Eskom is Suid-Afrika se nasionale elektrisiteitsverskaffer wat 95% van die elektrisiteit in Suid-Afrika opwek. Dit het in 1923 tot stand gekom as die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie, afgekort as Evkom. (Engels: Electricity Supply Commission, Escom). Die organisasie het in 1986 sy naam verander na Eskom, 'n samesmelting van die Afrikaanse en Engelse afkortings en word nie meer deur 'n kommissie beheer nie. Die Suid-Afrikaanse regering is tans die enigste aandeelhouer.
Eskom is 'n vertikaalgeïntegreerde nutsmaatskappy wat elektrisiteit opwek, wat dan deur middel van 'n landswye transmissiestelsel regdeur Suid-Afrika herlei word, voor dit aan sowat vier miljoen eindverbruikers bedien word. Eskom verskaf ook grootmaat-toevoere aan sowat 180 munisipale verspreiders.
Aan die einde van 2007 het Eskom 'n netto kragopwekkingsvermoë van 37 761 megawatt (MW) gehad, asook 'n landswye transmissie- en distribusiestelsel wat oor 359 854 km heen strek en bykans vier miljoen eindverbruikers bereik. Eskom se bates het R144 miljard beloop, waarop dit 'n wins van R6,5 miljard getoon het deur die opwekking, verspreiding en verkoop van 218 120 gigawattuur (GWh) elektrisiteit. Eskom het 32 674 mense in diens gehad en in 2007 aangedui dat dit 'n uitbreidingsprogram onderneem het wat ongeveer R150 miljard oor die volgende agt jaar sou beloop.Jaarverslag 2007 op Eskom se webwerf
Teen 2019 het Eskom sowat 48 600 mense in diens gehad, wat volgens sy eie analise 16 000 meer is as wat hy nodig het. Volgens die Wêreldbank het Eskom 66% meer werknemers as wat hy nodig het.
Lasafwerping duimnael|Ou Eskom-logo van 1923 tot 1985 duimnael|Eskom-logo vanaf 1986 tot 2001
'n Kenmerk van kragvoorsiening in Suid-Afrika sedert 2007 is periodieke roterende onderbrekings van toevoer (sogenaamde "beurtkrag") weens doelbewuste lasafwerping. Oor 'n periode van ongeveer twintig jaar sedert die mid-1980's het Eskom se kragopwekkingsvermoë die spitsaanvraag aansienlik oorskry (met meer as 20% in sommige jare) en Eskom het selfs sover gegaan as om groot industriële verbruikers (onder andere Alusaf en Mozal) na Suider-Afrika te lok met aantreklike elektrisiteitspryse en langtermynvoorsieningskontrakte (25 jaar) teen laer as sy opwekkingskoste.
Met die beëindiging van Eskom se kragsentrale-uitbreidingsprogram in 2001 is dit veronderstel dat daar voldoende kapasiteit sou wees om in die aanvraag na elektrisiteit te kon voorsien tot ongeveer 2007. Die Witskrif op Energie van 1998 het voorspel dat Eskom teen 2007 'n tekort aan opwekvermoë sou ondervind. Omdat die aanlooptyd om 'n groot kragsentrale te bou meer as vyf jaar beloop, het Eskom reeds in 2002 begin aansoek doen om meer kapasiteit. Die regering het egter daarop aangedring dat (buitelandse) privaatbeleggers genader moet word om tot die bedryf toe te tree en reeds in 1998 het Penuell Maduna, minister van minerale en energie, 'n verbod op Eskom geplaas om enige verdere steenkool- of kernkragstasies op te rig. Hierdie embargo is eers in 2004 opgehef nadat dit duidelik geword het dat die privaatsektor nie gretig is om tot die elektrisiteitsopwekkingsbedryf toe te tree nie.
Ondanks waarskuwings deur Eskom van 'n dreigende tekort aan kapasiteit het die proses gesloer en uiteindelik in 2006 skipbreuk gelei toe die laaste belangstellendes uit die proses onttrek het, oënskynlik vanweë té lae elektrisiteitstariewe en ander beperkende faktore. In 2007 het president Thabo Mbeki namens die regering verskoning aangeteken vir die kragtekorte. Mbeki het in Bloemfontein erken dat "Eskom reg en die regering verkeerd was".Business Day, Mbeki's apology welcomed but Eskom still has much to do, says IFP, 13 Desember 2007 Die kragonderbreking van Januarie 2008 het hy egter toegeskryf aan basiese pligsversuim aan die kant van Eskom. Skepping van nuwe opwekkingskapasiteit sedert 2008 sou gekenmerk word deur konstruksie-vertragings en kosteoorskrydings wat Eskom finansieel sou uitput.
