duimnael|200px|Uitbeelding van Andries Pretorius met sy dubbelloopvoorlaaier op die hoek van die Voortrekkermonument.

’n Voorlaaier is ’n geweer wat, onder andere, tydens die Groot Trek gebruik is en wat by die bek van die loop gelaai is."Voorlaaier" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 13 Januarie 2020. Dit was die Voortrekkers se vernaamste wapen. Elke man het waarskynlik 'n voorlaaier of twee besit en daarsonder sou dit vir hom moeilik gewees het om te oorleef. Dit is nie net gebruik om vleis in die pot te sit nie, maar ook vir verdediging in tye van gevaar.

Alhoewel die eerste tipes perkussie- of doppiegewere destyds al bestaan het, is hulle skynbaar nie tydens die Groot Trek gebruik nie.Pretorius, Op trek, ble. 150-151. In enkele gevegte het die Voortrekkers wel van grofgeskut gebruik gemaak. Handwapens soos pistole was skaars. Net enkele Voortrekkers het, sover bekend, wapens soos swaarde en dolke besit, maar messe was algemeen en is soms as wapens gebruik.

Saam met sy voorlaaier het die Voortrekker ’n bandelier met ’n koeëlsakkie asook ’n kruithoring oor sy een skouer gedra wanneer hy iewers heen koers gevat het. Die Voortrekker Lourens de Klerk het in sy "Herinneringe" as volg oor hulle gewere geskryf:

Benewens die standaard-enkelloopvoorlaaiers het sommige Voortrekkermans ook dubbelloopgewere gehad. Elke loop was met sy eie pan en vuursteen toegerus.De Klerk, Herinneringe, bl. 254. Andries Pretorius het so ’n dubbelloopvoorlaaier besit en tydens die Slag van Bloedrivier gebruik. Hy word inderdaad met daardie geweer in sy hand as een van die vier hoekwagte van die Voortrekkermonument in Pretoria uitgebeeld.

Byname duimnael|links|350px|’n Britse "Brown Bess", wat deur sommige Voortrekkers gebruik is. duimnael|links|350px|’n "Donderbus". (Die haan is afgebreek.) Om tussen verskillende fabrikate voorlaaiers te onderskei het die Voortrekkers byname of die fabrikaat van die geweer gebruik. Volgens De Klerk het die naam "bobbejaanboud" gedui op die vorm van die kolf. "Sterloop" was ’n algemene naam vir ’n bepaalde soort geweer, wat ’n silwer sterretjie op die loop ingelê gehad het, voor of agter die visier. Die beste sterlope was die "Frederik Bothas", wat na die vervaardiger genoem is – die meeste was agt- of tienponders.

"Bloublaser" was die bynaam van ’n ander soort geweer, ook ’n agt- of tienponder, wat as ’n minder goeie geweer beskou is. Die "Jan Cuylenburg" was ’n goeie geweer van dieselfde kaliber, maar die "Jan Waterneyers" het nie so ’n goeie naam gehad nie. Dan was daar ’n geweer in gebruik op die loop waarvan gestaan het "Jacob Oortman, Amsterdam". Dit was ’n agt-, tien- of twaalfponder en is as uitstekende skietgewere beskou. Die "Levi"-gewere het ’n reeks letters gehad wat met silwer op die loop ingelê is en ’n sterretjie net voor die visier. Hulle het goed geskiet.

Die Voortrekker Jan Maartens het op sy oudag ook van die gewere se byname vertel, waaronder sy vader se agtponder-donderbus Ortman.Anoniem, Jan Thomas Martens 1829–1910, De Huisgenoot, September 1921, bl. 214. Sommige Voortrekkers het ’n "Brown Bess" gehad, wat ’n Britse militêre geweer was.Pretorius, Op trek, bl. 151 wat verwys na Lategan en Potgieter, Die Boer se roer, p. 26. Die naam "bloublaser" is nie noodwendig gebruik om ’n spesifieke soort voorlaaier aan te dui nie, maar wanneer daar as gevolg van ’n minderwaardige tipe kruit by die afvuur van ’n skoot ’n flits blou rook by die loop uitgekom het.Pretorius, Op trek, bl. 151 wat verwys na B. Berkovitch, Antique Firearms in South Africa, Antiques in South Africa 20, , 1987, bl. 49.

Dit is nie bekend of die bynaam "Sanna" vir ’n voorlaaier algemeen deur Voortrekkers gebruik is nie. De Klerk vermeld dit nêrens nie. Boonop het dit moontlik eers teen die einde van die Groot Trek-era ontstaan.

