímskirkja Daar word aangeneem dat Reykjavik die plek van die eerste menslike nedersetting in Ysland is wat na historiese oorlewerings in 870 deur Ingólfur Arnarson gestig is. Voor die laat 18de eeu het daar in die gebied egter geen stedelike ontwikkeling plaasgevind nie. Die huidige stad het eers in 1786 as 'n amptelike handelspos ontstaan en het in die volgende dekades stadig gegroei om eers tot 'n gewestelike en later ook nasionale handelsentrum te ontwikkel.

Reykjavik vorm vandag die sentrum van Groter Reykjavik, 'n metropolitaanse gebied met 'n bevolking van meer as 200 000. Dit is die grootste stad van Ysland en huisves sowat 37,5 persent van die land se totale bevolking. Reykjavik se inwoners trek voordeel uit die stad se moderne infrastruktuur en Ysland se eersterangse welvaartstelsel. Reykjavik is saam met agt ander stede aangewys as die Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2000.

As gevolg van sy ligging net suid van die Noordpoolsirkel kry Reykjavik gedurende midwinter slegs vier ure se daglig per dag, terwyl die nagte in midsomer byna so helder soos die dae bly.

Reykjavik se Yslandse naam verwys vermoedelik na die stoomwolke wat by die warmwaterbronne in die omgewing opstyg en gaan moontlik terug op 'n vergissing van die eerste setlaar, Ingólfur Arnarson.

Etimologie duimnael|links|'n Moderne (1850) uitbeelding van die eerste Middeleeuse setlaars in Reykjavik Die naam "Reykjavik" is van Oudnoorse oorsprong, saamgestel uit die wortels reykr ("rook") en vík ("baai"). Die naam is glo ontleen van damp uit warmwaterbronne in die streek. Die oorspronklike naam was Reykjar-vík, met 'n "r" as agtervoegsel vir die genitiewe eenvoud van reykr; die moderne weergawe reykja- gebruik die genitiewe meervoud. Die naambetekenis is steeds duidelik in beide Yslands en Noors (røyk + vik). Die naam het oorspronklik verwys na beide die baai aan die noordelike oewer van die moderne stadsentrum tussen Örfirisey en Laugarnes, asook na die landgoed en plaas van Ingólfr Arnarson. Dié naamgebruik het egter dadelik ná die stigting in onbruik verval en na die landgoed is verwys as Vík á Seltjarnarnesi totdat die naam Reykjavik herleef is toe stedelike ontwikkeling eeue later begin het.

Geografie duimnael|Die eiland Viðey en die bergpiek Esja, soos gesien vanuit Reykjavik duimnael|Die Elliðaárivier naby Reykjavik Reykjavik lê op die skiereiland Reykjanesskagi in die suidweste van die eilandnasie Ysland, alhoewel die voorstede reeds verder oos- en suidwaarts uitgebrei het. Die landskapsvorme van Reykjavik se omgewing word deur skiereilande, inhamme, seestrate en eilande gekenmerk. Reykjavik beslaan danksy sy minder digbevolkte voorstede met ruim vrystaande gesinshuise 'n relatief groot oppervlakte.

10 000 jaar gelede het die laaste glasiale tyd, 'n besonders koue periode van 'n ystydperk, van die huidige ystydperk geëindig. Tydens die glasiale tyd het 'n groot gletser groot dele van die stadsgebied bedek, terwyl ander dele nog met seewater oorstroom was. In die warmer periodes teen die einde van die glasiale tyd was sommige bergspitse soos Öskjuhlíð nog eilande. Die vroeëre seevlak word deur afsaksels met mossels gekenmerk wat (soos naby Öskjuhlíð) tot 43 meter bo die huidige seevlak verrys. Bergspitse soos Öskjuhlíð en Skólavörðuholt is blykbaar oorblyfsels van vroeëre skildvulkane wat tydens die warmer periodes van die ystydperk nog aktief was.

