John Philip "Bakkies" Botha, (gebore 22 September 1979 in Newcastle, KwaZulu-Natal) is 'n voormalige Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat as slot vir die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan, die Springbokke, uitgedraf het. Hy het ook etlike jare vir die Blou Bulle se provinsiale span in die Curriebekerkompetisie en vir die Bulls Super 14-span gespeel. Botha is 2,02 meter lank en weeg 122 kilogram. Bakkies Botha het in drie wêreldbekers gespeel, in 2003, 2007 en 2011.

Botha het vir die onder-19 en onder-23 Springbokspanne gespeel voor hy vir die Suid-Afrikaanse "A"-span gekies is wat teen die einde van 2001 na Europa getoer het. Die volgende jaar is hy vir die Springbokspan gekies en het sy debuut gemaak teen Frankryk in Marseille op 9 September 2002, 'n wedstryd wat die Springbokke 30-10 verloor het.

Oor die jare het 'n gedugte vennootskap tussen Botha en Blou Bulspanmaat Victor Matfield ontwikkel. Saam het hulle 'n ongeëwenaarde vermoë gehad om hul teenstanders se lynstane te ontwrig en gereeld balbesit te bewerkstellig.

Botha word gesien as een van die mees onwrikbare slotte in wêreldrugby en is al verskeie kere van vuilspel beskuldig, vernaamlik onder voormalige Springbokafrigter Rudolf Straeuli. In sy eerste vier toetse is hy koelkas toe gestuur, dissiplinêre optrede onverwant aan die koelkas-episode ondergaan en het 'n skorsing van agt weke ontvang."Rugby Union World Cup Special Reports: South Africa", The Guardian, 6 Oktober 2003. Sedert 2004 onder nuwe afrigter Jake White het dit geblyk dat sy omstrede spel iets van die verlede was. In sy vyftigste wedstryd vir die Bulls in 2006 het hy die span gelei in hulle teen die Crusaders.

In September 2006 het dit aan die lig gekom dat Botha R2 miljoen aangebied is vir 'n nuwe kontrak met die Sharks wat hom die hoogsbetaalde speler in Suid-Afrikaanse rugby sou maak."Botha the Bulls' R2m man", Planet Rugby, 17 September 2006.

Botha hou saam met Victor Matfield die rekord vir die slotpaar wat in die meeste internasionale wedstryde langs mekaar gespeel het. Tydens sy rugbyloopbaan het hy die Vodacombeker, Curriebeker, Superrugbytrofee, Rugbywêreldbeker, ’n toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus, én die Europese Heinekenbeker gewen.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Verwysings

Eksterne skakels

Bakkies Botha by itsrugby.co.uk

Kategorie:Springbokrugbyspelers Kategorie:Suid-Afrikaanse rugbyspelers Kategorie:Bulls rugbyspelers Kategorie:Geboortes in 1979 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Afrikaners