Werking Een van die belangrikste onderdele van die vuurmeganisme van die voorlaaier is die haan. Dit het twee lippies waartussen ’n vuursteen in ’n leerstrokie vasgeknyp word. Die beste vuursteen is ’n bepaalde soort kwartsklip wat maklik vonkies maak as dit geslaan word. Dit moet skerp wees om na wense te funksioneer. Na elke sowat 25 skote moet die vuursteen skerpgemaak word en na 50 of hoogstens 100 skote moet dit vervang word.Pretorius, Op trek, bl. 150.

’n Hele paar aksies moes elke keer uitgevoer word voordat ’n Voortrekker ’n skoot met sy voorlaaier kon skiet. Eerstens moes hy, terwyl hy die geweer met die voorpunt van die loop na bo regop hou, kruit en daarna koeëls of lopers in die loop plaas. Daarna moes hy ’n bietjie kruit in die pan van die geweer gooi en die dekseltjie van die pan toemaak. Eers dan kon hy op die teiken mik en die sneller trek ten einde te vuur. Wanneer die sneller getrek word, volg ’n driefaseproses: Die haan, wat met die vuursteen toegerus is en tydens die laaiproses in die rusposisie moet wees, beweeg vorentoe en slaan hard op die deksel van die vuurpan; die slag veroorsaak vonkies wat die kruit in die vuurpan laat ontplof; die ontploffing steek via ’n openinkie tussen die pan en die geweer se loop, wat die sundgat genoem is, die kruit in die loop aan die brand wat dit ook laat ontplof en die koeël of lopers in die rigting van die teiken by die loop uitdryf.Carstens & Grobbelaar, Voortrekkerlewe, bl. 122.

duimnael|240px|Marmerfries by die Voortrekker-monument van vroue wat tydens die Slag van Vegkop in Oktober 1836 gewere laai. Die hele proses wat gevolg moes word om ’n voorlaaier vuurgereed te kry nadat ’n skoot geskiet is, het beteken dat die vuurtempo stadig was as dit vergelyk word met hoe vinnig skuts later met agterlaaiers kon skiet. In gevegsituasies het Voortrekkers wat meer as een voorlaaier besit het, sy vrou, ’n opgeskote kind of ’n werknemer byderhand gehad om een geweer te laai terwyl hy met die ander een skiet. Beide die Voortrekkers Johannes Roets en J.H. Hatting het op hulle oudag vertel dat die vroue asook die werknemers tydens die Slag van Veglaer in Augustus 1838 die Voortrekkermans bygestaan het deur koeëls en kruit aan te gee asook hulle gewere te laai.Roets, Lewenskets, bl. 400; Spies, Hatting, bl. 174. Jan Maartens (gebore 1829) het hom insgelyks herinner hoe sy moeder tydens ’n geveg vir sy pa gehelp het om sy voorlaaiers te laai.

Volgens G. Tylden kon ’n Voortrekker op sy eie gemiddeld minstens vier skote per minuut afvuur.Van der Merwe, Matebeles en Voortrekkers, bl. 73 wat aanhaal uit Tylden, Africana Notes and News, Sep 1953.

Die Voortrekkers se gewere het nie altyd na wense gefunksioneer nie. Tydens ’n geveg is ’n geweer soms so warm geskiet dat die kruit in die loop spontaan ontplof het voordat die sneller getrek is. Die loop moes dan in water gedruk word ten einde dit af te koel.

’n Ander algemene probleem was dat die gewere soms geweier het, wat beteken dat die skoot nie afgegaan het wanneer die skut die sneller getrek het nie. Dit het gewoonlik om een van die volgende drie redes gebeur: eerstens as die vuurklip in die haan te stomp was of nie van die regte soort gesteente was om goeie vonke te lewer nie; tweedens as die vonke wel reg was, maar die kruit in die pannetjie te klam of nat om te ontbrand; en derdens as die vonke wel die kruit in die pannetjie aan die brand gesteek het, maar dit nie tot by die lading binne-in die loop van die geweer deurgebrand het nie omdat die sundgat verstop was. In laasgenoemde geval het die geweer dan, in die taal van die Voortrekkers, net “voor gebrand”.

Op 28 Junie 1837 het Louis Tregardt in sy dagboek geskryf dat hy ’n renoster gekwes het as gevolg van die “voorbrand” van sy geweer. Dit kon ook gebeur dat die sundgat so vuil was dat die kruit net stadig na die lading in die loop kon deurbrand om dit te laat ontplof. In so ’n geval is van ’n vertraagde skoot gepraat.Tregardt, Dagboek 2013, ble. 114 en 114n381; Carstens & Grobbelaar, Voortrekkerlewe, bl. 123 wat verwys na Lategan en Potgieter, Die Boer se roer, pp. 109-110.