Ander belangrike faktore wat bygedra het tot die toenemende wanbalans tussen vraag en aanbod was 'n hoër-as-verwagte groeikoers in aanvraag en 'n afname in die beskikbaarheid van Eskom se opwekkingseenhede. Die ekonomie het meer elektrisiteitsintensief begin word en moderne geriewe soos lugversorging het 'n alledaagse verskynsel geword. Eskom het ook 'n massiewe elektrifiseringsprogram in die 1990's begin wat aanvraag vermeerder het en die lasprofiel verskuif het. Pogings om aanvraag te beheer het nie die nodige steun ontvang om dit effektief te maak nie.
Die toestand het verder versleg vanweë die afname in beskikbaarheid van groot krageenhede. In 2000 was die gemiddelde beskikbaarkeid 92%. Teen 2006 het dit gedaal tot 87%, wat dieselfde effek het as 'n 5% permanente tekort aan kapasiteit. Die oorsaak hiervan was hoofsaaklik swak of gebrekkige voorkomende instandhouding, foute deur onervare personeel en 'n tekort aan onderdele, brandstof en ander middele. Teen 2007 het agterstand in instandhouding en onverwagte falings dit moeiliker gemaak om voorsieningskapasiteit met volgehoue vertroue te kon voorspel. Die situasie het mettertyd versleg en in Februarie 2015 het Eskom by tye 36% van sy opwekvermoë verloor.
Die koeël was toe reeds deur die kerk. In Desember 2006 het die eerste grootskaalse lasafwerping in the Wes-Kaap plaasgevind toe 'n eenheid by Koeberg onverwags afgeskakel het. Aanvraag in die Wes-Kaap het beskikbare vermoë oorskry omdat die transmissiestelsel nie die verskil kon aansuiwer nie. Om te voorkom dat die hele stelsel intuimel, het Eskom begin met selektiewe lasafwerping, dit wil sê doelbewuste afskakeling om die aanvraag te beperk. Groepe verbruikers is vir 'n paar ure op 'n beurt afgeskakel totdat die balans tussen aanvraag en voorsiening weer herstel is.
In die winter van 2007 het die eerste lasafwerpings in die res van die land begin toe die ongewone koue weer Eskom se totale vermoë onder geweldige druk geplaas het en landswye lasafwerping in alle erns begin het. Toe die winter verby was en verbruikers 'n bietjie asem kon skep, het daar in Oktober en November weer 'n reeks lasafwerpings begin, dié keer omdat soveel eenhede buite werking was vanweë instandhouding, onverwagte falings en bedryfsfoute dat daar op 'n stadium tot oor 'n 20% tekort aan toevoer was.
Eskom het gewaarsku dat lasafwerpings sal voortduur vir vyf of ses jaar, minstens tot dat die eerste eenheid van die nuwe Medupi-kragsentrale in 2012 in werking gestel behoort te word. Vertragings in die voltooiing van Medupi het voorgekom, sodat die beplande inwerkingstelling van die eerste eenheid tot die tweede helfte van 2015 uitgestel is. Eers in Januarie 2008 het Eskom kontrakte met Botswana en Mosambiek gesluit vir die aankoop van minstens 450 MW elektriese krag, alhoewel Eskom toe reeds bewus moes gewees het van plaaslike kragtekorte, wat tewens reeds kerstyd rugbaar geword het.
Onvolhoubare praktyke duimnael|Eskom se uitvoerende beamptes, insluitende Phakamani Hadebe (hoof-uitvoerende-beampte), tweede van links, op 'n 2019-openbare forum in Kaapstad oor Eskom se finansiële situasie.
Die Optimummyn van die multinasionale firma Glencore het oor 'n tydperk steenkool teen minder as kosprys aan Eskom se Hendrina-kragstasie voorsien. Volgens Optimum se vaste 25-jaar leweringskontrak moes hulle tot einde-2018 steenkool teen 'n goedkoop R150 per ton lewer, maar het in 2012 misluk om die ooreengekome graad te lewer, waarna Eskom hulle 'n boete van R2,1 miljard opgelê het. Eskom se uitvoerende bestuurder, Brian Molefe, wou na bewering nie besgee oor die boetebedrag nie, en met Optimum op die drumpel van likwidasie het die Guptas 'n koopaanbod van R2,9 miljard gemaak. Tegeta het egter nie oor hierdie bedrag beskik nie, sodat Eskom se rekenkundige beampte, Anoj Singh, 'n waarborg van R1,6 miljard aan Tegeta toegestaan het om die transaksie deur te voer. Na bewering het Eskom dan 'n geheime skikking met die nuwe eienaar Tegeta aangegaan oor 75% van die boetebedrag.