Ná die glasiale tyd het die swaar gletsers begin afsmelt en die landmassa in die gebied het verrys en sy huidige gestalte gekry. Die hoofstadgebied is egter nog steeds deur aardbewings en vulkaanuitbarstings geskud. Tydens een van hierdie vulkaanuitbarstings het lawa deur die Elliðaárvallei tot by die Elliðavogurbaai gevloei. Die verskuiwing van tektoniese plate wat dwarsdeur Ysland loop, raak ook die skiereiland Reykjanesskagi met kleiner aardbewings.

Die Elliðaá is die grootste rivier wat deur Reykjavik vloei. Alhoewel die rivier nie bevaarbaar is nie word dit nogtans as een van die beste Yslandse riviere vir salmhengelaars beskou word. Tjörnin, 'n klein meer in die stadsentrum, is een van die belangrikste broeiplekke vir watervoëls in die suidweste van Ysland.

Klimaat duimnael|Die berg Esja in die winter Reykjavik word gekenmerk deur 'n polêre seeklimaat met relatief milde winters en koel somers, en oor die seisoene heen is daar min wisseling ten opsigte van die hoeveelheid neerslag. Ondanks sy ligging in die Noord-Atlantiese Oseaan is Reykjavik se temperature vanweë die matigende invloed van die Golfstroom op Ysland se kusgebiede nie laer as dié van byvoorbeeld Toronto of New York nie. Die absolute uiterste temperature beweeg op 'n skaal tussen sowat -17 °C en +24 °C; die kwik styg egter selde bo 20 °C. As gevolg van sy ligging aan die kus is Reykjavik dikwels aan stormweer blootgestel. Daar word jaarliks sowat 1250 sonskynure en 210 reëndae aangeteken.

Geskiedenis Die stigting van Reykjavik duimnael|upright|'n Velmanuskrip uit die Landnámabók wat die Noorse kolonisasie van Ysland in die 9de en 10de eeu beskryf Die kolonisasie van Ysland deur Noorse setlaars het sy aanvang in die 9de eeu geneem. In die tradisionele geskiedskrywing en historiese dokumente wat bewaar gebly het, word na Ingólfur Arnarson as die eerste permanente inwoner van Reykjavik verwys – hy het hom omtrent 870 n.C. in die gebied gevestig en by die huidige Hoofstraat 'n uitgestrekte boerdery opgerig.

Vanweë die beskikbaarheid van moerasyster, turf (wat as brandstof gedien het), dryfhout en eiers van seevoëls wat maklik op die strande opgetel kon word, die akkergrond op die nabygeleë eilande, die warmwaterbronne en weivelde van die omgewing en die ryk visgronde langs die kus en riviere wat van salms gewemel het, was die baai van Reykjavik 'n uiters geskikte plek vir die stigting van 'n landgoed. Vis was dan ook die eerste setlaars se stapelvoedsel.

Die manlike nakomelinge van Ingólfur en sy vrou Hallveig het vanweë hul status as nasate van die eerste setlaar-egpaar as 'n soort religieuse en wêreldlike leiers (Yslands Allsherjargoði) gefungeer. Hulle het onder meer in 930 'n belangrike rol by die stigting van die eerste parlement, die Alþingi, in Þingvellir gespeel. Ingólfur en Hallveig se kleinseun Þorkell máni het as Wetspreker of hoogste amptenaar van die parlement gedien, en sy seun Þormóður het later, toe die Yslanders die Christelike geloof in omtrent 1000 aangeneem het, as Allsherjargoði gefungeer.

Arnarson het aanvanklik vermoedelik 'n waaksame ogie oor sy uitgestrekte landgoed gehou en gehoop om self te bepaal watter setlaars hulle in sy invloedsfeer in die suidweste van Ysland mog vestig. Ingólfur Arnarson and his Descendants, deel van die History of Reykjavík. Verkry op 27 Desember 2007. Die oppervlakte van sy landgoed het egter geleidelik afgeneem, vermoedelik omdat die land onder sy erfgename verdeel is. In elk geval het naby Seltjarsnes nuwe landgoedere ontstaan wat ten opsigte van hulle oppervlakte met Reykjavik kon meeding.