Andries Pretorius se dubbelloop-voorlaaier het hom tydens die Slag van Bloedrivier in die steek gelaat en hom inderdaad byna sy lewe gekos. Sy sekretaris, Jan Bantjes, vertel wat gebeur het: “Pretorius [is tydens ’n berede aanval op die Zoeloe-krygers self deur een van hulle aangeval en] het ’n skoot op sy aanvaller afgevuur, maar die perd het op dieselfde oomblik geswenk en hy het mis geskiet. Hy wou toe die ander skoot van sy dubbelloopvoorlaaier aftrek, maar die stopper van die slot het toegeskuif sonder dat hy dit agtergekom het. Gevolglik kon hy nie die haan span nie.”Bantjes, Journaal, ble. 64-65.

Ten einde te verseker dat als behoorlik funksioneer, moes elke Voortrekker gereeld sy geweer skoonmaak. ’n Dun, sterk stok waarvan die voorpunt vierkantig gemaak en vol kepies gesny is, is vir hierdie doel gebruik. ’n Stukkie lap is styf om die punt van die stok vasgedraai. Die kepies het meegebring dat die lap in posisie kon bly. Nadat warm water in die loop afgegooi is, is die stok op en af in die loop beweeg. Wanneer die skoonmaker tevrede was dat die loop skoon was, het hy ’n droë stukkie lap om die stok se punt gedraai ten einde die binnekant van die loop af te droog.Carstens & Grobbelaar, Voortrekkerlewe, bl. 123.

’n Voorlaaier se reikafstand was hoogstens sowat 135 meter. Gewoonlik kon hulle nie verder as omtrent op 80 meter akkuraat skiet nie.

De Klerk het vertel dat ’n voorlaaier – veral die vier- en sesponders – kragtig terugbeweeg of geskop het wanneer dit afgevuur is. So ’n terugskop het die ongeoefende skut meermale met ’n lam skouer, ’n dikgeswelde wang of ’n bloeiende neus gelaat. Gevolglik was die kinders, nadat hulle die eerste keer ’n skoot afgevuur het, soms huiwerig om dit weer te doen.De Klerk, Herinneringe, ble. 252, 254.

Grofgeskut Die Voortrekkers het oor ’n aantal voorlaaier-kanonnetjies beskik. Gert Maritz het twee kanonne op sy trek uit die Kaapkolonie met hom saamgeneem, en later, in Mei 1838, ’n tienponderkanon in Port Natal gekoop.Thom, Gert Maritz, ble. 97, 243. Andries Pretorius het ’n koper-kanonnetjie besit wat skynbaar sy persoonlike eiendom was. Hierdie kanon is tydens die Slag van Bloedrivier gebruik om die walaer te verdedig. Die kanonnier was volgens oorlewering ’n Hollander, Giesing, of meer waarskynlik die Duitser Friedrich Giesen, wat inderdaad aan die geveg deelgeneem het.De Jager, Herinneringe, bl. 118; Nel, L.J., Herinneringe, bl. 76; Visagie, Voortrekkerstamouers, bl. 76.

duimnael|Ou Grietjie in die museum van die Voortrekkermonument. Volgens oorlewering het die Voortrekkerleier Gert Rudolph ook ’n kanon van sy eie gehad. Dit was op wiele gemonteer wat as die Stelletjie bekendgestaan het. Hierdie kanon is op 17 Februarie 1838 opgestel om Maritz se laer aan die Boesmansrivier teen moontlike aanvalle deur Zoeloe-krygers te verdedig.Pretorius, Op trek, bl. 152.

Die bekendste kanon van die Voortrekkers was egter die een – of moontlik meer as een – wat as Grietjie bekendgestaan het.Preller, Andries Pretorius, bl. 34; Carstens & Grobbelaar, Voortrekkerlewe, bl. 124.

Dit is nie bo enige twyfel duidelik watter kanonnetjie só genoem is nie. Volgens oorlewering is “ou Grietjie” by die Slag van Bloedrivier gebruik en was Jan Joubert en Willem Daniël Venter kanonniers daarvan.Visagie, Voortrekkerstamouers, bl. 593.

Tydens die geveg by Veglaer in Augustus 1838 het die Voortrekkers van ’n kanon gebruik gemaak, wat moontlik dieselfde Grietjie was. Dit het volgens oorlewering bestaan uit ’n loop wat sowat 1,5 meter lank was. Die loop was sowat 6,25 sentimeter in deursnee. Dit was gemonteer op twee wiele wat so groot soos ’n wa se voorwiele was.

Ammunisie Met ’n voorlaaier kon ’n Voortrekker een van twee tipes ammunisie afskiet: koeëls of lopers.

Koeëls