In 2015 het Eskom 'n 11-jaar kontrak ter waarde van R3,7 miljard aan Tegeta van die Gupta-familie en Duduzane Zuma toegestaan, vir lewering van steenkool van 'n verdagte lae graad aan die Majuba-kragstasie. Eskom wou 'n verdere kontrak van R2,9 miljard toestaan aan Tegeta se Brakfonteinmyn, maar is deur die Nasionale Tesourie voorgekeer.
In 2017 is 'n R25 miljard langtermynlening van Huarong Energy Africa bekom om kragsentrales te onderhou, maar 'n gebrekkige evaluasieproses het daarop uitgeloop dat Eskom na ondertekening geweier het om die kontraktuele verpligtinge na te kom. Regsfirma White & Case het etlike kwelpunte uitgewys. Kommerwekkend was die $19 miljoen terugbetaling wat dadelik moes geskied, 'n fasiliteringsdeposito van R340 miljoen in die Hongkongse bankrekening van die obskure Ideva-firma, en 'n groot kansellasiefooi. Sean Maritz en Anoj Singh, onderskeidelik die tydelike uitvoerende bestuurder en rekenkundige beampte van Eskom wat albei die kontrak onderteken het, moes uit hul poste bedank.
Eskom het toegelaat dat skuld van munisipaliteite, veral dié van Soweto, handuitruk. In Julie 2019 het die onbetaalde elektrisiteitsrekeninge van Soweto alleen op R15 miljard gestaan. Teen 2018 was sestig ander munisipaliteite ook altesaam R16 miljard in die rooi. Die oplossing vir Soweto is gesien as die installering van 26 000 meters vir vooruitbetaalde krag teen einde-Maart 2020, 'n aankondiging wat met betogings in Orlando-Wes begroet is, terwyl munisipaliteite hul wanbetaling op onwettige konneksies en werkloosheid blameer het.
Eskom het vroeg in 2019 'n hulppaket van R4,9 miljard van die regering aangevra sodat dit oor die korttermyn operasioneel kan bly. Die instelling se benarde finansiële situasie kan toegeskryf word aan die nagevolge van staatskaping en Eskom se historiese skuld, alhoewel die regerende African National Congress dit aan die nasleep van apartheid toeskryf. Die regering het die Eskom-volhoubaarheidstaakspan en tegniese hersieningspan aangestel, en 'n dringende Spesiale Appropriasiewet sou voorsiening maak vir 'n groot deel van R230 miljard wat Eskom oor 'n dekade sal benodig, meestal om voortslepende verliese te delg. Minister Tito Mboweni het in sy 2019 begrotingstoespraak aangedui dat die staatskas R69 miljard oor drie jaar beskikbaar sal stel om Eskom-skuld onder bedwang te hou. Die Suid-Afrikaanse regering het in Augustus 2019 die aantal rand-gedenomineerde staatseffekte wat hy by weeklikse skuldveilings aangaan met 37% verhoog om Eskom se skuld te delg.
In 2019 het Eskom Holdings SOC Bpk en raffinaderye van Sasol Bpk onder skoot gekom vir hul besoedeling in die sg. hoëveld-prioriteitsgebied, d.w.s. dele van Mpumalanga en Gauteng waar meeste van Suid-Afrika se steenkool ontgin word en 12 steenkoolkragsentrales van Eskom, benewens Sasol se olieraffinadery en steenkool-na-brandstof-aanleg geleë is. 'n Greenpeace-ondersoek van laat-2018 het aangetoon dat Mpumalanga gebuk gaan onder die wêreld se ergste stikstofdioksied-vrystellings deur kragsentrales. Die aanlegte stel benewens dit ook swaeldioksied, kwik en fyn stofdeeltjies vry wat na bewering 'n reeks siektes veroorsaak. Volgens die Amerikaanse atmosferiese deskundige Andy Gray het hierdie besoedeling al honderde vroeë sterftes in die gebied veroorsaak. Die omgewingsregtegroepe Groundwork en Vukani het by die hooggeregshof aansoek gedoen dat hierdie vlakke van besoedeling as 'n skending van grondwetlike menseregte aangedui word, sodat die Departement van Omgewingsake tot sinvolle optrede aangespoor kan word.
2008 Tariefverhoging