Ná die jaar 1000 het wolprodukte tot Ysland se belangrikste uitvoergoedere ontwikkel en Reykjavik, wat slegs op vissery as sy bron van inkomste kon steun, het sy ekonomiese belangrikheid geleidelik kwytgeraak.

Landbou en kloosterlewe duimnael|Ysland pronk met een van die oudste wetgewende vergaderings in Europa. Op hierdie rots naby die Almanagjá-kloof is tradisioneel besluite oor wette geneem In die tydperk tussen 1200 en 1750 was daar net 'n aantal kleiner en groter boerderye in die huidige hoofstadgebied. Die baai, wat dikwels net Vík genoem is, was die tuiste van boere en veetelers. Vroeë bronne uit hierdie periode bevat min inligting oor hierdie boerderygemeenskappe, en eers in die laat Middeleeue het die bewoners volgens historiese dokumente as welvarende landeienaars, distrikhoofde en parlementslede bekend gestaan. Die eerste kerkgebou in die gebied het omtrent of selfs voor 1200 ontstaan.

Die Augustyne-klooster, wat in 1226 op die eiland Viðey gestig is, het tot een van Ysland se welvarendste kerklike instellings gegroei. Die klooster, wat aan die Jonkvrou Maria gewy is, het oor 'n beduidende biblioteek beskik en was 'n belangrike literêre sentrum waar talle boeke geskryf is. In die laat Middeleeue het die klooster ook tot 'n bedevaartsentrum ontwikkel.

Die suidelike gedeelte van Faxaflóibaai in die suidweste het tot die politieke en handelsentrum begin ontwikkel; in hierdie gebied het ook die klooster, kerk en koning oor landgoedere beskik. Die koninklike goewerneur se amptelike setel is op die landgoed Bessastaðir gevestig.

Die Reformasie in Denemarke het ook die Deense besitting Ysland geraak en die klooster is op Pinkstersondag 1539 deur die plaaslike verteenwoordiger van die Deense koning, Didrik von Minden, gekonfiskeer. Sy manne het die klooster geplunder en die monnike aangeval. Met die voltooiing van die Reformasie in Ysland is die klooster in 1550 ontbind en sy besittings aan die Deense koning oorgedra.

Ná die afsterwe van die laaste onafhanklike landeienaar in Reykjavik in die vroeë 17de eeu is die landgoed deur die Deense Kroon aangekoop.

Ekonomiese groei tussen 1750 en 1800 duimnael|Reykjavik met die Faxaflóibaai in die agtergrond Met die opkoms van die ekonomiese ideologie van die merkantilisme in Europa het heersers die ekonomiese groei in hulle gebiede deur die opbou van plaaslike nywerhede en ander ondernemings begin bevorder. In Ysland het die Deense owerhede die sogenaamde Innréttingar ('n Yslandse leenvertaling van die Deense Indretninger of "ondernemings") in die lewe geroep, aan wie ook die landgoedere in Reykjavik en Örfirisey oorgedra is. Die oprigting van 'n plaaslike wolbedryf het ook aan die beginpunt van Reykjavik se ontwikkeling tot 'n dorp gestaan.

Deense en Duitse ambagsmanne is genooi om Yslanders op te lei en die Innréttingar het vinnig oor opgeleide inheemse mannekrag beskik. Uiteindelik was hierdie instellings daarop gemik om 'n breed-gebaseerde ekonomiese opswaai in Ysland aan te spoor. Die visserybedryf, skeepsbou, landbou en swawelontginning in plaaslike myne was die eerste sektore wat danksy hierdie beleid beduidende vordering gemaak het. In Reykjavik het veral fabrieke vir die wolverwerking en wewerye ontstaan wat met ingevoerde spinwiele en weefstoele toegerus is. Ander belangrike nywerhede was die vervaardiging van toue en kuipe en looierye.

Ná die jaar 1767 het die Innréttingar 'n ekonomiese agteruitgang ervaar, en slegs die wolbedryf het nog tot in die 19de eeu goed presteer.

Die 19de eeu duimnael|Die Alþingishúsið, Ysland se parlementsgebou